Nuuskommentaar: Is daar nog “splendid” te put uit die Britse “Splendid isolation?”

Die afgelope twee weke het COP 17 ‘n groot deel van die nuus in Suid-Afrika oorheers. Dit was vanuit die staanspoor duidelik dat Europa die beraad met ‘n agenda kom bywoon het – een wat opgesom kan word as ‘n beperkte grasie om teen 2015 ‘n omvattende verdrag te sluit wat alle lande insluit, en wat teen 2010 ten volle in werking tree. En dis basies wat Europa reggekry het, selfs te midde van erge kritiek tuis. Maar vorm Europa, Brittanje ingesluit, werklik so ‘n eenheidsfront?

COP 17 was nie al maak-of-breek-beraad waarby Europa pas betrokke was nie. Media 24 se verteenwoordiger in Europa, dr. Leopold Scholtz, som dit soos volg in Rapport op: “Brittanje was sedert 1904 nog nooit so geïsoleer in Europa soos nou nie.Dít is oorwegend die konsensus nadat die premier, mnr. David Cameron, op die afgelope week se dramatiese spitsberaad van die Europese Unie (EU) sy vetoreg gebruik het teen ’n Duits-Franse plan om lidstate te verplig om begrotingsdissipline toe te pas. “Cameron het verreikende toegewings vir die Britse finansiële sektor in Londen geëis, waardeur dié veel meer regte as Londen se mededingers in Frankfurt, Parys en Amsterdam sou kry. Dit was deel van Cameron se beleid om allerlei bevoegdhede wat tans by die EU in Brussel berus, na Londen terug te bring.“

Dié koppestampery kom nie van gister af nie. Onlangs nog het die Franse president, Nicolas Sarkozy hom vir die Britte se poging om voor te skryf maar tog effe eenkant te staan, vererg en vir Cameron gesê om te gaan doppies blaas. Nie lank daarna nie skryf ‘n rubriekskrywer van Der Spiegel dat Duitsland nou uiteindelik die Tweede Wêreldoorlog gewen het – finansieel in elk geval. Selfs voor die aanbreek van die Wêreld-ekonomiese krisis, en die Griekse Tragedie wat op spesifiek Europa ‘n invloed sou uitoefen, was daar al tekens dat die wind vir Brittanje anders begin waai het. En dikwels het Brittanje self geen aandeel gehad in die feit dat hulle ‘n koue skouer begin kry het nie. Die eerste beduidende vlaag – hoewel nie alle waarnemers saamstem nie en ook oortuigende argumente aanvoer – was toe die Europese Parlement oor ‘n amptelike taal, of tale besin het, en die indruk, reg of verkeerd, gekry is dat die Britte eenvoudig aanvaar het dat dit Engels sou wees. Waar dit algemene gebruik was dat Europese politieke partye hul webwerwe volledig in Engels gedupliseer het, het die Engelse weergawe oornag van talle verdwyn, en eers heelwat later is op beperkte skaal begin om dele weer in Engels ook beskikbaar te stel. ‘n Goeie voorbeeld was die CDU van die Duitse kanselier, Angela Merkel.

Nog ‘n belangrike letter in die skrif aan die muur was toe ‘n Engelssprekende joernalis, na afloop van ‘n verkiesing in Duitsland, ‘n minister gevra het om die nuuskonferensie in Engels toe te spreek. Die minister, toevallig vlot in Engels, het nie net geweier nie maar die joernalis se werkgewers verkwalik om iemand wat nie Duits verstaan nie, na Duitsland te stuur vir nuusdekking. In Nederland het dit ook nie goed afgegaan nie toe immigrante-betogers geëis het dat hulle eerder Engels as Nederlands, in Nederland, wil gebruik.

Aan die einde van die 19de eeu het Brittanje ‘n fase beleef wat bekend gestaan het as “splendid isolation.” Splendid isolation het beteken Brittanje sou nie in die sake van ander Europese lande inmeng nie, tensy die lande in sy slaai kom krap. Hy kon ‘n bykans volledige merkantilistiese benadering tot sy eie ekonomie volg omdat die land, saam met sy kolonies, min of meer selfversorgend was. Dit het min of meer saamgeval met ‘n soortgelyke beleid deur die VSA, bekend as die Monroe leer. Die Monroe leer was in hoofsaak daarop gemik om te voorkom dat veral Europese moondhede die plek van die Spaanse koloniale mag sou inneem, namate die Spanjaarde hul kolonies in Latyns-Amerika moes prysgee. Tog was daar ‘n element van gemeenskaplikheid – die VSA het ook onderneem om nie in die interne sake van Europese lande in te meng nie.

Die Britte het nie self die benaming, Splendid isolation, uitgedink nie, maar toe die Kanadese minister van Finansies, George Foster dit in 1896 effens afwysend in die Kanadese parlement gebruik het, het die Britte dit trots omarm. Die ooreenkomste met wat vandag gebeur is oorvloedig – waar die Europese ekonomieë nou die Duitse ekonomie as anker gebruik, het Brittanje destyds in ‘n mate geïsoleerd van Europa geraak toe Bismarck se vereniging van Duitsland voortgesit is in ‘n beleid om Europese lande as bondgenote in te bind.

