Nuuskommentaar: Is ‘entstof-apartheid’ werklik die probleem?

Pres. Cyril Ramaphosa is in Februarie teen Covid-19 ingeënt. (Foto: Siyabulela Duda/ GCIS)

President Cyril Ramaphosa het Maandag weer genoem hoe selfsugtig en onbillik dit van farmaseutiese maatskappye en Westerse regerings is om aan die intellektuele patentreg op Covid-19-entstowwe vas te klou. Volgens Ramaphosa bedreig hierdie selfsug die ganse wêreld, aangesien dit sogenaamde entstof-apartheid onderhou.

Ramaphosa het reeds verlede jaar in samewerking met Indië begin om die relevante rolspelers te oortuig om entstowwe se intellektuele patentreg te laat vaar. Hierdie kwytskelding sal meer lande in staat stel om entstowwe te vervaardig – sodoende kan meer lande self die entstof vir eie gebruik vervaardig.

Dit is natuurlik ʼn uiters aanloklike opsie in die lig van die voortslepende Covid-19-pandemie waarin groot dele van die wêreld nog gedompel is. Talle lande, waaronder Suid-Afrika spesifiek, bevind hulself reeds in ʼn derde Covid-19-vlaag.

Buiten die impak op gesondheidsorg en mense se welstand, het die derde golf ook weer dieselfde uitkringende impak op ander sfere van die samelewing. Weens Covid-19, en die gepaardgaande inperkingsmaatreëls, ly talle ander sektore van die ekonomie net weereens hieronder.

In ʼn poging om veilig en gesond te bly, verander mense se gedragspatrone ook. Google-data dui aan dat Suid-Afrikaanse burgers se gedrag die afgelope tyd besig was om weens die derde vlaag te verander. Oor die algemeen het minder mense restaurante, inkopiesentrums, parke, strande, fliekteaters en ook hul kantore besoek.

Hierdie veranderinge in gedragspatrone het ook weer ʼn impak op die ekonomie. Hoewel dit goed is dat mense hulself veilig en gesond wil hou, is die ekonomiese gevolge van mense wat meer by die huis bly onmiskenbaar.

Terwyl Suid-Afrika weer besig is om in te perk vir die derde Covid-19-golf, is groot dele van die res van die wêreld egter besig om vir die eerste keer in byna ʼn jaar en ʼn half terug te keer na volledige normaliteit. Vir die eerste keer sedert die aanvang van die pandemie aan die begin van 2020, is sekere lande besig om weer volledig oop te maak.

Israel het verduidelik hoe hulle na afhandeling van hulle entstofprogram weer gaan terugkeer na normaal. Israel het reeds 60% van hulle bevolking volledig ingeënt. Dit beteken dat byna twee-derdes van die bevolking reeds teen Covid-19 beskerm is en sover moontlik kan terugkeer na ʼn voor-Covid-19-wêreld.

(Foto: Roy Rochlin/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die rockgroep Foo Fighters het die afgelope naweek ook ʼn konsert in Madison Square Garden gehou wat deur sowat 20 000 mense bygewoon is. Die enigste voorwaarde vir bywoning van die konsert was ʼn bewys dat jy reeds teen Covid-19 ingeënt is. Die konsert was vir die eerste keer in ʼn jaar en ʼn half net ʼn baken van normaliteit gewees. Diegene wat die aand by die konsert gewerk het, het maskers gedra – die oorwegende meerderheid van diegene wat die konsert bygewoon het, het egter nie maskers gedra nie.

Dit is hoe dit tans lyk in lande en state waarin ʼn entstofprogram suksesvol en so doeltreffend moontlik afgehandel is. Die lande wat daarin kon slaag om hul bevolkings in te ent, het bloot teruggekeer na normaliteit – iets wat dikwels vir Suid-Afrika nog so vêrgesog lyk.

Dit bring ʼn mens terug na Ramaphosa se uitlatings oor die sogenaamde entstof-apartheid. Ramaphosa wil bloot hê wat daardie lande reeds deur hul entstofprogramme behaal het – normaliteit vir Suid-Afrika.

Suid-Afrika vaar egter redelik sleg in hierdie opsig met ons entstofprogram met Suid-Afrika wat tans een van die lande is wat die kleinste persentasie van hul totale bevolking volledig ingeënt het. Volgens dit wat die regering aanvoer, kan ʼn mens aflei dat ons swak prestasie in hierdie opsig toe te skryf is aan die entstof-apartheid. Dit is so ook die ryk Westerse lande se skuld dat ons weereens (of nog steeds) in hierdie gesondheidskrisis gedompel is. Indien die ryk lande en farmaseutiese maatskappye net intellektuele patentreg wil prysgee, kan ons net ons eie entstowwe vervaardig en sal dit daarom beter gaan.

Is dit waar? Of is dit nie dalk Suid-Afrika se verlammend ondoeltreffende regering en openbare gesondheidsektor wat sukses in verskeie opsigte inhibeer nie? Is die huidige krisis waarin Suid-Afrika verkeer, nie dalk toe te skryf aan die volledige onvermoë van die regering om Covid-19 suksesvol te hanteer nie?

Suid-Afrika se Phelophepa-gesondheidstrein het onlangs gesukkel om sy eindbestemming te bereik nadat kabeldiefstal sy aankoms vertraag het. Hierdie trein was veronderstel om Covid-19-entstof na gemeenskappe in die Vrystaat en Gauteng te vervoer, maar is met twee dae vertraag weens ernstige skade wat aan infrastruktuur aangerig is. Weereens is die regering se vermoë om suksesvol en doeltreffend op te tree, geïnhibeer deur sy eie verval. Die verval van infrastruktuur, waarvoor die regering ook verantwoordelik is, keer die regering om in sy vasklou aan absolute beheer doeltreffend op te tree.

