Nuuskommentaar: Is demokrasie in gevaar en is identiteitspolitiek as bousteen die antwoord?

demokrasie

(Argieffoto)

Die afgelope paar dae, maar veral vandag, is daar verskeie artikels wat krities na die begrip “demokrasie” of minstens aspekte daarvan kyk. Is die kritiese vrae en bespreking geregverdig, veral terwyl die probleem dikwels by gebrekkige implementering, bedryf en grondwette met ernstige leemtes lê?

Almal wat in die staatkunde belangstel, ken die uitdrukking van “demokrasie is ’n euwel, maar dit is die beste euwel wat ons het”. Dié presiese herkoms van die uitdrukking is onbekend, maar word onder meer aan Winston Churchill toegeskryf wie se inspan hiervan goed geboekstaaf is. Hy is aangehaal as sou demokrasie die slegste vorm van regering wees, as dit nie vir al die ander vorme was nie. Maar onder al die ander minder ernstige vorme van kritiek op demokrasie tel nog minder vleiende aanhalings soos dat demokrasie ’n illusie is, ’n eksperiment, ’n misbruik van statistiek, ʼn idee wat baie as gevaarlik beskou word, eindelose vergaderings en vele meer. Positiewe aanhalings is daar ook.

Die meeste kritiek op demokrasie kan herlei word na die konsep van “diktatuur/tirannie van die meerderheid”. Anders gestel, ’n gebrekkige demokrasie omdat nie behoorlik vir minderheidsregte voorsiening gemaak word nie. Die konsep van menseregte word immers gehalveer in veral ’n heterogene land as net vir individuele regte voorsiening gemaak word, maar as daar nie ook ’n handves van minderheidsregte is nie. Of dalk nie heeltemal gehalveer nie, omdat sommige individuele regte so sterk dwarsliggend oor alle vorme van menseregte lê dat dit die fokus op individuele regte alleen erodeer.

Maar as Suid-Afrika dan so ’n mooi demokrasie het soos wat die ANC en akademici op die liberale kant van die politieke spektrum glo, waarom brand munisipaliteite so gereeld? Hoekom gaan politieke protes byna sonder uitsondering oor in geweld en vandalisme dat daar gedebatteer word of dit nie eintlik op stedelike terreur neerkom nie?

Hierdie soort verskynsel wat in verskeie wêrelddele voorkom, is wat die bekende Amerikaanse skrywer en politieke analis, Patrick J Buchanan na die kuberpen laat gryp het met die titel: “Is democracy a dying species?” Hy verwys na vernietigende protesoptrede in verskeie lande met redelik bestendige demokrasieë (vir minstens ’n paar dekades) en so ook bestendige ekonomieë waar oproeriges enorme skade aangerig het, naamlik Chili, Libanon, Spanje (die Katalaanse gebeure), Frankryk (Geel Hemde) en Hongkong.

Hy neem nie Suid-Afrika onder die loep nie, minstens ’n ligte verrassing aangesien hy ’n uitgesproke belangstelling in Suid-Afrika gehad het – soveel so dat hy selfs deur pres. Gerald Ford as ambassadeur in Suid-Afrika aangestel is na genl. Alexander Haig hom ’n keuse van drie vakatures gebied het, en Buchanan Suid-Afrika verkies het. Ford het die aanstelling teruggetrek na dit voortydig uitgelek het, en groot ontevredenheid in veral die diplomatieke korps veroorsaak het.

Buchanan word as regs beskryf. Na ’n relatief lang periode waarin sy skryfwerk eerder realisties as regs-bevoordeeld beskryf is, is hierdie artikel weliswaar nie spesifiek regs getint nie, maar nogtans soveel so deur subjektiwiteit getint dat dit nie as een van sy bestes kan tel nie. Dit bied nogtans ’n platform om na brak kolle in demokratiese toepassing te kyk.

In elkeen van die lande wat hy as voorbeeld noem, is sake veel meer kompleks as soos hy dit uitbeeld, ’n bestendige, voorbeeldige demokrasie en stewige ekonomie. Trouens, daar is ’n ongemaklike swye oor onder meer die impak van diversiteit in feitlik elkeen van hierdie lande, soos byvoorbeeld die agitasie van die Mapuche in Chili, die lang geskiedenis van wrywing tussen Christen, Soenie en Sjiïet in Libanon, en die eiesoortigheid, soos ’n eie taal van die Katalane.

Dit beteken ook dat met ander oë na die gebreke in Suid-Afrika gekyk moet word. Eerstens, Suid-Afrika se ekonomie mag nog in Afrika-terme ’n reus wees, maar Nigerië is Suid-Afrika op enkele meetinstrumente verby, terwyl Egipte ook in daardie opsig saamgesels.

