Nuuskommentaar: Is ander demokratiese opsies as stemreg in verkiesing ook ingespan?

Die stembriewe word nou getel. (Foto: Twitter via @IECSouthAfrica)

Die huidige verkiesing is gekenmerk deur ’n relatief lae stempersentasie en baie bedorwe stembriewe. Maak dit deel uit van die internasionale tendens waar veral jonger mense ander demokratiese opsies as die stemreg op die proef stel? Die reën en gure weer oor groot dele van die land sou wel ook ’n groot rol gespeel het.

Daar is goeie redes waarom ander demokratiese opsies as om te gaan kruisies trek nie besonder opgehemel word nie. Van oudsher af was die stemreg die span van die kroon van demokrasieë, en ander demokratiese middele, soos persvryheid, stakings, optogte, wegbly van die stembus en ander bloot ondersteuningsmeganismes.

Tog, so blyk dit uit internasionale tendense, wil dit al lyk of stemreg, of ten minste die uitoefening daarvan, minder belangrik word en ander meganismes in belangrikheid toeneem.

Veral twee meganismes word as integrale deel van ’n grondwetlike demokrasie beskou, naamlik persvryheid en die belangrike rolle van burgerlike instellings. Nie een hiervan sou egter kon bestaan sonder ’n onafhanklike regbank nie.

Maar daar is ander metodes om te gaan stem. Met hierdie verkiesing blyk dit dat die stempersentasie onder veral jong mense aan die lae kant was. Voeg hierby dat baie jong mense in ieder geval nie as kiesers geregistreer het nie.

Diensleweringsbetogings, optogte met brandende buitebande, intimidasie, arbeidsonrus, die inspan van die sosiale media – dit alles kry ’n beeld van doeltreffender te wees as die stemreg.

’n Interessante protesstem is die bederf van ’n mens se eie stembrief. Met sowat 75% van vanjaar se stemme getel, was daar reeds sowat 166 000 bedorwe stembriewe “getel”. Of dit ’n vorm van protes was, is nie duidelik nie aangesien dit geblyk het dat baie spesiale stembriewe nie die OVK se stempel opgehad het nie, en dus bederf was. Die OVK het ingestem om hierdie stembriewe wel te tel, maar volgens aanduidings was baie spesiale stemme reeds met ander stemme gemeng en is dus nie getel nie.

Die 25 jaar wat die ANC aan bewind is, raak nou ’n lang tyd om op die vorige bedeling se brood te smeer.

Met hierdie verkiesing het ’n bykomende dinamika na vore getree – ’n element van wantroue in die OVK, gestaaf, of skynbaar gestaaf, deur talle voorbeelde van ongerymdhede.

Een interessante klag kom uit die geledere van die veral nuwe, klein partye waarvan ’n aantal gesamentlik gevra het dat die verkiesing oorgehou moet word. Een van die hoofredes is dat hulle dit onverklaarbaar vind dat hulle byvoorbeeld 2 000 werkers vir die verkiesing in die veld gehad het, maar nie eens 2 000 stemme landwyd kon trek nie. Dit herinner aan Namibië se onafhanklikheidsverkiesing – waar rye DTA- en Swapo-ondersteuners langs mekaar toue by die stemburo vorm. In ’n stadium het die twee rye se mense mekaar fisiek getakel. Toe die stembusse oopgemaak is, moes mense verbysterd toekyk hoe die stembusse slegs Swapo-stembriewe bevat.

Daar sal nou drastiese optrede nodig wees om die OVK se geloofwaardigheid te herstel. Die OVK sal swak opgeleide personeel beter moet oplei en met diegene wat self bevooroordeeld is plan moet maak.

Die verwikkelinge in Suid-Afrika is ook deur die buitelandse media waargeneem. ’n Koerantopskrif wat lui: “Korrupsie kos die ANC stemme, maar nie die mag nie”, vat die deursnee-gewaarwording min of meer vas. In Europa, waar die verandering in windrigting ’n regerende party of koalisie tot ’n val kan bring, is dit haas ondenkbaar dat ’n party so ’n skandaal kan oorleef.

Oor die aansienlike toename in stemme vir die Vryheidsfront Plus word wyd bespiegel. Baie meen dit hou verband met die grondgryp-kwessie, en ander meen die hofsaak oor die BLF se toelating om aan die verkiesing deel te neem het baie mense se koppe gedraai.

