Nuuskommentaar: Is AfriForum se buitelandse projekte en veldtogte reg of verkeerd?

AfriForum se Ernst Roets, Monique Taute en Kallie Kriel tydens die bekendstelling van die veldtog. (Foto: AfriForum)

In die kuberruim stel Wikipedia die verhouding tussen AfriForum en die ANC soos volg: “The organisation has been criticized by the ruling ANC but also by many media outlets and academics.” Maar is hierdie soort opmerking in ’n artikel deurspek met feitefoute korrek en geregverdig? Met die land wat skynbaar onafwendbaar op formele rommelstatus afstuur, verdien AfriForum dalk meer krediet vir sy pogings om druk uit te oefen dat die regerende ANC nie flaters begaan wat rommelstatus nie net regverdig nie, maar ook lank reeds agterweë laat bly het nie, en veral dat minderheidsregte ook nie misken word nie.

AfriForum het gister aangekondig dat dit weer met eksursies oorsee lande en instansies gaan probeer bearbei om die Suid-Afrikaanse regering onder druk te plaas (die opskrif in Maroela Media lui die druk word op die ANC geplaas) om optrede te staak wat skadelik vir die land is, en minderheidsgroepe se minderheidsregte misken. Dit volg net enkele dae ná AfriForum aangekondig het dat hy formele klagtes teen pres. Cyril Ramaphosa en min. Lindiwe Sisulu (as voormalige minister van internasionale betrekkinge) by die VN se spesiale verteenwoordiger oor die verdediging van menseregte ingedien het.

Hierdie optredes is nie nuut nie. Vanuit regeringsgeledere (lees in hierdie geval die ANC) was daar al bitter reaksies (soms komiese redenasies wat uiteraard boemerang) en in enkele gevalle (soos op AfriForum se aandrang dat Julius Malema oor verskeie optredes vervolg moet word, of toestemming verleen word dat AfriForum hom deur sy privaat vervolgingspan onder leiding van die bykans legendariese adv. Gerrie Nel tot verantwoording kan roep) het verskeie lede bedank.

Gelukkig was daar in sulke gevalle ongeveer tien nuwe lidmaatskap-aansoeke vir elke bedanking. Trouens, daar was taamlike sterk aanduidings dat ’n groep akademici (Wikipedia se “many”?) ’n soort kabaal gevorm het juis om ’n kabaal teen AfriForum op te skop (begelei deur die Seunse Weenkoor), en onder meer ’n petisie begin het. Dit het skynbaar niks opgelewer nie ná Ernst Roets, wat spesifiek geteiken is, die leuens daarin uitgewys en daarna met regsoptrede gedreig het.

AfriForum doen ook ander, onbetwisbaar goeie werk. Selfs Max du Preez, ’n persoon wat hom al erg bitter teen AfriForum en Solidariteit (die vakbond en sambreelorganisasie) uitgelaat het, het al op RSG dié soort projekte lof toegeswaai en as “goeie werk” beskryf.

Maar vanuit regeringskant (ANC) bly daar venynige reaksie, soos die destydse minister van polisie wat AfriForum se openbare druk vir optrede oor plaasaanvalle as ’n “reklamefoefie” beskryf het. En wie sal vergeet hoe ’n ongenoemde “SA diplomaat” voor ’n VN-agentskap aangevoer het die afvaardigings wat voorleggings oor plaasaanvalle kom doen het, “mag nie spreekbeurte kry nie”, want hulle hunker na apartheid. Gelukkig het die VSA hierdie verraderlike optrede nek omgedraai, maar daar is geen teken dat Suid-Afrika dissiplinêr teen dié persoon opgetree het nie. Inteendeel, dit lyk of die persoon opdrag gegee is om dit te doen.

AfriForum is al uit regeringsgeledere daarvan beskuldig dat hy eintlik verraad pleeg. AfriForum het tereg daarop gewys dat verraad nie teen ’n politieke party gepleeg kan word nie, veral een wie se optredes skadelik vir daardie einste land is. Dus, AfriForum, en ’n hele versameling van partye en instansies wat stappe teen die mees onbeskryflik onnosel en skadelike optredes, plaaslik én in die buiteland, van ANC-gesinde instansies instel, tree besonder lojaal teenoor die land op.

Dieselfde geld dikwels nie vir die ANC nie, soos met die voornemende grondgryp sonder vergoeding. Talle instansies, waaronder Moody’s, het dié planne al pertinent uitgewys as een van die vernaamste faktore waarom Suid-Afrika op die rampkoers na ’n mislukte staat bly.

