Nuuskommentaar: Is Afrikaans saam met Lesufi-pop gehang?

Die pop wat Woensdag buite die departement se kantoor aan ‘n boom gehang is. Foto: Twitter

Verskeie partye en instansies is saam met Panyaza Lesufi ontsteld oor die pop wat die LUR uitbeeld wat opgehang is. Hoe wys is sulke optrede in ’n komplekse land soos Suid-Afrika?

Die voorval waar ’n groepie ’n pop met die gesig van Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, opgehang het, word wyd veroordeel. Ook Afrikaanse onderwysgeledere en die Afrikaanse Taalraad het die voorval veroordeel. ’n Probleem is dat kritici die voorval aan rassisme koppel, terwyl die plegers volhou dat ras geen rol gespeel het nie, en dat hulle dit bloot het oor Lesufi se stryd teen Afrikaans.

Die gebeure raak bietjie meer gekompliseerd weens die neiging om enige poging om vir veral Afrikaanse minderheidsregte (wat internasionaal erken word) in die bresse te tree, as provokatief af te maak en te veroordeel.

Dit het onlangs ook ’n nuwe vorm aangeneem deurdat enige Afrikaanssprekende wat teen toevallig ’n swart persoon stappe doen, se optrede as anti-swart, en dus ook provokatief beskou word. Die voortgesette diskoers oor AfriForum se besluit om Julius Malema te vervolg, sou die Nasionale Vervolgingsgesag versuim, is hier ’n voorbeeld.

Dat die hang-voorval minstens in ’n mate polities beïnvloed is, kan nie betwyfel word nie. Dit is immers ’n reaksie op ’n deurlopende politieke spel van Lesufi, wat hom nie veel aan die grondwet en die internasionale reg steur nie (al maak hy kort-kort ander geluide soos dat hy wil byvoeg en niks wil wegneem nie.)

Die feit is dat Lesufi nou kastaiings uit die vuur probeer krap. In die tyd wat die leerlingtal in Gauteng met 300 000 toegeneem het, en daar dus minstens 300 skole gebou moes gewees het, is ongeveer 80 gebou. Die gevolg is ’n wesenlike tekort aan klaskamers. Voorts verander die demografie, en ontstaan die behoefte aan les in Engels waar dit nie voorheen bestaan het nie.

En om dan hardhandig, en ten koste van Afrikaans, op te tree is geen resep vir die bou van goeie verhoudings nie.

panyaza lesufi

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: ANA.

Die geskiedenis, ook in Suid-Afrika, van protes-politiek – dikwels simbolies – is ryk aan voorbeelde. Die beskadiging van standbeelde is ’n goeie voorbeeld, maar het in Suid-Afrika sterk uitgebrei waar ook skilderye, burgemeestershuise, munisipale kantore en vele meer in die slag gebly het.

Elders in die wêreld het die verbranding van vlae ’n alledaagse verskynsel geword, en nou en dan is poppe wat presidente uitbeeld, ook verbrand. (Sommige analiste gaan haal die wortels hiervan uit die dae van menslike offers).

In Suid-Afrika het dit onder meer die aaklige manifestasie van die sogenaamde “necklace”-moorde aangeneem.

Teen dié agtergrond is die ophang van ’n Lesufi-pop ’n onbenulligheid. Dit sou veral die geval in ’n homogene land gewees het, maar ongelukkig vir die plegers is die land heterogeen, en danksy partye soos die EFF word daar te maklik rassisme geskree waar daar nie rassisme betrokke is nie.

Aan die ander kant moet Lesufi ook onthou dat hy ’n politikus is, en vir ’n politikus geld die reël dat as jy jou vir ’n toffie uitgee, moet jy bereid wees om gekou te word. Sy vel moet dus dikker wees as dié van die gewone lid van die publiek, of die amptenaar wat streng tegnokraties (binne die raamwerk van die grondwet) sy werk verrig.

