Nuuskommentaar: Is die totale aanslag terug?

Lesersfoto

Lesersfoto

Dié vraag is, toegegee, alarmisties. Dit is juis as vraag, en nie as feit nie, gestel om gedagtes te prikkel en om bedag te wees sodat verstaan kan word waar instansies en individue vandaan kom wat wal gooi as daar nog net gerugte van ‘n vloed in aantog is.

Met feitestapeling op die regte manier aangebied, kan dit inderdaad lyk of die Afrikaanssprekendes ‘n totale aanslag die hoof moet bied. By fynere ontleding blyk dit dikwels dat klein agendas in groot media neerslag vind en sake in ‘n rigting probeer druk wat erge skade berokken.

Maar eers op die ernstige sake waaroor daar geen twyfel kan wees nie.

Plaasmoorde. Hoewe vanuit akademiese en politieke kringe verwoed ontken word dat plaasaanvalle en plaasmoorde polities gemotiveer word, is die stelling dat dit “altyd” oor roof handel, weens persepsies dat daar veel in die vorm van kontant en vuurwapens te roof is, self met politieke naïwiteit gelaai. Die feit is dat die regering se reaksies, en dikwels gebrek aan reaksie, tot dusver erg polities is. Soms is daar erge moedswilligheid in, soos Lawwe Lulu se Kerkplein-toespraak waarin sy veralgemeende stellings teen die boere gemaak het, geskoei op één Wes-Kaapse insident. Dit het later geblyk dat toe die minister die uitlatings gemaak het, die polisie se onafhanklike klagtedirektoraat reeds bevind het dat die klag vals was, én so aan die regering gerapporteer was. Meer onlangs is ‘n groot geldelike skenking uit die staatskas aan die organisasies wat ‘n belangrike drywer van die Wes-Kaapse plaasopstande was, “gemotiveer” aan die hand van ‘n verslag wat vir Human Rights Watch opgestel was. Dié verslag is egter lank reeds op verskeie gronde erg gediskrediteer. Gister, op Wêrelddag teen Marteling, het AfriForum ‘n verslag oor die brutaliteit van plaasaanvalle en plaasmoorde bekend gestel. Altesaam 40 000 petisies is ontvang. Dit lyk nie na die reaksie en optrede van ‘n onbedreigde gemeenskap nie.

– Oor die Puk-debakel kan boekdele geskryf word, maar opsommend kan gevra word of daar so ‘n hewige reaksie sou wees as ‘n groot aantal Afrikaanssprekendes nie bedreig gevoel het nie? Daar is op groot skaal stelling teen Beeld, en in besonder sy redakteur Adriaan Basson, ingeneem, en kort-kort vingers gewys oor wie met ‘n Ventertjie gelekte inligting na Beeld sou aangery het. Uiteindelik word die Wessels-verslag, weens vrese van lastereise en interdikte, nie bekend gemaak nie. Na afloop van ‘n uitsending van Robinson Regstreeks, het 96% van die luisteraars wat deelgeneem het, aangedui dat transformasie ‘n bedreiging vir Afrikaans inhou. Interessant het prof. Adam Habib, rektor van Wits, verkies om nou in sy eie woorde te probeer weergee oor wat hy wou sê in ‘n onderhoud met Beeld, en waaroor die koerant verslag gedoen het. Anders as in die oorspronklike berig, beklemtoon hy dat die probleem nie Afrikaanse onderrig is nie: “Ek wil dit duidelik stel die probleem is nie omdat die onderrigtaal Afrikaans is nie. Daar kan selfs meriete voor wees by sommige instellings.” Hoewel nie almal nie met sy logika, en aantyging dat Afrikaans dikwels as ‘n “meganisme ter bevordering van ‘n etniese projek” sal saamstem nie, is dit jammer dat die oorspronklike beriggewing reeds soveel letsels moes laat. Ook Habib se aansien in terme van begrip vir die inhoud van die grondwet het ‘n ernstige knou weg.