Daar is egter nie net ‘n enkele dinamika wat Europa se houding teenoor Brittanje en omgekeerd bepaal nie.
’n Interessante dinamika is die patroon wat deur een van die denkskole van die politieke geograwe waargeneem word, maar waarvan dit nog gans te vroeg is om die absolute geldigheid te bepaal. Dit is die hipotese dat volknasionalisme ten koste van ‘n groter geografiese nasionalisme sal groei, as daar bokant die nasionale staat ‘n nuwe oorkoepelende politiek-geografiese entiteit ontstaan.

Die hipotese sou dus beteken dat namate die Europese Unie die karaktertrekke van ‘n nuwe staat aanneem, sal volksentiteite soos dié van die Skotte, Vlaminge, Baske, Kataloniërs en ander sterker word ten koste van bestaande state soos Brittanje, België en Spanje. Die kleiner volke voel as’t ware die ou state is nou oorbodig of selfs ongewens.

Buite die oog van baie Suid-Afrikaners het die Skotte die afgelope jare weer ‘n eie parlement gekry, en met die mees onlangse verkiesing het ‘n Skotse party die beheer oorgeneem wat dit ten doel het dat die Skotte oor sowat vier jaar ‘n onafhanklike staat sal wees. In België is pas, na 541 dae se onderhandelings, daarin geslaag om ‘n regering te vorm na die Vlaamse nasionaliste met die verkiesing baie veld gewen het. Al word bitter min van die Skotse parlement, of dan die Pàrlamaid na h-Alba gehoor, is dit ‘n model van suiwer en hoogstaande werking. Wetgewing kan as’t ware deur ‘n ring getrek word, en kan as dikwels vir ander lande as rolmodelle dien. Die Skotse wet wat vir groeiende outisme voorsiening maak, is die res van die wêreld baie jare vooruit. Die kapitale investering waarvoor die parlement voorsiening maak is alleen ‘n stewige 60 miljard Pond. Die skakels op sy amptelike webblad lei onder meer na die Britse en die Europese parlemente. Met Skotse, en in ‘n mindere mate Walliese sentimente wat al hoe minder die behoefte aan ‘n Groot Brittanje ervaar, is dit bykans vanselfsprekend dat die Unioniste langlippie sal trek oor die impak, of moontlike impak, wat ‘n soliede Europese Unie hierop uitoefen. Boonop meen die kritici van hierdie hipotese dat die Skotse onafhanklikheidsdrang meer te make het met die ontdekking van olie in die Noordsee, en dat die Skotte hierdie rykdom met die res van die Verenigde Koninkryk moet deel. Die feit dat die Vlaminge ook ‘n pro-onafhanklikheidsparty tot grootste party verkies het, en dat die Vlaamse Premier al hoe meer soos die premier van ‘n onafhanklike staat optree, maak egter dat dié verskynsel van volksnasionalisme onder ‘n sambreelliggaam met meer aandag en minder sinisme bestudeer moet word.

Baie water van die Teems moet egter nog in die see loop voor werklik bepaal sal kan word in hoe ‘n mate die Europese Unie die staatkundige aspirasies van volke uit die openbare en staatkundige oog sal beïnvloed. Tot dan is dit ook voortydig om aan te neem dat Brittanje se rug styfmakery teenoor die Europese Unie ‘n poging is om Skotse onafhanklikheidsapirasies na lêer 13 te verban. Intussen sal slegs die tyd leer of Brittanje nog steeds glorieryk kan bestaan in ‘n omgewing van splendid isolation. Die wêreld het immers ‘n neutedop geword – iets wat die wêreld ook weer deeglik van kennis moes neem tydens COP 17 – of almal moet saamwerk om die planeet te red, of dit kan maar gelaat word en almal die wrange vrugte pluk. Isolasie is immers selde glorieryk – en juis daarom het dit internasionale praktyk geword om lande wat probleemlande geword het, te probeer isoleer. Die jongste is Sirië waarvan lidmaatskap van die Arabiese Bond opgeskort is, maar skynbaar nog nie die Al-Assad-bewind tot beduidende toegewings kon oorreed nie. Die dodetal bly styg.

Suid-Afrika bly een van die wêreld se voorste skeibrekers wanneer dit kom by lande deur isolasie onder druk plaas. Volgens die jongste berigte uit Zimbabwe het die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, Robert Mugabe se ZANU-PF die versekering van verkiesingshulp gegee – dit terwyl die wêreld Mugabe en sy party wegwens. Die Suid-Afrikaanse regering se gaste na groot geleenthede in Suid-Afrika soos die wêreldbeker-sokkertoernooi verlede jaar lyk dikwels soos ‘n muishond-galery, en die verwagting is dat dit volgende jaar met die ANC se eeufeesvierings nie anders sal lyk nie.

Min, indien enige land, kan nog werklik die “spendid” in “isolasie” plaas, en Brittanje sal dit waarskynlik ook nie kan doen nie. Trouens, Cameron kry op die tuisfront ook die wind van voor oor hy die Europese Unie so aan die baard gaan pluk het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae