Nuuskommentaar: Is dit die toppunt van ’n Zuma-mosie van wantroue?

Pres. Zuma. Foto: Chester Makana/ANA

Pres. Zuma. Foto: Chester Makana/ANA

Kan dit moontlik wees dat Futuregrowth, deel van die Ou Mutual-beleggingsgroep, toevallig nou sou aankondig dat hy tydelik die toestaan van lenings aan ses van die land se grootste staatsondernemings gaan staak, só kort nadat aangekondig is dat pres. Jacob Zuma self aan die hoof sal staan van ’n nuwe omstrede entiteit wat oorsig sal doen oor die staatsondernemings? Netwerk 24 noem Zuma se bykomende rol in ’n hoofartikel ’n geval van wolf skaapwagter maak.

Uiteraard sal Futuregrowth nie openlik erken dat hy die prop op Eskom, Transnet, Sanral, die Landbank, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Ontwikkelingsbank van Suidelike Afrika oor Zuma uittrek nie, en voer aan dis ’n veiligheidsmaatreël weens die risiko van swak leierskap in van die staatsbeheerde maatskappye.

RSG berig dat die beleggingsbestuurder van Futuregrowth, Andrew Kantor, gesê het hulle moet nou eers seker maak dat die staatsbeheerde maatskappye op hul boeke goed bestuur word. Hy sê hulle wil seker maak dat die maatskappye nie politieke aanstellings met ander agendas in hul bestuur het nie. (Futuregrowth se volledige verklaring kan hier gelees word.)

Om tussen die lyne te lees gaan veels te uiteenlopende antwoorde oplewer.

Die gevolg was egter dadelik duidelik, soos dat die rand skerp teen die dollar geval het.

BizNews berig kort hierna omvattend, maar alarmisties, onder die opskrif

“Nuclear bomb triggered: Futuregrowth ends lending to SOEs in wake of Finmin attacks”.

Die “atoombom” verwys na 1985 toe die destydse president, PW Botha, algemene verwagtinge frustreer het deur nié, soos verwag is, die Rubicon oor te steek nie. Chase Manhattan Bank het hierna ’n kettingreaksie van disinvestering en opsegging van lenings aan Suid-Afrika aan die gang gesit in ’n proses wat as ’n atoombomontploffing beskryf is.

Gaan ander krediteure in die buiteland en in die binneland nou Futuregrowth se voorbeeld volg en Suid-Afrika in ’n soortgelyke krisis dompel? Volgens BizNews sal die land binne ’n week of so weet hoe die wind waai.

Tweedens word die kwessie in verband gebring, of dan so vertolk, dat die situasie verband hou met die ongure gebeure rondom minister Pravin Gordhan en die Valke, as front vir Zuma.

Ander faktore wat Futuregrowth as redes vir sy besluit aandui is die stelsel van patronaatskap en die uitdaging van die tesourie se onafhanklikheid. Politieke kommentators se verwysings na patronaatskap was eintlik uitsluitlik aan die adres van Zuma gerig en hiermee kom Futuregrowth baie na daaraan om onverbloemd die vinger in Zuma se oog te druk.

Futuregrowth word as ’n baie groot rolspeler beskou met bates van sowat R170 miljard. Dit maak dit die grootste private vaste-inkomste geldbestuurder in Afrika. R1,8 miljard wat aan drie staatsbeheerde maatskappye geleen sou word, bly nou reeds in die slag.

As Futuregrowth se stap na ander instellings uitkring sal dit duurder word vir die staatsinstellings om geld te leen te kry. Die tesourie self moet die land se begrotingstekorte probeer afwerk om ’n afgradering na rommelstatus te voorkom, en om groter skuld aan juis die staatsbeheerde instellings te maak is soos om met die leeu se voorpoot te speel. Soos sake teen einde Maart vanjaar gestaan het, het die tesourie se staatswaarborge aan staatsbeheerde instellings reeds R467 miljard beloop.