Trouens, talle organisasies en partye beskuldig tans die regering dat hy met ’n fopspeletjie besig is. Juis na aanleiding daarvan het mense tot 31 Januarie tyd om op die wetsontwerp op die beplande grondgryp te reageer.

In die woorde van die Afrikaner Selfbeskiking Party (sic): “Die skokkende onthulling is die afgelope naweek in die media gemaak dat die ANC bloot ’n skyn-wetsontwerp oor onteiening sonder vergoeding vir openbare kommentaar gepubliseer het. Die media het openbaar dat dr. (ons regstelling) Mathole Motshekga van die ANC erken het dat die ANC hierdie skyn-wetsontwerp gepubliseer het sodat dit nie te veel teenkanting veroorsaak voordat die ware wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê word nie.”

Die TLU SA reageer onder meer so in ’n dringende skrywe: “Daar is die afgelope tyd baie gewag gemaak oor onteiening sonder vergoeding. Die jongste is dat die ANC die besluitnemingsproses om namens die burgers van die land toe te sien dat billikheid gedurende die proses sal geskied, van die howe wil ontneem en in die kabinet wil vestig.

“Dit moet duidelik gestel word dat die proses wat aan die gang is totaal onaanvaarbaar is, al besluit die howe in sommige gevalle dat daar niks betaal moet word vir bates nie.

“Ons moet daarteen waak om nie vir die ANC se oëverblindery te val nie. Ons moet nie dink dat die aanvanklike voorstel darem sagter voorkom as hierdie belaglike nuwe voorstel en sodoende eerder die oorspronklike voorstel goedkeur nie.

“Ongeag waar die besluitneming sou lê, is die beginsel van onteiening sonder vergoeding in sy geheel steeds onaanvaarbaar. Geen persoon wat oor eiendom beskik waarvoor daar ’n titelakte deur die staat uitgereik is as bewys van wettige eienaarskap, behoort hoegenaamd in ’n situasie te wees dat die eiendom afgeneem sou kon word sonder om daarvoor te betaal ingevolge ’n markgeoriënteerde prys nie.

“Daar is baie bewusmaking gedoen om soveel moontlik kommentare van beswaar ingedien te kry. Hierdie skrywe dien om finaal weer aan elke lid die versoek te rig dat alle besware voor 31 Januarie 2020 ingedien moet word.” Lees gerus Jan-Jan Joubert se artikel hieroor in Maroela Media.

Verskeie artikels het onlangs in die media verskyn wat die vraag aan lesers stel of Suid-Afrika, volgens hul eie waarnemings, reeds ’n mislukte staat is. Hoewel die paneellede van RSG se program Kommentaar geoordeel het dis nie die geval nie, was die lesers van die artikels oorweldigend van mening dat die land reeds misluk het, en ook dat dit ’n dom vraag is. Grondgryp sonder vergoeding is gereeld as een van die redes hiervoor genoem.

’n Artikel op Netwerk24 hieroor deur Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, het 41 lesersreaksies gekry, Danny Titus se artikel het 126 lesersreaksies ontlok, en Maroela Media se Nuuskommentaar het 48 leserskommentare gekry. Op Facebook het die nuuskommentaar veel meer reaksie gekry – 189 lesers het daarvan gehou, 253 het kommentaar gelewer, en 110 lesers het dit gedeel.

Saam met die vraag of AfriForum reg of verkeerd optree, kom die vraag of dit korrek van burgers is om Suid-Afrika as mislukte staat te ervaar op grond van eie waarnemings en aan-die-bas-voel-ervarings, eerder as op grond van teoretiese definisies. ’n Studente-“wysheid” bied waarskynlik die antwoord: “Die definisie van ’n teorie is: dis iets wat nie in die praktyk werk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Arrah ·

Reg of verkeerd. Val dit egter op die regte ore? Ek glo nie die buiteland, byname Amerika of Europa gee om nie. Solank as diè huidige aan bewind bly is die buiteland se plunder rekening aanngaande steenkool, goud, platinum ens. nie te hoog nie. Sodra meer visioenêre leiers SA bestuur, sal die buiteland se plunder rekening heelwat verhoog.

Johan Venter ·

Gaan maak seker, daar is genoeg inligting en geskrifte van oorsee beskikbaar wat die impak wat Solidariteit en Afriforum op die buiteland het soos Herman hier bo toelig, bevestig.

