Nuuskommentaar: Is diversiteit goed, sleg of bloot ’n feit?

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Diversiteit word in groot dele van die wêreld dikwels verkeerd hanteer en veroorsaak groot spanning wat dikwels manifesteer in diskriminasie en die miskenning van minderheidsregte. Ook Suid-Afrika kan nie bekostig dat diesulkes soos Malema, Lesufi en Ace (nie net die mense op die gewraakte lys van die Stellenbosse proffie nie) enige hoop op diversiteitsharmonie aanhoudend nekslae toedien nie.

Mense se lewe is op die spel as diversiteit tot onenigheid tussen (rasse-)groepe in ’n spesifieke ruimtelike eenheid lei, maar is dit noodwendig ’n fait accompli? Iets is op sy beurt ’n fait accompli wanneer ’n handeling afgehandel is voor die mense wat geraak word die kans gehad het om te reageer of beswaar aan te teken.

Sonder die geringste bedoeling om die intelligensie van lesers te onderskat, is dit ter wille van die uitskakeling van misverstande dalk tog nodig om die Akademikaans en filosofie bietjie eenkant te laat en in doodgewone Afrikaans te vra of die saamleef van mense vanuit verskillende agtergronde met gepaardgaande ras- en kultuurverskille noodwendig ’n resep vir moeilikheid is.

Of hoef dit nie so te wees nie en hang dit af of die regering of ander instellings die drekpot roer?

Wat belangrik is, is dat Suid-Afrika nie uniek is nie. Dit blyk uit twee uiteenlopende nuusbrokkies uit verskillende dele van die wêreld. Dit blyk eerstens uit ’n Amerikaanse peiling dat 52% van die Yanks meen diversiteit is ’n goeie ding vir die land en dat hulle self in woongebiede woon wat die feit onderstreep. Net 17% meen diversiteit is gewoonlik ’n slegte ding, terwyl 22% meen dit het geen invloed nie.

In ’n berig meld die Vlaamse koerant De Standaard dat Mercedes se F1-span van Lewis Hamilton onlangs vier werkers ontslaan en dissiplinêre stappe teen nog drie gedoen het omdat hulle hul aan “rassisme” teenoor ’n Moslem-spanmaat skuldig gemaak het. De Standaard gebruik in dieselfde berig ook die term “rassisme” tussen twee sokkerspanne waar in werklikheid die moeilikheid tussen twee oorwegend wit spanne ontstaan het. Die Mercedes-span gebruik weer die woord “diversiteit” om na die geval van die afgedankte spanlede te verwys.

Uit mediaberigte lyk dit of die Etzebeth-sage steeds eskaleer deurdat die Menseregtekommissie ’n klag van haatspraak by die gelykheidshof gaan indien, en of twee Stellenbosse filosowe op die harde manier moes leer dat die bloot eensydige aanwending van die terme “wit rassisme” en “swart rassisme” heeltemal te gelaai is om onewehandig of eenogig in te span.

Die skynbare onlekkerte van die Britse Keltiese lande oor die Engelse wat wil Brexit (as hulle inderdaad nog wil) en in die proses die Kelte wil saamsleep, krap ’n hele paar sienings oor globalisering effe deurmekaar.

In 2015 het Maroela Media reeds na die komplekse aard van diversiteit en onder meer die rol van relatiewe deprivasie verwys. Hierdie 2015-ontleding is gedoen toe die woord “heterogeen” nog gereeld ingespan is om min of meer dieselfde te sê as die hedendaagse “diversiteit”.

Is hierdie “nuwe term” as alternatief vir heterogeniteit om politiek korrekte redes ingespan, of omdat diversiteit naas ’n negatiewe begrip (soos: die boek People, Plants, and Patents sê: “Toegang tot oorvloedige genetiese diversiteit sal die sleutel tot die mens se voortbestaan wees,” en “DIVERSITEIT WORD BEDREIG”) ook ’n positiewe gebruik het (soos: maar lewe, met al sy wonderlike diversiteit, is oral om ons).

Die positiewe beskouing van diversiteit het onder meer gemanifesteer in die verwysing na Suid-Afrika as reënboogland, en is ten nouste weer met die destydse pres. Nelson Mandela verbind. Hierdie konsep word nog dikwels in openbare propaganda gebruik as manier om konflikwekkende faktore te probeer teenwerk.

Daar is net geen manier hoe die werklikheid van diversiteit (of dan heterogeniteit) vreedsaam bestuur kan word as die negatiewe invloed vanuit owerheidsweë nie van heel bo af in die bek geruk word nie. Die negatiewe invloed van die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza (Milner) Lesufi, is die afgelope twee dae weer hard in die media geslaan.

