Nuuskommentaar: Internasionale persvryheidsdag

Argieffoto: Pixabay.com

Persvryheid word vandag wêreldwyd gevier. Suid-Afrika, anders as die res van die wêreld, vier egter mediavryheidsdag op 19 Oktober na aanleiding van “swart Woensdag” in 1977 toe The World, The Weekend World, The Voice en Pro Veritate deur die owerheid gesluit is en hul redakteurs agter tralies beland het.

Suid-Afrika het egter so dikwels met mediavryheid verbrou, en doen dit steeds gereeld, dat dit meer gepas is dat media-instansies wat dit erns het met persvryheid, asook hul lesers en luisteraars, vandag by die internasionale persvryheidsdag inval.

Sowat 400 jaar gelede is die Engelsman Payne en twee van sy medeuitgewers se ore afgesny en is elkeen met £5 000 beboet omdat hulle dinge geskryf het wat die Engelse koning nie aangestaan het nie. Die £5 000 was ’n bietjie kwaai, en hulle is oorloos in die tronk gestop.

Die oor-afsnyery was ’n aardige spulletjie. Die laksman was skynbaar ’n bietjie lomp met die fyner werk soos oor-afsnyery, en ’n stuk van Payne se linkerwang is saam met die oor af. Met die regteroor verbrou die laksman so effe. Hy was al van die stellasie af, toe iemand hom terugroep om sy brouwerk te kom klaarmaak. Die oor het nog so aan ’n draadjie gehang. Dit is glo nie die oorsprong van die uitdrukking: “Eina Payne!” nie.

Mediavryheid en ’n ware demokrasie blyk so intens verweef te wees dat dit in effek as die vierde been van die demokrasie beskou word, hoewel uiteraard informeel. Hierdie opvatting word onder meer deurgetrek na die insluiting van mediavryheid in die Amerikaanse grondwet se “First Ammendment” in 1791 totdat dit deur ’n vorige Belgiese premier so uitgedruk is. Presies hoé verweef die twee begrippe kan wees, is gedemonstreer toe die uitstellanddros in die sogenaamde Reitz-vier-saak die media én die politici aangespreek het oor hul voortydige stellings wat op skuld neergekom het.

Hoewel die Vrystaatse Republiek se eerste grondwet, die sogenaamde kreupelgrondwet, op die Amerikaanse en Franse grondwette geskoei was, het mediavryheid as verskanste grondwetlike reg eers in die 1994-bedeling werklik neerslag gevind. Dié Vrystaatse grondwet het die bynaam “Kreupelgrondwet” gekry nie weens gebreke daarin nie, maar omdat die eerste president, JP Hoffman en die goewermentsekretaris, JJ Groenedaal, fisiek gestrem was.

Veiligheidsoorwegings, soos ook blyk uit die Erasmus-kommissieverslag van regter Rudolf Erasmus, het dikwels erg eroderend op persvryheid ingewerk. Die waarde van mediavryheid is trouens duidelik by die Kempton Parkse onderhandelings begryp, soos blyk uit bepaling IX van die grondwetlike beginsels, wat ook in die oorgangsgrondwet opgeneem is: “Provision shall be made for freedom of information so that there can be open and accountable administration at all levels of government.”

Die duidelike rol van die vryheid van inligtingbeskikbaarheid om ’n skoon funksionerende demokrasie te verseker, word in bogenoemde grondwetlike beginsel onweerlegbaar onderstreep. Verskeie benaderings kan gevolg word om te bepaal hoekom daar so ’n hegte band tussen die demokrasie en die media bestaan.

’n Nuttige instrument is om die media as een van die agente vir politieke sosialisering onder die loep te neem. Politieke sosialisering word soos volg beskryf: “Alle samelewings is vir doeltreffende kohesie en funksionering afhanklik van konsensus oor waardes, norme en simbole. Hierdie … kultuur … is nie aangebore nie.”

Pelser en Botes skryf: “In die moderne samelewings is die massamedia (televisie, radio, koerante, tydskrifte en films) uiters belangrike sosialiseringsagente. Die media is dikwels die belangrikste middel waarmee mense die strukture en gebeure in hul samelewing interpreteer en beoordeel. Dit dien as die primêre medium van politieke kommunikasie. Selfs ’n driejarige kind kan die president op televisie herken as ’n soort baas van die volk. Aangesien die media se tegnieke so doeltreffend is, is sy trefkrag as sosialiseringsagent in sekere opsigte groter as dié van die gesin of skool.”

Die skrywers wys hierop op twee baie belangrike elemente van kennisoordrag, naamlik dat dit gewoon as bron van inligting dien, of tweedens as ondersteuner of uitbouer van die samelewing se dominante instellings en ideologie (of skoon nie alle gevalle nie) dien.