Die meer ooglopende faktore, soos ’n uitstekende mediakommunikasievermoë oor baie jare, word egter nie genoem nie. In die konteks van die opkoms van die gemeenskapsmedia, is die gebruik van Afrikaans en Engels baie belangrik omdat die meeste van die gemeenskapsmedia nie die mannekrag kan bekostig om Engelstalige mediaverklarings te vertaal nie. In dié opsig het die DA homself grootliks buite spel geplaas, en dit oor ’n aansienlike tydperk.

Afgesien van die trek van DA-kiesers, is dit moontlik dat die VF+ ook kiesers uit die dampkring van diegene wat nooit wou stem nie om sodoende nie legitimiteit aan die stelsel te verleen nie, geïnspireer het om nou wel hul kruisies te gaan trek.

Baie ontledings moet nog gedoen word, maar een is duidelik: As die OVK nie sy sake in orde kry nie, gaan al meer kiesers langtand raak om hul kruisies te gaan trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

pinkie ·

Die OVK lyk my is soos enige staatsinstelling maar. Mense wat laks is om te werk, bitter min opleiding, geen bereidwilligheid maar gekenmerk om die gesig weg te draai as daar gekonkel moet word.

John ·

Klagtes oor die 2019-verkiesing gaan voortduur tot by die volgende een oor 5 jaar. Die Limpopo-uitslae met die ANC wat 76% steun kry; daar waar skole afbrand, maar matrieks die beste in die land vaar, is iets so uit die Sesame-grot… die towerlamp. Vryf hom blink en daar staan hy bomenslik groot… die yslike toring van babel.

Jordaan ·

Die volgende verkiesing (munisipaal) is in 2021 reeds, so darem net 2 jaar.

Boerboel ·

Wat ek nie kan verstaan nie.
Kyk na Swapo wat regeer. Daar is nie werklik Probleme nie. Kyk na Botswana. Ook min probleme. Wat gaan Dan hier in ons land aan? Hoekom gaan leer hulle nie by die twee buurlande nie.

Ronel ·

Ja, onopgeleide personeel van die OVK. Ek moes die vrou met die koukie wakker maak om my vinger te merk toe ons gaan stem het. Net na 12 die middag, lê sy salig en slaap op haar arms. Skrik toe ek haar wakker maak, met haar vlas lashes wat sommer so skeef sit.

JohanL ·

Ek weet van ‘n swaksiende persoon wat natuurlik hulp benodig en met alle vorige verkiesings deur haar man bygestaan is sonder enige probleme. Maar Woensdag wou die OVK beampte nie toelaat dat haar man haar help nie. Nee, die vrou moes s^e vir wie sy wil stem en dan sal die OVK beampte die kruisie in die “regte” blokkie trek !!!!!

Nadat die vriendin geweier het dat dit gebeur, was die OVK beampte onverbiddellik dat dit is hoe dit werk en dat sy as OVK beampte die kruisie moet trek. Nadat die dame se man egter tussenbeide getree het na hy sy stem uitgebring het en fisies die pen uit die OVK beampte se hand gevat het, het haar man die kruisie getrek by die party wat sy steun.

Ek wonder nou hoeveel “sulke gevalle” daar was in veral die landelike gebiede waar daar mense is wat nie kan lees nie en staat maak op die “onafhanklike” OVK beampte om die kruisie te trek?

Stephan ·

@JohanL
SONDER OM ‘N KLAAGKOUS TE WEES:
Daar IS ‘n prosedure wat gevolg moet word mbt swaksiende kiesers op stemdag. Ek het self my politieke party gebel (omdat ek ‘n blinde vriend tot hulp wou wees), en die party-verteenwoordiger het die amptelike prosedure suiwer/nougeset aan my verduidelik. Die OVK-hoofkiesbeampte by die spesifieke stembus het eenvoudig afgewyk vd voorgeskrewe prosedure (na sy eie goeddunke), in só ‘n mate dat die blinde kieser wel kon stem, maar nie volgens die amptelike prosedure nie.
Ja, die OVK-personeel is onprofessioneel, inkonsekwent en onbetroubaar. Dat daar onreëlmatighede kon plaasvind (en wel plaasgevind het), sal my nie verbaas nie. Die OVK se mense was nie ordentlik opgelei nie, en dat stembriewe opgeraak het, merkpenne nie op standaard was nie, skandeerders nie gewerk het nie (genade, toets die goed deeglik vóór die stemmery!), ens. tas die OVK se geloofwaardigheid ernstig aan. Kan mens die resultate glo? Verder was die OVK-personeel ook nie regverdig demografies verteenwoordigend nie (was dit BEE-aanstellings?)…ek betwyfel hul geloofwaardigheid.

