Nuuskommentaar: Is diversiteit goed, sleg of bloot ’n feit?

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Diversiteit word in groot dele van die wêreld dikwels verkeerd hanteer en veroorsaak groot spanning wat dikwels manifesteer in diskriminasie en die miskenning van minderheidsregte. Ook Suid-Afrika kan nie bekostig dat diesulkes soos Malema, Lesufi en Ace (nie net die mense op die gewraakte lys van die Stellenbosse proffie nie) enige hoop op diversiteitsharmonie aanhoudend nekslae toedien nie.

Mense se lewe is op die spel as diversiteit tot onenigheid tussen (rasse-)groepe in ’n spesifieke ruimtelike eenheid lei, maar is dit noodwendig ’n fait accompli? Iets is op sy beurt ’n fait accompli wanneer ’n handeling afgehandel is voor die mense wat geraak word die kans gehad het om te reageer of beswaar aan te teken.

Sonder die geringste bedoeling om die intelligensie van lesers te onderskat, is dit ter wille van die uitskakeling van misverstande dalk tog nodig om die Akademikaans en filosofie bietjie eenkant te laat en in doodgewone Afrikaans te vra of die saamleef van mense vanuit verskillende agtergronde met gepaardgaande ras- en kultuurverskille noodwendig ’n resep vir moeilikheid is.

Of hoef dit nie so te wees nie en hang dit af of die regering of ander instellings die drekpot roer?

Wat belangrik is, is dat Suid-Afrika nie uniek is nie. Dit blyk uit twee uiteenlopende nuusbrokkies uit verskillende dele van die wêreld. Dit blyk eerstens uit ’n Amerikaanse peiling dat 52% van die Yanks meen diversiteit is ’n goeie ding vir die land en dat hulle self in woongebiede woon wat die feit onderstreep. Net 17% meen diversiteit is gewoonlik ’n slegte ding, terwyl 22% meen dit het geen invloed nie.

In ’n berig meld die Vlaamse koerant De Standaard dat Mercedes se F1-span van Lewis Hamilton onlangs vier werkers ontslaan en dissiplinêre stappe teen nog drie gedoen het omdat hulle hul aan “rassisme” teenoor ’n Moslem-spanmaat skuldig gemaak het. De Standaard gebruik in dieselfde berig ook die term “rassisme” tussen twee sokkerspanne waar in werklikheid die moeilikheid tussen twee oorwegend wit spanne ontstaan het. Die Mercedes-span gebruik weer die woord “diversiteit” om na die geval van die afgedankte spanlede te verwys.

Uit mediaberigte lyk dit of die Etzebeth-sage steeds eskaleer deurdat die Menseregtekommissie ’n klag van haatspraak by die gelykheidshof gaan indien, en of twee Stellenbosse filosowe op die harde manier moes leer dat die bloot eensydige aanwending van die terme “wit rassisme” en “swart rassisme” heeltemal te gelaai is om onewehandig of eenogig in te span.

Die skynbare onlekkerte van die Britse Keltiese lande oor die Engelse wat wil Brexit (as hulle inderdaad nog wil) en in die proses die Kelte wil saamsleep, krap ’n hele paar sienings oor globalisering effe deurmekaar.

In 2015 het Maroela Media reeds na die komplekse aard van diversiteit en onder meer die rol van relatiewe deprivasie verwys. Hierdie 2015-ontleding is gedoen toe die woord “heterogeen” nog gereeld ingespan is om min of meer dieselfde te sê as die hedendaagse “diversiteit”.

Is hierdie “nuwe term” as alternatief vir heterogeniteit om politiek korrekte redes ingespan, of omdat diversiteit naas ’n negatiewe begrip (soos: die boek People, Plants, and Patents sê: “Toegang tot oorvloedige genetiese diversiteit sal die sleutel tot die mens se voortbestaan wees,” en “DIVERSITEIT WORD BEDREIG”) ook ’n positiewe gebruik het (soos: maar lewe, met al sy wonderlike diversiteit, is oral om ons).

Die positiewe beskouing van diversiteit het onder meer gemanifesteer in die verwysing na Suid-Afrika as reënboogland, en is ten nouste weer met die destydse pres. Nelson Mandela verbind. Hierdie konsep word nog dikwels in openbare propaganda gebruik as manier om konflikwekkende faktore te probeer teenwerk.