– Toe die SAUK hom uiteindelik verwerdig om te verduidelik wat met die reeds geskuifde Afrikaanse nuus gebeur het, was reeds baie skade aangerig. Daar is egter steeds geen verduideliking hoekom nou Xhosa- en Zoeloenuus in die gleuf aangebied word wat Afrikaans moes ontruim nie. Veel meer Xhosa- en Zoeloesprekendes sou immers belangstel om die sokker te kyk, as die sowat een miljoen Afrikaanssprekendes wat maar net moes agterkom hul nuusbulletin is nie net geskuif nie, maar sommer (tydelik) weg. Dit skep die indruk dat daar lukraak aanvaar word dat Afrikaanse nuuskykers almal ryk is en die Afrikaanse nuus op DStv kan kyk – in ‘n land waar deurlopend gewaarsku word teen stereotipering.

Hierdie lys oënskynlike bedreigings kan veel, veel langer gerek word – die 50%-grondgrypplan en kinderhuise en ander welsynsinstellings wat in die howe moet bly boer om hul staatsubsidies te kry wat skynbaar om geen ander rede weerhou word nie as dat daar ook nie-African Africans versorg word. In die Vrystaat loop die departementshoof van welsyn nou die gevaar om aan minagting van die hof skuldig bevind te word omdat subsidies wat die NG Maatskaplike Dienste teen 1 April moes kry, selfs na ‘n hofbevel daarna, steeds nie volledig betaal is nie. Voeg rasgedrewe arbeidswetgewing hierby, SEB, politieke inmenging in sport en die nasionalisering van minerale regte.

Dat Afrikaans vir baie ‘n klip in die maag is, is gewis. In ‘n artikel in Volksblad bespreek dr. Pieter Mulder in heelwat detail die problematiek wat Afrikaans teen stereotipering en persepsies te bowe moet kom.

‘n Oorhoofse probleem is egter dat ‘n gees van “Engelisme” (Engels-elitisme) ontwikkel het en dat ‘n groot gros Afrikaanssprekendes dwars skop teen die “voorreg” om “Engels” te wees. In teendeel, binne Afrikaans is ‘n lang tradisie om hierdie pogings van mense wat skaars twee Engelse woorde al gehoor het, om “Engels” te wees, as die oortreffende trap van kômmingeit te beskou. Dink maar aan Langenhoven en ander se draakstekery met veral miesies Vên Der Baail wat in haar poging om Engels te pleeg, en dus “deftig” te wees, haar naam met ‘n plank geslaan het. Die eietydse Vên de Baals vermink steeds ewe trots gereeld Engels op TV.
Voorts druis die trots om Afrikaans te wees in teen die afkeer van “tribalism”.

Tensy daar by die owerhede ‘n baie duidelike verbintenis kom tot die beskerming van Afrikaans (soos die grondwet vir inheemse tale voorskryf), sal daar wal geskop word. Daar sal hof toe gegaan word, daar sal petisies wees. En dit is reg so.

Maar mag Afrikaans homself nooit probeer handhaaf in die styl wat die horrible, ekskuus, honourable Malema en kie parlement toe sleep nie. Die morele hoë grond moet te alle tye deur ordentlikheid gehandhaaf word.

‘n Totale aanslag beleef Afrikaans en sy sprekers miskien nie, maar dat daar oorgenoeg is om die taalstryders besig te hou, is gewis.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ant ·

As afrikaans sprekendes is daar grootliks ‘n eenvormigheid in terme van ons geloof en waardes en wat ons beskou as ‘n suksesvolle land. Ons kan nie aanhou om tussen die andersdenkendes te bly en te verwag ons handjie vol mense gaan ‘n verskil maak in die land as geheel nie.

Dis tyd dat ons saamgroepeer en ontwikkelings vestig in areas waar ons saam meer kan bereik. Dis nie so moeilik nie, van hierdie areas bestaan reeds. Solank as wat ons tussen andersdenkendes bly is aanvalle op ons net nog ‘n moord of roof. Maar wanneer daar ‘n eie gebied of plek is wat geteiken word het ons ‘n baie beter verweer met internasionale hulp.

Dit help nie ons probeer volgens hulle reels speel nie, ons moet uitstyg bo dit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.