Nuuskommentaar: Is Afrikaner slagoffer van hoogmoed in grondtwis? Of juis andersom?

blf-t-hemp-land-or-death

(Foto: Verskaf)

Literatuur wat gereeld deur die BLF in die Wes-Kaap versprei word, laat die hare regop staan.

In breë trekke word “verduidelik” dat die aanslag met grondbesetting juis op die Wes-Kaap gevestig word, want dit is waar kolonialisme begin het. Dit, in die idiomatiek van die BLF, beteken dit is waar blankes begin het om swart mense se grond te steel, en waar sake tot die regte grondwetlike wysigings aangebring is, en in wetgewing gegiet word, regstelling solank deur grondbesetting sal geskied.

En nou is ’n boer wat deur grondbesetting teenaan Stellenbosch bedreig word, in sy opstal vermoor. Omstandighede dui, volgens mediaberigte, daarop dat iets anders as die BLF se dreigemente daaragter sit, maar oor die algemeen is die toename in plaasmoorde in hierdie voorheen rustige provinsie (wat plaasaanvalle betref) besonder kommerwekkend.

Hoe reageer die BLF op die werklike geskiedenis dat die aanvanklike kolonialisme nie swart grond in die Wes-Kaap kon raak nie, oor die doodeenvoudige feit dat daar nog nie swart mense aan die Kaap was nie? Ja, daar is diegene (nie noodwendig deel van die BLF nie) wat bruin mense tot “swart” verklaar (veral wanneer dit by historiese aansprake kom). Daar is bruin mense wat ’n tipe status koppel daaraan om swart genoem te (kan) word.

Hulle is taamlik blind daarvoor dat hulle in die praktyk ook dikwels uitgesluit word wanneer kwota-bevoordelings ter sprake is, soos dat krieketbonde met kwotas vir bruin én vir swart te make het. Swart word dan op allerlei maniere beskryf om seker te maak bruin mense glip nie ongenooid as “swart” in nie, soos etniese swartes, African Africans en soortgelyk.

Wat die BLF betref, toe die Cope-leier, Mosiuoa Lekota, verlede jaar tydens ’n grondberaad daarop wys dat swart mense nie histories oral op grond kan aanspraak maak nie, omdat die Khoisan lank voor die swart mense in die land was, is hy uitgejou. Dit pas eenvoudig nie die narratief van baie nie.

In die proses word blankes as diewe en erger uitgemaak. Hul aanspraak op die grond waarop hulle al eeue en geslagte lank boer, word met minagting verwerp.

Dit laat ’n mens onwillekeurig aan die boek Sefanja dink, sonder om te probeer sinspeel dat die woorde ook profeties op die situasie hier van toepassing gemaak kan word: “Ek het gehoor hoe Moab my volk verkleineer het, hoe die Ammoniete hom met minagting behandel het, hoe aanmatigend hulle was teenoor my volk se grondgebied.  So seker as Ek leef, sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moab sal soos Sodom word en die Ammoniete soos Gomorra: ’n veld vol dorings en soutpanne, vir altyd verlate. Dié lande sal buit word vir wat daar oor is van my volk; dié wat oorgebly het van die nasie wat aan My behoort, sal hulle in besit neem.”

Daar is egter sekere bybelse beginsels vervat, wat stellig steeds van toepassing is.

Die eerste is dat God presies dieselfde lot Israel (en veral Jerusalem: wat soos die Moabiete en ander maak) te beurt laat val. Die boek Sefanja bestaan uit net drie hoofstukke, en die boek moet in geheel gelees word om konteks te kan verstaan. Maar dit geld die hele Bybel – moenie teksverse vir begripsdoeleindes isoleer nie. Baie historiese dwalinge het al so voorgekom.

Verder weet ons uit die geskiedenis van Rut dat die oordeel oor Moab dat diegene wat reg leef, ook welkom sal wees. So het Rut ’n voorouer van die koningshuis van Dawid geword. En dat aanmatigend en minagtend teenoor ander te wees, is nie vir God aanneemlik nie.

