Nuuskommentaar: Is DA gespanne oor komende verkiesing?

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

Die 2021- munisipale verkiesing vind oor minder as twee weke plaas. Dit beteken dat die politiek, politiekery en sodoende ook politieke uitputting besig is om ʼn hoogtepunt te bereik. Die een party wat die afgelope tyd egter die enkele meeste media-aandag vir hulself kon bewerkstellig, is die DA.

Die DA het hierdie verkiesingseisoen aanvanklik afgeskop met ʼn relatief onomstrede boodskap – die DA kry dinge gedoen. Dit is die regte boodskap om te hê in ʼn munisipale verkiesing wat veronderstel is om oor dienslewering te handel. Die DA se sterkste boodskap was nog altyd een van skoon, doeltreffende en goeie DA-regering. Dit word jaarliks bevestig deur die skrille kontras wat bestaan tussen goed regeerde DA-munisipaliteite en mislukkende ANC-munisipaliteite. Mense raak dalk moeg vir politiekery, maar wil steeds ʼn goeie burokrasie en regering hê.

Een van die DA se sterkste advertensies hierdie verkiesingseisoen is juis die een wat hierdie skrille kontras in infrastruktuuronderhoud uitwys. Daar waar ANC-regering in die Oos-Kaap toegepas word, is die pad oud, vervalle en vind demodernisering plaas. Daar waar die DA-regering in die Wes-Kaap begin, is die pad nuut, in stand gehou en spreek dit van belastingbetalers wat waarde vir geld kry.

Iewers langs die pad het die DA egter in hul verkiesingsveldtog groter klem begin plaas op ʼn ou politieke truuk van die DA – die mite van die DA as die amptelike opposisie en ander opposisiepartye as kleinpartye wat die stem verdeel. ʼn Stem vir enige ander party is nie net ʼn vermorsing nie, maar versterk ook die ANC deurdat dit die opposisiestem “verdeel”.

Suid-Afrika se kiesstelsel is egter so opgestel dat ʼn stem vir ʼn “kleinparty” doodeenvoudig nie gemors kan word nie. Elke stem wat vir enige party uitgebring word, het uiteindelik ʼn direkte impak op die wyse waarop die regering saamgestel word – dit is natuurlik ook waar vir die munisipale verkiesing. Ons kiesstelsel beloon juis kleiner partye en bevorder sodoende ook deelname van veelvoudige partye in die partypolitiek. Die vermorsing van ʼn stem op ʼn kleiner party is ʼn verkiesingsfoefie en mite. Die keuse is doodeenvoudig nie so binêr soos ANC teen DA nie.

Een van die DA se sirkulerende Facebook-advertensies sluit ʼn uiters onheilspellende video van partyleier John Steenhuisen in wat onder andere die stelling maak “Imagine a South Africa without the Democratic Alliance”. Steenhuisen waarsku in onheilspellende beligting, met ʼn ondertoon van vreesaanjaging, mense daarteen om vir enige ander party as die DA te stem:

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: DA/Twitter)

“This local government election is a two-horse race between the DA and the ANC No other party can win! A vote for a small party or ‘independent’ just splits the vote and allows the ANC to win.”

Sodoende behoort mense eintlik óf vir die DA óf vir die ANC te stem – enige ander stem is verdelend, dwaas en gevaarlik. Dit is werklik ʼn boodskap wat die DA uit die argiewe gekry het. In die 2016 munisipale verkiesing het hulle presies dieselfde boodskap met presies dieselfde beeld gepropageer. Die IVP het destyds nog groot teenstand teen die stelling gebied. Sodoende herleef Helen Zille se 2016-strategieë nou ook deur haar as federale voorsitter van die DA – ook in radioadvertensies waarin Zille self verduidelik hoe enigeen wat vir ʼn kleinparty stem, eintlik maar hul stem vermors.

Die afgelope Sondag het Leon Schreiber, DA-LP, en dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF+ in die parlement, ook in ʼn bekgeveg op RSG se Kommentaar betrokke geraak oor presies hierdie onderwerp en advertensie. Mulder verduidelik hierin hoe jammer dit is dat die DA nou begin om ander opposisiepartye te takel, eerder as om bloot op die ANC te fokus – met die vraag ook of die DA dan ooit mense se reg op vrye keuse tussen politieke partye ooit respekteer. Hierop het Schreiber geantwoord dat hulle natuurlik mense se keuse respekteer, maar dat mense strategies moet stem in verkiesings. Dus, kan mense natuurlik self kies vir wie hulle wil stem, maar die enigste regte besluit is eintlik maar om vir die DA te stem.

