Nuuskommentaar: Inperking: Gryp die geleenthede aan

Argieffoto: Pixabay

Met die onlangse afkondiging van die ramptoestand weens die verspreiding van Covid-19 is mense en instansies wat kan, aangemoedig om van hul huise af te werk indien enigsins moontlik. Pas het pres. Cyril Ramaphosa ’n volstrekte inperking (lockdown) aangekondig. Intussen verskyn al meer artikels oor die wêreld heen waarin weergegee word van hoe mense en instansies iets positiefs uit die slegte newewerkings probeer put.

Die inperking is onbetwisbaar ’n drastiese ingryping op die Grondwet, hoewel die inperking van veral sekere menseregte soos vervat in hoofstuk 2 van die Grondwet as noodmaatreël wel noodsaaklik is. Sekere kundiges meen selfs met die verskerpte maatreëls is ’n de facto-noodtoestand afgekondig.

Maar kan die reg op bewegingsvryheid, die reg op werk en die reg op vrye meningsuitdrukking (ons Grondwet maak ironies genoeg voorsiening vir die reg om te staak, maar nie regstreeks vir die reg om te werk nie) opweeg teen die negatiewe gevolge van ’n oop kanaal vir die pandemie?

Dié reg om te werk het eers enkele jare gelede onregstreeks deel van ons regsbestel geword toe die regering 16 jaar nadat ’n verdrag onderteken is, dit geratifiseer het. Ironies genoeg moes Solidariteit sedertdien die regering hof toe sleep om hom te dwing om ’n ander bepaling van die verdrag te honoreer. (Die regering het verloor, maar neem dit op appèl.)

Lees gerus Maroela Media se nuuskommentaar van 11 Februarie 2015 hier, wat nie net na die verdrag se inhoud verwys nie, maar na die tradisionele aspekte van ’n staatsrede. Die twee geleenthede waar Ramaphosa die nasie ’n week agtereenvolgens oor die verklaring van ’n ramptoestand weens Covid-19 toegespreek het, was immers de facto-aansuiwerings op sy onlangse staatsrede.

Gryp die geleentheid aan. Hierdie woorde word dikwels in dagstukkies gebruik, soos Maroela Media se Gedagte vir die dag op 26 Julie 2013. (Lees hier.) In een van die Asterix-boeke laat Julius Caesar hom deur ’n jong ekonomie-Wunderkind aan die neus lei, deur Asterix en Obelix se stam met welvaart tot passiwiteit te verlei deur alle menhirs wat die stam kan lewer ten duurste op te koop. Toe Caesar sy oë uitvee oor die rampspoedige gevolge vir sy staatskas en wil weet wat hy nou met al die menhirs moet maak, antwoord die Wunderkind: “Verkoop hulle.”

Terwyl die Afrikaanse “Gryp die geleentheid aan” op Google minder as 1 500 trefslae kry, kry die Engelse Never let a (good) crisis go to waste ’n enorme 203 miljoen trefslae op. Die bekende ekonoom Dawie Roodt “trou” die twee begrippe deur op te merk: “Hier (met die ramptoestand) is die geleentheid om die regte besluite te neem. Moenie dit verkwis nie.”

In België, ’n land wat swaar deur Covid-19 getref word, het ’n paar tronke ’n voorbeeld gestel van ’n geleentheid om die krisis aan te gryp. Hulle het begin om gesigmaskers van ’n spesiale materiaal te vervaardig. Hulle ontvang groot bestellings hiervoor. (Lees hier.)

Daar kan min twyfel wees dat Covid-19 in ’n behoorlike wêreldkrisis aan die ontwikkel is, en in Suid-Afrika word kommer uitgespreek dat tot ’n miljoen meer mense as nou hul werk as uitvloeisel van die krisis kan verloor. Ramaphosa het dit ook gisteraand duidelik gemaak dat baie ondernemings weens die inperking hul deure sal moet sluit. ’n Solidarity Fund bestaande uit bydraes deur die staat, privaat sektor, bydraes deur individue en uit die buiteland is in die lewe geroep om diegene wat skade ly, sover moontlik te help vergoed.

Daar is kort-kort verhale in die gedrukte media oor mense wat reddeloos op die ashoop beland het, maar ’n geleentheid raakgesien het (soms op die onwaarskynlikste plek) en nou suksesvolle entrepreneurs is. Die voorbeeld van ’n swart man van die Vrystaatse platteland wat die merkwaardigste draadkarre maak, dien as vinnige voorbeeld. Lees gerus meer hier.

’n Baie verblydende aspek van Ramaphosa se toespraak is dat hy verskerpte optrede en spoedige tronkstraf beloof het vir korruptes. Korrupsie is endemies in Suid-Afrika, en min mense is sulke knap entrepreneurs wat die “geleenthede” aangryp as juis die korruptes. Die algemene gemors waarin die land se ekonomie hom bevind, is juis grootliks aan korrupsie te wyte, asook die land se onvermoë om die skuldiges gou en op groot genoeg skaal aan die pen te laat ry.

Dawie Roodt se opmerkings wys verskeie uitdagings uit, soos om die staat met sy burokrasie se rol in die noodmaatreëls te groot te maak. Hy waarsku oor die staat se “ineptokrate” en die gevare om hulle “tydelik” in te span: “En glo my, geen ‘ineptokraat’ sal sy nuutgevonde magte sommer weer prysgee nie.” Maar in die konteks van geleenthede aangryp, skuur hy aan die korrupsie-aspek: “Ongetwyfeld gaan mense die geleentheid misbruik om munt te slaan uit ander se nood, maar dit is ’n veel geringer ergernis as die alternatief.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

Herman, inderdaad moet ons eggo, “gryp die geleenthede aan!”
Maar ons het tot op datum gesien dat dit wat Cyril Ramaphosa belowe maak skuld, dus moet hy eintlik maar oor iets wat reeds gebeur het kommentaar lewer, dis nou as hy nie in die proses besig is om die geskiedenis te herskryf, of kluitjies te bak nie.
Maar sy beloftes?
Dan, interessant is die term ‘volstrekte inperking’, dis ‘n nuwe begrip vir my omdat die woord volstrek gebruik word om getalle aan te dui, soos bv ‘volstrekte meerderheid’ wat neerkom op die helfte + 1.

Jaco ·

Wit boere moet eintlik nou produksie staak of ernstig beperk en die regering laat weet dat hulle net weer normaal sal produseer as praatjies en beleide van onteiening sonder vergoeding HEELTEMAL gestaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.