Nuuskommentaar: Is dit regtig so erg in Suid-Afrika?

Vlag van Suid-Afrika (Foto: Self-photographed, BY-SA 2.5 via Wikimedia Commons)

Die opskrif in ’n studentekoerant die afgelope week trek die aandag: “Is dit regtig so sleg hier in Suid-Afrika?” Ja, die ouer garde weet gewoonlik dat die gras nie altyd groener aan die ander kant van die draad is nie. Maar objektief – kan die smag na ’n stukkie koedoebiltong iewers in die buiteland regtig opweeg teen die feit dat die gesin nou daar anderkant die groot waters waarskynlik baie veiliger is as tuis? Nie net veiligheid is ’n oorweging nie – misdaad soos korrupsie (wat die land van sy toekoms beroof), onewehandigheid met optrede teen rassisme, en ’n grootliks gesloopte moraliteit soos deur staatskaping, asook diskriminasie teen Afrikaans en ander tale in weerwil van grondwetlike bepalings speel almal ’n rol dat so baie Afrikaanssprekendes Doer Onder en elders heen versit.

“Is dit regtig so sleg hier in Suid-Afrika?”

So lui ’n onlangse koerantopskrif, en dit laat ’n rubriekskrywer se gedagtes vir ’n oomblik vasys. Dis mos ’n rubriekskrywer se kos.

Is dit nie hoekom soveel van ons eie mense nou in lande soos Australië, Nieu-Seeland, Kanada, die VSA en soveel ander lande woon nie? Ja, ook elders in Afrika, en doodgelukkig.

En klaarblyklik is planne om te emigreer nog lank nie aan die opdroog nie. Baie Afrikaanssprekende ouers plaas hul kinders sommer uit die staanspoor in Engelse klasse of selfs Engelse skole sodat hulle eendag makliker in die buiteland sal kan aanpas.

Nee, die uwe en sy gesinsmense beplan nie om landuit te skuif nie. Van die nabye familielede dink wel hard daaraan, en sou hulle die kans kry, is dit woerts-warts en hulle is weg.

Die redes waarom so baie mense wil skuif, is legio, maar ’n paar staan uit, soos misdaad en plaasaanvalle, en dit terwyl die land al jare lank kan “spog” met die titel van die wêreld se hoofsetel vir verkragting te wees.

Al stem die statistici nie noodwendig saam nie, het gesaghebbende ontleders soos die gerespekteerde prof. André Duvenhage al voor die Jacob Zuma-era prontuit gesê korrupsie het in Suid-Afrika endemies geword. Dit was nog voor korrupsie ’n bedmaat in die vorm van staatskaping gekry het, en die twee saam die staatskas so begin leegsuig het, soms selfs blatant openlik.

Dis moeilik om te raai wat die mees demoraliserende is – “gewone rassisme” of die wye spektrum, van institusionele rassisme en onder meer in die vorm van blatante onewehandigheid waarmee die owerhede wit en swart heeltemal verskillend beoordeel.

Lees gerus ook dr. Eugene Brink se artikel in Maroela Media hieroor hier. Te lank het politieke korrektheid (ook in Brink se artikel onder die loep geneem) sagkens met die blatante rassediskriminasie omgegaan. En boonop allerlei eufemistiese name gekry. Nog ’n erg politiek inkorrekte woord wat groot ontsteltenis veroorsaak het, was die gebruik van “toe-eiening” wanneer na swart mense verwys is. Die bekende ekonoom en filantroop Chris Hart het gewaag om die woord in te span, en benewens die vragte vitrioel wat hy op homself omgetrek het, is hy sy werk daaroor kwyt.

Onteiening van grond sonder vergoeding is nie net iets wat boere ontstel nie, maar selfs die Nederlandse parlement se Tweede Kamer (vergelykbaar met ons Volksraad). Dit gaan verwoestend op die ekonomie inwerk, en volgens minstens sommige ekonome het slegs die beplanning hiervan reeds die ekonomie hard gestamp en is die komende trefslag se negatiewe uitwerking reeds in die ekonomie verreken. ’n Deel van die skok is darem reeds verwerk.

Prof. Amanda Gouws van die US raak vanoggend in haar rubriek op Netwerk24 aan nog iets wat baie Suid-Afrikaners pla, naamlik (die gebrek aan) moraliteit. Na aanleiding van die jongste hofbevinding oor die Openbare Beskermer skryf Gouws onder meer soos volg: “Wat ons hier sien, is ’n ernstige wanbegrip van wat morele optrede is.” In meer as een berig vanoggend, ook in Gouws se rubriek, word na ’n aanverwante saak verwys, naamlik integriteit.