Annette ·

Daar is ‘n groot element wat ek nog nie op enige besprekings gesien het nie – die “ex-pats”. Derduisende mense wat die land verlaat het weens die huidige lewensomstandighede hier. Hulle kon wel registreer om te stem, maar net in ‘n paar lokale in elke land wat dit prakties onmoontlik gemaak het vir die meeste om hulle stem uit te bring. Ons land is verarm deur die uittog van talentvolle, veral jong gesinne, wat hulle heil in meer standvastige en veilige lande gaan uitleef het.

Stem met belasting en druk vir selfregering ·

Stem met belastingdruk en dringende druk vir eie staat. Dan werk ons weer en kan weer leef.

Weskusklong ·

Elna, dit sal nie gegee word nie, al vra ons ook hoe mooi. Maar met opofferings en harde werk is dit wel moontlik. Daar is geen ander keuse as om van vooraf te begin nie.

Hendrik ·

Stem saam en dit is die ooglopende logiese oplossing vir die toekoms. Die opposisie is weer verskriklik bekommerd omdat die VF+ so sterk gegroei het en hulle is weer bang vir regse aksies.

Vaalseun ·

Onthou Stalin se woorde, “Dis nie hoe die kiesers stem wat saak maak nie – wat saak maak is wie tel die stemme.”
Ons het al in die 1994- verkiesing stembokse uit Soweto oopgemaak waar al die stemme netjies plat ingepak was. Dit was duidelik dat nie een stem bo by die gleuf ingedruk was nie.
As die ander partye nie genoeg voltydse waarnemers het wat mekaar aflos en die stemprosedures, stembriewe en -bokse en tellery met valkoë dag en nag monitor nie, sal die ANC nie ‘n verkiesing verloor nie.

Adam ·

Baie insiggewende artikel. Ek het openlik erken dat ek sedert 1994 nie stem nie en dit is my demokratiese reg om op daardie manier te protesteer. Die ander opsie sou wees om ‘n stembrief te bederf, wat in my opinie onnodige moeite is. Wat my verbaas is dat die blanke kiesers wat hoofsaaklik 3 politieke tuistes het (DA, VF+ en die ACDP) heeltyd teen mekaar baklei in stede van teen die werklike “vyand”, nl die ANC en die EFF. Dit sou veel beter wees indien die tipe partye ‘n alliansie vorm, soortgelyk aan die van die ANC, Cosatu en die SAKP en onder daardie vaandel aan verkeisings deelneem. Almal is koalisie-mal, maar daar is beide nasionaal en provisiaal volstrekte meerderhede. Koalisies in te kere gaan, SA is hoofsaaklik beperk tot derdevlak regering. Dit is vir my verdder onverstaanbaar hoe die VF+ juigkommado te kere gaan, siende dat hulle steun nie eens dubbeld die aantal bedorwe stembriewe klop nie. Dit is tyd dat die opposssie wakker word, die ware vyand (ANC en EFF) behoorlik aanvat en ‘n ware verskil maak en dan sal ons protesteerders weer stem. Wat die OVK aanbetref is dit beter om eerder oor hulle onbeholpenheid te swyg. Nogmaals dankie vir ‘n uitstekende artikel.

Andreas ·

Dat die VF Plus in stemme verdubbel het, is fantasties, maar daar is nog heelwat meer as ‘n miljoen wat elders gestem het en wat nie daar hoort nie, hulle glo nog groot visse byt nie aan klein hoeke nie. Dis tyd dat hulle tot hul sinne kom en eerder met hul stemme praat as wat hulle wyshede op die forums en in die openbaar kwytraak. Ek het nog nie ‘n vis of ‘n dier in die natuur gesien wat betoog en brand stig nie. OK die olifante haak nou en dan uit en dan rig hulle ook maar skade aan.

Andreas ·

Hier by ons, soos elders, sal die mense in hul getalle, waar dit deur die owerheid aanvaar en toegelaat word dmv betogings, saakbeskadiging, geweld en stigting van brande hul wil op die gesag afdwing, tensy dit soos in Zimbabwe onderdruk word.