Daar is ook ander faktore, soos die enorme inkomstegaping, die gaping in die grafiek van relatiewe deprivasie, lae produktiwiteit, die sleureffek van ʼn lae standaard van onderwys (per kop bestee SA veel meer aan onderwys as lande wat ʼn hoër standaard van onderwys lewer), en die steeds oninspirerende motivering om ʼn behoorlike standaard van onderrig te verskaf. Pres. Cyril Ramaphosa het self die netelige kwessie van aanstigting in die verlede se sleureffek nou opgerakel deur te sê betalingsboikotte tydens apartheid was in die haak, maar nie nou meer nie.

Maar die wet van Transvaal kan kwalik geld as die ekonomie so gekwes is dat die werkloosheidskoers so hoog is dat baie gesinne se betaalvermoë nie eens die sogenaamde “gratis” dienste wat so mildelik belowe was, kan bekostig nie. En so bydra tot Eskom se droewe staat. Redes vir oproer is daar baie.

En wat van in die toepassing van die demokrasie self, beginnende by ’n grootliks unitêre grondwet vir een van die mees heterogene bevolkings ter wêreld. Dit beteken die ABC van grondwetlike beginsels het in die slag gebly, terwyl tot onlangs nog hoog opgegee is oor die “beste grondwet” ter wêreld.

Met planne om dit nog ’n ernstige knou toe te dien deur die planne vir grondgryp sonder vergoeding.

Oudpresident Jacob Zuma het menige keer beswaar gemaak omdat sy magte om ’n diktatuur van die meerderheid te vorm, in die wiele gery is, maar hy kon nietemin sonder bestraffing sy ampseed skend wat bepaal dat hy in belang van al die land se mense moes optree.

Buchanan het egter ’n punt beet dat daar leemtes in demokrasie is, soos blyk uit ’n aantal artikels wat juis vandag in The Conversation verskyn:

In Maroela is ook verskeie artikels wat harde vrae vra oor die neerslag van demokrasie:

  • Die Konstitusionele Hof en Gelyke Kanse: Wat het gebeur (hier)
  • Ideologie en verengelsing word bo enige beginsels gestel (hier)

Daar is genoeg aanduidings dat alles nie reg is met die toepassing van demokrasie nie – ook nie in SA nie, en/of dat daar leemtes is in die konsep van demokrasie – maar dat demokrasie darem die beste euwel is wat daar is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DANIE ·

Daar is GEEN gelykheid of demokrasie as wit mense:

1. Se eiendom gevat mag word
2. Op strepe vermoor word
3. Aangevat word op oortredings waarvan ander rasse nie aangevat word nie

Daar is nie gelykheid nie want die huidige regering WIL onder die dekmantel, onsigbaar die effek van apartheid aan die lewe hou, net omgedraai.

Almal kan stem, sommige kan saam stem en ander nie, daar kan 100 politieke partye wees, maar solank as wat rassehaat na ENIGE kant toe TOEGELAAT word soos huidighelik TEEN WITMENSE wat nie eers deel van apartheid was nie, sal niks regkom nie en NIEMAND SAL gelykheid ervaar nie.

OM ALMAL in een land gelyk te wil he maak ook nie sin nie, want nie ALMAL KAN die bestuurder of die baas wees nie, nie ALMAL kan ryk of suksesvol wees nie want mense se keuses verskil, so die huidige regering druk tans ALMAL af, nes Zimbabwe gaan almal eers moet VREK van die honger en alles moet verbrand en vernietig wees voor die wereld besef wat aangaan. DIE RESEP bly wereldwyd dieselfde en mens kan ONDER GEEN OMSTANDIGHEDE met die resultaat wil strei nie, jy kan nie……. al wil sommmiges, jy kan nie.

As jy op die TAMATIEPLANT trap elke dag, gaan die tamaties NIE GROEI nie….. maak nie saak wie wat se nie…

Feite ·

Die demokrasie in SA kan nie in gevaar wees nie, omrede die demokrasie se einde reeds aangebreek het toe die ANC vir Zuma tot president verkies het. Van Zuma af tot nou toe geld demokratiese beginsels nie meer nie, behalwe soos en wanneer dit die regerende party pas. SA is bloot met behulp van die demokrasie omskep in n transformasiestaat waar alle groepe nie gelyk is nie en sekere groepe uitgesluit word van deelname aan die ekonomie, besit van grond ens. Die ANC gebruik basies net die demokrasie om “reverse apartheid” en boetedoening te regverdig, net soos wat hulle die demokrasie gaan gebruik as regverdiging om hulle wil af te dwing vir n kapitalistiese sosialistiese welsynsstaat. Maw, SA se demokrasie is n klug, want dit sluit net sekere groepe in!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.