Dit is moeilik om hierna te luister en nie te dink dat dit DA eintlik maar net ʼn de facto-tweepartystelsel wil hê met die ANC en DA as die twee partye nie. Dan moet ʼn mens natuurlik ook glo dat dit, gegewe ons huidige kiesstelsel en demokratiese bestel, moontlik is om ekstern die ANC se magsblok te breek. Indien ons enige iets oor die afgelope kwarteeu geleer het, is dit dat ʼn eksterne verbreking van die ANC uitsonderlik onwaarskynlik is. Indien die ANC se magsblok gebreek word, sal dit weens interne verbrokkeling wees. Dit sal wees weens ANC‑kiesers wat doodeenvoudig ophou stem, eerder as die DA wat daardie mense se stemme wen en by “kleinpartye” wegrokkel. Suid-Afrika se demokrasie werk doodeenvoudig nie prakties soos wat dit volgens liberaal-demokratiese teorie veronderstel is om te werk nie – die ANC se magsblok kan gebreek word, maar dit sal weens interne verswakking eerder as eksterne weerstand kan geskied.

Die DA se sterkste boodskap met die beste kans op sukses bly egter ʼn baie praktiese en byna tegnokratiese boodskap teen die ANC – die DA regeer goed, skoon, doeltreffend en eerlik. Waarom voel die DA dan nou die behoefte om met Phoenix‑plakkate by rassepolitiek betrokke te raak, met hul radioadvertensie teen ander opposisiepartye te baklei en veral teen die VF+ uit te vaar. Is dit moontlik dat die DA bekommerd is oor die komende verkiesing?

Hulle interne peilings het reeds gewys dat Phoenix veral die party seergemaak het – hulle gaan dalk nie so goed doen soos wat hulle verwag het of sal wil hê nie. Ook is die boodskap van stemme wat gemors word op ʼn kleinparty eintlik reeds in die 2019‑ nasionale verkiesing redelik weerlê. Die DA was in 2019 die enigste groot opposisieparty wat stemme – sowat 400 000 – verloor het. Partye soos die EFF, VF+, IVP en Good het almal gegroei en eintlik baie goed gedoen. Is die DA gespanne dat die tendens wat in 2019 begin is dalk in 2021 voortgesit gaan word?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Adriaan ·

Die keerpunt vir my was n DA radio advertensie waarin hulle waarsku dat n VF+ wat sterk groei die ANC kan radikaliseer. Daarom moet daar eerder vir hulle (DA) gestem word. Ek was verbaas dat hulle n moontlike (waarskynlike?) koalisie vennoot aanval en dit het my finaal laat besluit om nie vir die DA te stem nie.

Werner ·

SA sal glad nie slegter af wees sonder die DA nie.Geen vd huidige partye is in staat om ons vd komende anargie te beskerm nie.

Keelvol ·

Dis waar wat jy sê. Hulle kan nie die ANC te bowe kon nie.

Shakespeare ·

Werner. So jy wil hê dat die EFF die opposisieparty moet wees. Die VF+ is skitterend maar te klein. Hou asb op om die DA sleg te sê

Adriaan ·

Die DA vaar teen almal uit maar Shakespeare versoek kommentators krities oor die DA om op te hou om die DA “sleg” te se. n Geval van “maak soos ek se, nie soos wat ek maak nie”? Sulke beterweterigheid is mos n liberale kenmerk.

Harley Davidson ·

Die gesegde se mos benoude katte maak benoude spronge en as ek kyk na hulle patetiese pogings om Afrikaans sprekende mense se stemme te kry hier op die verkiesing dink ek hulle is benoud.Ek dink hulle gaan baie stemme verloor en dit sal hul eie skuld wees oor hulle slap houding en lui raadslede in Pretoria vanaf die laaste munisipale verkiesing.

