Nuuskommentaar: Is die rugbybod aan SA wys?

rugby_ball-13833.jpg

Argieffoto

Is ’n mens skepties, negatief of objektief wanneer jy wonder of dit wys is om die 2023-Wêreldrugbytoernooi in Suid-Afrika aan te bied? Die jongste misdaadsyfers is onlangs bekend gemaak en die syfers vir geweldsmisdaad soos moord lyk nie goed nie. Moord het die afgelope vyf jaar met 13,3 % gestyg, en 52 mense word elke dag in die land vermoor. Hoe gaan dit oor ses jaar lyk?

Dit is maklik om te sê dis alles pres. Jacob Zuma se skuld. Hy kan inderdaad op vele maniere geblameer word, soos dat hy geen behoorlike aanstellings van polisiehoofde en ministers van polisie doen nie, en dat hy self nie juis ’n leliewit voorbeeld van moraliteit stel nie.

Sal die stokou probleem van Kaapse bendegeweld met sy dwaalkoeëls binne ses jaar opgeruim kan word, of gaan dit meer gesofistikeerd en kloekmoedig raak sodat aanvalle op teikens tot in internasionale lughawegeboue en hospitale al meer gaan word?

Gaan plaasaanvalle teen 2023 afgeneem het? Gaan moorddadige transito-rooftogte kortgevat wees? En sal die stroom toeriste toegerus wees vir die vlaag motorkapings?

’n Mens kan ’n lang lys byvoeg soos moontlike taxi-stakings met geweld en belangrike toerismeroetes wat geblokkeer word.

Dis onmoontlik om te voorspel. Dit mag wees dat Zuma ná Desember baie gou uit die staatspresidentsamp gewoel word, en dat sy opvolger, en die opvolger se regterhande merkwaardige vordering maak om misdaad te bekamp, en infrastruktuur-onderhoud in te haal sodat die rugby-toeriste nie met strate vol riool te kampe het nie.

Dit mag wees dat ’n koalisieregering in 2019 aan bewind kom, en reeds vele regruk-aksies van stapel kon stuur.

Die probleem is nou. Die staatskas word nou geplunder wat ’n nalatenskap van leë provinsiale en munisipale kaste skep, wat op hul beurt oor die algemeen op reuseskaal agteruitboer met die instandhouding van infrastruktuur. Die DA-geleide munisipale bestuur van Johannesburg het byvoorbeeld ’n verbysterende agterstand aan instandhouding by die vorige ANC-administrasie geërf. In die Tshwane-metro lyk dit nie veel beter nie. Kenners voorspel dat die Mangaung-metro die land se eerste metro gaan wees wat inmekaar gaan stort. Gaan so iets opgelos wees voor 2023?

Ook die persepsies word nou gevorm. So het die Nederlandse koerant Trouw dié week ’n artikel van sy Suid-Afrikaanse korrespondent geplaas waarin na Suid-Afrika as korrupte land verwys word waar politieke moorde materieel voordelig kan wees. Nog ’n Europese koerant skryf oor die erbarmlike toestand waaronder talle kinders weens armoede en vigs in die land moet grootword.

Nadat ’n toerbus met buitelandse besoekers onlangs beroof is, het van die toeriste gesê al manier om Suid-Afrika veilig te besigtig is vanuit ’n weermagtenk.

Binne die volgende paar dae gaan Ierland en Frankryk alles in die stryd werp om die 2023-bod by Suid-Afrika af te rokkel. Ierland het reeds op die veiligheidsituasie gewys, asook die neiging van leë pawiljoene selfs met groot rugbywedstryde.

Boonop is daar verskeie pogings in die proses om Suid-Afrika se beheptheid met ras in sport, asook regeringsinmenging, te internasionaliseer. Die meeste internasionale sportliggame verbied enige vorm van rassisme en regeringsinmenging, en Fifa tree selfs gereeld hieroor op deur lidlande te skors. Tot dusver is dié praktyke in Suid-Afrika gewoon deur internasionale sportkodes “misgekyk”, maar in ’n mededingende omgewing kan lidlande begin brom. Daar is ook tekens dat selfs ander internasionale liggame nie meer Suid-Afrika se rassepraktyke met handskoene wil aanpak nie.

