Nuuskommentaar: “Inbraak by Luthuli-huis”

Argieffoto

Argieffoto

Onlangs skryf ‘n leser in sy kommentaar op ‘n berig op Maroela dat daar by Luthuli-huis ingebreek is. Die goeie nuus is dat al wat vasgelê is, die uitslae is van volgende jaar se algemene verkiesing.

In die breë was die uitslae van algemene verkiesings in Suid-Afrika baie voorspelbaar, nie net oor die akkuraatheid van sommige meningspeilings nie, maar omdat sulke verkiesings in Suid-Afrika tot ‘n groot mate, soos dit dikwels gestel word, etniese sensusse is.

Daar was al pogings om die ANC te laat skeur, en so hierdie ingeboude vaste greep te laat verbrokkel. Die UDM het gou in die sand uitgeloop, en Cope het met te veel ingeboude fabrieksfoute van die monteerbaan af gekom. In elke geval was daar ‘n komplekse dinamika betrokke, maar uiteindelik het een faktor oorheers – die ANC bly grootliks onaangeraak omdat dit ‘n breë etniese basis verteenwoordig.

Analiste het deurgaans daarop gewys dat die ANC se grootste gevaar daarin geleë is dat dit die nie die vakbondwese se lojaliteit kan behou nie. Die “rolmodel” is Zimbabwe waar die ekwivalent van Cosatu, en Cosatu-bondgenoot, van Zanu-PF, weggebreek het, en onder die leiding van Morgan Tsvangirai Mugabe se eerste en tot dusver enigste werklike uitdaging gebied het. Cosatu se steun aan die MDC moes in opdrag van die ANC min of meer verdamp.

Die huidige verwikkelinge in Cosatu toon ooreenkomste met die ontstaan van die MDC, al sal die produk ideologies hemelsbreed van die MDC verskil.

Die verwikkelinge in Cosatu is min of meer ingelui toe Numsa die NUM as grootste vakbond in Cosatu vervang het. Numsa het die NUM die harnas ingejaag deur lede af te rokkel, of aan drosters ‘n nuwe tuiste te bied. Die NUM het ook plek-plek sleg bloedneus gekry by Amcu, wat nié‘n filiaal van Cosatu is nie. Ontledings toon dat die NUM self die NUM se grootste vyand was – dat dit ‘n groep vet katte gekoester het wat al minder sigbaar in die belang opgetree het in wat gesien word as werkersbelange.

Numsa, daarenteen, span nog baie ou en uitgediende kommunistiese retoriek in. Trouens, ‘n baie groot kloof het tussen Numsa en die SA Kommunistiese Party ontstaan.

Etnisiteit speel ‘n enorme rol, maar weens die politieke inkorrektheid hiervan word dit selde so by die naam onder die vergrootglas geplaas.

Met tekens van Zuma-afvalligheid binne Cosatu-geledere, het pres Jacob Zuma die toue begin trek op ‘n manier wat hy al telkemale suksesvol ingespan het – deur die Zoeloefikasie daarvan. Die groot vlieg in die salf was eerstens Zwelinzima Vavi. Deur (voorlopig altans) van Vavi ontslae te raak, kon die Zoeloefikasie in plek skop. Die proses is min of meer “vergemaklik” deurdat Cosatu en sy filiale dikwels, bedoeld of onbedoeld, die model “toepas” waar die sekretaris-generaal ‘n Xhosa is, en die president ‘n Zoeloe, of omgekeerd.

Twee prominente Xhosas, oud-pres. Thabo Mbeki en Winnie Madikizela-Mandela het kort na mekaar die ANC-leierskap, dus eintlik Zuma en sy etnies-gelaaide leierskap, van die herlewing van “tribalism” beskuldig. In die Afrikanistiese konteks is “tribalism” ‘n vloekwoord.

Numsa, wat sterk in die Oos-Kaapse motorvervaardigingsindustrie gesetel is, het die Zoeloekaping sterk weerstaan. In ander Cosatu-filiale soos Popcru en veral Sadou, is daar sterk aanduidings van Oos-Kaapse afvalligheid teen die Zoeloefikasieproses.

Nou is oud-pres. Nelson Mandela, ‘n Xhosa-adelike, ook oorlede. By sy gedenkdiens in Soweto is Zuma voor die oë van die wêreld deur ‘n deel van die skare uitgejou.

Dit beteken egter nie dat ‘n skeuring in die ANC wat die Zoeloes van die “res” gaan isoleer op hande is nie. Zuma is deeglik bewus van die onderstrominge wat ontleders wat die kwessie deur Westerse oë betrag, nie raaksien nie. Sy adjunk-president van die land is ‘n Noord-Sotho, Kgalema Motlanthe. Sy adjunk-president in die ANC is Cyril Ramaphosa, ‘n Venda. Maar in die proses is beide tot “halwe mense” gereduseer, en is Zuma in effek alleen die persoon wat die septer swaai.

Die feit van die saak is egter dat Zuma se foute besig is om hom in groot dele van die land “onverkoopbaar” te maak, en dit word ook algaande al duideliker in peilings. Dit raak al moeiliker om, soos in die verlede, bloot op “swart wees” terug te val en so die swart stem agter hom te konsolideer. Daar raak net te veel swart gesigte in die teenoorgestelde kamp sigbaar – benewens die oud stryders binne die IVP en die UDM, ook Cope, binne die DA, die NFP, Agang, die EFF, en nou Numsa wat almal die Nkandla-dolk diep in probeer dryf.

Die terugval op “swart wees” het boonop tot ‘n groot mate tot afvalligheid in minderheidsgemeenskappe gelei, en die figure wat in magsposisies behou word om die afvalligheid teen te werk, soos Marius Fransman en veral Tina Joemat-Pettersson, oortuig nie.

Die kernbelangrike afvalligheid van die ANC deur die EFF en Numsa bring self nie oplossings nie, en is heel waarskynlik self rampe wat net ‘n plek en tyd soek om te gebeur. Maar dit hou die potensiaal in dat die ANC vir die eerste keer sedert 1994 werklik geskud kan word. Volgende jaar sal die wegblystem waarskynlik nog die grootste impak hê, maar as Zuma nog ‘n ruk lank die president gaan wees, sal ‘n regstreekse teenstem daarna begin inskop.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae