Nuuskommentaar: Is Agang se “afgang” nou DA s’n?

Dr. Mamphela Ramphele. Foto: DA

Dr. Mamphela Ramphele. Foto: DA

Die bedoeling is nie om hier by politiekery betrokke te raak en ‘n oordeel oor die DA en Agang SA se besluite te fel nie, maar om die dinamika wat losgelaat is onder die loep te neem.

Nederlands ken die woord “afgang” as min of meer die teenoorgestelde van “opgang maak.” Dié woord word juis nou ingespan om die kreeftegang van ‘n staatsekretaris se loopbaan te beskryf wat pas sy bedanking ingedien het.

Geoordeel van mediaberigte is daar in die DA, maar veral Agang ontsteltenis oor die Agang-leier, dr. Mamphela Ramphele, se besluit om haar gewig by die DA in te werp en die DA se presidentskandidaat te wees. Op die oog af lyk dit of die hantering van die gebeure die gevaar van “afgang” inhou.

Vir die DA het die aankondiging op ‘n baie sensitiewe tydstip gekom, toe die lyste bekend gemaak is wat die party se kandidate se posisies op die kandidatelyste aangedui het. Die fokus daarop is verskerp toe die bekende Niekie van den Berg een van die dienende LP’s was wie se naam te laag op die lys geplaas is om ‘n realistiese kans op herverkiesing te hê. Die appèlproses moes nog in werking tree toe die Agang-aankondiging kom, en daar is nog onduidelikheid of die Agang-gebeurde ‘n invloed op die finale lys gaan hê.

Hoeveel het Ramphele vir haar mede-Aganglede beding, en gaan dit beteken dat nog DA-lede te laag op die lyste geskuif gaan word? Hoeveel “verdien” om op verkiesbare posisies op die DA-lyste te kom, hang grootliks af van hoeveel kiesers wat vir Agang sou stem, nou vir die DA sal stem.

Uit mediaberigte word die indruk geskep dat dr. Ramphele se stap as verrassing vir baie van haar top-mense gekom het, en dat hulle salig onbewus was van die voorneme. Voorts word die indruk geskep dat sy ‘n taamlike hardvogtige houding teenoor hulle inneem, en hulle bloot daaroor sal toespreek – nie die saak met hulle sal bespreek nie.

Intussen laat die ANC en ander opposisiepartye nie op hulle wag om die ongemak in die situasie uit te buit nie.

Die ANC het eintlik geen keuse nie. Dr. Ramphele se verskuiwing na die DA – selfs met bitter min troepe agter haar – veroorsaak ‘n baie groter persepsieskuif as wat die ANC pas, wat duidelik weer ‘n verkiesing in die vorm van ‘n rassesensus in die oog het.  Dit sal nou doodeenvoudig moeiliker wees om die DA as “wit” party voor te hou, en om die wye persepsie onder swart kiesers lewend te hou dat die DA beplan om apartheid terug te bring. Nie eens die leier, Helen Zille se eertydse betrokkenheid by die Black Sash kan heeltemal met die persepsie wegdoen nie, en swart leiers wat na bo gedu word, word gewoon as “coconuts” afgemaak. Maar daardie taktiek kan nie met Ramphele werk nie.

Ramphele het saam met Steve Biko die Swart-bewussynsbeweging in Suid-Afrika beslag laat kry. As eertydse minnares van Biko is sy sinoniem met die konsep. Sy het as’t ware die “papiere” om nie as “coconut” afgemaak te word nie. Die ANC moes dus die aanslag hier wysig, en by monde van sy sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, is Ramphele se skuif afgemaak as “rent a black” en “rent a leader.” Laasgenoemde is boonop ‘n kwalik verbloemde vinger in die oog-drukkery van Zille se veldtog tydens die vorige verkiesingsrondte van “leen ons jou stem.”

Die Vryheidsfront Plus, by monde van adv. Anton Alberts, stel dit in ‘n amptelike mediaverklaring soos volg: “Dit is duidelik dat Ramphele bereid was om haar getroue ondersteuners te verraai ter wille van ‘n welklinkende postitel by die DA.”

Beide die VF Plus en die Christen-Demokratiese Party het op die moontlike impak wat die stap gaan hê op die DA houding oor rasbegunstigde wetgewing gewys.

In teenstelling met die plaaslike voorbehoude is die Christian Science Monitor in die VSA baie positief oor die gebeure. Dié koerant, bekend vir sy hoë kwaliteit ondersoekende joernalistiek, sien het geen fout nie.

Die meeste analiste het, toe die Ramphele-skuif rugbaar geword het, aanvaar dat dit deel sou wees van ‘n versigtige en deeglik uitgewerkte strategie, waar elke moontlike ontsporing deeglik ondervang sou wees. Die wurms wat nou by die DA, maar veral by Agang uitkruip, kom dus as verassing. Is dit steeds deel van die strategie, of gaan die partye nou reaktief optree wat gegewe die sensitiewe fase van die verkiesingsveldtog uiters moeilik gaan wees?

Die gebeure kom te midde van ‘n rits ander ernstige gebeure wat die ANC se verkiesingsveldtog behoort te beïnvloed – die daling van die rand, die e-tol se “groeipyne,” diensleweringsbetogings, ontwrigting by tersiêre opvoedkundige inrigtings, stakings wat tot geweld neig, ‘n landswye waterkrisis, verdeeldheid binne Cosatu en vele meer.

Maar die Agang-gebeure gee nou ‘n ligte blaaskansie vir die ANC.

Dit alles maak die politiek veel meer dinamies as wat dit in jare was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.