Daar is net geen manier hoe die werklikheid van diversiteit (of dan heterogeniteit) vreedsaam bestuur kan word as die negatiewe invloed vanuit owerheidsweë nie van heel bo af in die bek geruk word nie. Die negatiewe invloed van die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza (Milner) Lesufi, is die afgelope twee dae weer hard in die media geslaan.

In Sondag se Rapport val Solidariteit se voorsitter, Flip Buys, sommer dadelik met die deur in die huis, onder die opskrif van: “Ons skrik nie vir Lesufi.” Op 27 September 2019 het Media24 se Afrikaanse dagblaaie ’n hoofartikel gedeel waarin Lesufi ook goed uitgelooi word vir sy rol in die uitrafeling en ondergrawing van diversiteit.

Helaas, die wiel oor hoe om met heterogeniteit/diversiteit om te gaan, is lankal ontwerp, ook in Suid-Afrika. Soos dikwels die geval is, het leke geglo hulle het die aller-antwoord en die hantering daarvan bewustelik of onbewustelik gesaboteer.

“Slimmighede” soos dat die sosio-ekonomiese ongelykheid (wat die gaping op die grafiek van relatiewe deprivasie veroorsaak) net uitgeskakel moet word, dan verdwyn alle tussengroepspanning, is in sekere kringe verabsoluteer en kon nie alleen die brug staande hou nie.

Ander het geglo die oplossing lê in ’n staatkundige model en eweneens die skip laat sink. Die toppunt van eenogigheid was sekerlik toe die kundiges “herontplooi” is (wesenlik uit sirkulasie gehaal is), en ’n onvoltooide ondersoek van die destydse Presidentsraad se maatskaplike komitee na tussengroepverhoudinge deur die regering geskrap is. Die gevolg was, in die woorde van ds. Cassie Aucamp, maar wat hy wel in ’n ander konteks ingespan het: as die een blinde ’n ander blinde lei, val albei in die sloot.

Sedertdien is konsekwent nagelaat om die fout te erken dat die weglaat van die kundiges rampspoedig vir die hantering van diversiteit was, en kon daar nog nie suksesvol uit die sloot geklouter word nie.

Gelukkig is daar nog op grondvlak ’n groot poel van goedgesindheid, en hoewel nie almal ’n Mitah (ook bekend as Mita) kan wees nie wat die land ruk soos sy haar lewe vir ’n siek werkgewer en sy gestremde seun opgeoffer het, maar op die persoonlike vlak kragtig skanse bou teen die gif van die geledere van Malema, Ace en Lesufi. Daar is nog talle – swart, wit, bruin en Indiër – wat die wigte inslaan.

Net soos dit in ons land se wisselvallige klimaat kundigheid verg om vooruit te kan boer, want verkeerd boer is agteruit boer, so is dit nodig dat die diversiteitskwessie kundig en holisties aangepak word. Om dit verkeerd te hanteer is ook soos om onbekostigbaar agteruit te boer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

B ·

In my loopbaan het ek die volgende gesien – eers net wittes in die werksplek en ‘diversiteit’ bewusmaking en sessies is begin om die koppe te swaai.
NOU is werksmag 93% swart al maar die sessies duur nog voort met dieselfde tema as destyds??

Jean-Pierre ·

Diversiteit is goed of sleg afghangende van ‘n persoon se perspektief. Perspektief kan beinvloed word deur persepsie, hoe mens informasie interpreteer, en dit kan gedoen word via naamlik deur 2 tipes propaganda “misinformation” en “disinformation” vir die voordeel of nadeel van politieke partye.

Gideon ·

Die werklikheid is dat ‘diversiteit’ nie beteken wat die gemiddeld mens se instink vir hom sou se dit doen nie. Die aard van ‘diversiteit’ kan gesien word in ‘n Play Boy foto reeks vroeer in die jaar wat slegs swart vrouens bevat het, maar as die mees ‘diverse’ foto reeks ooit bestempel is.

Jou voorbeeld is net verdere bewys van die werklike definisie was ‘diversiteti’; alles nie-blank. Hoe minder wit, hoe beter, ongeag of homogeniese nie-blank wit vervang, solank dit net nie wit is nie, is dit ‘divers’.

Binne hierdie raamwerk maak dit absoluut sin dat die inligtingsessies voortduur soos voorheen. Daar is steeds wit mense in die besigheid, so natuurlik is die besigheid nog nie so divers soo dit kan wees nie en is daar nog werk om te doen.

Johan ·

Herman Toerien is ‘n baie skerp politieke kommentator. Hy is in die kol!