In Sondag se Rapport val Solidariteit se voorsitter, Flip Buys, sommer dadelik met die deur in die huis, onder die opskrif van: “Ons skrik nie vir Lesufi.” Op 27 September 2019 het Media24 se Afrikaanse dagblaaie ’n hoofartikel gedeel waarin Lesufi ook goed uitgelooi word vir sy rol in die uitrafeling en ondergrawing van diversiteit.

Helaas, die wiel oor hoe om met heterogeniteit/diversiteit om te gaan, is lankal ontwerp, ook in Suid-Afrika. Soos dikwels die geval is, het leke geglo hulle het die aller-antwoord en die hantering daarvan bewustelik of onbewustelik gesaboteer.

“Slimmighede” soos dat die sosio-ekonomiese ongelykheid (wat die gaping op die grafiek van relatiewe deprivasie veroorsaak) net uitgeskakel moet word, dan verdwyn alle tussengroepspanning, is in sekere kringe verabsoluteer en kon nie alleen die brug staande hou nie.

Ander het geglo die oplossing lê in ’n staatkundige model en eweneens die skip laat sink. Die toppunt van eenogigheid was sekerlik toe die kundiges “herontplooi” is (wesenlik uit sirkulasie gehaal is), en ’n onvoltooide ondersoek van die destydse Presidentsraad se maatskaplike komitee na tussengroepverhoudinge deur die regering geskrap is. Die gevolg was, in die woorde van ds. Cassie Aucamp, maar wat hy wel in ’n ander konteks ingespan het: as die een blinde ’n ander blinde lei, val albei in die sloot.

Sedertdien is konsekwent nagelaat om die fout te erken dat die weglaat van die kundiges rampspoedig vir die hantering van diversiteit was, en kon daar nog nie suksesvol uit die sloot geklouter word nie.

Gelukkig is daar nog op grondvlak ’n groot poel van goedgesindheid, en hoewel nie almal ’n Mitah (ook bekend as Mita) kan wees nie wat die land ruk soos sy haar lewe vir ’n siek werkgewer en sy gestremde seun opgeoffer het, maar op die persoonlike vlak kragtig skanse bou teen die gif van die geledere van Malema, Ace en Lesufi. Daar is nog talle – swart, wit, bruin en Indiër – wat die wigte inslaan.

Net soos dit in ons land se wisselvallige klimaat kundigheid verg om vooruit te kan boer, want verkeerd boer is agteruit boer, so is dit nodig dat die diversiteitskwessie kundig en holisties aangepak word. Om dit verkeerd te hanteer is ook soos om onbekostigbaar agteruit te boer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
B

In my loopbaan het ek die volgende gesien – eers net wittes in die werksplek en ‘diversiteit’ bewusmaking en sessies is begin om die koppe te swaai.
NOU is werksmag 93% swart al maar die sessies duur nog voort met dieselfde tema as destyds??

Johan

Herman Toerien is ‘n baie skerp politieke kommentator. Hy is in die kol!

Eie Identiteit

Dief-versiteit is ‘n kunsmatige en polities-korrekte nuutskepping wat misbruik word om elkeen se eie identiteit te beroof in die naam van sogenaamde “gelykheid”.

Leon

Dit is snaaks dat die lande wat die meeste skreeu, Brittanje, VSA en Austarlië, is van die lande wat diversiteit die meeste misken. Wat openlik rassisme bedryf.
Brittanje diskrimineer nog altyd teen Afrikane en sal altyd diskrimineer teen Afrikane. Hulle sien Afrikane as laer klas mense.
Kyk net wat maak die VSA, Kanade en Australië met die oorspronklike inwoners van hulle lande. Selfs op grondvlak.
Diversiteit in die wêreld sal lank vat voordat dit sal regkom.

Nico K

Ek weet nie van ‘n land waar daar diversiteit is, wat in vrede saamleef nie. Ek praat dit nie goed nie, maar die mens is geneig om te veralgemeen as hy van ‘n ander groep praat. Die goeie voorbeeld wat ek gehoor is dat as ‘n kafee eienaar jou met kleingeld verneuk het, en daardie persoon was ‘n Afrikaner dan sou jy gesê het, “daai ou op die hoekkafee, hy is ‘n skelm”. Maar kom ons sê die kafee eienaar was ‘n Portugees, dan sê jy “tipies, hulle is almal skelm”. En dit doen ons almal.