Nuuskommentaar: Internasionale Verpleegstersdag

Foto: (AP Photo/Mary Altaffer)

Die gevare waaraan verpleegsters dikwels in hul beroepe blootgestel word, word nou deeglik onderstreep tydens die Covid-19-pandemie. Die rol van verpleegsters het gister met die viering van Internasionale Verpleegstersdag ook weer onder die aandag gekom, die dag wat saamgeval het met die 200ste herdenking van die geboortedag van Florence Nightingale, “the lady with the lamp” soos sy bekendgestaan het.

Soos op die oomblik was daar in die tyd van Nightingale ook skokkende mediese toestande, en soos vandag het dit ook saamgeval met mense wat die wêreldsituasie destyds met geopolitiek wou uitbuit. In Nightingale se tyd het meer gewonde soldate aan infeksie as aan hul wonde gesterf. Nou hoor ons gereeld van gevalle waar mense in die haglikste omstandighede aangehou word en nog slegter behandel word. Maar het die lewe en uitgangspunte van Nightingale nie ook lesse vir vandag nie, net soos in haar eie tyd? Beslis!

Nightingale se opvattings en waarnemings het daartoe gelei dat baie dinge sou verander – verpleegkunde word nie meer as beroep beskou wat nie ’n ryker kind, of een van die hulpdienswerkers met adellike bloed, waardig was nie. Ja, daar is verpleegsters wat vandag steeds nie vir hul pasiënte omgee nie, en snags byvoorbeeld die voete sal sleep om ’n pasiënt wat die klokkie gelui het te gaan help. Oor die algemeen is verpleegsters egter voorbeelde van “’n dame met die lig” in die nag.

Foto: (Jonathan Brady/PA via AP)

Florence Nightingale was gesteld op kennis – veral kennis op haar eie vakgebied, en het haar aanvanklik self opgelei, en daarna toegesien dat die professie ook haar kennis deel. Vandag word die kennis van kenners oor die pandemie oor die algemeen hoog geag. Min regerings het nie die een of ander vorm van ’n multidissiplinêre adviesliggaam ingerig om hulle te adviseer oor hoe om te midde van die pandemie ten beste te regeer nie. Soos met ander belangrike kwessies, soos klimaatsverandering, is daar ook regeringshoofde wat horende doof is vir selfs die beste advies, maar hul ore elders gaan uitleen – met die bevolking wat die spit afbyt. Sommiges is onrehabiliteerbare populiste, ander vind die ontkenners se weergawe aantreklik, en ja, daar is sommiges wat gemoedsrus by die samesweerders kry.

Anders as vandag se populiste wat baai in verering, wou Nightingale ná haar terugkeer van die Krim-oorlog niks weet van enige verering nie. In die proses word die lig wat die hedendaagse Nightingale in die donker nag vir die benoude gewondes gebring het, eenvoudig gedoof. Fopnuus met sy toksiese sleepsel word eenvoudig met vlerke toegerus. So word die aandag van die werklike probleme wat die pandemie inhou van mense weerhou.

Soos te verwagte gee die Spreuke van Salomo ’n oorvloed van voorbeelde oor die voordele van die soeke na wysheid, soos ook Nightingale gemaak het, en vir die latere geslagte enorme voordele ingehou het. Hoofstuk twee van dié Bybelboek word spesifiek aan die voordele vir die verwerwing van wysheid gewy, met onder meer instruksies om insig te vra sodat meer van die Here verstaan kan word, want die Here is kennis.

Foto: (AP Photo/Eraldo Peres)

My seun, hoe sal jy vir God leer ken?
As jy luister na my
en onthou wat ek vir jou sê,

as jy goed luister na wysheid
en regtig probeer verstaan,

ja, as jy sê jy wil verstaan,
as jy vra hoe jy verstandig kan word,

as jy dit so graag wil hê
soos jy geld wil hê,
en daarna soek
soos jy na kosbare dinge sal soek,

dan sal jy verstaan
hoe jy die Here moet dien,
dan sal jy vir God leer ken.

Want dit is die Here wat wysheid gee,
Hy sal vir jou leer om te weet
en te verstaan.

Hy gee vir eerlike mense ware wysheid,
Hy beskerm mense wat heeltemal reg lewe ….

As jy verstandig en versigtig is,
dan sal jy veilig wees

Spreuke 2: 1-6 en 11.”

Die wetenskap is immers die tweede openbaringswyse van God. Dit is immers deel van God se skepping. Mag God se lig soos die lig van Florence Nightingale ook vandag bly skyn, en ons die wysheid en insig gee om in God se lig te leef, en die mensdom van hierdie pandemie bevry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Baie dankie, Herman, soos gewoonlik in die kol. Die siekte word bepaal, wat genesing kan bring, word uitgewys, maar die wat daarop gewys word, kyk ander pad en steur hulle nie daaraan nie. Ons mag nie ophou om, selfs namens ander, ons voor God moet verootmoedig en bid om uitkoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.