Eie Identiteit ·

Dief-versiteit is ‘n kunsmatige en polities-korrekte nuutskepping wat misbruik word om elkeen se eie identiteit te beroof in die naam van sogenaamde “gelykheid”.

Leon ·

Dit is snaaks dat die lande wat die meeste skreeu, Brittanje, VSA en Austarlië, is van die lande wat diversiteit die meeste misken. Wat openlik rassisme bedryf.
Brittanje diskrimineer nog altyd teen Afrikane en sal altyd diskrimineer teen Afrikane. Hulle sien Afrikane as laer klas mense.
Kyk net wat maak die VSA, Kanade en Australië met die oorspronklike inwoners van hulle lande. Selfs op grondvlak.
Diversiteit in die wêreld sal lank vat voordat dit sal regkom.

Nico K ·

Ek weet nie van ‘n land waar daar diversiteit is, wat in vrede saamleef nie. Ek praat dit nie goed nie, maar die mens is geneig om te veralgemeen as hy van ‘n ander groep praat. Die goeie voorbeeld wat ek gehoor is dat as ‘n kafee eienaar jou met kleingeld verneuk het, en daardie persoon was ‘n Afrikaner dan sou jy gesê het, “daai ou op die hoekkafee, hy is ‘n skelm”. Maar kom ons sê die kafee eienaar was ‘n Portugees, dan sê jy “tipies, hulle is almal skelm”. En dit doen ons almal.

Hendrik ·

Sterk pale hou ‘n heining op en goeie heuning verseker goeie buurmanskap. Iets wat ek die naweek gesien het. Volgens my moet daar gebiede wees waarin diverse lewe soos tans die geval is bv. in die Pretoria se woonbuurte. Dan moet daar kultuur gebiede wees waar mense in hul kultuur kan leef. bv. Hammanskraal en so ook vir die Afrikaner gemeenskap.

Jerry ·

Diversiteit werk wanneer die verskillende groepe hulle daartoe verbind en daarby inkoop en mekaar se diversiteit respekteer en die een nie die ander tot daardie een se wil dwing nie. Dit sal dus nooit in SA werk nie, want hier wil die meerderheid hulle wil en skewe siening van diversiteit afdwing. Die duistere motief agter geslote deure is dat alle rasse deel is van diversiteit en nasiebou, behalwe wit wat deur gelykmaking en vermenging moet deel word van diversiteit. Geen ras word bedreig deur diversiteit en vermenging nie, behalwe die wit ras wie deur vermenging deel raak van die kleurlingras en dus as n witras kan verdwyn soos mis voor die son. Diversiteit in SA het dit dus ten doel om witmense gelyk te maak en te verarm en om hulle te dwing tot vermenging ten einde te kan oorleef! Almal is baie happy oor die vooruitsigte van diversiteit en vermenging in SA, behalwe uiter aard van die saak, die witmense. Witmense skop dus vas teen diversiteit en vermenging in SA vir n baie goeie rede, indien nie n gesondheid (Cameron) bybelse of natuurlike rede, van soort soek soort en basta met die res. Dit is hoekom foefie Lesufi so kwaad raak vir die witmense wat nie die wit kindertjies saam met die swart kindertjies wil laat skool gaan nie, want dit is waar vermenging moet begin om te kan werk. Diversiteit werk in ander lande, want die ANC is nie daar nie!

Nee dankie ·

Ek kan myself nooit met daardie foto van die berig vereenselwig nie.

Hendrik ·

Dit lyk vir my as ‘n mens nie diversiteit ondersteun jou boodskap nie gepubliseer gaan word nie. Vryspraak word erg hier belemmer en ek het nie enige haatspraak gepleeg nie. Net ‘n ander siening. Net soos Ernst Roets se dat vryspraak ernstig onderdruk word!

Hendrik ·

Wat gebeur as jy nie diversiteit ondersteun nie? Is dit dan polities nie korrek? Waar is vryspraak en hoe word minderhede onderdruk deur diversiteit?

Drikus Kotze ·

Die Here Jesus het ‘n opdrag gegee: Gaan na die nasie en leer hulle om alles wat Ek julle beveel het te onderhou. Ek weet nie of ons en ons voorouers daarin geslaag het nie – want die HERE bekeer wie Hy wil en laat verlore gaan wie Hy wil, maar die nasies het geen verskoning. Die nasies hier aan die Suidpunt van Afrika wil nie daardie geloof aanvaar, of hou nie van die leefwyse wat die geloof veroorsaak nie. So sal al wat menslike planne behels om eenheid te veroorsaak misluk in die huidege wêreld se sieninge.