Freek ·

Die optrede van Afriforum moet verwelkom word.
Dit geld ook vir sportkwotas, alle vorme van diskriminering teen minderhede in SA.

Ek glo dat ek, as deel van ‘n minderheid, eerder ‘n internasionale boikotaksie op sport-en finansiële gebied sal oorleef as die meerderheid in SA

Johan Venter ·

Dankie Herman, dit wat jy uitlig en die impak wat Solidariteit en Afriforum het is verseker nie op fop-feite gebasseer nie.

Siener ·

Hoekom is dit verkeerd om te “spog” oor wat regtig in SA gebeur?
Dis Afriforum se reg om dinge wat hier gebeur met die wereld te deel. Glo my baie mense van die buiteland sien wat hier aangaan en laat weet dit op die sosiale media. Die wiel draai al vat dit lank. Sterkte aan Afriforum.
As sekere mense en die ANC nie hiervan hou nie dan moet jy weet Afriforum is op die regte pad.

Johan Venter ·

Van Solidariteit en Afriforum se mense besoek mos gereëld die buiteland om daar mense toe te spreek, vergaderings en berade by te woon, ook het hulle mense met wie hulle daar oorkant korrespondeer, en NATUURLIK kry hulle terugvoer van daardie mense af. (Alana Bailey het nou onlangs ‘n berig oor haar laaste besoek hier op Maroela geplaas.)

Werner ·

Glo nie die land stuur op rommelstatus af nie dink ons is al lankal daar miskien kom ou CR ook agter dat die land in die drein af is as hy dit op CNN sien

Jr ·

Go Afriforum we are behind you. The ANC stands only for black people so why can’t Afriforum stand for us and I will say it in my personal case – n BOER because that’s what I am and proud to be one

RS ·

Ek steun dit. Of iemand dit hoor en raak sien, is n vraag. Indien dit gehoor of gesien word moet n mens vra of daardie land enige belange by SA het en of hulle dan genoeg sal omgee om iets te doen of om in te tree. Ek glo tog sterk dat daar wel erens iemand sal wees wat hoor En hou duim vas dat hulle n verskil sal maak.

JO ·

Blink planne en uitstekende idees is wat AfriForum en die groter Solidariteit beweging doen. Wens net meer mense weet van dit want dit gee mens hoop, iets wat Suid-Afrika nodig het.

Jimmy ·

SA, en in besonder Afrikaners, is beslis nie spesiaal in hierdie groot wêreld nie. Net so min as die Tsjeniërs, Afghane, Libiërs en Irakese. Die oefening is dus van geen belang nie. Buitelandse maatskappye het hul risiko ontledings gedoen en sal doen wat hulle moet om die risiko’s hier te bestuur.

Arak ·

En tog, as Donald Trump ‘n tweet oor SA stuur of Ernst op Tucker gesels is Cyril en kié baie verleë en smeek hulle om terug te kom. As druk uit die buiteland vir die regering so min pla, hoekom gaan beveg hulle elke keer vir Afriforum by die VN wanneer hulle hul verslae oor die ontkenning van minderheidsgroepe in die land gaan onthul. Hoekom spandeer die regering miljoene aan konsultante en afgevaardigdes om Afriform te probeer diskrediteer as dit so nutteloos is? Druk uit die buiteland het die NP help val, druk uit die buiteland kan die ANC se dae ook help tel.

Johan Venter ·

Jimmy, elkeen in die wêreld is besonders en het ‘n besonderse talent wat hy na die tafel toe kan bring, jy ook. Meestal is nogal trots op hul herkoms, kyk hoe aggresief kan sekere nasies oor hul herkoms raak. As jy anders voel en jou talente onder die maatemmer wil sit, is dit seker reg so.

Andre ·

Trump gaan nie vir altyd president wees nie. Hoogstens vyf jaar, dalk nog ‘n paar maande. Dan is ‘n nuwe persoon in die Withuis wat minder tweet. Dalk ‘n Demokaat wat anders dink. En onthou, druk uit die buiteland het nie die NP laat vou nie, want daar was ‘n referendum waar NP lede Ja gestem het. Ek woon in die VSA en hier is daagliks hordes groepe uit die buiteland wat hier kom bemarkingswerk doen. Soek ook geld. Praat baie op TV en radio. Hul regerings se verteenwoordigers hier probeer hulle ook diskrediteer.  Besluitnemers hier neem nie juis kennis nie. Hulle sal luister soos goeie gashere behoort te doen. Daarna gebeur niks. SA en Afrikaners is nie eers op die radar nie. Beide is onbelangrik, net soos Zim en sy mense wat begin honger ly.

pieter ·

EK love AfriForum. Die mense praat nie net nie hulle probeer werklik dinge doen. Help veel almal wil n opinie gee altyd, maar kom wys my wat jy doen- behalwe moun of n opinie gee. DANKIE AFRIFORUM.

