Nuuskommentaar: Is die ANC nie dislojaal aan die land en grondwet nie?

anc-vlagDie ANC en sy meelopers is lief daarvoor om hul kritici van dislojaliteit teenoor die land te beskuldig. Volgens verskeie ANC-woordvoerders skep volgehoue kritiek op ministers byvoorbeeld by potensiële beleggers die indruk dat die land deur onbekwame mense (om dit baie eufemisties te stel) regeer word, en raak hulle daarom kopsku om te belê.

Dat die skoen (minstens dikwels) aan die ander voet sit, word buite orde geplaas. Die woord “demokrasie” word so maklik hiervoor ingespan, sonder om die vaagste benul te toon wat die term “demokrasie” of veral “grondwetlike demokrasie” behels.

Die Kommissie van Ondersoek na polisiëring in Khayelitsha was ’n sprekende voorbeeld. Die Wes-Kaapse provinsiale regering, wat volgens die grondwet ‘n gedeelde polisiëringsfunksie het, en veral die taak het om doeltreffende polisiëring te verseker, sou sy plig gruwelik versuim om nié in te gryp nie. Tog het die destydse minister van Polisie, Nathi Mthethwa, belastingbetalersgeld vermors deur die aanstelling van ‘n kommissie van ondersoek tot in die grondwetlike hof te betwis, en telkemale die kous oor die kop gekry. Intussen was dit die mense van Khayelitsha wat onder gebrekkige polisiëring moes deurloop.

Onder die klagtes van die Wes-Kaapse provinsiale regering was dat senior polisielede in wese die Wes-Kaapse regering geminag het – in werklikheid ‘n baie ernstige aanklag van ongrondwetlike optrede deur die polisie.

Die verslag van die kommissie is pas bekend gemaak, en dit toon duidelik dat Mthethwa verkeerd was om die kommissie te probeer verhinder om te bestaan. Die kommissie het self versoek dat die verslag nie vir politiekery gebruik word nie, en die premier, Helen Zille, het onderneem om dit nie te doen nie.

Dit verander egter niks aan die feite dat die minister se optrede vooraf nie ook onder skoot behoort te kom nie, want die minister was immers deel van die kabinet, onder die leiding van pres. Jacob Zuma. Kollektief staan hulle dus aangekla en skuldig bevind aan ongrondwetlike optrede, en die belastingbetalers met nóg ‘n fris rekening.

Die fokus val egter op twee ander sake, naamlik Zuma se relletjie met Julius Malema in die parlement, en die ANC se aanvalle op die Openbare Beskermer. Die erns van die omstandighede rondom die EFF se reaksie op Zuma se systappery van sy grondwetlike verantwoordelikhede, is nou reeds deur al wat ontleder is snuif gemaal – maar dit is hoogs te betwyfel of die ANC van sy ongrondwetlike smoortaktiek hieroor sal afwyk.

Die botsing tussen die ANC en die Openbare Beskermer is ewe-eens baie ernstig, soos blyk daaruit dat twee van Media24 se drie daaglikse koerante die kwessie vandag in hul hoofartikels onder die loep neem.

Die Burger se opskrif is: “Suid-Afrika staan by ‘n kruispad.” Beeld se opskrif is: “Steun OB in stryd teen Zuma.” Beide koerante roep in wese die publiek op om die grondwet te versterk deur die ANC en Zuma in hierdie stryd teen te gaan. Vir die ANC, wat lojaliteit aan die land as sinoniem met steun vir die ANC beskou, is hierdie optrede van die koerante waarskynlik weer dislojaliteit teen die land, en sal daar (al weer) stemme opgaan oor beheer van die media, en stappe om die media tot “verantwoordelike beriggewing” te forseer.

Zuma self is weer sy afwesige self, soos wat sedert die verkiesing die gebruik is. Hy het na Rusland vertrek “om te rus” voor hy aan bilaterale gesprekke met die Russiese regering gaan deelneem, en ook ‘n gesprek met pres. Wladimir Poetin van Rusland gaan voer. Sake voortspruitend uit die twee lande se Brics-lidmaatskap gaan onder die loep kom.

Maar weer eens – nou staan die belastingbetalers in vir die verblyfkostes van Zuma en sy geselskap vir Zuma se rus in Rusland, terwyl daar plaaslike heelwat geriewe is waarvoor die belastingbetalers reeds opgedok het, waaronder Nkandla.

Of Poetin en die Russiese regering ook nou met veel erns kan aandag skenk aan die Suid-Afrikaanse afvaardiging is hoogs te betwyfel. Rusland word nou erg geknyp deur die sanksies wat Wes-Europa en die VSA teen hom ingestel het weens sy betrokkenheid by die situasie in Oos-Oekraïne.

Oekraïne het pas bekend gemaak dat hy tien Russiese valskermsoldate aangekeer het – die eerste tasbare aanduidings dat Rusland wél regstreeks by die konflik betrokke is. Hierop het Susan Rice, spesiale veiligheidsadviseur van pres. Barack Obama, op haar Twitter-profiel geskryf die Russiese invalle in Oekraïne met tenks, artillerie, lugafweerstelsels en soldate is ‘n “betekenisvolle” eskalasie.”

Daar is nou min twyfel dat die Koue Oorlog weer in al sy felheid woed. As Zuma met sy Russiese besoek enigsins ‘n bydrae tot enigiets wil lewer, sal dit wees om die spanning in die wêreld te help verlig.

Anders is hy vir Suid-Afrika niks anders as ‘n vyfde wiel aan die wa nie. ‘n Baie duur vyfde wiel – in meer as een opsig. En diegene wat hieroor volstruispolitiek speel, is diegene wat dislojaal teenoor die land en die grondwet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Pragtig uiteen gesit Herman. Kom ons hoop die publiek tree in.

Pieter Myburgh ·

Die ANC het hulle nog NOOIT gesteur aan wette of enige reels.Hulle mislei nie net die lands burgers nie,maar ook die res van die wereld.Hulle vertel een ding en doen dan net mooi die teenoorgestelde

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.