Dit is al taal wat die mense verstaan, want dit is wat hulle geleer word dat as jy ongelukkig met iets bv in die werk is, is dit jou reg om te staak en te betoog om jou griewe te lig. Dan is dit ook so dat die Staat/Regering se meul maal maar stadig, baie, dus kry die mense vinniger reaksie as hulle staak, af brand en so die gesag tot vinniger optrede dwing.

So waarom dan geduldig op politici se beloftes wag, waarin hulle in alle geval nie belangstel nie, hulle stel net daarin belang dat hul griewe aandag kry, en nie wanneer nie, sommer nou!

James ·

Soos dit nou staan, lyk dit of ‘n derde van mense wat geregistreer is om te stem, nie gestem het nie.

Kyk maar uit oor die volgende paar maande hoe hulle amok maak.

Koos ·

Die feit dat die VF+ veel beter vaar in die huidige verkiesing as voorheen, kan sekerlik aan ‘n hele aantal faktore toegeskryf word.
En dit alles dui op groot positiwiteit en nugterheid wat dié party openbaar.

MAAR, verseker het Maroela Media se dekking en ook lesers se kommentaar, beslis ook daartoe bygedra dat meer kiesers die werklike waarde van die VF+ se standpunte ingesien het.

Dankie lesers en Maroela Media vir die bydrae gemaak.

Nico K ·

Om terug te kom na die hoofvraag van die artikel, of daar ‘n alternatief vir verkiesings is. Ongelukkig nie. Maar ‘n stelling is gemaak dat dit afhang wie die stemme tel. En dit sien ons gereeld in Afrika lande dat die regering nooit ‘n verkiesing verloor nie. Al wat gaan werk is om ‘n internasionale vereniging te kry om die verkiesings te hou. Nie waarnemers nie. Hulle help niks. Maar dit sal seker nooit gebeur nie.

Vaalseun ·

Adam, as jy in ‘n demokrasie nie stem nie, is jy geen protesteerder nie. Jy saboteur slegs demokrasie, terwyl jyself niks beter kan aanbied nie.
Die belangrikste element van demokrasie teenoor ‘n eenpartystaat of diktatorskap, is dat dit opposisie, d.w.s. kritiek op die menings, doen en late van die regerende party en al die ander partye onder mekaar toelaat, d.w.s. protes. Dis waarom opposisie partye ook teen mekaar baklei. Dis normaal in enige demokrasie.
Verder skep demokrasie die geleentheid vir vryheid van spraak (d.w.s. kritiek), beoefening van geloofsoortuiging en ‘n onafhanklike regbank.
Demokrasie is geen waarborg vir goeie regering of geen korrupsie of geen slimstreke van die regerende party nie. Nie hier of in enige ander demokratiese land van die wêreld nie. Maar dit laat toe dat opposisie-partye polisieman kan speel oor die regerende party.
As jy dink jou “protes” deur nie te stem nie gaan beter as dit vermag, leef jy in ‘n droomwêreld. Net jou stem vir en deelname aan die opposisie kan beter vermag.

Wil net se ·

Ek stem al sedert 1994 toe dit vir my die 1ste keer wettig geword het om te stem. Die regerende party werk hard daaraan om alles wat ek as blanke Suid-Afrikaner belangrik ag en op trots is van my weg te vat. Maar solank ek asem haal sal ek my stem laat hoor op verkiesingsdag want dit is my demokratiese reg. Dit is vir my onverstaanbaar dat daar mense is wat nie stem nie. Ons word al klaar gemarginaliseer en verdruk vir alles wat Afrikaans en wit is.

Spartaan ·

Daar is beide praktiese en beginselredes daarvoor.

Prakties is ons in so ‘n minderheid dat ons altyd die demokratiese stem gaan verloor (VF+ het nie eers 3% gehaal nie en hulle was in hulle noppies). Verder speel dit in ons vyande se hande in want jy het mos deelgeneem aan ‘n legitieme demokratiese proses.

Op beginselvlak moet jy jou berus by die produkte van die demokratiese proses indien jy daaraan deelgeneem het. As jy alternatiewe tot regering wil skep met ‘n skoon gewete, beter jy nie stem nie. Wat spreek dit van jou integriteit as jy deelneem aan ‘n proses maar terselftetyd die produk daarvan (regeringsinstellings, besluite en mag) ondermyn?

Die refrein van om jou stem te laat hoor, is ‘n beroep op emosie (narsissisme), en ‘n salf vir die gewete sodat jy verder kan terugsit en niks hoef te doen nie.

Spartaan ·

Andreas

Ek sal jou met graagte beantwoord. Bewys net eers my kernargument in sy geheel verkeerd.