Leon ·

Hallo, wat het die ANC, PAC en SAKP al die jare in dei buiteland gedoen om apartheid af te breek. Presies dieselfde. Hulle word nou hulle eie medisyne gevoer. Dit is hoekom hulle so ongelukkig is. Afriforum staan nou sam met hulle agter die deur. Dit raak nou te warm agter die deur.
Kry vir jou boetie. Voel hoe voel dit. Nou weet julle hoe dit al die jare gevoel het toe Die ANC die wêreld teen ons gedraai het.

Dee ·

ANC het presies dieselfde gedoen om buitelandse steun te werf vir die val van apartheid. En selfs verder gegaan en bevondsing, opleiding, verblyf, ens ens gekry. DIs dalk hoekom mense bang raak want druk uit die buiteland werk baie doeltreffend.

Hansie slim ·

Ek ondersteun Afriforum heel hartig!!
Ek is net bevrees dit bereik nie veel in die buiteland nie… nie in Europa in elk geval nie!!
Net ‘n paar maande daar en ons het amper geen nuus oor SA gesien nie.
Dan lees ek insidente op Maroela media wat beslis groot nuus behoort te wees….. niks!!!!

Pieter ·

Hansie wees n verlenging van Afriforum en gebruik die sosiale media om die boodskap verder te verkondig.

Johan Venter ·

Maroela, jammer van hierdie ‘skrop ‘n nes’ wat nou enige tyd met ons sal wees, daar is maar net sekere inligting oor my wat my privaatheid bly, al beduie julle hoe. Groetnis, Herman, ek het ook in die verlede baie positiewe kommentare onderaan jou artikels geplaas, jy is geseënd met wonderlike talent. Ook het ek dikwels skakels en inligting gedeel wat aanvullend interessant vir die mense sou wees, ook onder ander artikels. Ek het in die verlede die naam Paul gebruik, Andraes en so ‘n hele paar ander. So ek het nie net gesels nie, maar het ek ook my kennis gedeel, en natuurlik ook nie my gevoel oor die wonderlike taak wat Solidariteit en Afriforum verig, weggesteek nie, mens kan mos nie anders as mens dit een met hul missie is nie. En as mens Afrikaans is nie.

Herman Toerien ·

Sjoe, en het ek Paul en Andres se afwesighed gemis. Altyd goed ingelig. As ek reg onthou, het Paul aangedui dat hy in ‘n rolstoel is – iets wat my die afgelope vier jaar periodiek ook my deel was. Ek het dus so ‘n vae idee hoe gefrustreerd mens soms kan voel. Ek was juis in die rolstoel toe die huisrowers toegeslaan en ons huishulp vermoor is. Ek self was maar erg beseer en ek het so gehoop hulle word gevang dat ek elkeen se voet ‘n hou met die voorhamer kon gee. Kon vir drie weke skaars op die voet trap. Nietemin, ek haal my hoed af vir iemand wat ingeperk is, positief en visionêr kan wees. Hoop dit gaan baie goed daar. Herman

Walter ·

Dis te betwyfel of die buiteland besorg is oor die lot van wittes in SA. Die anti-apartheid beweging was gemik teen rassisme. Sal buitelanders reken dat dit wat die regering nou predik is rassisties? Ek twyfel. Dis eerder ‘n patetiese sosialistiese beleid wat gevolg word en wat gematigde swartmense ook gaan raak. Afriforum moet eerder uitreik na ander binnelandse groepe en daar begin beïnvloed. Dit sal wel goeie strategie en harde werk vereis. Mobiliseer almal wat dieselfde sienings huldig en neem dan die boodskap oorsee op ‘n kollektiese manier.

Koos Berends ·

Hulle is al lank daarmee besig, vra vir die Zulu koning.