Israel het egter self, later as Jode, harde houdings teenoor ander ingeneem. Hul optrede teenoor die Samaritane was skokkend. Die koningshuis van Herodes, wat ontstaan het uit die nageslag van ’n groep Edomiete wat hulle tot die Israelse geloof bekeer het, en met allerlei “handvatsels” geassimileer is, was nooit gemaklik aanvaar nie.

Trouens, Israel is telkens vermaan om goed te wees vir die vreemdelinge in sy poorte.

’n Mens moet ook in gedagte hou om die Ou Testament deur die Nuwe Testamentiese bril te lees. Dit is ook interessant om hoofstuk 2 se 1853-vertaling en die vertaling van Die Bybel vir almal te vergelyk. Die 1983-vertaling gee voorkeur om na Israel as die volk van die Here te verwys, en die ander twee gee weer voorkeur om na Judea te verwys.

Die gesindhede wat Moab en die Amalekiete teen die volk gebruik en wat in die 1983-vertaling met verkleinerend, minagtend en aanmatigend vertaal is, word in die 1953-vertaling met smaadtaal, beskimpinge en gesmaad vertaal, en in Die Bybel vir almal lees soos volg: “Die Here sê: ‘Ek het gehoor hoe sleg praat die Moabiete en die Ammoniete oor my volk. Hulle het gemaak of my volk niks beteken nie en hulle dink hulle is self baie belangrik.’” En dan kom die nuwe, direkte vertaling ook nog.

Die NetBible vertaal dit weer, sonder om dit nodig te ag om dit te verklaar, met woorde soos taunt (Moabiete), insults (Amalekiete) en harassed.

(Foto: Maroela Media)

Natuurlik kan die Afrikaner nie bloot aanvaar dat hy fatalisties die slagoffers van die BLF en soortgelyke partye se erg radikale dreigemente moet wees nie. Die jongste dreigemente van die BLF om sy mense onder andere deur oorlogsveterane van Zimbabwe te laat oplei, is onheilspellend, en as die volle konteks verreken word waarskynlik sedisie of hoogverraad.

Wat staan ons, as Christene, te doen? Die goeie vrugte van die Heilige Gees soos verspreid in die Bybel voorkom, verskaf gesonde beginsels om die pragmatiese mee te beplan, verwoord en uit te voer. Verstaan genade van God, Regverdigheid, Waarheid, Leer wat gee God vreugde, Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Getrouheid, Sagmoedigheid, Selfbeheersing, Inskiklik, Vol genade, Onpartydig, Nie veroordelend wees nie.

Dit is interessant om te let hoeveel ooreenkomste daar is tussen die drie veroordelende woorde wat in Sefanja gebruik word, en die slegte vrugte wat ook in die Bybel gelys is: Deelname aan ongehoorsaamheid, Dade wat in die geheim gepleeg word te erg om te noem, Verwaandheid, Uitlokkend/skoorsoekerig, Selfsugtig wees, Jaloers wees, Vertel leuens, Skynheilig, Veroordeel kwaadwillig.

En die pragmatiese neerslag hiervan? Van elke Christen word verwag om sy Godgegewe talente in te span. ’n Talent is nie sommer ’n hierjy munt nie, dit het in bybelse tye effens gewissel maar strykdeur op ongeveer 50 kg goud of silwer neergekom.

Lees gerus ook ʼn vorige nuuskommentaar op Maroela Media hieroor waarin onder meer gekyk word na tradisionele swart opvattings, asook die ad hoc-komitee oor grondbesit se standpunt hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Philippus Janse van Rensburg ·

