Nuuskommentaar: Is ek ʼn lyer of vegter in 2020?

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

’n Baie geseënde 2020 word al ons nuusverbruikers toegebid. Oujaarsjolyt uit baie, dikwels erg beskonke kele, en gewyde middernagdienste in soms stampvol kerke toon aan in hoe ’n uiteenlopende benadering tot dieselfde gebeure ’n mens op nuus reageer.

Dit is tradisie dat talle mense vooruitskouings doen oor wat die nuwe jaar vir mense kan inhou. Benewens spesialis-toekomskundiges gebruik baie vakkundiges hul vakgebiede op ’n analitiese wyse om verskillende moontlikhede te ontleed en uitkomste te voorspel, met vakke soos politieke wetenskap, politieke sosiologie, (politieke) ekonomie, die staatkunde, klimaatkenners, medici, joernaliste, teoloë en vele meer wat die toon aangee. Hier en daar word verstommend raakgevat, ander probeer die toekoms vir politieke gewin met die aanbied van kluitjies bewimpel.

Is daar baie lande wie se regeringshoofde nie al reputasies as groter kluitjiebakkers as dié van Suid-Afrika verwerf het nie? Stellig nee. Die post-1994-presidente van Suid-Afrika is “presteerders” op hierdie gebied. Wie sal byvoorbeeld ooit wyle Nelson Mandela se belofte van wasmasjiene vir almal vergeet? Hy het dit waarskynlik ernstig bedoel in die sin van verbeterde lewensomstandighede wat meer mense ekonomies in staat sou stel om wasmasjiene te kan bekostig, natuurlik ná meer huise oor elektrisiteit en lopende water sou beskik, nadat elkeen natuurlik darem ʼn woning kon bekom, maar die werklike afstand tussen die werklikheid en die droom was so groot dat dit geklink het of die lugmag op ʼn dag wasmasjiene met valskerms by die miljoene op desperate arm burgers sou laat neerdaal. Maar toe loop staak die denkbeeldige vlieëniers van die denkbeeldige lugmag ná hulle almal by ʼn regeringsgesinde vakbond aangesluit het.

Mandela se opvolger, Thabo Mbeki, had weer te vertelle MIV/Vigs word nie deur die MI-virus veroorsaak nie. Oudpres. Jacob Zuma is waarskynlik die kaptein-kluitjiebakker, met onder andere stories oor Afrika wat die grootste kontinent is, met al die ander kontinente wat saam in Afrika kan inpas. Sy honde-kluitjie was wêreldnuus, en teen die tyd dat hy te vertelle gehad het dat swart mense gewoonlik hul grond in die droogste en onvrugbaarste dele van die land bekom het, was mense al so afgestomp oor die kluitjies wat opgedis is, dat dit kwalik meer nuus was.

Die verklaring van die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit, het die regeringsnarratief dat wit mense hul grond bekom het deur dit van wit mense te steel, as die Groot Leuen gedoop. Tog is hierdie verbeelde narratief seker die vernaamste grondslag waarop grondgryp sonder vergoeding duidelik in die Grondwet uitgespel moet word.

Pres Cyril Ramaphosa moet begin briek aandraai om nie as eietydse Ramannochio die Zupta-statuur in die stof laat byt nie. Sedert hy president van die groot hoop die bewind oorgeneem het, het Ramaphosa se neus aansienlik gegroei. Een van sy merkwaardigste prestasies was om deur ʼn Amerikaanse president wakker geskud te word oor die voorkoms van plaasaanvalle – iets wat Ramaphosa as versinsel probeer afmaak het. Vir die tweede agtereenvolgende jaar het hy Versoeningsdag (probeer) benut om die Bloedrivier-gebeure met ’n narratief van verbeelding te vervang, soos dat die Voortrekkers se Bloedrivier-verwante ekspedisie ’n veldtog was van die militante Trekkers om grond en vee by die vreedsame Zoeloes te gaan roof, en dat die “vreedsame” Zoeloes grootliks in selfverdediging opgetree het, maar wreedaardig afgemaai is. Met die pas-afgelope Welwillendheidsdag het die Voortrekkers boonop “indringers” geword, en Dingaan se impi’s vryheidsvegters.

Sou dr. Nkosazana Dlamini-Zuma nie dalk ʼn beter keuse as president gewees het as Ramaphosa nie? ’n Gedagte wat te erg is om selfs net in ’n verbeeldingsvlug onder oorweging geplaas te word.

Die politieke ontleder, dr. Piet Croukamp, het juis in ’n uitsending van die RSG-program Kommentaar, verwys na die wit mense wat honderde jare kans gehad het om swart mense se grond te steel, en dat dit reggestel moet word. Toe hy onder kritiek deurloop was sy verweer dat hy bloot swart mense se narratief gesteel het. Die podsending van die program staaf egter nie hierdie verduideliking nie.

Nie dat die uiteenlopende narratiewe ontken word nie. Trouens, Maroela Media het lank voor grondgryp sonder vergoeding werklikheidstrekke begin aanneem het, gewaarsku dat die verskillende narratiewe, soos uitgespel in die meesterverhandeling van die Matie-student, Charl Swart, dringend aangespreek moet word om ’n breekspul af te weer.

Moet die Afrikaner hierom pessimisties wees?

As persoon wat al sowat vier jaar lank in ʼn stryd teen twee kankers gewikkel is, is die uwe deeglik bewus van die verskil tussen om ’n kankervegter en ’n kankerlyer te wees. Die rol van die kankervegter kan maklik verromantiseer word, asof die persoon om verskeie “redes” ’n voorbeeldiger mens as die kankerlyer sou wees (en daarom ook ’n beter herstelkans sou hê as die lyer). Die kankervegter wat “neersien” op die kankerlyer se omstandighede was nog nie met die lyer s’n omgeruil nie.

Die uwe het kort voor die diagnoses besonder bewus geword van Jesus se gebed oor die beker wat asseblief verby moet gaan, maar “nie soos ek wil nie, maar soos U wil.” Kort voor die diagnoses was die tema van ’n preek, dat die Here gebede verhoor – nie noodwendig soos ons dit wil hê nie, maar soos Hy wil, want Hy weet die beste.” En ja, dit staan ook so in die Bybel opgeneem.

Elkeen in Suid-Afrika gaan 2020 in die gees van ’n lyer of as vegter in. Vir baie word die “keuse” deur omstandighede bepaal, soos of ʼn familielid al die slagoffer van ’n plaasmoord was. Ander is van nature ’n pessimis.

Diegene wat as “vegter” geseënd is, moet die lyers kan bystaan en rugsteun.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.