Nogtans… in Suid-Afrika moet elke daad van protes versigtig teen bedoelde en onbedoelde gevolge gemeet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

leser ·

protes aksie is blykbaar nie vir afrikaans sprekendes geregverdig nie, ek is nie afrikaan nie, ek is suid afrikaanse “boer”

Eish ·

Goed geballanseerde artikel.
As blanke Afrikaansprekende ervaar ek stellig die hede soos n mynveld waar n enkele verkeerde voetval katastrofiese gevolge kan hê.
Ons is sodanig getipeer dat enige aksie of optrede noodwendig rassistiese bybedoelings impliseer.
Ek wil nie slegs verdra word nie, ek wil my lewe voluit kan leef. Elke dag in die helhool bring my opnuut onder die besef dat integrasie n pypdroom is wat opgaan in wolke van wraaksug. Dit bly maar n uitdaging om n greintjie hoop en optimisme uit te grawe in die aangesig van groteske vernietiging van beskawingswaardes.

Piet Snot ·

“Onbedoelde gevolge”: dis waar ons moeilikheid lê. Ek dink rêrig nie die mense het hierdie een mooi deurdink nie.

Awie Opperman ·

Die probleem met hierdie situasie is dat die regering ons wil voorskryf, selfs wanneer dit by ons protes kom. Ek en duidelik heelwat ander burgers is keelvol om soos vreemdelinge in ons eie land behandel te word. Geen geboue of ander infrastruktuur is beskadig nie, net die LUR se ego is bietjie gekrenk. Hy kan sy duim suig tot hy beter voel.

jaco ·

‘n minderheid vanuit die Afrikaners, wat reeds ‘n minderheid is, doen simpel goed en dan word daar later gesê “alle Afrikaners is so”. Uiteindelik word ons almal onderdruk. Wanneer gaan alle Afrikaners saam staan deur eerder aan verkiesings deel te neem en net te kla oor hoe hulle regstellende aksie, plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding ervaar? Klagtes oor dié goed is brood en botter kwessies. Kla eerder daaroor. Om Afrikaans met engels te vervang vat nie jou werk weg nie en vermoor nie ‘n boer nie.
Dan ook: as alle wit Afrikaanse stemgeregtigdes deelneem aan verkiesings sal partye soos die VF-Plus, die ACDP en seker ook die DA meer slaankrag in die parlement hê.

Gemaskerde Sopbeen ·

In die eerste artikel oor hierdie voorval word verwys na die ANC se reaksie wat hulle uitgereik het, en onder andere stel dat hierdie aksie gepleeg is deur “Anti Transformasie Agente”? Met ander woorde…………die Afrikaner is dus veronderstel om met ALLES wat teen sy taal, kultuur, godsdiens, velkleur gepleeg word, saam te stem (soos ‘n soet kind) of gebrandmerk te word as “Anti Tranformasie Agente”? Afrika Demokrasie: ‘n Proses waar die minderheid kan deelneem aan hulle ondergang!! (en in die meeste gevalle goed voel daaroor omdat die Afrikaanssprekendes vir een of ander rede glo dat dit wat nou gebeur ‘n tipe van “verdiende loon” is!!)

Gjorgi ·

Ek stem saam Piet. Toekomsfonk het nou lekker drooggemaak.

Ek dink ·

Ek dink en sien dit volgens die idioom ”n galg vir ‘n ander bou en jouself daaraan ophang’. Dus ‘n galg wat Lesufi vir Afrikaans bou en nou hang hy self daaraan. Omdat ons Boere se humor en sy nasie se humor toetentaal verskil sal hy (Lesufi) en andere dit onmoontlik kan begryp. Daarom is dit altyd riskant om ‘n grap met hulle te maak want in die agterkop is die aanname: RASSISME.

