Nuuskommentaar: Inploffing of ontploffing van transformasie

Argieffoto

Argieffoto

Wanneer ’n mens ’n rasbenepe agenda bedryf, speel ’n mens met vuur. Die afgelope dae was die pers vol berigte en rubrieke oor hoe die term “transformasie” duidelik nie op ’n fatsoenlike spoor is nie, en as grondslag dien vir bykans enigiets – ook ’n aanslag teen Afrikaans en die Afrikaner. Kortom, rassehaat.

Die verloop is al te bekend. Die argitekte van die ou beleid van afsonderlike ontwikkeling se motiewe was (aanvanklik) so edel dat dit as humanisties en liberaal beskou is, ten minste in sommige kringe. Die argitekte daarvan se idee oor die afloop daarvan was ligjare verwyder van Vlakplaas en ander “neweprodukte” wat die hele stelsel gekontamineer het. Maar selfs al het vergrype nie die hele mandjie laat vrot word nie, die inspan van ras as kriterium sou gevoelens na die een en/of die ander kant seermaak.

Ras maak wel deel van die internasionale reg uit, maar in die sogenaamde negatiewe sin – jy mag nie teen iemand op grond van sy ras diskrimineer, hom aan volkmoord, haatspraak, en so meer onderwerp nie. Dit gaan nie oor positiewe regte soos regte om ’n staatkundige entiteit te skep nie. Daarvoor tree regte soos kultuurregte en taalregte in.

Maar in Suid-Afrika, soos al voorheen in hierdie rubriek en ook in ander rubrieke uitgewys, word taal- en kultuurregte ipso facto deur die ANC en ander (moedswillig) aan ras gelykgestel – ironies terwyl meer as die helfte van die Afrikaanssprekendes nie wit is nie.

Uit die jongste berigte en rubrieke is dit duidelik dat bitter min mense wat die woord “transformasie” inspan presies dieselfde betekenis daaraan heg. Dr. Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, wys onder meer daarop dat dit in soveel gevalle ’n volmag vir teenwit-nasionalisme geword het. Hy skryf dat die idee so misbruik en verknoei is dat dit ’n aanstootlike begrip geword het.

Monde Makhanya skryf onder meer: “Die jonger sprekers en gehoorlede was luidrugtig oor die ongedane sake van die revolusie. Die sentiment is sterk uitgespreek dat Mandela in sy kompromie met wit mag ‘uitverkoop’ het.”

Transformasie het inderdaad vir baie al ’n vloekwoord geword. Vir ander bly dit ’n vrypas om die mees naakte vorm van ’n rasse-agenda te bedryf, en dan astrant die status van teen-rassisties te wil opeis.

Dien dit nog enige doel om te ontleed wat die oorspronklike en ware betekenis van transformasie was? Het die term nie daardie punt bereik wat apartheid bereik het waar gesê is apartheid kan nie meer reggemaak word nie, dit kan nog net vernietig word? Waar die oorspronklike bedoeling so irrelevant geword het weens misbruike dat die skade onomkeerbaar geword het?

Gaan ’n universiteit, soos die US, wat nou met die beste wil ter wêreld stappe doen om die suiwer bedoelde transformasiebestemming te bereik, op dieselfde plek aanland waar uiteenlopende groepe soos die ANC in die parlement, Open Stellenbosch en ander transformasiedrywers in gedagte het?

Of gaan ervaar word dat die doelpale weer verskuif is, en eintlik meer as een stel doelpale opgerig is, na gelang van wie dit oprig?

En dan die aljimmerende vraag: “Speel die Grondwet nie dalk ook ’n rol nie?”

Die Grondwet waarborg immers sekere regte.

Daardie regte word egter so gewantrou dat dit skynbaar onder transformasiedruk  moet swig.

Vandag dien Solidariteit ’n skaduverslag oor “regstellende aksie” by die VN in Genève in. Die skaduverslag het wye steun onder veral Afrikaanssprekendes ontlok. Gaan die verslag daarin slaag om ’n gewaarwording onder ander lande te wek dat transformasie in Suid-Afrika liederlik ontspoor het en ’n rassistiese vloekwoord geword het?

Tydens Sondagaand se uitsending van Kommentaar op RSG het ’n paneellid wat weens sy kopdoek bekendheid verwerf het, stoom afgeblaas oor diegene wat in werklikheid die regering van kwaadwilligheid beskuldig.

Maar vanoggend berig die media weer dat pres. Jacob Zuma apartheid en kolonialisme die skuld gee vir die hoë koers van moorde op polisielede.

Maar is daar nie ’n duideliker verband met ontspoorde transformasie nie – nie behoorlike keuring van rekrute nie, gebrekkige opleiding van polisielede wat kort-kort ’n voorsittende beampte laat oorkook en aanklaers met die hande in die hare laat, leierskap in die polisie wat op die oog af veel te wense oorlaat?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Sarie ·

Het gedink die program oor megaboere het die breins onder die kopdoek ‘n bietjie ander perspektief laat sien as dit wat hy op Stellenbosch geleer het toe hy nog ‘n kaftan gedra het. Dit lyk toe nie so nie.

Winston ·

Herman. Jy is n raakvatter van baie realiteite. Dankie vir weereens n goeie en opjektiewe oorsig van die waarheid. Dit is so dat die SAPD nie meer oor intelligensie beskik nie. Die psige van die mag is siek en onvermoënd. Daar is n klein groepie wat weet wat hulle doen, maar n ketting is so sterk soos die swakste skakel. Almal het n ” job” en die wat wel sien dinge loop nie reg nie, word onmiddelik n rassis as hy/sy iets sê en dalk sy “job” en pensioen kwyt. Die Polisie Kommisarisse sedert 1994 spreek vanself. Ek vra weer: Hoe maak jy n “vryheids vegter” n wetstoepassings beampte? Hoe kan so n persoon A polities wees? Transformasie het te vêr gegaan en die ou koei van apartheid wat kort kort na n ander plek gesleep word, stink nou erg want dit word nie begrawe nie. As jy nie jou en jou mense se vermoëns kan blameer nie, soek die ou koei. Dis n uiters siek situasie waarin ons is en kan maar net hoop iemand daar buite luister en doen iets daaraan.

Eduard ·

Winston ek ervaar die selfde Die woord transformasie gaan nog baie misbruik word in die toekoms dis a free tiket tot die aansteling in a sekere pos waar voor jy nie bevoeg of gekwaliseerd is nie . Transformasie Regstelende aksie = Koripsie en selfverykend

Johannes Meintjes ·

… en deur dit alles, vooraf ontleed en opgestook, speel wit en swart in SA eintlik gerieflik ‘n marionette-spel in die hande van groter agendas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.