Nuuskommentaar: Is dit nou die einde van die politiek van die middelvinger?

Julius Malema. Foto: ANA

Julius Malema. Foto: ANA

Vir koalisiepolitiek om voortaan te slaag, sal die middelvinger tuis gehou moet word en meer van die kleiner partye sal beduidend moet groei om die keusepoel vir koalisievennotte groter te maak as, byvoorbeeld, die DA en EFF.

Die ingewikkelde proses om koalisies te vorm, het nou veroorsaak dat partye wat enkele dae gelede nog mekaar erg met die teerkwas bygekom het, nou baie versigtig moet trap om nie ʼn toon of twee raak te trap nie.

Suid-Afrika kom nou uit ʼn ongekende era van middelvinger-politiek. Dis nie nuut nie, want Julius Malema was voorheen die voorbok, veral voordat hy die trekpas uit die ANC gekry het. Maar sy middelvinger werk steeds gereeld oortyd en enigiets van Zuma tot die wittes is aan die ontvangkant daarvan.

Die kabaretster, wyle Wim Kan, het gesê in die Nederlandse politiek moet jy presies weet hoe ver jy te ver kan gaan. Dit geld stellig baie ander lande en ook Suid-Afrika en Julius het met sy anti-wit-uitsprake sy hand telkemale oorspeel.

In die jongste verlede was dit egter pres. Jacob Zuma wat self die rassehoed opgesit en telkemale heeltemal te ver gegaan het en selfs Jan van Riebeeck betrek het.

In 2012 het die Nederlandse historikus en stigter van Het Debatbureau, Fritz Bloemberg, verklaar dit was toe, in Nederland, die einde van die tydperk van die politiek van die middelvinger. Sy visier was veral op Geert Wilders, leier van die Partij voor Vrijheid (PVV), gerig.

Wilders het met sy party se gedoogde steun die Nederlandse koalisieregering van die CDA en VVD moontlik gemaak en oplaas tot ʼn val gebring.

Bloemberg het gemeen Wilders het sy tyd oorleef, ʼn dekade waarin die politiek op die probleme gefokus het, eerder as die oplossings. Wilders was te lank die stert wat die hond geswaai het, wat op probleme geteer het, maar toe ingewikkelde probleemoplossings onafwendbaar geword het, was Wilders buite sy element.

Hoewel die opposisie en spesifiek die DA, nie oral die EFF as koalisievennoot nodig het om die bewind van verskeie munisipaliteite oor te neem nie, dring die EFF in hierdie stadium op ʼn nasionale ooreenkoms aan. Indien dit die geval bly, gaan die EFF ʼn veel groter faktor wees as wat sy verkiesingsuitslae op die oog af regverdig.

Die feit is egter dat die klein partye oor die algemeen nou te klein geword het. Dit kan wees dat hulle ʼn groot deel van hul steun aan die DA afgestaan het, maar dit is ook moontlik die volgehoue propaganda-aanslag, dat kiesers hul stemme op klein partye sou vermors, het daartoe bygedra dat baie van hierdie kiesers, wat nie kans sien vir die beleid van die groter partye nie, eenvoudig van die stembus wegbly.

Veral die ondersteuners van nispartye is dikwels baie traag om ander partye te steun, juis omdat dit teen die beginsel van beginselvastheid indruis.

Die natuurlike, gewoonlik gematigde “hinterland”, waarop partye in proporsionele demokrasieë kan reken om betroubare koalisies te vorm, is nou selde sterk genoeg om hond-haaraf te maak. Swellendam was selfs die land se top-munisipaliteit onder ʼn DA-ACDP-koalisiebewind, maar die ACDP het nou weggeval en die DA kan alleen regeer. Maar selfs al sou dit geen faktor wees nie, kan dit uiteindelik boemerang as ʼn ander party in die aanloop tot die verkiesing knaend die middelvinger gewys word en daardie einste party se steun na die verkiesing nodig is om ʼn koalisieregering te vorm.

Maar selfs in Europa is die vorming van koalisies nie maklik nie. Tussen 13 Junie 2010 en 11 Oktober 2011 het Belgiese partye gespook om ʼn koalisieregering saam te stel. Die onderhandelings het 541 dae geduur en België was 589 dae sonder ʼn verkose regering.