Eienaardig,net voor ek dié kommentaar gelees het, het ek die Galasiër brief van broer Paulus sit en lees, in die Nuwe Lewende Vertaling.
Daar is mense, ook onder ons sg. Boereafrikaners, wat maklik ‘Oorlog’ skree, sonder om die ontsettende implikasies behoorlik te deurdink.
Daar is ook die begrip dat, as jy nie aan geweld wil meedoen nie, jy ‘n bangbroek is.
Wees vriendelik teenoor alle mense, is immers ‘n Bybelse opdrag, maar hoe gedra ek my teenoor die ou wat my stamp en stoot?
En daar lê die moeilikheid!
Die Hebreërs moes herinner word dat hulle selfs skade ly moes verdra! Verregaande!
Dit skyn asof daarnie ‘n maklike pad is nie.
Sal ek dan , soos gedurig gesê word, op Bonatuurlike ingryping moet hoop? Hierdie inswiepende uitredding deur ‘n engel of ‘n wese uit die hemel.
Ja, dit het gebeur, tog, alleenlik waar magteloosheid bely is.
Maar intussen, die moeisame pad van geduld en lankmoedigheid, die soms eindelose pad van volharding in wat reg en goed is,
“Voor in die wapad brand ‘n lig!”

Al ·

Gelukkig bly God in beheer van hierdie deurmekaar wêreld en elkeen wat in Hom glo en op Hom vertrou, is die stryd daagliks op aarde makliker.
Ons sal nie vrees nie, want alles sal op die ou end regkom.
Die Here is reeds besig met die suiweringsproses, al voel dit vir ons baie stadig.

pieter ·

ONS MOET ONTHOU DAT GOD SE VIR DAVID MOET NIE DIE VOLK TEL NIE ,HY SE VIR ISRAEL KIES SELF VIR JULLE N KONING ONS KEN DIE GEVOLG DAARVAN,VANDAG SIT ONS IN DIESELFDE BOOTJIE EN EK WONDER OF HY OOK NIE SY GESIG VAN ONS AF WEGGEDRAAI HET NIE.

Andreas ·

Die BLF het nie ‘n idee wat in die geskiedenis gebeur het nie, hulle gryp na elke grashalm, hardloop agter elke misdaad waarop op plase berig word aan, hoe meer sensasioneel die misdaad hoe groter is die klok waaraan hulle dit hang om te kyk of hul uitsprake nie radikaler kan wees as die misdaad wat hulle met hul uitsprake probeer oortref nie, als op jag na sensasie en om die vure aan te blaas.

Andreas ·

Dalk moet ons die gereg tot orde roep, dat hulle nie hul plig teenoor die land versaak in hul uitsprake nie, maar die grootste van als is dat ons vir hulle moet bid, dat daar tot bekering gekom kan word.

Swannie ·

Ag nee, Herman, hierdie stuk hoort in die kerkbode en kan nie as kommentaar oor nuusgebeure geklasifiseer word nie.

Dis nie reg dat christene alewig hul geloof op ander wil afdwing nie.

Andreas ·

Swannie, dit is reg soos jy hier sê, mens sou graag wou lees van ander geskrifte oor die mens se barometer en wat dit so saamvat soos die Bybel. Dit word nie op jou en andere afgedwing nie, jy kan daarmee maak wat jy wil, as die skoen pas kan elkeen dit op homself afdwing.

En die wat nie skuldig voel nie, kan anderpad kyk.

Charles ·

Baie dankie Herman, ons as Boere-Afrikaners en as volk van God sal diegene verslaan wat dit van ons af wil wegneem wat deur Gods-genade aan ons gegee is en waarmee ons met bloed betaal het. God-seen.

