Nuuskommentaar: Internasionale terreur en staatsterreur

Polisiebeamptes en soldate patrolleer die strate van Brussel (Sondag, 21 November 2015) Foto: STEPHANIE LECOCQ / EPA

Polisiebeamptes en soldate patrolleer die strate van Brussel (Sondag, 21 November 2015) Foto: STEPHANIE LECOCQ / EPA

Minstens 34 mense is dood en ongeveer 230 beseer toe Brussel gister onder ’n reeks terreuraanvalle deurgeloop het. Die Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid aanvaar.

Dit volg twee dae ná die aankeer van Salah Abdeslam, die man wat intensief gesoek is in verband met die Paryse terreuraanvalle op 13 November verlede jaar.

Die jongste aanvalle onderstreep net weer dat terreur nie ontwerp is om mooi te wees nie. Dit is die drama van geweld en dis ’n uiterste vorm van propaganda van die daad.

Volgens die IS is die aanvalle uit weerwraak omdat België deel van die internasionale koalisie is wat teen die IS optree. Dis ’n halwe waarheid – dit is immers ’n verklaarde beleid van die IS om sy revolusie om die nuwe kalifaat te vestig, na ander lande uit te voer. Uiteindelik is geen land wat die radikale Islam teenstaan van geweld gevrywaar nie.

Dit verskaf brandstof aan die veldtogte van mense soos Donald Trump.

As daar nou ’n land is wat sal weet wat die impak van terreur is, is dit Suid-Afrika. Suid-Afrika het dit alles beleef – van die Kerkstraat-bomontploffing tot die opblaas van ’n baba op ’n plaaspad tot ’n bloedbad in ’n vrouekroeg. Vermeende meelopers is wreedaardig op die sogenaamde necklace-metode vermoor. Met hierdie terreurdade het die plegers daarvan heldestatus verwerf.

En waar was die kollektiewe gewete van die wêreld toe?

Diegene wat toe bevoorreg was om buitelandse media te kon lees, het weinig hiervan te lese gesien. Die groot fokus was op wat staatsterreur genoem is. Die destydse Suid-Afrikaanse regering is uitgebeeld as ’n bewind wat die staatsmasjinerie inspan om die inwoners, en veral diegene wat openlik in opstand teen apartheid gekom het, genadeloos te jag. Selfs ná die opspraakwekkendste onthullings voor die Waarheids- en Versoeningskommissie, onthullings oor Vlakplaas en ander, het niks aan die lig gekom wat naastenby inhoud kon gee aan van die mees verregaande media-aansprake oor Suid-Afrikaanse staatsterreur nie.

Terreur kan nooit goedgepraat word nie, al het ’n mens ook hóé simpatie met die saak van die plegers. Die saak maak egter nie van die persoon wat ’n daad van terreur pleeg ’n vryheidsvegter of humanis nie.

Dit bevorder selde ’n demokratiese en menseregtekultuur, selfs al was dit die kenmerk van die beweging/staat voor terreur as metode ingespan is. Ná die 1994-oorname het Suid-Afrika vriendskapsbande met die mees bedenklike kalante soos Ghaddafi van Libië en Fidel Castro van Kuba gehandhaaf. Telkemale het Suid-Afrika sy VN-stem op ’n bedenklike wyse uitgebring soos byvoorbeeld in ’n vroeëre teenstem teen die veroordeling van die destydse bewind in Mianmar wat mildelik staatsterreur ingespan het.

Tot hoe ’n mate verbind so ’n bewind hom tot die hele spektrum van die demokratiese regstaat, asook menseregte wat minderheidsregte insluit? Daar mag sonstraaltjies (of reënboë) wees wat (tydelik) hoop bring, maar die hele pakket van magshebbers weerspieël dit selde. Sodra daar ’n leierskapsverandering intree begin die mooi ideale ontspoor. Dan begin ’n vrye pers meer as net ’n lastigheid word. Dan begin onafhanklike liggame ’n steen des aanstoots word en burgerlike instansies wat kollektief na belange omsien word die vyand. Dan bly minderheidsregte in die slag.

België het nou die steun van die wêreld nodig om die probleem hok te slaan. België is boonop strategies goed geleë om ook die IS se terreur na Frankryk, Nederland en Duitsland uit te voer. België se stryd is nou ons almal s’n.

Die internasionale koalisie teen die IS kan ook nou nie meer onkunde pleit oor die IS se vermoëns en bereidwilligheid om elders ter wêreld toe te slaan nie. ’n Spoedige militêre oorwinning is nou broodnodig, maar dan begin die eintlike stryd eers wanneer om die harte van mense meegeding moet word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Sue ·

Nie mooi om apartheid idiologie met Islamitiese idiologie te vergelyk nie. Dit verskil Hemelsbreed.

