Nuuskommentaar: Is die SA-media té krities op ANC?

argieffoto

argieffoto

Dis is lank reeds duidelik dat die ANC ontevrede is oor die nuusdekking wat die organisasie van minstens ’n deel van die Suid-Afrikaanse media kry. Onder die vernaamste aanduidings tel:

  • Die weerbarstige volharding van die ANC in die parlement om onder instruksie van Luthuli-huis die sogenaamde snoerwet deur te druk. As deel van selfs buitelandse kritiek het Suid-Afrika erg op die internasionale persvryheidsindeks teruggesak. Die wetsontwerp lê nou reeds lank op pres. Jacob Zuma se lessenaar vir ondertekening. Daar was onlangs gerugte dat dit binnekort onderteken sou word.
  • Planne vir die instelling van ’n mediatribunaal en volgehoue planne vir verskerpte mediaregulering.
  • Duidelike uitsprake in ANC-kringe, ook deur Zuma, dat daar meer op goeie nuusstories gefokus moet word.
  • Duidelike regeringsingmenging in die openbare uitsaaier.
  • Na berig word het Zuma onlangs aangedui dat hy “gedwing” kan word om te kyk na die aanwending van “apartheidswetgewing”, skynbaar in die konteks van beriggewing oor die Marikana-gebeure.

Die lysie is veel langer, maar raak ook al afgesaag om aan te hoor.

Intussen het Suid-Afrika nou ’n grondwet wat nie net deur die handves van menseregte vrye meningsuitdrukking waarborg nie, maar pertinent mediavryheid hierby insluit.

Is die media dan nie veilig nie? In ’n handves van menseregte word elke reg beperk. Iemand kan nie maar net belaster word nie, want daardie persoon het onder meer die reg op waardigheid. En mag iemand blatant lieg onder die reg op meningsvryheid? Indien nie, tot watter mate word die moedswillige of ideologiese plooiing van feite, halwe waarhede en soortgelyk dan wel toelaatbaar gevind? En Suid-Afrika het onlangs etlike voorbeelde beleef van wat as niks anders nie as hoernalistiek beskryf kan word.

Of verdraaide inligting omdat die joernaliste soms totaal uit hul diepte in nuussituasies beland, of waar komplekse, internasionaal-erkende staatkundige modelle bewustelik of onbewustelik deur ontoepaslike klein politiekery verdag gemaak is. In die proses is probeer om die woordjie “self” ’n Afrikaanse vloekwoord te maak wat nie in beskaafde geselskap hoort nie.

Kortom, dit is nie altyd die regering of dan die ANC is wat langlippie vir (’n deel van) die media is nie. Soms is die media onderling haaks met mekaar en word klagtes gelê en met stappe gedreig.

Die ANC se aktiewe respons was benewens inmenging in die SAUK – veral TV – om deur “afstandbeheer” koerantgroepe te bekom. Die Independent-groep word dikwels as voorbeeld genoem, terwyl die media wat deur die Guptas besit word, soos die New Age, ’n buite-proporsioneel groot deel van die staat se advertensiekoek sluk. In die Vrystaat word ondersoek of daar nie ’n verband is tussen die meer as R40 miljoen wat ’n firma vir ’n webwerf betaal is, en die inkoop van ’n paar plaaslike publikasies deur dieselfde firma wat opslag van krities teenoor premier Ace Magashule, in onkrities omgeskakel is.

Maar steeds meen die ANC, volgens onlangse uitsprake, dat die media te krities op die organisasie is.

Dood het ’n oorsaak. Eerstens is die ANC nie ’n modelregering nie, en Zuma geen modelpresident, eggenoot, vader (van vele) en leier nie.

Die SAKP-geleide beeldpoetsaksie van Zuma het ook net in beperkte kring sukses. Volgens die jongste berigte begin daar nou duidelike krake in die ANC se konsolidasie rondom Zuma intree. ’n Sluimerende opvolgstryd, internasionale verleenthede, die vervreemding van die middelklas ter wille van ondemokratiese, tradisionele leiers en ’n lang lys ander faktore neig om dit in die hand te werk.

Maar wat gebeur as die media openliker onderdruk word? Dikwels word veiligheidsverwante wetgewing hiervoor ingespan, dikwels meer bruuske metodes soos intimidasie, die konfiskasie van beeldmateriaal, die aanranding van joernaliste en ander.