Munisipaliteite in Suid-Afrika het egter net 14 dae tyd voor die eerste raadsvergadering byeengeroep moet word en eers ʼn speaker en dan ʼn burgemeester verkies moet word.

Wanneer Europese partye koalisies vorm, is een van die eindprodukte ʼn lywige beleidsdokument wat verskillende beleidsaspekte behandel.

In Suid-Afrika word nou, tegnies korrek, aangevoer baie uiteenlopende beleidsrigtings behoort nie onoorkombare probleme vir koalisievorming op munisipale vlak in te hou nie, omdat dit op munisipale vlak oor basiese kwessies, soos munisipale dienslewering, gaan.

Maar sou die DA en die EFF in die Tshwane-metropool ʼn koalisie vorm, hoe gaan die bestaande krisis oor straatnaamveranderings verder aangepak word en selfs die verandering van die stad se naam? Om die EFF sy sin te gee, kan by ʼn groot deel van die DA se kieserskorps boemerang. Wat as die EFF op die verwydering van standbeelde aandring?

Koalisies is die natuurlike produk van die proporsionele kiesstelsel, wat tot dusver in Suid-Afrika selde gerealiseer het weens die oorweldigende steun wat die ANC geniet het. Dit lyk of dit nou aan die verander is en partye sal nou veel meer moet begin let op hoe hulle ander partye behandel. Die middelvinger sal sy plek moet ken en ʼn wag voor die mond moet voltyds aan diens wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

pieter ·

WAAR GAAN DIE RAADSLEDE EN DIE BURGERMEESTER NOU WERK KRY,IN DIE OU BEDELING WAS DIT MAKLIK DIT WAS N DEELTYDSE POSISIE.ANC JULE HET PROBLEME.

jaco ·

As ek n raadslid moet wees, sal ek my nie veel aan partypolitieke verskille steur nie. die beginsalaris van n raadslid is meer as R400 000 per jaar. dit word meer vir voorsitters van komitees, die speaker en die burgermeester. Met soveel geld NET vir myself, waarom moet ek omgee oor wie vir my gestem het, wat my mense wil he en wie my koalisievennote moet wees.

Johann Marx ·

Vergeet van “Koalisie-regering” en gebruik die regering se eie terme daarvoor: Regstellende Aksie, Transformasie en ‘n Kwota-stelsel. Tog vreemd hoe jou eie voorskrifte as jy “aan bewind” is, terug kom om jou aan die agterstewe te byt!!! Dis in elk geval vreemd hoe almal praat van ‘n “meerderheids-regering” as daar van 55 miljoen mense, net 26 miljoen registreer, en uiteindelik net 13 miljoen stem? Jy kry dus ‘n “meerderheid” van ‘n kwart van die populasie….of dan 1/8ste van die “stemgeregdigdes” van die land? Daar moet ‘n wet gepromulgeer word wat elke stemgeregdigde DWING om te gaan stem, dan sal jy ‘n ander prentjie beleef!!!

Lida ·

Julius Malema moet net groot word en sy lede aanmoedig om soos ‘n beskaafde mense op te tree, en groot asb ontslae raak van die rooi oorpakke. Dit dwing geen respek af nie. Indien hy soos ‘n volwasse man optree en met die ander partye tot ‘n ooreenkoms kom, kan mens groot miskien nog na hom luister. Ons moet hom nie onderskat nie. Mens kan hom geensins met die DA leier vergelyk nie. Maimane is ‘n geleerde man en dwing immers respek af.

jaco ·

maimane is n predikant. mens het nie veel geleerdheid daarvoor nodig nie. dis suiwer leerwerk en pappegaai werk. dis die maklikste kursus op universiteit.