Die punt is Suid-Afrika kan nie waarborg dat sake hier te lande teen 2023 enigsins beter gaan lyk nie.

Suid-Afrika, en spesifiek Durban, se kopuittrekkery om die volgende Statebondspele aan te bied, word nou ook as stok teen die land gebruik.

’n Donker wolk hang boonop oor Suid-Afrika en miljoene rande wat, skynbaar om stemme te koop vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi, vir “sokkerontwikkeling” in die Karibiese gebied hande verwissel het, maar in iemand se eie sak beland het.

Iets wat nie voorspel kan word nie, is of die gasheerstede teen 2023 nog almal met klimaatsverandering so kop bo water sou kon hou dat daar geen krisis oor die beskikbaarheid van water sal wees nie. Kenners waarsku juis nou dat dit wat Kaapstad getref het, vorentoe die lot van ander stede in Suid-Afrika gaan wees.

Of moet ons ’n geloofsprong maak, en elkeen, veral deur burgerlike organisasies, aan die werk spring om te sorg dat alles klopdisselboom sal verloop? Kan ons aanvaar Zuma en die staatskapers gaan dan geen rol meer speel nie sodat ’n burgerlike regruk moontlik sal wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Frans C ·

Die aanbieding is niks meer as ‘window dressing’ nie,waar agter die werklike probleme weggesteek word.

Hendrik ·

Meeste van ons kan nie minder omgee nie! Ek hoop Ierland kry dit!

Anti 2023 ·

Herman jys absoluut reg en weereens n goeie rubriek. Ek stem saam met jou en onder andere die buiteland dat SA nie die 2023 wereldbeker kry nie. My redes – kyk wat gebeur in ons land tans, nie ‘n enkele stukkie goeie nuus nie. Wat my aanbetref sou ek nie eens die Springbokke genooi het na die toernooi toe nie. SA rugby se huis is ook deurmekaar.

Boer ·

Herman om die Rugby wereldbeker aan te bied oor misdaad is n groot vraag maar wat duidelik is, as SA die sokker beker aanbied dan neem misdaad af.

Leahim ·

Hulle kan natuurlik maak wat hulle wil maar ek meen dit sal verkeerd wees om die bod aan SA te gee n land met die mees korrupte regering wat menseregte net voorhou waneer dit hulle pas maar dan kan ons by die stadiums betoog teen die stygende misdaad.

Cornelia ·

As die gewete van die owerhede reeds so afgestomp is dat die enigste hoogtepunte wat die wêreld ingestuur word, die vure van dreigemente en koelbloedige vergrype teen die siel van hierdie land se lewensdoel is, waarom voorgee dat ‘n rugby spele ‘n kostelike toegif sal wees? Met reg diagnoseer u hierdie land se kritieke toestand. Suid Afrika “Treurland.” U is ‘n stem wat die Waarheid onverskrokke blootlê. Dankie

kat ·

Ek gaan self aan Ierland skryf en se dit is lewensgevaarlik hier en dat net die korruptes by so-iets gaan baat.

Derick ·

Kan ook regtig nie dink dat die bod komittee nie hul huiswerk en risiko analises doen rakende SA se huidige en toekomstige politieke en ekonomiese klimaat om te sien waar dit in 2023 gaan staan nie. Steun persoonlik Ierland, ook omdat SA’ners sonder visa na die land kan reis. Sal eerder vliegtuig kaartjie koop en die atmosfeer daar gaan beleef.

Andre ·

Onthou daar is mense wat baie geld gaan maak, daarom druk hulle dit in die naam van sport en vir SA. Maar ons moet kennise oorsee waarsku van die gevare hier, moorde, diefstal, korrupsie, taxi geweld ens. Skryf aan oorsee publikasies (is dit nog nodig) na die President’s Keepers, Swart Maandag ens… en waarsku hulle.