Politieke partye sal dus bykans alles in die stryd werp om die impak van dominante meningsvormer in die media te vertolk. Pelser en Botes se werk dateer egter uit 1992, dus die voor-1994-bedeling. Van die stellings sal waarskynlik in die huidige bedeling nie oral ewe instemmend afgaan nie: “Die moderne media het benewens die deurgee van informasie ook ʼn doelbewuste oorredingsfunksie.

‘n Kaart wat Reporters without Borders se jongste internasionale persvryheidsindeks visueel uitbeeld. (Grafika: https://rsf.org)

“Omdat die media en die skool dikwels hegemonies in samewerking met die owerheid funksioneer, word hulle meermale as oorredingsinstrumente van die staat beskou. Vanweë die feit dat die hedendaagse media groot sakeondernemings is wat ’n integrale deel van die korporatiewe politieke ekonomie uitmaak, het hulle oorwegend ’n pro-status quo-rol. Dit bring mee dat die media eerder die heersende politieke waardes en norme bevestig as om bestaande patrone van mag en bevoorregting te bevraagteken.”

Dit is te betwyfel of die media uit die voor- én na 1994-bedeling hiermee sou saamstem. Hierdie teenspoed is bepaald nie weens pro-regeringsentimente of en die bevestiging van bepaalde norme op die hals gehaal nie. Ook ná 1994 het sake nie vir die media te rooskleurig verloop nie. Die afgelope aantal jare het Suid-Afrika van die voorste posisie op die Afrika-vasteland geleidelik die kreeftegang op Reporters without Borders se internasionale persvryheidsindeks gegaan, daarna weer effe verbeter en toe op ’n effense sukkelposisie “gestabiliseer” het.

Verskeie Afrika-lande is by Suid-Afrika verby. Die redes is nie maklik te vinde nie, maar gereelde kritiek vanuit regeringsgeledere op die media wat “op die negatiewe” sou fokus in plaas van “prestasies met dienslewering” het stellig ’n merkie gemaak.

In ’n stadium het die speaker van die Mangaung-raad selfs geëis dat alle toesprake van raadslede, ook van opposisiepartye, vooraf aan hom vir goedkeuring beskikbaar gestel moet word om te bepaal of dit “ontwikkelingsgerig” is. Terwyl dr. Elsabé Pepler in ’n koerantartikel skryf: “Elkeen moet vryheid van spraak koester”, die grondwetlike vryheid van mediavryheid en van spraak geloof het, trap sy tog op tone: “Moet nooit glo dat mense tevrede kan wees in onkunde nie. Jy sal nie weet van vet katte en die soustrein, korrupsie, gekonkel, verdrukkingonregverdigheid, misdaad, nepotisme, bedrog en wanbestuur nie. Dit is die mees basiese ontkenning van enige vry mens se regte dat jy nie vir jouself mag dink en jou eie gevolgtrekkings oor jou regering mag maak nie.”

Onlangs het die Suid-Afrikaanse appèlhof bevind kriminele laster bly steeds ’n misdaad.

Die vereistes vir kriminele laster is in hoofsaak dat die laster gepubliseer moes wees, wat dit van crimen injuria onderskei. Beperkings kan ook op die media gestel word om ’n spesifieke regsproses van toepassing te hou. In die sogenaamde walgvideo-geval van die Reitz-vier het die voorsittende beampte tydens ’n uitstel van die verhoor op 26 Oktober 2009 die media gelas om nie verder met die klaers in die saak te praat nie, en ook nie om die vier skuldig te bevind voor die verhoor nog plaasgevind het nie.

Die owerheid kan subtiel of blatant perssensuur instel sonder om aktief teen die media op te tree. So was ’n dreigement van die destydse minister in die presidensie van oudpres. Thabo Mbeki dat die owerheid advertensie-inkomste van sommige publikasies kan weerhou ’n gevaarlike uitspraak in ’n land wat hom op ’n moderne grondwet en regstaat beroep. Voeg hierby die mediadiversiteitsinsentiewe, en die staat kan ’n uiters doeltreffende perssensuur instel sonder om enige perssensuur op die wetboek te plaas.

Nogtans is Suid-Afrika se persvryheid nie in hoofsaak deur perssensuur beheer nie, maar ’n algemene gees van politieke korrektheid. Dit het in die vroeë Mbeki-era gelei tot die ontstaan van ’n groep denkers wat as Mbeki-doktriniste beskryf kon word. Ongeag hoe onlogies standpunte van die president was, soos sy beleid van stille diplomasie teenoor die Zimbabwe van Robert Mugabe, dié doktriniste sou die pen en eter opneem en ’n saak oor die standpunt se briljantheid en weldeurdagtheid skilder.

