Nuuskommentaar: Is Afrikaans saam met Lesufi-pop gehang?

Die pop wat Woensdag buite die departement se kantoor aan ‘n boom gehang is. Foto: Twitter

Verskeie partye en instansies is saam met Panyaza Lesufi ontsteld oor die pop wat die LUR uitbeeld wat opgehang is. Hoe wys is sulke optrede in ’n komplekse land soos Suid-Afrika?

Die voorval waar ’n groepie ’n pop met die gesig van Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, opgehang het, word wyd veroordeel. Ook Afrikaanse onderwysgeledere en die Afrikaanse Taalraad het die voorval veroordeel. ’n Probleem is dat kritici die voorval aan rassisme koppel, terwyl die plegers volhou dat ras geen rol gespeel het nie, en dat hulle dit bloot het oor Lesufi se stryd teen Afrikaans.

Die gebeure raak bietjie meer gekompliseerd weens die neiging om enige poging om vir veral Afrikaanse minderheidsregte (wat internasionaal erken word) in die bresse te tree, as provokatief af te maak en te veroordeel.

Dit het onlangs ook ’n nuwe vorm aangeneem deurdat enige Afrikaanssprekende wat teen toevallig ’n swart persoon stappe doen, se optrede as anti-swart, en dus ook provokatief beskou word. Die voortgesette diskoers oor AfriForum se besluit om Julius Malema te vervolg, sou die Nasionale Vervolgingsgesag versuim, is hier ’n voorbeeld.

Dat die hang-voorval minstens in ’n mate polities beïnvloed is, kan nie betwyfel word nie. Dit is immers ’n reaksie op ’n deurlopende politieke spel van Lesufi, wat hom nie veel aan die grondwet en die internasionale reg steur nie (al maak hy kort-kort ander geluide soos dat hy wil byvoeg en niks wil wegneem nie.)

Die feit is dat Lesufi nou kastaiings uit die vuur probeer krap. In die tyd wat die leerlingtal in Gauteng met 300 000 toegeneem het, en daar dus minstens 300 skole gebou moes gewees het, is ongeveer 80 gebou. Die gevolg is ’n wesenlike tekort aan klaskamers. Voorts verander die demografie, en ontstaan die behoefte aan les in Engels waar dit nie voorheen bestaan het nie.

En om dan hardhandig, en ten koste van Afrikaans, op te tree is geen resep vir die bou van goeie verhoudings nie.

panyaza lesufi

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: ANA.

Die geskiedenis, ook in Suid-Afrika, van protes-politiek – dikwels simbolies – is ryk aan voorbeelde. Die beskadiging van standbeelde is ’n goeie voorbeeld, maar het in Suid-Afrika sterk uitgebrei waar ook skilderye, burgemeestershuise, munisipale kantore en vele meer in die slag gebly het.

Elders in die wêreld het die verbranding van vlae ’n alledaagse verskynsel geword, en nou en dan is poppe wat presidente uitbeeld, ook verbrand. (Sommige analiste gaan haal die wortels hiervan uit die dae van menslike offers).

In Suid-Afrika het dit onder meer die aaklige manifestasie van die sogenaamde “necklace”-moorde aangeneem.

Teen dié agtergrond is die ophang van ’n Lesufi-pop ’n onbenulligheid. Dit sou veral die geval in ’n homogene land gewees het, maar ongelukkig vir die plegers is die land heterogeen, en danksy partye soos die EFF word daar te maklik rassisme geskree waar daar nie rassisme betrokke is nie.

Aan die ander kant moet Lesufi ook onthou dat hy ’n politikus is, en vir ’n politikus geld die reël dat as jy jou vir ’n toffie uitgee, moet jy bereid wees om gekou te word. Sy vel moet dus dikker wees as dié van die gewone lid van die publiek, of die amptenaar wat streng tegnokraties (binne die raamwerk van die grondwet) sy werk verrig.

Nogtans… in Suid-Afrika moet elke daad van protes versigtig teen bedoelde en onbedoelde gevolge gemeet word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
leser

protes aksie is blykbaar nie vir afrikaans sprekendes geregverdig nie, ek is nie afrikaan nie, ek is suid afrikaanse “boer”

Eish

Goed geballanseerde artikel.
As blanke Afrikaansprekende ervaar ek stellig die hede soos n mynveld waar n enkele verkeerde voetval katastrofiese gevolge kan hê.
Ons is sodanig getipeer dat enige aksie of optrede noodwendig rassistiese bybedoelings impliseer.
Ek wil nie slegs verdra word nie, ek wil my lewe voluit kan leef. Elke dag in die helhool bring my opnuut onder die besef dat integrasie n pypdroom is wat opgaan in wolke van wraaksug. Dit bly maar n uitdaging om n greintjie hoop en optimisme uit te grawe in die aangesig van groteske vernietiging van beskawingswaardes.

Piet Snot

“Onbedoelde gevolge”: dis waar ons moeilikheid lê. Ek dink rêrig nie die mense het hierdie een mooi deurdink nie.

jaco

‘n minderheid vanuit die Afrikaners, wat reeds ‘n minderheid is, doen simpel goed en dan word daar later gesê “alle Afrikaners is so”. Uiteindelik word ons almal onderdruk. Wanneer gaan alle Afrikaners saam staan deur eerder aan verkiesings deel te neem en net te kla oor hoe hulle regstellende aksie, plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding ervaar? Klagtes oor dié goed is brood en botter kwessies. Kla eerder daaroor. Om Afrikaans met engels te vervang vat nie jou werk weg nie en vermoor nie ‘n boer nie. Dan ook: as alle wit Afrikaanse stemgeregtigdes deelneem aan verkiesings sal partye soos die… Lees meer »

Gemaskerde Sopbeen

In die eerste artikel oor hierdie voorval word verwys na die ANC se reaksie wat hulle uitgereik het, en onder andere stel dat hierdie aksie gepleeg is deur “Anti Transformasie Agente”? Met ander woorde…………die Afrikaner is dus veronderstel om met ALLES wat teen sy taal, kultuur, godsdiens, velkleur gepleeg word, saam te stem (soos ‘n soet kind) of gebrandmerk te word as “Anti Tranformasie Agente”? Afrika Demokrasie: ‘n Proses waar die minderheid kan deelneem aan hulle ondergang!! (en in die meeste gevalle goed voel daaroor omdat die Afrikaanssprekendes vir een of ander rede glo dat dit wat nou gebeur ‘n… Lees meer »