Lida ·

Jy weet Jaco ek sien so baie lesers het jou nou al gevra om liewer stil te bly want jy bly net negatief. So doen dit net asb. Maimane het 2 meestersgrade indien jy nie weet nie. Jou president kon nie eers deur die laerskool kom nie. Kry jou feite reg voor jy weer ‘n eier lê.

s ·

Jaco iu vriend, lyk my jy is n regte pfofeet … eintlik net vir jouself weet jy! Als wat jy in jou kommentaar kwyt raak is bog! Het jy ooit universiteit geleerdheid, n Meestersgraad of geleer vir n Predikant? Ek glo nie as mens jou kommentaar lees! Ek het meer respek vir Maimane nou al gekry as vir jou!! Maak net eers seker van al jou feite asb!

Grap ·

Hoekom is die mense so onverdraagsaam Jaco het ‘n reg om sy opinie of mening te lug ek stem ook nie saam dat teologie so maklik is nie maar dit is Jaco se opinie

Lance ·

Ek dink net die wat belasting betaal en ook in die verlede betaal het moet die reg he om te kan stem

Syd ·

Jaco, jou kennis rakende die Chrislike beginsel skiet ver tekort vir jou uitlatings. Die predikante lewer nie net die woord alleenlik nie maar word ook opgelei as beraders om mense soos jy by te staan in tye van angs nood en die dood. Ek en ander sal jou in ons gebede hou

Bloues ·

Sit ek nou hier en kliphard giggel vir Jaco. Ou seun, ek dink die predikante swot goed soo Hebreeus en Grieks en miskien nog n bietjie latyn ook. Dan moet daar seker ook nog sielkunde bykom. So maklik gaan dit seker nie wees nie.

Maar ek moes nou nie antwoord nie want erens staan daar dat n mens nie n sot op sy sotheid moet antwoord nie.

christine ·

Kyk nou net ne hoe vinnig ons wil byle slyp en mekaar wil doodkap. Nes n spul wederstrewige beeste.

peter ·

Ek was vir die eerste keer in baie jare hoopvol vir die politiek en trots toe ek na die baie moeg Mnr. Maimane geluister het. My dogter het ‘n baie vreemde ding kwyt geraak na sy toespraak.
Pappa, hy is nie ‘n rassis nie want sy vrou is wit.

Lida ·

Ag dankie Peter !!! Ek probeer al MAANDE lank hierdie feit by die lesers tuisbring maar hulle hou vol hy haat witmense. Hy het ‘n pragtige vrou en die man weet waarvan hy praat. Party mense is sommer net dom astrant.

John ·

Is dit nie die voorvinger nie? Of is dit die nuwe een wat kom? Lida, uiteindelik gaan Kleurlinge die land regeer. Ek hoop jy sal dan tevrede wees.

Johann Marx ·

I also voted fo Mmusi….because he’s got Mai-Moneeeeyyy!!

Pietman ·

Sit ek ook nou hier langs die kryt en my kop kyk na links en regs hoe die oningeligte Jaco met ingeligtes en duidelik intellektuele breine probeer swaarde kruis! (Nie slegs hierbo nie, maar ook sy ander vlak kommentare). Skoenmaker, hou jou by jou lees, want jy gee duidelik jou totale onkunde te kenne en lewer geensins sinvolle bydraes tot die debat nie! Jaco, jy is teen die planke en uitgetel-volgende keer doen eers bietjie navorsing en substansieer dan jou “sienswyse” . Of soek jy bloot net geselskap?

Otter ·

Ek stem nie vir partye wat diskriminasie teen ‘n minderheidsgroep op grond van ras (ras-tellende aksie) voorstaan nie. Mense dink DA is die groot verlosser want hulle glo nie meer in hulle God, in hulle volk en in hulself nie. VF+ en Solidariteit is my Christen-volksmense.

jaco ·

Een VF-Plus kandidaat in die Kaap se naam is Rashaad Davids. So hy is n Moslem. Dan is die VF-Plus ook nie so erg Christelik nie…

johannes ·

Liewe mede Afrikaners
Moet asb nie hierdie forum gebruik om persoonlike agendas te bly propageer nie. As jy jou (verkieslik goed geformuleerde) punt een keer gemaak het is dit genoeg. Ons wil nie lees hoe individue die forum misbruik om mekaar te verkleineer nie.
Maroela : oorweeg dit om kommentare tot 2 bydraes per persoon per artikel te beperk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.