Nuuskommentaar: Is dr. Blade nou die vyand no. 1 van die nasie?

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en aartskommunis, is nou nie juis bekend vir sy simpatie vir demokrasie soos die beskaafde wêreld dit verstaan nie. Hy het onder meer by geleentheid voorgestel dat wetgewing aanvaar moet word om kritiek op pres. Jacob Zuma strafbaar te maak – iets wat omtrent elke kommentator wat sy sout werd is ’n kriminele rekord sou besorg.

Hy is ook nie juis bekend vir sy suiwer regsuitleg nie, waaronder die grondwet. So het hy gedreig om Akademia te sluit omdat dit “uitsluitend” sou wees. Meer onlangs het die SAKP die idee geopper dat Afrikaans as amptelike taal afgeskaf moet word – iets waarvoor die grondwet gewysig sal moet word. Die gesamentlike stemkrag van die ANC, die EFF en ʼn paar “Azaniese” partye maak so iets nie heeltemal vergesog nie.

Pas het Nzimande sy sentimente en onkunde egter saamgespan in ’n striemende aanval op die regbank. Dis by implikasie nie sy eerste nie, en in hierdie koor staan hy wat regeringsgeledere betref nie alleen nie. Dit is moeilik om te bepaal wat die ergste is – Nzimande se stellings, onder meer dat die regbank deel van ʼn DA-geleide aanslag op meerderheidsregering is, of die minister van polisie, Nathi Nhleko, se stelling dat van die regters korrup is en met  karakters saamspan om uitsprake te bewimpel.

Ook Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, tel onder die groot visse wat al die mond oor die regbank uitgespoel het. Trouens, uit die ANC-kritiek klink dit of die ANC ’n strategie bou om ’n saak uit te maak dat die regbank besig is om die skeiding van magte te erodeer. As dit nie so ernstig was nie, sou dit snaaks gewees het want dit is nie van gister nie dat die ANC daarvan beskuldig word dat hy deur die wegkalwing van die skeiding van magte ’n statutêre staatsgreep uitgevoer het. Luthuli-huis het byvoorbeeld eers behoorlik beheer oor die ANC in die parlement geneem, en daarna al verskeie kere probeer om die ganse parlement in ’n verlengstuk van Luthuli-huis te omskep. Van hierdie pogings is al telkemale deur die howe gestuit, onder meer deur die energie van wyle dr. Mario Ambrosini.

Trouens, daar is selfs so ver gegaan om via ’n diplomaat in Switserland Suid-Afrikaanse opposisiestemme by die VN se Menseregteraad gesmoor te kry.

Nou, so lyk dit, het die stemme uit regeringsgeledere te ver gegaan. Senior lede van die regbank, onder wie hoofregter Mogoeng Mogoeng, het koppe bymekaar gesit, en hul ontevredenheid in geen onduidelike taal nie, en ook nie uitsonderlik diplomaties nie, laat blyk. ’n Afspraak gaan met pres. Jacob Zuma gemaak word.

Die regters gee gereeld rede om vertroue in die regbank te hê, hoewel verskeie instansies, waaronder FW de Klerk se regsentrum, al verskeie foute in uitsprake van die grondwetlike hof uitgewys het. Solidariteit neem ook die Renate Barnard-saak nou na internasionale beregtiging. Talle regslui skud nog die kop hoe die grondwetlike hof tot sy beslissing oor minerale regte kon kom – dat dit nie op onteiening sonder vergoeding neerkom nie. Trouens, die wetgewing is al as die grootste diefstal in die land se geskiedenis beskryf.

Die regters erken ook in hul onderhoud met die media dat hulle nie foutloos is nie, en nie bo kritiek kan staan nie.

Juis daarom is dit belangrik dat ’n prosedure gevestig moet word om uitsprake wat oënskynlik meer met politiek as die grondwet te make het, so spoedig moontlik voor internasionale juridiese liggame te bring. Art. 233 van die grondwet verplig immers die regbank om in hul voorkeur uitsprake te lewer wat versoenbaar is met die internasionale reg.

En dit is hier waar dr. Blade en instansies soos Solidariteit en AfriForum oënskynlik op ’n harde koppestamp in die toekoms afstuur. Blade verstaan skynbaar net mooi niks van die minderheidsregte wat toenemend sterk in die internasionale reg vergestalt nie. Hy ken net meerderheidsoorheersing, wat met ’n domastrante party soos die ANC in ’n meerderheidsdiktatuur ontaard. Boonop is hy (en ander) aspris om iets soos grondwetlike taalregte dadelik tot gelykstaande aan ras te reduseer, en so kwasi-argumente op te bou.

In ’n land met ’n bekwame, verantwoordelike president sou dr. Blade lankal as minister ontslaan gewees het. Maar raai wie dryf die beeldpoetsproses om Zuma “presidensieel” te laat voorkom.

En tot dusver het die een hand die ander mildelik gewas.

Die regters kan in hul gesprek met Zuma weinig meer as ’n skyn-hartlike ontvangs, dalk ʼn paar leë beloftes, en ’n stel bottoe ore te wagte wees.

Zuma beskou immers almal, ook die regters, as sy onderdane wat na sy pype behoort te dans, en ’n skeibrekery word maar in die Zuma-styl gestraf.

Hoofregter Mogoeng, smeer maar aan en kom, maar die wind waai wes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Blade se dat hulle hard gewerk het om die SAUK by die Nasionale party af te neem en ek stem saam die laasgenoemde het dit gebruik vir propoganda jare lank saam met die liberale media se nuusblaaie.Ek wonder nou net kom die Gupta kanaal en nuusblad dan nou nie die mas op tesame met die huidige SAUK nie.Dit sal n sware slag vir jou kommunistiese rewolusie se oorname wees my ou moet nie probeer om die rol van die martelaar te speel nie jy klink belaglik.

George ·

Is dit nie maar kommunisme is nie, almal is gelyk maar sommige is meer gelyk ……

Hennie Pitzer ·

Uitsprake soos die kan vertaal word as ‘n oorlogverklaring teen demokrasie en moet met wortel en tak uitgeroei word. Iemand wat ‘n leek is in Grondwetlike interpretering moet liefs stil bly want sulke uitlatings dra by tot politieke asiel versoeke. Die wet is verhewe bo politiek!Die beskerming van minderhede is verskans in die reg om ‘n regering in ‘n hof aan te vat. Blade Nzimande speel met vuur!

jaycee ·

Die SAKP (dws ook Blade nou) was van die begin van SA se sogenaamde demokratisering, die nasie se vyand no. 1. Hulle het die ANC as die spreekwoordelike Trojaanse perd gebruik om hulle in die nuwe regering te vestig en dan vanuit daardie posisie hulle Marxistiese ideologie te verkondig en te probeer vestig. Hulle vind die ANC se meerderheidsdiktatuur ‘n gerieflike tuiste. Maar alhoewel die ANC steeds vasklou aan onwerkbare beleidsrigtings was dit nogtans te wagte dat sekere denkrigtings binne die ANC sou ontstaan wat nie sou inpas by die steriele en onbuigsame ideologiese raamwerk van die kommuniste nie. ‘n Botsing tussen hierdie twee lede van die regeringsalliansie was eintlik onafwendbaar. Groot gevegte tussen faksies binne die regering is aan die broei en omdat die ANC so onbeholpe, rondploeterend en onbekwaam is om ‘n duidelike demokratiese raamwerk daar te stel en uitvoering daaraan te gee, gaan hierdie gevegte baie morsig wees. En intussen moet die nasie die spit hiervoor afbyt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.