Jan ·

Hier in Roodepoort is ook om reguit te ‘n slegte DA raadslid ignoreer oproepe WhatsApp boodskappe maar nou met verkiesing om die draai nou probeer sy heldin wees.

Shakespeare ·

Hou op om die DA skeg te sê anders moet jy tevrede wees as die EFF die opposisie party is.

Sarel ·

DA..Verkeerde Leierskap….verkeerde beleidsbesluite..
Te gemaklik geword in die Kaap..maar ook bekend viir
Skoon Administrasie behalwe blykbaar on Tswane..
Verkiesingsuitsprake soos plakate in Phoenix en aanvsl
Op VF+ plaas vraagteken.
Kan huidige Leierskap vertroue herstel voor
Nasionale verkiesing

Johann ·

Dis nou maar ‘n feit As daar ‘n wyk is waar die DA 30% VF 30% en die ANC 40% gekry het Dan het die ANC raadslid gewen Dan is dit te laat vir die DA en VF om te besluit hulle gaan hulle stemme nou saam sit

wim ·

Gelukkig bestaan munisipaliteite uit meer as een wyk , en daardie verspreiding word ook proporsioneel tussen verteenwoordigers verdeel. Dan is daar iemand om die ANC-lite dop te hou.

pompies ·

DA trap klei en ek wens iemand wil dit vir hulle vertel want hulle dink nie so nie maar hulle sal wel uitvind na die verkiesing dat hulle klei getrap het. Tswane gaan hulle kos ek voel dit so aan my broek.

Shakespeare ·

STOP die DA slegseëry of wil jy hê die EFF moet die opp. Party wees.

SlinkseKoljander ·

Die DA laat dinge gebeur, rerig waar? Hulle dryg altyd om hof toe te gaan maar ek sien hulle nooit daar nie? Waar was hulle met die afskaf van afrikaans by Stellenbosch University?

Hulle beleid is ongemaklik baie dieselfde as die ANC sin.

VF+ en Afriform doen 1000000000000 keer meer as die DA, daarom kry hulle my stem.

Keelvol ·

Die DA is soos n klein skoot brakkie. Blaf die heeldag maar hardloop weg wanneer skrik gemaak word.

Keelvol ·

Die DA het ons as kiesers gefaal. Hulle is ruggraatloos en die ANC loop oor hulle….. ek ooit weer DA stem? Never in a million years.

Shakespeare ·

Ek sien jy gaan tevtede wees met die EFF as Opp. Party.

Harley Davidson ·

Hulle kan nie slegter doen as die DA in pretoria moot nie.

gpsa ·

Ek hoor bitter min van die VF+ se kant af. Stel nie belang in enige ander party nie, so reg of nie ek sal DA ondersteun.

Shakespeare ·

Geluk julle afduimers. As julle so aangaan dan is die EFF die nuwe Opp. Party.

Harley Davidson ·

Presies wat die ANC ondersteuning doen hou die ANC aan bevind ongeag hoe sleg hulle behandel word,die DA het halfhartig probeer en gefaal hoekom sal hulle nou beter doen.

JohanR ·

Vir wie stem jy in die Wes-Kaap? Die ANC….hell no! Die EFF….double hell no! GOOD….BAD! Dan los dit die VFPlus en die DA. Kan die VFPlus die Wes-Kaap soe suksesvol as die DA regeer? As die antword JA is dan kry hulle my stem. NEE en die DA kry my stem.

wim ·

Weet jy hoe die DA in 2006 in Kaapstad aan bewind gekom en hoe die DA daarna die VF+ in die rug gesteek het?

Jannie van Niekerk ·

Ongelukkig moet ek teen my beginsels en norme in die munisipale verkiesing hier in my dorp vir die DA stem om te voorkom dat die ANC en EFF ons nog dieper in die afgrond invat. Kom dit egter by nasionale verkiesings stem ek beslis nie vir die DA nie want hulle is maar net ANC lite. Kom dit egter by goeie munisipale bestuur moet ek toegee dat hulle daar ten minste iets beteken.

Elinette ·

Regtig – paaie is nuut waar die DA regeer? Nou hoekom lyk die straat waarin ek woon in Worcester (‘n DA-geregeerde munisipaliteit) soos ‘n straatvrou se sykouse – vol stukkende plekke?