Foto: Hush Naidoo/Unsplash

Byna 300 pas afgestudeerde dokters is ook steeds nie by ʼn mediese sentrum, kliniek of hospitaal geplaas vir die internskappe waarvoor hulle reeds op 1 Julie moet aanmeld nie. Dit beteken dat die regering daarin kon slaag om te midde van ʼn tekort aan mediese personeel honderde gekwalifiseerdes net nie te plaas nie.

Selfs al sou mediese personeel in oorvloed beskikbaar en op die regte plekke wees, sou die regering hulle buitendien nie volledig kon aanwend om die pandemie te beveg nie. Die nasionale gesondheidsdepartement verduidelik hoe verskeie inentingsentrums landswyd nie mense oor naweke kan inent nie weens begrotingsbeperkings. Talle provinsiale departemente kan dit bloot nie bekostig om mediese werkers oortyd hiervoor te vergoed nie.

Ten einde die nodige inentingsteikens te haal, moet die gemiddelde aantal entstofdosisse wat oor die naweek toegedien word, aansienlik hoër wees as wat dit tans is. Die afgelope naweek het Gauteng net 48 mense ingeënt, die Wes-Kaap 16 mense en Mpumalanga het net één mens ingeënt! Gegewe die feit dat Suid-Afrika reeds ʼn derde vlaag ervaar, is dit absoluut skokkend.

Dit is maar enkele voorbeelde van die ondoeltreffendheid waarin ons vasgevang is. Dit laat ʼn mens egter wonder oor hoe anders alles nie sou lyk nie indien die private sektor net toegelaat is om te deel in die aanskaffing, verspreiding en toediening van entstowwe. Is sogenaamde Westerse entstof-apartheid ons grootste probleem, of is dit dalk eerder die ANC se entstof-monopolie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Kobus ·

Maar geagte pres Ramaposa, u regering klou aan julle magsbehep tov die inenting en verspreiding van die entstof. U regering is meer ingesteld om bakhand te staan en die wereld die skuld te gee vir alles wat verkeerd loop. het ons in SA nie uitstekende labaratoriums gehad voordat u regering alles gesluit het nie?

casper ·

Ons het wereld klas R&D gehad met vele enststowwe vervaardig in SA. Onderstepoort was die leier in entstowwe vir vee. Die ANC moet die blaam dra vir hulle onaanvaarbare vermoe om net die entstof te bestel !!!

Kokerboom ·

Die grootste gevaar vir SA is nie die Covid pandemie maar die ANC gevaar wat die land in sy vieslike politieke kloue het!!!

melaney ·

Tipper ek het die video van sy begrafnis diens. Dit is die beste diens deur ‘n predikant wat ek in my lewe gehoor het. Ek kyk hierdie video gereeld om myself te herinner daar is ‘n God wat die mensdom liefhet, en sy seun se naam is JESUS.

Bernard ·

Verstommend dat Afrika altyd alles gratis wil hê. Is bedel Geneties?

koos10 ·

Bernard, eerder Suid Afrika.
Baie Afrika lande het uit die as en roet opgestaan en is suksesvol. Ek dink sommer direk aan Ruandwa.
Dis die politieke wil wat ontbreek, en daarom staan lande bakhand. Ironies is dit ook gewoonlik hierdie lande wat vrot is van korupsie.

Johan ·

Soos die ANC gesê het: ” dont waste a good crisis”. Ons bou darem natuurlike immuun ook op, kon vroër, maar nou ja, daardie tyd is verby.

Althes ·

En ek wonder of die inenting nie selektief gedoen word nie

piper ·

enige land mag n enstof ontwikkel. nie een land in afrika het die vermoee nie. nou moet die koloniale lande weer uithelp en afrika staan bakhand maar net more draai hulle die rug op die weste en die weste word weer blameer vir alles. die cANCer regering het n groot gemors gemaak van alles wat hulle aanpak maar die massas bly stem vir hulle.

Anel ·

Daar is in elke geval nie ‘n manier hoe ek enigiets wat hier vervaardig sal eord in my sal laat spuit nie. Ek vertrou nie eens die griepinspuiting nie. Wat nog te sê van virus 19. En dan nog as dit hier gemaak word! Deur wie? Nee wat, hou maar verby…!

Lizelle ·

Ok, ons het dit. Jy wil nie die inspuiting hê nie. Jou keuse, maar ons wil dit nie elke dag lees nie.

Objektief ·

En intussen se hy Nee Dankie vir 15 miljoen gratis dosise Sputnik entstof

Jr ·

En om te dink hierdie is n president gmmhhhfff. Then he starts everything with my fellow South Africans ggghhhhmmmfff

Skillie ·

Moenie vergeet van “our people” nie en die wat glo dit sluit die minderheids groepe in sal moet wakker word soos Big Daddy se NEVER TRUST A COMMIE

Jacobus ·

Sorry mnr. die President. Die Apartheid verskoning het verval. Die het oorgegaan in Staatskaping en Plundering. (selfs in julle Binnekring). Waarom die huiwering met Invermektien ondersoek? – as dit nie werk nie, werk dit nie
maarr lyk my die “kickbacks” op vaksiene is onweerstaanbaar. Daai goeie vriende in die WGO en Chinese se bedoelings is nie edel nie. Die plundering het ons verder gereligeer na straathoek bedel! Die skande is voor julle deur!

Elize ·

Hulle sal eers oor n jaar kan begin om entstof hier te vervaardig. So wat doen ons inntussen.

Karen ·

Dat hy nog nie die virus gekry het nie gaan my verstand te bowe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.