Vaalseun ·

Herman, baie dankie vir jou waardevolle insigte. Nav hierdie artikel en jou artikel van 4 Junie:
Wanneer ons na die tradisionele besitsbegrip onder die swart konings, hoofmanne en kapteins kyk moet ons onthou dat dit aan status gekoppel was. Net soos met die Europese feudale stelsel, het die swart koning of kaptein ‘n blyplek vir die pasgetroude man en vrou aangewys, want hulle was sy onderdane. Die onderdaan kon nie ‘n grondbesitter word nie – sy status laat dit nie toe nie.
Die punt is dat onderdaanskap nie die status van die historiese Voortrekkers en wit grondkopers was nie. Albei partye het goed geweet dat hulle as gelykes onderhandel en die wit grondkopers het nie hulleself in onderdanigheid onder die swart koning of kaptein ingekoop wanneer hulle grondgebied gekoop het en met beeste betaal het nie. Dis die rede waarom die swart hoofmanne vir Verwoerd gevra het om nie huise in Soweto en ander swart woonbuurtes aan die swart bewoners te verkoop nie – dan verloor die hoofmanne gesag oor hulle onderdane, want die onderdaan word ‘n grondbesitter.
Die hele BLF- aksie draai om die gewone swarte se kans om sy status in sy eie kultuur te verhoog ten koste van sogenaamde “wit” eienaarskap. Histories is daar geen bewys dat “al” die land in Suidelike Afrika aan “swartes” behoort het nie. Hulle was eenvoudig te min om “al” die grond te beset.
Ons moet ons nie aan die neus laat lei deur aansprake dat grond “swartes” of enigiemand toekom nie.

Charles ·

Baie dankie Herman, bykomend tot Vaalseun se kommentaar hierbo wil ek graag uitwys dat ek ‘n teorie het oor waarom die “Black land last” die Wes-Kaap teiken. My teorie is dat bo en behalwe hulle verwronge, valse en ideologiese-gebaseerde begronding- hulle EINTLIKE doelwit die de-stabilisering van die Wes-Kaap is synde dat dit ‘n goed-beheerde en bestuurde gebied is wat uitstekende geleenthede bied en ideologies ongebonde is, en waar blankes -saam met hul bruin broers en susters; en ook die swartes- gedy en (kan) goed doen vir hulself. Dit is onaanvaarbaar vir die ANC. Waarom word daar uit die oog verloor dat daar berigte was dat die BLL die breinkind van Zuma is? Vir al wat ons weet sit hy agter die onrusstokery en is die onrus, onluste en algemene gevoel van wantroue (ook in die pragtige wynlandstreek ) die gevolg daarvan dat die ANC en sy meelopers die Wes-Kaap onregeerbaar wil maak en die sprankie hoop en trots wat nog vir ons bestaan wil vernietig.
Elkeen wat “ietsie” weet van die geskiedenis van ons land sal weet dat blankes en swartes eers in die 1770’s ontmoet het, die een suidwaartse migrante (vanaf die Groot Mere) en die ander noordwaartse migrante vanaf die Kaap die Goeie Hoop.
Die BLL het GEEN benul waarvan hul praat nie en bewerkstellig opstokery (probeer ten minste) deur LOUTERE leuens.

m.d.r. ·

Twee kultuur groepe kom teenoor mekaar te staan circa 1780-1800. Die een groep kan lees en skryf, en die ander nie. Groep een beskik dus as gevolg van hulle kommunikasie vermoens oor wat bekend is as “getuies van hulle tyd”…..mense wat gebeure wat hulle beleef het kon boekstaaf vir latere geslagte. Die ander kon slegs deur oorlewering gebeure vertel…wat eintlik mitologies van aard is.
Swart mense migreer Suidwaarts en Blankes migreer Noordwaarts en die twee groepe kom by die Groot Vis rivier teen mekaar te staan. Opmerklik dat die swart goepe in hulle Suidwaartse trek in ‘n nou gebied tussen die see en die bergreekse wat vanaf Lesotho beweeg. Die rede is eenvoudig—die gebied het baie riviere en is waterryk Hulle beset nie die gebied anderkant die berge nie want daar is die droe Karoo.
Dit is juis die kern oorweging vir enige migrasie….standhoudende water….!
Om nou die Weskaap te kom opeis as “Swart eiendom is ‘n blatante leuen. Die geskiedenis bewys dit as wilde populistiese aansprake.

Charles ·

Skuus, ek wou net byvoeg- dit is DUIDELIK dat die BLL self nie hul eie PROPAGANDA te ernstig opneem nie en dat dit maar net politiekery is. Dankie.

Koos ·

Al wat ek weet is die Engelse bybel se in Prediker 10:16 ‘Woe to the land who’s king is a boy’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.