Samuel ·

Die DA gaan seerkry in die Wes-Kaap. Verseker!! Hulle het arrogant geraak.

gpsa ·

Ek woon in Tshwane en ja DA het glad nie presteer soos ek verwag het nie, maar mens moet in ag neem hulle het nie volle beheer soos in die Wes kaap nie. Hulle is in koalisie met EFF om ANC uit te kon kry. Iets wat nie maklik kan wees nie. Steeds hulle audit was skoon, en ek is seker as hulle volle beheer oor Tshwane kan kry sal dinge verbeter. Wens mense wil saam staan en ongeag enige foute of kommentaar hulle ‘n kans gee.

Harley Davidson ·

Die probleem in pretoria is die raadslede wat net rondsit en salaris ontvang doen net die minimum en pleks kry hulle net prestasie bonusse, doen iets positief vir jou wy en ontvang ‘n bonus dan sal die met 2 werke miskien meer konsentreer op hulle mandaat wat die kiesers hulle gegee het in die vorige verkiesing.

Jan ·

Met DA leier volgens berigte met ander man’s se vroue lol en dat hulle dit sal oorweeg om koalisie met ANC te sluit in sekere situasies en deur binnegevegte dat JHB weer in ANC se kloue is en dan in die algemeen nie my beginsels deel nie nooit maar nooit sal ek DA stem nie

Papsak ·

Wel ek bid hard laat die DA of die VF+ plus in kom en die anc op hulle plek sit

Gert ·

Die DA is al gewaarsku dat hulle stemme gaan verloor in Kaapstad oor die ekstra heffings wat hulle hef op water en krag, asook die ekstra heffing op voertuig lisensies, maar hulle luister nie, so hulle moet maar voel.

gpsa ·

Wie wil jy he moet daar regeer Gert. Nie baie om van te kies nie. ANC of EFF, besluit maar.

Phillip ·

Kort en kragtig Ja hulle is ..
My Bloed is Groen en ek Glo in VF+ Klein Party kan ook n rues word
Elsa Lourens en haar span Staan Brits mense by En help hulle tot die rek uitgesorteer is nog nooit n Da sien sit by ons hoofde en help die Publiek nie

Yvonne ·

Ek is sat vir poletiekery…..bid liewer dat God sal ingryp in hierdie groterwordende chaos!!

Waarnemer ·

Mense,stel julleself voor…almal wat nie vir die ANC stem nie,stem vir die DA…..en glo my daar is BAIE wie vir die ANC gestem het in die verlede,wie hierdie jaar Nie vir die ANC gaan stem nie….en wat kry ons?n Nuwe regerende party..so ja,dit maak sin wat die DA propageer maar ek se nie dit is reg nie,stem vir wie jy wil maar net NIE vir die ANC of EFF nie.n Koalisie met n ander party sal steeds die DA aan bewind kan kry.
Ek se…As jy NIE gaan stem nie,dan versterk jy die ANC se kanse omdat jou teenstem kan help om die ANC uit die stoele te lig.

Ansie ·

Die DA het rede om bekommerd te wees. Sedert Helen Zille nie meer aan die spits staan nie, het hulle ook maar ‘n so-so party geword. Beter as die ANC? Beslis. Swakker as die ou DA? Ook beslis.

Yolandie ·

Ek wens ons kan al ons belasting geld vir Afriforum skenk en die res in hul peekies in stuur!!

Francois Le Cochon ·

Hier waar ek bly in Kaapstad het die munisipaliteit in Jan 2019 die pad voor my huis opgekap om n water toevoer pyp te herstel. Ondanks my, en my bure, se vele versoeke en klagtes, ook by die DA raadslid asook die Stad Bestuurder, is die pad nogsteeds nie weer geteer nie. Die munisipaliteit kom net so af en toe en gooi nog gruis om die gate wat ontwilkkel toe te maak. Wil die DA tegtig he ek en my bure moet vir hulle stem?

Harley Davidson ·

Pretoria is presies dieselfde hulle verstaan nie dit is die tipe dinge wat stemme verseker,paaie wat reggemaak word ,straatligte wat werk ,skoon parke en stad hulle raadslede glo om so nou en dan op die voorblad van die plaaslike koerant te wees is meer as genoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.