En dan was daar die geval van seinversperring.

Hoe reageer die media hierop? As die grondwet mediavryheid waarborg, kan die howe genader word. ’n Belangrike bousteen hiervan is dat die beperkings op ’n reg nooit so uitgelê kan word dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie.

Maar die howe neem tyd, en na die Al-Basjir-debakel sal dit min mense verbaas as die regering weer redes vind om minagting van die hof te pleeg (na bewering). Wat dan as daar tot die howe uitsluitsel gee ’n toestand in Suid-Afrika heers wat sterk herinner aan die tyd toe persvryheid onder die vorige regering onder die ergste druk verkeer het?

Daar is heelwat lesse te leer uit hoe veral sommige media die beperkings uitgedaag het. Die destydse Engelstalige koerant in die Vrystaat, The Friend, het byvoorbeeld “groot gegaan” wanneer Winnie Mandela aangekla is omdat sy glo haar inperkingsbevel in Brandfort oortree het. Gewoonweg mag niks van mev. Mandela se uitsprake gepubliseer word nie, maar wat sy in die hof sê, kon wel gepubliseer word. Onder die leiding van adv. George Bizos sou sy omvattend getuienis aflê, ryklik deurspek met “irrelevante” propaganda. Die volgende oggend was dit breed in The Friend en ander koerante in dieselfde groep.

Die regering kon lekker geknyp word. By geleentheid dra The Friend ’n berig oor ’n wonderlike selfhelpsentrum wat in Brandfort se swart woongebied opgerig is en in bedryf gekom het. ’n Skelm, lui staatsamptenaar pleeg plagiaat en plaas die berig onder eie naam in ’n staatspublikasie. Toe eers blyk dit dat dit ’n projek van mev. Mandela was – ’n feit wat die staatsamptenaar weggelaat het. Byna alle redakteurs het kriminele rekords gehad van minagting van die hof weens die beskerming van bronne.

Kortom, daar sal altyd maniere wees. Dit is ook byna ondenkbaar om die internet-nuusstroom te stuit.

Die regering self sal ook ’n prys betaal. Die posisie op die persvryheidsindeks het byvoorbeeld ’n invloed op ’n land se posisie op die korrupsie-persepsie-indeks. Dit versterk immers die persepsie dat die regering iets wegsteek.

Daar mag dalk dadels kom van die ANC se klagte dat die media te krities op hom is. Dit verander egter niks aan die feit dat dit nog ’n druppel in die persepsie-emmer is dat die ANC nie demokratiese waardes koester nie. En dis nie goed vir die land nie.

Ja, en min joernaliste en kommentators wil met ’n reputasie opgesaal sit van net kritiseer. Maar hoe dan nou anders gemaak as dit die oorheersende nuus van die regering is?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Christie Joubert ·

In n neutedop; Persvryheid pas die ANC slegs as dit tot hul voordeel is!

johan ·

Natuurlik sal die anc ‘n probleem he met die nuusdekking. As iemand of ‘n instansie swak voorbeelde skep, leuns vesprei, die belastingbetaler se geld mors en korrup is, dan wil hulle nie dat dit aan die lig kom nie. Dit is goed dat die nuus hulle onbloot sodat die land en wereld kan sien en hoor wat die anc werklik is.

Gerhard Bezuidenhout ·

Dinge begin te warm word vir die ANC en daarom huil hulle nou . Asseblief , publiseer al hul onbekwaamheid en korrupsie sodat die hele SA kan weet waarmee hulle besig is.

Winston ·

Ongelukkig weet slegs n klein deeltjie van die populasie, wie en wat die ANC regering is en doen. Net die ingeligtes en die wat niks weet nie. Dis waarom laasgenoemde en die wat voordele ontvang, vir die ANC stem. Die ANC Regering moet dit ten alle koste so hou. Maklikste roete is die media. Net n beheerde media kan hulle goed laat lyk. Die wêreld neem kennis.

Hansie ·

Dis tog so gerieflik om die “appartheidskaart” te speel as die ANC in ‘n hoek is en dan grens die wêreld saam met hulle. Kom ons hoop die afvaardiging België en Australië toe sal hulle darem die ander sy van die saak laat sien!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.