Dié seepbel is eers geprik toe swart redakteurs die voortou geneem, en Mbeki openlik begin kritiseer het. Tim du Plessis, toe redakteur van Rapport, het die swart redakteurs vir hierdie waagmoed geloof, en die wit redakteurs het die opening geneem. Hy lys vervolgens ook die swart redakteurs wat hierin ’n rol gespeel het: ’n Paar name: Mondli Makhanya (Sunday Times), Barney Mthimbothi (Financial Mail), Ferial Haffajee (Mail & Guardian), Justice Malala, rubriekskrywer, en Xolela Mangcu, rubriekskrywer en intellektuele aktivis.

By terugskoue was dit moontlik minder van ’n bereidheid om ’n (swart) president te kritiseer as dat die skrif aan die muur was vir Mbeki se oorlewingstryd teen die latere pres. Jacob Zuma. Dit het dus min mense verbaas toe van dieselfde swart redakteurs kort daarna, in koor saam met die omstrede teoloog, dr. Nico Smith, wit mense gemaan het om nie so krities (jeens die swart regeerders) te wees nie, en die moontlikheid van ’n bloedbad is selfs genoem.

Dit is egter te gou om te beoordeel of die land nou ’n nuwe tydvak van politieke korrektheid betree, en of die media oor ’n breë front, en oor rassegrense heen, sal meedoen sou dit wel die geval wees. Jan-Jan Joubert, toe politieke redakteur van Rapport, skryf in sy gereelde meningsartikel: “Mense moet die een of ander tyd begin raaksien dat Zuma ’n politikus met ’n silwertong en ’n populistiese streep is wat vir jou sê presies wat jy wil hoor, en dan doen wat hy in elk geval wou. Meet hom aan sy dade, nie sy woorde nie…. Meet hom aan sy onwilligheid om die voortgesette gruwelike vermorsing van belastingbetalersgeld vas te vat….” Teen die agtergrond van die huidige Zondo-kommissie was dit besonder profetiese woorde.

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Dit mag wees dat Zuma se beloftes aan almal op politieke opportunisme neerkom, maar dié verskynsel onder swart politici is heel moontlik ook toe te skryf aan die tradisionele opvatting dat dit ’n goeie stamkaptein is wat saans van familievuurtjie na familievuurtjie in die kraal loop, en by elkeen vertel wat die mense graag wil hoor. Die feit dat die media in die moderne samelewing saamloop, en dan “by ander vuurtjies” berig oor wat vir die ore van “hierdie vuurtjie” bedoel was, is skynbaar nog nie na behore deur politici uit hierdie dampkring verwerk nie.

Hierdie duld van die “gesplete tong” soos sy “salwing” van Julius Malema, omstrede jeugleier van die ANC as geskikte “troonopvolger” vir die ANC, is tipies buite die betrokke kultuur erg verdelend en skadelik vir die land in geheel. Dit wil ook voorkom asof pres. Cyril Ramaphosa hom te veel op dié beginsel verlaat het, en dat dit met die verwering van Ramaforie grootliks geboemerang het.

En die posisie vandag? Veral twee aspekte kan Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks erg knou.

Die eerste is MultiChoice se verbod op die uitsending van enige bydraes van Steve Hofmeyr op enige van sy kanale. Die tweede is as van die klein partye by Verslaggewers Sonder Grense gaan kla oor hoe die media in Suid-Afrika nuusdekking aan hulle voor die verkiesing gegee het. Dit bots met die vereiste dat die media die politieke diversiteit in ’n land akkuraat moet weerspieël.

Een redakteur het selfs dit duidelik gemaak dat hy nie gewillig is om dekking aan hierdie partye te gee nie. Die praktyk van soveel klein partytjies op die stembrief, asook die talle wat weens die hoë koste van ondermeer die deposito’s nie deelneem nie, maak dit egter onmoontlik om die vereiste onbegrens na te kom.

Lees gerus ʼn volledige verslag https://www.scribd.com/doc/21773303/null

Lees ook https://kormorant.co.za/29045/wie-nog-ore-het-laat-hom-hoor/

Lees ook vandag se nuuskommentaar van die Media 24-publikasies hier.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wonder ·

Hoe kan SA persvryheid vier?? Kyk wat het met die SAUK joernaliste gebeur? SAUK wat niks “slegte” nuus uitsaai tedoene met stakings en geweld wat gedryf word deur die ANC nie? SAUK wat niks mag uitsaai oor xenophobie nie. SA het nié persvryheid soos wat dit gevier word nie.