Suid-Afrika se probleme is nie tot ’n vakuum beperk nie. Baie ander lande het ook probleme, en baie daarvan kom met Suid-Afrika s’n ooreen, soos ontsteltenis oor korrupsie. In België wil die hoof van die teenkorrupsie-eenheid die getal teenkorrupsiespeurders van 22 tot 66 vermeerder omdat die eenheid nie meer kan byhou nie. (Lees hier)

Ja, ons hoor gereeld hoe gelukkig Suid-Afrikaners is om in Suid-Afrika te kan woon. Ja, daar word veel gedoen om die Afrikaner en Afrikaanssprekende tuis in sy eie land te laat voel. Die positiewe sake vind onder meer neerslag in Afrikaanse liedere, gedigte, verhale en vele meer. Sportlui vaar soms baie goed.

Vir baie mense het hul huise nie net letterlik forte geword met traliedikte stawe voor die vensters nie, en gewapende reaksiemagte nie, maar huise het ook by wyse van spreke geestelike bastions geword waar die inwoners hul kulturele lewe kan leef. Die braaivleisvuurtjie is nou dikwels onder bespreking asof dit aan die land se inwoners ’n soort verskanste hartland bied. Hier kan Afrikaans onverskimmeld en openlik gepraat word. Daar kan in Afrikaans grappe gemaak word en saam gelag word. Daar word die hartseer van geliefdes wat misdaadslagoffers was tot diep in die hart gedeel. Daar kan die huismense, as hulle gelukkig is, aan koedoebiltong knaag. Dit hang van elke huishouding self af of Steve Hofmeyr welkom daar sou wees – en indien daar nie ’n dwarstrekker is nie, sou Steve ’n ware eregas wees.

Met ’n spesiale dag van verootmoediging wat gesamentlik deur die NG Kerk, die Gereformeerde Kerke en die Hervormde Kerk gehou is, was een van die gebedsonderwerpe wat die Hervormde Kerk spesifiek gelys het, die ervaring van baie lidmate om soos vreemdelinge in hul eie land te voel.

Om soos ’n vreemdeling in jou eie land te voel, bykomend tot ongelukkig te wees oor die veiligheid en sekuriteit van die gesin en ander geliefdes is soos om dit twee keer ongelukkig te tref.

Om die e-tydskrif, Brokkies, vir Afrikaanssprekendes in Nieu-Seeland te lees is ’n openbaring, en beslis nie die produk van dislojale papbroeke nie.

Om ses nuuskommentare per week (vyf vir Maroela Media en een vir Pretoria FM) te skryf, kan wanneer die onderwerpe demoraliserend is, emosionele swaarmoedigheid in die hand werk. ’n Manier om die gemoed te lig is die rubriek, “Oom Herrie se kerrie”. Oor die jare het dit in verskillende publikasies verskyn, maar word nou nog net weekliks in Brokkies geplaas, waar die lesers na verneem word die humor saam met die nostalgiese aard van die rubriek baie geniet.

Opvallend is die aantal Afrikaanse kerkdienste wat weekliks in Brokkies geadverteer word. Soos daar oor die wêreld heen “China Towns” en Little Switzerlands” voorkom, neem die “Klein Suid-Afrikas” oor die wêreld heen ook toe. Ons mag dalk nie meer die grond deel nie (die regering wil in weerwil van periodieke versekerings tot die teendeel dit nog afvat), maar ons deel oor die wêreld heen ons harte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

84 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Is dit regtig so erg in Suid-Afrika? Nee, dis erger!!

hendrik

Dit hang af wie vra.

marco polo

Ek het in Mei Junie SA besoek om ‘n blaaskansie te vat van my werk in China, en het uitgesien na ‘n paar dae kamp, selfs om vir Jan aan die Weskus te gaan kuier en te gaan kyk hoe lyk die beoogde volkstaatgebied. Maar dit het nie lank gevat om my geesdrif gedemp te kry deur ongelooflike swak diens, red tape wat my dae lank besig gehou het om beuselagtighede uit te sorteer, en die moorde van mense wat saam met my op skool was. Teen die tyd dat ek by kamp uitgekom het, het ek ook verneem van… Lees meer »

Magda

Ek was vir 31 dae in n ander land .. toe ek terug kom kon ek nie weer aanpas in SA nie … ek het angs aanvalle gekry …as jy nog NOOIT uit SA was nie, weet jy nie hoe dit voel om 24/7 veilig te voel nie … ek haat SA en wens immigrasie was maklik anders was my hele familie na n ander land

Tanya

Neee ons wat agter bly is nie gelukig nie. Ons moet hier bly ons het nie geld om sodim te verlaat nie. Ons wag maar om te sien wat gebeur ons weet nie waneer ons ou dag aan breek nie. Due wat daar buite is help ons om ook uit te kom