Corrien ·

Gaan na “die” nasies , nie alle nasies nie. Dis ‘n groot verskil.

Jean-Pierre ·

Ja dit is vir ‘n feit moonlik om met mense van verskillende groepe saam te lewe. Ons doen dit dan op die oomblik in SA.

Jerry ·

Diversiteit het dit ten doel dat verskillende groepe mekaar se verskille erken en respekteer en om diskriminasie uit te skakel deur gelyke geleenthede te skep en gelykheid op meriete te bevorder. Dit werk in ander lande waar mense daartoe verbind is om nie teen mekaar te diskrimineer nie, maar ook waar mense steeds vryheid tot assosiasie en keuse het om te meng en te vermeng of nie. In SA sal dit egter nie werk nie agv die “failed state” se rasgedrewe motiewe van “reverse” diskriminasie om witmense te probeer verarm, gelyk te maak en te verneder. Die linkse liberale plan in SA is dat die wit ras uiteindelik deur verswelging en vermenging met die kleurlingras vervang word. Heito my bra, hoe lyk dit met nog so n enetjie voorlat ons aanstoot terug Langebaan toe!

Marthinus Willemse ·

Rusland word vandag deur besoekers beskou as die land met die minste rassisme.
Die Sowjetunie was `n federasie van 300 miljoen mense, 200 nasionaliteite, meer as 100 tale, en `n menigte gelowe. (Twee bekende Tatare, bv. was Charles Bronson en Roedolf Noerejef.) Daar is gepoog om `n homogene Sowjetvolk te skep, soos die volgende grappie:

Is daar rassisme in die USSR?
Nee. By ons word wittes en swartes almal as rooi beskou.

Maar hulle het daarteen geskop, en vandag word baie moeite gedoen om aan elke volk hul identiteit terug te gee. Wladimir Poetin kon die Krim-Tatare oorreed tot anneksasie omdat hy hul taal aangeleer het en in toesprake gebruik.

Samuel P. Huntington sê in “The Clash of Civilizations?” dat die Russiese Revolusie, en die globale reaksie daarop, die manier waarop konflik bedryf word, verander het. Voor 1917 was konflik tussen nasie-state, nou is dit tussen ideologieë. Toekomstige konflik sal gebeur op die foutlyne wat verskillende beskawings skei. (Ons sien dit nou in die Oekraïne, waar die westelike deel wat oorwegend Katoliek is, bots met die oostelike deel wat Russies-Ortodoks is. En in Europa, waar die Midde-Oosterse, oorwegend Moslem-immigrante, bots teen die oorwegend Christene.)

Tienduisend jaar gelede het mense saamgewoon en geveg om oorlewing teen die wilde diere en elemente. Toe groepe begin afstig en `n eie etniese identiteit ontwikkel, het die moeilikheid begin. Groepe met gemeenskaplike eienskappe: Ras (biologies); Volk (kultureel); Nasie (polities). Snobisme, grootheidswaan en fanaticisme, veral in godsdiens en politiek, het ontwikkel, dalk weens `n evolusionêre fout.

Gideon ·

Die enigste diversiteit wat werklik saak maak is diversiteit van sienings. Jou ras het geen fundimentele invloed op jou sienings nie. Hoevel wit en swart mense ken ek nie wat uit dieselfde omstandighede kom en soortgelyke sienings het nie? Maak jou oe toe en luister na wat hulle te se het en jy sal nie kan se wie is watter ras nie.

Vat two mense van dieselfde ras wat uit radikale verskillende agtergronde kom, en jy sal nie kon dink hulle is beide ras x nie.

Diversiteit van die aard wat nou heers, is net sleg vir die samelewing wat dit implimenteer. Dis alles goed en wel om groepe mense wat soortgelyke fundamentele wereldsienings het saam te sit, maar kyk net wat gebeur in Engeland wanneer hulle konserwatiewe moslems in liberale Britse gemeenskappe sit. Die twee groepe het nie net radikale anderse wereldsienings nie, hulle het blatand teenstandige sienings. Kyk net die onrus, die haat, en die misdaad (‘grooming gands’ is maar net een voorbeeld), wat die saam vorseer van onpasbare groepe vorseer.

Soortgelyke ‘diversiteit’ in Afrika lande wie se grense sonder inagnome van geskiedkundige stamkonflik het tot talle volksmoorde gely. Daar is ‘n rede hoekom meeste natuurlike landsgrense (sien Europa) gewoonlik baie nou hou aan volksgroepe se woongebiede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.