HanriGey ·

Geen persoon, volk of land kan kies wanneer hy of sy terrorisme veroordeel nie, almal het n kollektiewe verantwoordelikheid om dit te veroordeel en die te veroordeel wat daarmee simpatiseer. Tog laat die ” deafening silence” van die weste in die verlede ‘n wrang smaak van ‘n diepe onreg van die verlede. Die woorde van Dean John de Costa van die destydse Salisbury Anglican Church( 1978) by die roudiens vir die slagoffers van die Air Rhodesia Flight 825, wat deur Joshua Nkomo se Zipra afgeskiet is en daarna die oorlewendes koelbloedig vermoor het, was spesifiek gemik teen die weste ” The Silence are deafening”. Mag ons as Afrikaners nooit dieselfde fout begaan nie.

Marous ·

Kerkstraat bom , Magoo’s bar … teiken onskuldiges. Maak nie saak wat die motief is of waar in die wereld nie … dit bly steeds ‘n spul lafaards.

Juan ·

Die Weste sal hierdie geveg verloor indien hulle voortgaan met hulle liberale agendas.

Bruno Stef ·

Ek is geneig om met Donald Trump saam te stem tree kragdadig op in jou uitsprake as jy na die chaos rondom die wereld kyk . Neem dan ook toepaslike stappe om jou land en sy mense teen die terreur wat op jou afgedwing word te beskerm jy kan nie met terroriste onderhandel om n vreedsame toestand in jou land te bewerkstellig nie.

david ras ·

Herman Toerien vertel dat niks tydens die WVK “verhore” enigsins die verregaande aansprake van die Internasionale media oor SA kon staaf nie.–byvoorbeeld
Daar was aanhoudend fotos van swartes geplaas waar hulle agter een of ander diamant draad heining staan, konsuis in een van SA se “helkampe”. Na 1994 tot op hede is daar nog nie ‘n enkele heiningpaal gevind wat die bestaan van so ‘n helkamp kon bewys nie.

‘n Hollandse koerant het eenmaal ‘n foto geplaas van ‘n gesette swart vrou met haar bondel wasgoed in ‘n laken toegdraai, langs haar , Sy was volgens die byskrif in een van die helkampe,
Groot was my verbasing en ergernis toe ek tydens my daaglikse treinrit tussen Johannesburg en die Wesrand sou sien dat die foto op Westbury Stasie geneem is—die Naambord van die stasie is ewe netjies uitgelaat.
‘n Onskuldige toneel word ‘n blatante leuen.

‘n Voormalige werknemer van Dept Buitelandse Sake wat in die buiteland gestasioneer was, het my eenmaal vertel dat wanneer hulle inligting uit SA aangevra het om terug te slaan teen hierdie soort propaganda. Al wat hulle van SA kon kry was prentjies van Durban se goue strande !

Jammer om te noem. maar ons het die Propaganda stryd loshande verloor, en ons verloor hom nog steeds.

Sonder een enkele koerant uit die gedrukte media aan ons kant, gaan ons verloor tot hanekraai !

TDW ·

Dit herinner my aan die propaganda van Engeland in die Tweede Vryheidsoorlog toe Emily Hobhouse die foto na die Engelse media gestuur het van, vel-en-been, Lizzie van Zyl wat aan te sterf was in die Bloemfonteinse konsentrasie kamp agv wanvoeding en maagkoors. Om, sodoende, die Engelse volk meer bewus te maak van die haglike omstandighede waarin die boervrouens en kinders hul bevind in die Engelse “refugee camps”.
Wat skryf die koerant van die foto? ” the Boer will feed their cattle first before they feed their children, because cattle are more valuable to them…”
Propaganda was nog altyd n magtige wapen.

Johannes Meintjes ·

Dit verg ook parate burgers op grondvlak in SA en etiese burgerlike deelname aan selfbestuurstrukture waar ookal moontlik.

John ·

Wat Herman se, is dat die wiel draai. Ons gaan nog baie meer draaie en papwiele sien. Die buiteland, met Engeland aan die voorpunt, was groot opstokers teen die Afrikaners. Geen wonder nie dat die swartmense die leuens nou as die waarheid glo nie, Die vrees was nog altyd dat die Boere te magtig word met die rykdom dan in hulle hande. Hoe ‘nicer’ almal met mekaar behoort te word, volgens die huidige wereldparadigma, hoe duideliker blyk die verskille tussen bevolkingsgroepe en gelowe. Donald Trump is ‘n onortodokse leier wat die vyand ten alle koste nie as ‘n wereldleier wil he nie, want hulle gaan hom nie kan manipuleer nie; nie sy reaksies in ‘n nis kan ‘file’ nie, soos met oumie Clinton nie. Sy is ‘n ope boek; ‘n kom-ons-vat-hande tannie. Dan sal alles regkom. Die vyand lief haar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.