Nuuskommentaar: Is daar ruimte vir minderhede se leierskapontwikkeling?

Leierskap-bemagtig

Argieffoto.

Al is die gebrek aan geleenthede vir jong leierskapontwikkeling onder minderheidsgemeenskappe so inhiberend, is dit duidelik dat daardie potensiaal nie verdwyn het nie, en steeds blom wanneer instansies soos AfriForum die geleenthede daartoe bied.

Dié week het Die Burger en die Kaapstad-sakekamer ’n belangrike prestigegeleentheid gehou toe Fred Robertson van die bemagtigingsmaat­skappy Brimstone Investments as die Sake­leier van die Jaar aangewys is, en Trevor Manuel die Sake-ambassadeur van die Jaar. Hulle word as twee uitmuntende leiers beskryf.

Die regering tjommel tans erg rond onder die gevolge van sy swak leierskap, en die hele kwessie van die doeltreffende disinvestering van die land se staatsbeheerde instellings, waaraan Maroela Media ook gister sy nuuskommentaar gewy het, groei aan soos ʼn sneeubal. Dit is rede tot groot kommer.

Dit gebeur ten spyte daarvan dat Suid-Afrika oor van die beste sakeleiers ter wêreld beskik. Ja, die regering betrek van hierdie leiers wanneer pres. Jacob Zuma ’n buitelandse ekskursie onderneem om oorsee witvoetjie te gaan soek.

Die vraag is egter: Wanneer Zuma en/of die regering sy eie skadelike kop volg, het hierdie uitmuntende leiers enige saakmakende inspraak om skade te voorkom?

Ekonomiese adviesrade en ekonomiese adviseurs het in die verlede enorme werk verrig, en die land het in soms baie moeilike omstandighede groot golwe gery gekry. Nou gaan dit broekskeur om ’n kommentator te vind wat in die ekonomie spesialiseer, wat nie maar net een uiteinde voorsien nie – rommelstatus.

Dit ten spyte daarvan dat die graderingsagentskappe helder uitgespel het wat nodig is om rommelstatus af te weer. In hierdie grasietydperk besluit Futuregrowth om ses staatsbeheerde ondernemings nie verder met lenings te ondersteun nie. Sentraal in hierdie besluit staan Futuregrowth se hoof, Andrew Canter. Sy kundigheid en leierskap word wyd besing. Maar in plaas daarvan dat die regering wysheid by hom tap, staan Canter nou lynreg téén die regering – hy moet immers eerstens sy beleggers beskerm.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, pleit by ander beleggers om nie Futuregrowth na te doen nie, maar in hierdie stadium lyk dit of sy met ’n besem teen ’n orkaan vee. Op die oog af lyk dit of die regering nie aan beleggers of die graderingsagentskappe se vereistes kan voldoen sonder om Zuma te pos nie.

En wanneer Zuma ter sprake is, is dit ’n heel ander kwessie waar die reëlboek vir leierskap in ’n grondwetlike demokrasie lankal gratis op die uitverkooprak lê en stof vergaar.

Nogtans is daar in vakgebied-konteks waarskynlik genoeg ruimte vir jong leiers uit minderheidsgemeenskappe om hul leierskapspotensiaal uit te leef. ’n Mens kry dalk van die TV af ’n ander indruk waar Afrikaanssprekendes betreklik min as kundiges ingespan word om op kwessies insette te lewer. En waar Afrikaanssprekendes wél betrek word, word die onderhoude op Afrikaanse nuus heel dikwels in Engels gebeeldsaai. Die afleiding is dat die onderhoudvoerder nie Afrikaans magtig is nie.

Is die omgewing nie taamlik inhiberend vir ’n jong, natuurlike Afrikanerleier, om reeds op skoolvlak sy leierseienskappe te begin ontwikkel om eendag ’n leier van sy eie mense te wees nie? Dieselfde geld vir ander minderheidsgroepe.

Want gaan hy in die politiek in, is hy byna gedoem om iewers ’n “klein” of ondergeskikte rol te speel, al veg die Vryheidsfront Plus baie ver bo sy gewigsklas.

Hierteenoor is dit nie werklik onduidelik wie namens die Vlaminge, Baske, Kataloniërs en nou selfs die Skotte praat, en hul belange binne ’n bepaalde omgewing die beste probeer dien nie.

In Suid-Afrika het leierskapontwikkeling vir minderheidsgroepe nou ’n komplekse stadium bereik. Wat die Afrikaners betref, kan daar min twyfel wees dat die Solidariteit Beweging ’n baie sentrale rol speel.

Binne die bruin gemeenskap is leierskapontwikkeling kompleks en dikwels vloeibaar. Met die bedanking van prof. Jonathan Jansen as rektor van die UV, was dit in die sosiale media duidelik dat Jansen in sekere bruin kringe as ’n belangrike (bruin) leier ervaar word, al beskryf hy homself as Engelssprekend en swart. Aan die ander kant het Peter Marais ook steun in sy identiteitsherlewingsaksies. By die stembus het nie een van hierdie gedagtegange egter in ooreenstemming met die steun wat vooraf geblyk het, presteer nie.