Christo Visagie ·

Gaan die organiseerders van die wereldbeker toernooi verantwoordelikheid aanvaar as van die internasionale rugby ondersteuners vermoor, beroof of verkrag word,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,hulle is mos bewus van die gemors waarin ons land hom tans bevind. Die ANC en EFF hou mos nie van wit mense nie, maar die geld van die wit ondersteuners is welkom,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Heinrich ·

Aan die een kant wens ek dat ons die bod wen, en die toeriste die ware Suid-Afrika, soos wat ons hom elke dag ervaar, aan die wêreld bloot te stel. Aan die anderkant is ek seker die ANC en EFF lede staan op gelid by die lughawens hulle lippe en aflek vir die nuwe klomp sagte teikens en wat geen fotos sal kan terug neem nie want al die kameras en selfone sal deur die ‘comrades’ besit word en daar absoluut niks van ons toeriste bedryf sal oorbly nie….

A simple man ·

Dankie vir die negatiewe berig.
Ek daag jou nou uit om ‘n soortgelyke positiewe een te skryf.

Rupert Ashford ·

Antwoord: Nee dit is nie wys nie. Vertel meer oor die klimaatsverandering wat jy blameer vir die waterprobleme. Daar heers tans droogte ja en ja die klimaat verander, maar dit is ook nie die eerste keer in die geskiedenis dat Suid-Afrika sulke erge droogtetoestande beleef soos tans nie. Is dit nie ook maar weens ‘n gebrek aan beplanning soos met die elektrisiteit nie? Ontsoutingsaanlegte en meer damme kon vroeer gebou gewees het – die ou NP regering het nie verniet saam met Lesotho beplan aan die hooglandskema nie – daar is meer as 40 jaar gelede al voorsien dat Suid-Afrika se beperkte watervoorraad nie met die geprojekteerde bevolkingsaanwas sou kon tred hou nie, en die huidige regering se “oopgooi” van die hekke na Afrika het die probleme net baie vinniger gebring as wat geskat is. Verder gebrek aan instandhouding van bestaande infrastruktuur laat ‘n groot deel van die bestaande voorraad verlore gaan. Vertel asseblief die hele storie.

Eish ·

Tydige en goeie artikel dankie.
Maak nie saak wie aan bewind kom nie, die Zuma nalatenskap gaan n paar geslagte by ons spook en daar is nie n manier wat die situasie verander kan word van die huidige, tot n omgewingsvriendelike vir 2023 nie.

Persoonlik glo ek dis n geweldige risiko vir spelers en beamptes om die helhool enigsins te besoek, tensy hul van iemand ontslae wil raak. Die statistieke vertel n storie en om dit te ignoreer is n dobbelspel met ander se lewens.

Die land is op die rand van totale ineenstorting. Rommelstatus is op ons, wat n geweldige uitvloeie van kapitaal tot gevolg gaan hê. Die regering ondersoek homself vanweë wantroue, gebrek aan kapasiteit, staatskaping en korrupsie en staatsinstellings word aan flarde bestuur.

Die helhool is deesdae die nommer 1 bestemming vir misdadigers. Kom op eie risiko, maar moenie huil as jul in n ” Bodybag” terugkeer nie.

Wat ons wel kan aanbied met onderskeiding, is die internasionale geldwasssers konferensie.

Gerrie ·

Ek hoop Ierland kry dit,hulle kan net sowel vir Zimbawe gee.Die misdaad is te hoog en dit gaan glad nie verbeter voor 2023

Mielie ·

Al kry SA die bod, dit gaan nie materiliseer nie. Daar gaan niks van hierdie land wees nie. Hulle sal n plan B moet hê. Dit sal n sonde wees om toeriste na die land te lok, wetend wat sal gebeur as hulle in SA land

John ·

Die vraag wat kwel, is hoekom ons juis voor in ry staan. Waarom sou ons bo Frankryk of Ierland gekies word? Dis nie asof ons oorkook van geld nie. Is daar ‘n gevoel dat ons dit in ‘n veiliger omgewing sal kan aanbied, of sal ons swak rand dalk iets hiermee te make he? Hopelik het ons nie ‘n bottel of twee konjak in iemand se tas geplaas nie… of dalk ‘n goue pondjie… alhoewel mens nie verbaas sal wees as iemand probeer nie. Daar is heelwat vriende van vriende wat graag ‘n rand of twee sal wil maak uit so ‘n aanbieding.

Adam ·

Andre, jou kommentaar is in die kol. Dit was nie destyds aanvaarbaar nie en ook nie nou nie. Die groot moonthede behoort trouens sanksies ernstig te oorweeg teen SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.