So tussenin loop die Gupta-spook ook, maar dit is lank nie die enigste spook wat sake deurmekaar krap nie en die tesourie skynbaar as ’n persoonlike spaarvarkie wil inspan nie.

Futuregrowth maak dit duidelik dat die besluit teensinnig geneem is, maar dat ’n herbesinning eers gedoen sal word as daar sprake is van deursigtigheid, behoorlike bestuurspraktyke en verantwoordbaarheid. Dis nie musiek vir die Zuma-administrasie se ore nie.

Die impak van Futuregrowth se stap hang af van hoeveel ander soortgelyke instellings soortgelyke stappe gaan neem.

Iemand gaan nie te gelukkig wees nie, maar daardie iemand het nie veel van ’n keuse as om die minste te wees, Gordhan uit te los, die tesourie se onafhanklikheid te erken, en om staatsondernemings van patronaatskap en plundery skoon te maak nie.

As die “atoombom” ontplof is dit ’n geval van óf die land, óf Zuma.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Theuns ·

More Herman. Met jou skrywe hoef jy nie heldersiende te wees om te sien wat gaan in die toekoms gebeur nie! Die “domino teorie” het nou ongelukkig realiteit geword wat Staats Ondernemings aanbetref! Hulle gaan een na die ander vou, mense gaan hulle werk verloor en “Rommel Status” is ons voorland! Waar gaan Zuma ‘n reddings boei kry? Die Bricks Bank? Wie gaan die lening terugbetaal as hy die geld geleen kry? Gaan die belasting betaler maar weer moet betaal?

Oink ·

Die sogenaamde “atoombom” scenario is vaag en ongesubstansiëer dis moeilik om enige iets daarvan te maak.

Jackie Swarts ·

Verskoon my ‘domheid’ maar daar almal weet wat die ge-agte meneer se agenda is, hoe is dit moontlik dat ons sameleweing en reg so bedraard is dat alles kan aangaan wat aangaan sonder dat iemand dit kan stop?

LS ·

Pres. Zuma se optrede, agenda, ondeursigtigheid, onverantwoordelikheid, selfsugtigheid, arrogansie, korruptheid, ongeloofwaardigheid, agterbaksheid en mafialeierskap is die domino effek wat met sy tweede termyn as staatspresident begin het. Ongelukkig val baie, sake instellings, organisasies, strukture,huishoudings en individue voordat die ANC domino val.
Die gemors wat Zuma veroorsaak gaan baie moeilik reggemaak word. Groei in die Suid Afrikaanse ekonomie om sy verantwoordelikhede na te kom word ondermyn deur Zuma en sy lakeie. Hoe lank kan sy beeldpoetsers en ‘n geirriteerde Gwene Mantashe nog die speletjie speel? Met ‘n skuldlas van meer as I trillion Rand wonder jy hoe gaan SA sy skuld terugbetaal en ekonomiese groei stimmuleer. Hoe kan regeringsamptenare en ANC politici die graderingsorganisasie van onkunde oor die S A situasie beskuldig as hulle self die gat grou waarin die hele land gaan val.

Theuns ·

LS stem saam met jou insig! HKGK! Die moontlikhede vir herstel van die ekonomie raak al minder en dit gaan nie gebeur nie! Die ou spreek word se “dit is nooit telaat nie” maar vir Suid Afrika is dit!!!

Gert van Wyk ·

Dis verblywend om te sien dat daar groot instansies is wat net nie gelate gaan aanvaar dat die regering geld leen, sonder bewyse dat die geld reg bestuur gaan word nie. Met die hoeveelheid geld wat uit staat koffers verdwyn moes dit lankal terug gebeur het.

Gerd Lourens ·

Die ou dink net aan homself en selfverryking. Gee nie ‘n duit om wat in die land gaan gebeur nie.