Miskien lê die eerste stap in die skepping van ’n informele raad van minderheidsgroepe.

Wat nie sommer sal gebeur nie, is dat ’n Afrikanerraad onder leiding van Flip Buys met Max du Preez as amptelike herout tot stand sal kom. Twee- en driespalt sal daar altyd wees, met die kollektief vir “politieke korrektheid” wat die spore diep sal inslaan.

Maar is dit regverdig dat jong, natuurlike leiers by voorbaat ’n deksel opkry? Is daar nie innoverende wyses waarop hierdie soort leierskap ook soveel en sover moontlik ontwikkel en uitgeleef kan word nie? Oudpres. FW de Klerk sal nie vir altyd sy eertydse leierstatuur kan gebruik om via sy Stigting “orakels” te spreek wat dikwels sterk ooreenstem met breë Afrikanersentimente nie (al word wat hy sê dikwels by verstek afgekraak en op die ashoop gegooi).

Tog is daar ook al flink vordering gemaak. Jong mense wat as lede van AfriForum optree se leierseienskappe blyk gereeld uit verskeie projekte – hetsy waar die owerheid of ’n universiteit hof toe gesleep word, waar voer vir droogtegeteisterde boere gelewer word (en die werk daaragter is baie, baie meer as wat ’n mens jou kan indink), om die knoop vir munisipaliteite te help deurhak, en vele meer.

Die leierskapspotensiaal het duidelik nie verdwyn nie, en word geleenthede vir die uitleef daarvan ontwikkel, kan dit blom. Die vooruitsigte dat iemand as onbetwiste minderheidsleier institusioneel namens sy eie mense standpunt kan inneem, lê tans op die oog af ver, maar sonder die ontwikkeling van daardie leierseienskappe is dit buite die kwessie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Theuns ·

Herman wat jy voorstel vir die ontwikkeling van ons jong leiers is uiters noodsaaklik! Dit wil egter voorkom of die Afrikaner aan politieke bomskok ly omdat daar sedert 1994 min Afrikaner politieke leiers na vore getree het nie! En dit voel vir my of ons volk heeltemal herderloos is. In die goeie ou dae kon studente by Universiteite in die Politieke Wetenskappe gaan studier om hulle te bekwaan as Ambasadeur en ander werk in die staatsdiens. Wat het hiervan geword? Afikaners sal ook hulle stemme voeg by politieke partye wat nie in die belang van die Afrikaner of Witman gaan of wil optree nie! En dit is nie al nie! Ouens soos jy, Leopold, Dirk Hermann en Flip Buys word al hoe minder en kan net verder tot ons “geheue verlies” bydra dat ons later nie meer sal weet waar ons vandaan kom of waarheen ons op pad is nie.Ons sal self iets moet doen omdat ons nie net van AfriForum en Solidariteit afhanklik kan wees nie! Miskien kan jy vir ons meer duidelikheid gee oor die pad voorentoe en wat ons moet doen?! Groete

Hendrik ·

Theuns ek stem saam met jou. Ek was uiters teleurgesteld oor die stemkeuses van die meerderheid Afrikaners in die verkiesings. Ek het meer insig verwag van die mense. Ons verstaan bv. nie hoe swartmense vir die ANC bly stem al gaan dit ook hoe vrot. Die Afrikaners doen presies dieselfde deur weereens vir partye te stem wat nie hul belange op die hard dra nie. Is die meerderheid Afrikaners net so naief soos die meerderheid swartes?

John ·

Leierskapsontwikkeling is nuttig vir baie terreine, maar Afrikaners is ontnugter deur leiers met ander agenda’s. Min sal vertrou word. Tweespalt in eie geledere word deur die vyand aangepor en al die chaos in die land verstrooi die Afrikaners. ‘n Sterk leiersfiguur mag na vore tree sodra ‘n krisis dreig, maar nie dmv oppertunistiese emosionele opsweping nie. Dit sal ‘n persoon van onbesproke karakter en ‘n strateeg van formaat moet wees, want elke fout sal uitgebuit word. As ons bid sal so iemand DV opdaag. Om alle minderhede saam te karwei omdat hulle parassietagtig klou aan Afrikanergeledere is ‘n fout. Elke groep moet sy eie kultuursake en leierskap uitbou. Diegene wat die’ pad loop sal baie Boere vervreem. Afrikaans is nie genoeg rede nie. Unies en ander belangegroepe kan mense eerder bind.

Schalk ·

Hendrik ek stem saam jou. Ek het ‘n besigheid en ongeveer 50 permanente werkers. Ware werklike leiers word gebore met natuurlike eienskappe wat net geslyp en gevoed kan word met doeltreffende opleiding. Die “iets” of kenmerk van ‘n ware leier kan ontwikkel maar nie aanwesig forseer word nie. In die praktyk kan houding en verhoudings ten opsigte van besigheid is besigheid met gesonde grondbeginsels, nie ontwikkel word as ‘n gesonde aptyt vir gebalanseerde risikos met ‘n ingebore balans van regverdige en logiese denkwyse afwesig is nie.
‘n Leier is nie noodwendig ‘n klaskaptein , hoofseun of spesifieke kultuur of geslag nie. Sela

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.