Feite ·

Daar is talle voorbeelde waar Afriforum die regte dinge reg gedoen het, net soos daar talle voorbeelde is waar die regte dinge verkeerd gedoen word. Dit is ook n gegewe feit dat Afriforum tog nie perfek is nie. Afriforum verdien dus elke stukkie kritiek wat aan hulle toegedig word tydens die leerfase en solank as wat hulle nie domastrant is nie, is daar soms wel iets nuttigs wat opduik waaruit daar geleer kan word. Voorbeelde van regverdigbare kritiek is daar baie, hier is byvoorbeeld twee daarvan: Afriforum is n burgerregte organisasie wie hom daartoe beroep dat hy die belange en regte van alle Afrikaners verteenwoordig, regtig? Verteenwoordig Afriforum inderwaarheid nie net die regte van sy lede wie toevallig Afrikaners is! Tweedens het Afriforum n paralelle struktuur met die staat se struktuur gestig vir plaasbeveiliging aangesien die SAPD nie boere kan beveilig nie. Ten spyte van Afriforum se plaasbeveiligingstrukture word boere steeds op hulle plase aangeval, gemartel, vermink en vermoor! Afriforum blameer egter steeds die staat vir plaasaanvalle. Hierdie is slegs twee voorbeelde waarvan daar nog baie voorbeelde is, soos baantjies vir boeties waarvan n bekende sanger se seun die direkteur van plaasbeveiliging is en dan is ons vinnig om ander te beskuldig en te blameer omrede dit so beroerd gaan! So gou soos wat Afriforum nie die regte dinge verkeerd doen nie,so gou sal dit nie so beroerd gaan nie!

Helga ·

Is dit n probleem as Afriforum sy lede verteenwoordig wat ledegeld betaal? Daar is ook niks onderduims in die sogenaamde sanger se seun wat as direkteur aangestel is nie. Hoekom moet die Afrikaners altyd alles deel wat hulle tot stand bring, tot radiostasies moet aan sekere vereistes voldoen. Ons moet altyd almal in ag neem, maar ons word geensins in ag geneem nie. Wat is fout daarmee as ons onself wil beskerm of na ons belange omsien? Alle nasies het nasietrots.

Koos Berends ·

Met die lees van jou kommentaar kom hierdie woorde in die laaste paragraaf van Daniël Eloff se artikel so ‘n dag of twee gelede hier op Maroela by my op:
“Die snelle aard van sosiale media het gelei tot die ontwikkeling van ʼn woedekultuur en Trump-versteuringsindroom is net ʼn uitvloeisel daarvan. Post-Trump gaan die woedekultuur met die binêre aard van nuwe politiek ʼn nuwe teiken opspoor om hul
sleutelbordaktivisme teen te woed.”

Koos Berends ·

En ek het ‘n idee Herman Toerien het jou reguit in die oë gekyk toe hy hierdie nuuskommentaar geskryf het.

JG ·

@ Feite (JERRY)…jy het altyd negatiewe kommentaar jeens Afriforum. Maar wat doen JY wat enigsins bevorderlik vir ons situasie is, behalwe om sleutelbord-kryger te speel ?

Peet ·

Met Ambassadeur Lana Marks se totaal skewe kommentaar is die besoek beslis aangewese.
Dit gaan in elk geval moeilik wees met die alomteenwoordige lingse pesmedia en
“play for play” joernalistiek.
Dankie vir julle pogings.

Judge Dredd ·

Steun Afriforum 100%.
En ons weet wie deel van die seunse weenkoor hier op Maroela is, dis nou die sogenaamde “Feite” manne .

Jollie ·

Ja, Afriforum is uiters belangrik vir ons almal. Wie anders gaan vir ons opstaan en die buiteland vertel wat werklik aangaan. Die wit Afrikaners dra swaar aan die blaam van apartheid, maar het die wat so vingerwys al ooit gaan kyk watter euwels die Afrika leiers aan hulle eie mense gedoen het, en steeds doen. Een Kommentaar op n youtube video wat gaan oor die plaasmoorde vra n knaap van oorsee, maar is dit nie oor’ revenge’ vir apartheid nie, m.a.w die moorde/aanvalle is vergelding, dus word dit geregverdig.

Jandre ·

Net die feit dat so n vraag gestel word, is op sig al verontrustend.

Thinus Erasmus ·

Ou spreekwoord: Probeer is die beste geweer! Jimmy as al die wêreld se verdrukte gemeenskappe hulself laat hoor en aanhou, sal die houding jeens hulle weldra verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.