Dissie ·

Maar tog… Blykbaar verstaan Julius en die EFF lede van PE beeldspraak…

Oom Kalahari ·

Natuurlik sal daar ‘n paar galbrakers wees oor ‘n ou poppie. Waarom altyd agteroor sit en net handjies klap as alles van die blanke Suid Afrikaners ontneem word. As Lesufi wil hande neem en vorentoe gaan, dan erken die Afrikaanse kultuur en wat daarmee gepaard gaan. Moenie die kommunistiese stelsel wil toepas van wat jy se moet almal net inval. Daar is respek vir die ander 10 landstale waarby Engels ook gevoeg word op skole vak soos wat Afrikaanse skole nog altyd engels as tweede taal toegepas het en Engelse skole andersom. Daar is geen Rassisme betrokke nie en doen jou werk en bou skole. Hou op om soos ‘n babbatjie te skree as iets nie jou streke sus nie. Ons vlae word gebrand en vertrap, beelde word vernietig en skade aangerig, geskiedenis en godsdiens in Staats departemente en skole word ontneem, Biblioteek word afgebrand, taal word op Universiteite, kolleges, Staats departemente en privaat sektore asook seker volgende op skole vlak alle afrikaans ontneem. Jy Mnr Lesufi is besig om ‘n rasse wig toe te pas.

PLP ·

n Ou poppie. Kan grootmense nie dink nie. Hoekom so iets wil aanvang. Wat het hulle bereik daarmee. Net weer die witman beswader. Hierdie tipe mense moet nou begin dink aan hulle gevolge. Ek het kinders en n kleinkind in hierdie land. Wat van hulle toekoms wat deur die soort ding benadeel word. Daar is seker ander maniere om jou frustrasie te bespreek. Nee man mede Afrikaners dink voordat jy so iets doen. As jy nie n lewe hier oor het nie dink tenminste aan jou mede afrikaanse en wit burgers.

Gerhard ·

Wanneer word daar begin om uitvoering gegee te word aan die enigste werklike antwoord vir die probleem. Waar dink julle gaan die twak eindig as Afrikaners nie tot hulle sinne kom en begin om ‘n Afrikanerstaat in werking te stel nie.

Grassie ·

Van al die Afrikanerhaters in die land laat Lesufi my nekhare die meeste rys. Hy slaan ons waar dit ons die seerste maak – by ons kinders. Verder maak hy gereeld neerhalende, minagtende aanmerkings oor Afrikaners. Ek verstaan die frustasie en woede van die mense wat die pop opgehang het.

Basson ·

Bepaald so, man alleen is hy besig met ‘n groot impak om taal en kultuur te vernietig en polarisasie aan te stook.

LR ·

Afrikaans wat by skole en unieversiteite weg gevat word, BEE, kwotas in sport, regstellende aksie, is alles n subtiele manier van onteiening.
Al hierdie goed is primêr teen die wittes gemik as straf vir apartheid. Nou kom ons bates in gedrang met die proses van grond onteiening sonder vergoeding.
Ons is kwaad daarom die Lesufie pop in die boom, simbolies van hoe ons begin voel.

Jannie ·

Rasse haat in hierdie land gaan net meer en meer word. Dis asof almal uit hul pad gaan om rasse haat aan te wakker. Hier gaan nog baie hartseer en trane na beide kante toe vloei.

Juan Olivier ·

Hulle het niks verkeerd gedoen. Die anti-wit rasistiese linkses sal altyd die ras kaart speel. Nou dat hulle weer die ras kaart speel soos altyd wil party mense nou sê die protes was verkeerk terwyl daar niks verkeerd mee was nie. Moet ons nou elke keer agteroor val as die anti-wit rasiste rasisme skree?

Gerhard ·

Miskien n simpel ding om te doen… die pop storie. Maar ons mag niks sê nie. Ons mense wil nie aanstoot gee want wat van ons besittings, ons geliefdes, ons lekker gemaklike lewe…. maar daai dag kom nader. Daai dag waar jy jou lewe en jou vryheid – en die van jou geliefdes – weeg teen hoeveel ons rêrig moet opvreet om net onsself te wees. Ons het nog net nie genoeg verloor nie…Dis een ding om tegemoedkomend te wees, om eerlik na jou eie foute te kyk, om saam te bou aan n land. Dis egter iets anders as jou sogenaamde medeburgers nie jou wil hê nie. Wat is die punt dan? Nee ek dink ons moet omtremt so tien duisend keer meer onbedagsaam word en ons punt maak. Die blikskottel teiken Afrikaans in skole en dis dit!

Noord-Transvaal ·

Wat is die problem? Malema / EEF se kommentaar is sekerlik op ‘n ander vlak. Waarom is daar altyd Afrikaners wat gereed staan om jammer the sê?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.