Nuuskommentaar: Internasionale Vredesdag

vredeOp Internasionale Vredesdag lyk dit vandag wêreldwyd nie bra vreedsaam nie met die ineenstorting van die Siriese skietstilstand as teksboekvoorbeeld hoe gebrekkig en delikaat vrede kan wees. Maar binne Suid-Afrika woel dit ook met die studenteonluste wat nou ander protesaksies in die skadu druk.

Die VN het 21 September van elke jaar as Internasionale Vredesdag (InternationalDayofPeace.org) verklaar. Dit het betrekking op vrede binne lande sowel as vrede tussen lande.

Is hierdie mooi ideaal haalbaar?

Kort voor Vredesdag het die jongste skietstilstand in Sirië in duie gestort, en is ’n dodelike aanval op ’n VN-noodkonvooi uitgevoer nog lank voor die broodnodige noodhulp baie hongergeteisterde gemeenskappe kon bereik. Vingers word oral heen gewys.

Die situasie op die Oekraïne se oosgrens met Rusland bly op ’n mespunt gebalanseer, en kort-kort word van die mespunt afgegly.

Intussen word die Middellandse See die begraafplaas van duisende vlugtelinge. Nog duisende bereik Europa, en binne Europese lande bou die potensiaal vir konflik op.

Die kompleksiteite, waarin migrasie ’n rol speel in die opbouende ongemak van gevestigde Nederlanders, word netjies ontleed in die koerant Trouw onder die opskrif “De Nederlander is nervous”. Die meegaande sportprent demonstreer dit goed:

vrede-spotprent

In min lande is die verskillende aspekte van onvrede so teenwoordig as in die plurale Suid-Afrika. Lees gerus dr. Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, se ontleding op Moneyweb hier. Op die oomblik val die fokus op die studente-onluste wat binne 24 uur landwyd versprei het, nadat dit al ’n ruk lank tussen ’n paar kampusse “geroteer” het.

Vanoggend nog lui ’n koerantopskrif dat die studente van ’n bepaalde universiteit wil hê dat die betogings vreedsaam moet verloop, maar die feit bly dat die betrokke universiteit gesluit is nadat onder meer toetsskrywende studente uit hul klasse gejaag is. Nie baie vreedsaam nie. Plek-plek lê studenteleiers ook skandalige “leierskap” aan die dag wat duidelik op die aanblaas van geweld afgestem is.

Suid-Afrika het ’n besonder groot inkomstegaping en ook ʼn hoë werkloosheidskoers. Dit is alles resepte vir opbouende onrus. Onverantwoordelike vakbonde se stakings lei heel dikwels tot geweld.

Plaasaanvalle vind met reëlmaat plaas.

Regeringsleiers, waaronder pres. Jacob Zuma, maak gereeld uitsprake wat baie mense baie warm onder die kraag laat, en werk boonop gereeld die ras-element baie eensydig en konflikskeppend in.

Afrikaans word oral onder druk geplaas, en soos sake nou staan, word selfs grondwetlike regte van Afrikaanssprekendes vertrap om groot moeilikheid met geweldaanstigters te voorkom.

Diensleweringsbetogings lei dikwels tot groot skade.

Kortom, dis baie makliker om op Internasionale Vredesdag oor Suid-Afrika se konflik en potensiële konflik te skryf, as oor vreedsaamheid in die land. Daarvan is daar wel baie, dikwels uit die openbare oog.

Dit bly ’n aanprysingswaardige doel om vrede na te streef: Matteus 5:9 lui: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Maar wat, binne kerkverband is daar ook dikwels gevalle van rou vitrioel wat uitborrel soos mense met verskillende standpunte mekaar betakel dat die see hulle nie kan skoonwas nie.

En ironies, geskied dit alles onder die sambreel van ’n nasionale vredesakkoord wat Suid-Afrika as rolmodel in die post-1994-era aan die wêreld sou presenteer. Die les is dat geen plan waterdig is nie, en dat daar nooit slapgelê kan word met die instandhouding van vrede nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Theuns ·

Hoe skaam laat jy my nou Herman! In my wese is ek verby vrede maak asgevolg van die voordurende diskriminasie teen die Afrikaner, sy Taal, sy Skole en Universiteite en ander Instellings. En is dit feitlik onmoontlik vir ons wit kinders om werk te kry? En dan moet ons nog die daaglikse gevloek en skelwoorde deur van ons eie mense verdra en om nie te praat van die gedweep van politieke priesters met die politiese korrekte uitlatings wat duidelik neerslag vind in hul optredes nie. Daar sal ongelukkig nooit vrede in die land wees solank as daar teen die mindere wit segment van die land se bevolking gediskrimineer word nie!Die meerderheid begeer verwoesting en Oorlog! En ek voorspel dat hulle dit gaan kry as hulle lank genoeg aanhou met die nonsense.

Marianne ·

Vrede???? Regtig???? Nie in die leeftheid nie!!!!
Daar is nie ‘n manier waarop daar sal vrede wees nie. Almal moor en baklei al van die Bybel se dae af!

E ·

Na so paar ‘ups’ en ‘downs’ wat die lewe my uitgedeel het kan ek vandag sê, vrede kom van binne, te midde van omstandighede. Die vrede wat ons Vader gee is ware vrede en niks of niemand kan die kosbare skat van jou ontneem nie. Nie vrede wat die wêreld gee nie, want die wêreld kan en sal dit nooit kan bied nie, maar vrede wat Jesus toe Hy op aarde was self vir ons gelaat het. Nog net 1 van Sy beloftes vir ons.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.