Andreas ·

Afrikaners, kyk na die uitslae, om vir die ANC of DA te stem, maak julle die agterdeur vir die EFF oop, as julle almal VF Plus gestem het ……. ?

Genadiglik is daar oor paar jaar nog ‘n verkiesing.

Log.IK ·

Andreas

Al sou al die stemgeregtigde Afrikaners vir die Vryheidsfront stem sou dit nogsteeds nie die uitkoms van die verkiesing verander het nie. Al sou die VF+ hulle getalle verdubbel in die volgende verkiesing sou dit nie eers 6% van die totale stem uitmaak nie (en meer as dit sal daar nie wees nie). Daar is ook nie meer ander noemenswaardige “gematigde” opposisiepartye nie – hulle het ALMAL gesneuwel in die verkiesing. Die DA het bloot die ANC se beleid oorgeneem, so hulle is geensins eers meer met die Afrikaner (of enige van die ander ware kapitaliste in ons samelewing) belyn nie.

Wat is die plan met hierdie gestemmery?

Wat nou volg is verdere ondermyning van ons regte, met offisiële toestemming (morele legitimisering) van elke Afrikaner en elke ander persoon wat gaan stem het.

/1

Andreas ·

Volgens jou LogIK (logika) kan die Afrikaner dan net sowel nie stem nie.

Andreas ·

Ten minste is daar op meer as een front waar daar vir die Afrikaner se regte baklei word, die VF Plus as politieke party en dan die burgerlike organisasie soos Afriforum en vertakinge van Solidariteit, daarby kan die FW Stigting sekerlik ook inreken word.

Log.IK ·

Andreas

Dit is presies wat ek sê. Nie net dat dit nutteloos is om te stem nie, maar dat dit skadelik is.

Ek is ten gunste daarvan om op verskeie fronte te veg en meeste van die organisasies wat jy daar noem, met die uitsondering van deelname aan die gekookte politieke stelsel in SA.

Andreas ·

Logik, ek hoor wat jy sê. Ons moet eerder by die natuur kersopsteek, as die olifant dan nou in sekere gebiede verwoesting aanrig, is dit dan nou nodig dat ons ons onttrek? Ek sê raak betrokke, doen navorsing en kyk hoe jy waarde kan toevoeg, elke bietjie help, of dit nou daar met jou stem vir die ‘natuur’ in die parlement is en of dit nou op die grond is waar jy prakties en op jou voete moet dink. Kyk maar na die film ‘Stroop’, dan sal jy sien wat vermag kan word. Daardie twee mense wat die natuur aangedurf het, verdien nie ‘n standbeeld nie, maar ‘n monument. Mag ons eendag dieselfde hiervan van die VF+ sê.

Log.IK ·

Maroela

Julle moet asb oplet: julle kommentaarstelsel gooi sekere kommentaar weg, of julle moderators is besig om kommentaar uit te vee bloot omrede hulle ‘n verskil in opinie het met die inhoud daarvan.

Mariné Lourens ·

Dagsê Log.IK

Kommentaar moet soms per hand goedgekeur word en dan neem dit ‘n wyle voor dit op die webwerf verskyn. Wanneer kommentaar dus nie onmiddellik wys nie, beteken dit nie noodwendig dis afgekeur nie.

Wanneer kommentaar egter nie aan ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname voldoen nie, word dit wel gemodereer.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Log.IK ·

Dankie Mariné vir die terugvoer – ek sal voorts meer geduldig wees.

As ek mag opbouende terugvoer mag lewer…
Die gebruikersvriendelikheid an julle kommentaarafdeling kan wel verbeter word. Ek stel voor julle oorweeg om die Disquss kommentaar stelsel te implementeer – dit werk baie goed.

Groete

Spartaan ·

Die Afrikaner staan weereens in ons geskiedenis voor die keuse: pas aan of sterf.

Ons behoort eerlik te wees teenoor mekaar en teenoor onsself – die demokratiese bestel in Suid-Afrika is ‘n gekookte spel wat ons nie kan wen nie. Al sou die VF+ sy stemsyfer verdubbel in die volgende verkiesing sou dit nogsteeds minder as ‘n impotente 6% van die nasionale stem uitmaak. Al die ander “opposisiepartye” is OF dood OF ideologies belyn met die ANC. Die DA, onder andere, het bloot hulle rug op hulle liberale beginsels gedraai en ANC beleid aangeneem.