Grassie ·

Zoempas is so dikvellig soos ‘n renoster en ek glo nie hy gee om watter nadelige uitwerking sy optredes op die land se welvaart het nie. ‘n Tekort in die grysstof-afdeling dra ook by tot sy onvermoë om die gevolge van sy dade te begryp. Hy is magsbehep en ek dink hy wil probeer aan bewind bly wanneer sy termyn verstyk, desnoods d.m.v ‘n staatsgreep. Dit is waarom hy nou probeer beheer neem oor staatsinstellings. Ek sien sommige van sy lakeie dra reeds MK-uniforms. Hy sien homself as die Mugabe van Suid-Afrika. Die moontlikheid dat hy in sy doel gaan slaag is baie skraal maar sy pogings gaan onberekenbare skade aan die land se finansies doen en kan ook tot burgerlike onrus lei, veral in Zoeloeland. Ek dink ook ou Cyril moet maar voortaan met een oog oop slaap

Theresa ·

Ons is uitgelewer. Ons sit met ‘n president wat verspot optree meeste van die tyd. Hy verdien nie sy posisie nie. Hy verdien glad nie om ons land so met gemak te vernietig nie. Hoop daar is uitkoms en dat hy spoedig nie meer die leierskap het nie. Presidente met bont pette/hoedjies het nog nooit veel respek afgedwing nie. Nog minder presidente wat spring en dans. NEe wat. Trotse dra van die naam president en dan ook so trots jou land se mense en als van die land beskerm en laat vorder en dissipline handhaaf en kriminele hokslaan en onwettiges wegstuur : DIS wat ons sal respekteer.

REAList ·

Baie regerings het hulle gatte gesien as die geldeenheid minder werd raak as die drukwerk.
Dit het in Duitsland gebeur sowel as in Zimbabwe.
En ons weet wat daarna gebeur het.
Dis ongelukkig so dat die “voters” eers die pyn aan hulle lyf moet voel voor hulle wakker skrik uit hulle sluimer.
Wanneer jou gesin honger is omdat die prys van alles verdubbel het sal dinge in ons land verander.
Dan eers sal ons ontslae kan raak van die huidige regering.
Daar wag ‘n tawwe tyd op ons.

jaco ·

Hoe slegter dit in Zimbabwe gaan, hoe meer van hulle kom eenvoudig SA toe. So die kanse dat die opposisie wat al Mugabe se foute uitwys ooit ‘n verkiesing daar oortuigend kan wen, raak al hoe minder (dis is dalk reeds te laat daarvoor), want maklik 3 miljoen van die stemme wat hulle kon gekry het, woon in SA (meestal onwettig…). SA gaan dieselfde pad as Zimbabwe loop. Alles gaan ook in duie stort, MAAR ons het een voordeel: net die rykstes van die rykes hier kan die land verlaat. Die massas armes wat die ekonomiese druk die swaarste gaan voel, kan nerens heen vlug nie. Laat ons hoop hulle word wakker en stem dan teen die useless ANC.

John ·

Die sg Staatsbank, die oorname van die Reserwebank en die goudreserwes, lisensies van privaatbanke wat teruggetrek mag word en die opskort van pensioenfondse se uitbetalings binnekort wat moontlik vir staatsgebruik misbruik kan word, dis kopseerstories selfs vir ervare ekonome, wat nog vir die arme werkersklas… diegene wat die goue eiers moet poets en aankarwei vir die staat en hoop op die positiewe aanwending van hul swaar verdiende belastinggeld.

Denise van Tonder ·

Ek het nou al agter gekom dit help nie veel om kommentaar te lewer nie. Zuma gaan maar net voort met die korrupsie, arrogansie en wat nog meer wat hy en hy alleen goed kan doen. Hoekom kan ons nie net daadwerklik optree en saamstaan om ons land te red nie

Luister ·

So die geldkraantjies word nou toegedraai. Hoop dit knyp waar dit moet.
ZUMA MOET VAL!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.