Andreas ·

Dan kan owerheidsinstellings en ander ook in die toepassing van hul beleid sensuur toepas, soos met Steve, natuurlik is hulle verantwoordbaar aan ‘n hof, al sou hulle uitgedaag word?

Sonder om perssensuur wetlik of by wyse van regulering in te stel, kan daar seker ook gemobiliseer word en die regdenkendes word eenvoudig deur getalle van die gegriefdes en polities korrektes doodgeskree? (Natuurlik met die gepaardgaande optogte en betogings.)

willem botha ·

Die suid afrikaanse media hoef nie persvryheid te hê nie hulle pas dit van nature toe,in n diverse land soos sa is hulle te bang om na die kleur swart te verwys waneer daar na n verdagte verwys word .Dit is weer net andersom as daar na wit mense verwys word, so asof die ware feite verbloem moet word om politiese korrektheid te verseker ,ek is teen fobnuus maar vir ware nuus met feite soos dit is sonder om dit toe te sugarcoat.

Rupert Ashford ·

Mens hoef egter net te kyk na die skakerings op die kaart om ook hierdie “waghondorganisasie” se politieke onderrok te sien uithang. Feit is joernalistiek het in valsheid en oppervlakkigheid verval waar wat eens op die kommentaar en opinie blaaie was deesdae as onpartydige beriggewing opgedis word.

Jerry ·

SA se demokrasie en daarmee saam persvryheid, is onder beleg van die land se eie regering omrede die regering nog steeds na 25 jaar n bevrydingsorganisasie is met bevrydingsoogmerke. Afrika lande is Suid Afrika met ten minste 40 jaar tot 60 jaar vooruit met persvryheid omrede meeste van die lande hulle burgeroorloe gehad het en reeds jare gelede, sommiges selfs onlangs, van hulle bevrydingsorganisasies ontslae geraak het. Daar is nie n manier wat SA, asook Zimbabwe ware demokrasie en persvryheid sal ervaar voordat die twee Afrika lande nie ook regerings het sonder bevrydingsoogmerke. Die ANC en ZANU PF kan nie verander nie, want hulle bevrydingsoogmerke en die bloedspoor wat hulle agtervolg, kan nie verander nie. Die lyftaal insidente teenoor die pers van Jesse Duarte, Ace Magashule, Bathlamini Dlamini, Julius Malema ens, dit is teveel om op te noem, asook SA joernaliste wie tydens die komende verkiesing beskerm sal moet word, vertel die SA mediavryheid of is dit mediamuilband, verhaal!

Annie Webb ·

Joernaliste is net mense en kan net verslag lewer oor wat hulle self sien, hoor of lees. En dit word altyd gekleur deur hulle eie oordele en vooroordele. Selfs op daardie basiese vlak kan twee joernaliste dus verskillend kyk, hoor of interpreteer. Veral as dit by politiek kom, is dit noodsaaklik dat gewone mense toegang het tot media wat verskillende kante van die politieke spektrum dek. Hoewel ou, gesoute joernaliste bv. politieke sake in perspektief kan stel omdat hulle meer ervaring het, is daar nêrens iets soos ‘n ONpartydige joernalis nie. ‘n Joernalis wat daarop aanspraak maak dat nét hy/sy onpartydig en dus REG is, is gevaarlik en moet liefs vermy word. Die gebeure en nuusdekking in die VSA die afgelope twee jaar het daardie feit weer eens beklemtoon. En die feit dat SAners meestal net een kant van die nuus en menings uit die VSA en Europa sien en hoor, toon hoe dit kan lei tot absurde gelofies en reaksies (Trump is ‘n mal rassis; Trump gaan die wittes in SA kom red) wat absoluut niks met die werklikheid te doen het nie. Persvryheid móét beteken dat verskillende invalshoeke en menings vryelik gelug word sodat gewone mense kan kies watter kant hulle steun; in elk geval wat politiek betref. Juis omdat dit eintlik ons hele leefwêreld beïnvloed. Politieke korrektheid beteken juis dat net een stel waardes, sienings en menings op almal afgedwing word. Dit lei altyd weer tot ‘n “backlash”, soos die wêreld tans ervaar teen globalisme en sosialisme.

Pieter du plessis ·

Die media in SA het n groot aandeel gehad in die val van apartheid, hoekom nie nou help om die onregverdige diskriminasie teen minderhede,korrupsie, misdaad te laat val nie ,gee die feite soos dit is vertel wie die plaasbewoners aanval .Die buiteland dink ons val mekaar aan.maar die ware feite kan die aandag vestig op die regte oorsaak en n stop daaraan bring.Dit is persvryheid.

pan ·

Ek beleef nie persvryheid in SA nie,meestal word sensasie na gejaag ten koste van die minderheid of huidige benadeeldes.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.