Die gevolg is nou bloot dat daar weereens, met die morele legitimisering van elke Afrikaner wat gaan stem het, op ons regte getrap gaan word.

Ons het nie ‘n ander keuse nie: pas aan of sterf. Erken die realiteit van ons situasie ten volle, en maak dan nuwe planne. Wat is die waarheid? Ons demokrasie is korrup (in meer fasette as net regeringskorrupsie).

Daar is hoop. Skep regeringsalternatiewe. Maak die regering irrelevant.

1. Weier ten alle koste om ontwapen te word.
2. Neem deel aan privaatsektor inisiatiewe om alternatiewe vir sekuriteit en polisiëring, welsyn, onderrig, privaat krag, ens te skep.
3. Bou ‘n nuwe toekoms deur innovering. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is kriptogeld – dit is tans so ‘n groot bedreiging vir regeringsmag dat dit openlik in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers bespreek word https://cointelegraph.com/news/us-rep-sherman-calls-for-crypto-ban-says-it-threatens-to-diminish-american-power

Dit is ons beste kans om oorlewing. Om hemels naam moet tog net nie weer gaan stem nie.

Deon ·

Spartaan, ons het probleme. Solank ons in SA woon kan die regering nie irrelevant gemaak word nie. Daar is ‘n wapenwet wat nagekom moet word. Indien nie, gaan oortreders swaar gestraf word, selfs met tronkstraf. Mense met geld, skep reeds privaatsektor inisiatiewe. Maar ons almal betaal belasting vir openbare dienste wat baie gebrekkig is. Mense wat belasting ontduik oortree die wet. Ons kan innoverend lewe, maar moet inpas by die owerheid se monetêre beleid en regulasies. Die enigste alternatief is om te werk vir afstigting in ‘n grondgebied aan die weskus. Afrikaners kan daar leef en werk. Daar kan ons bou aan ‘n sterk ekonomie wat gegrond is op die 4de Industriële Revolusie. Daar sal dus ruimte wees vir innovasie.

Spartaan ·

Hi Deon

Ek stem heelhartig saam, maar besef dat daar geen hoop is op ‘n eie grondgebied indien jy ontwapen is nie. Dit is veral op die gebied waar burgerregte organisasies groot waarde lewer.

Ek is ook nie ten gunste van belasting ontduiking nie, maar belastingverset is wel ‘n legitieme proses van protes. E-tolls is ‘n goeie voorbeeld hiervan en weereens was burgerregte organisasies deurslaggewend in die deurvoering daarvan.

Al ons vreedsame vorme van protes, soos hierbo, was tot dusver suksesvol, maar is afhanklik van die integriteit van ons regstelsel wat toenemend in verval is, en binne die raamwerk van die grondwet moet opereer, wat die ANC en hulle ideologiese vennote kan verander. Dit is daarom dringend (dalk selfs te laat) dat ons ophou tyd mors om ons eie politieke boodskap af te water deur aan verkiesings deel te neem.

(Let wel: deelname aan verkiesing en regsproses is nie dieselfde nie ).

Neem ook in ag dat slegs ngeveer 63% van stemgeregdigdes aan hierdie verkiesing deelgeneem het. Ek voel ‘n teiken van 13% om onder 50% te val is haalbaar en sal ‘n baie sterk simboliese en politiese stelling ten gunste van onafhanklikheid skep. Dit sal ‘n baie sterk boodskap stuur itv ons bereidwilligheid om verder deel van hierdie sirkus te wees.
Dit is ook meer haalbaar as om deel te neem en van 2.8% na 30% van die totale stemme te gaan, net om ‘n 2/3 meerderheid te keer (en geen vordering tov onafhanklikheid te maak nie).

Andreas ·

Sp, kry dit in jou kop, daar sal nooit ooit in ons lewe ‘n eie grondgebied vir die Afrikaner wees nie, kyk na die spikkels op die grafika, die ander hier het ons kennis en vaardigheid te nodig, ons is onontbeerlik om van af te tap, al word ons in die grond vertrap. Maar, veronderstel hulle gee ons wel ‘n eie grondgebied, wat ons in ‘n leeftyd of tien nie sal betrek nie omdat dit ekonomies net nie haalbaar is nie, wat maak hulle met die ander minderheidsgroepe wat elkeen ook in ons spore sal volg, indien ons wel sodanige opsie aangebied word, en sy eie pond vleis opeis? Kry ons dan nou voorkeurbehandeling?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.