Nuuskommentaar: Is Ethiopië se probleem nie juis oplossing vir Afrika nie?

‘n Tenk staan verlate langs ‘n pad in Ethiopië. Honderde mense is die afgelope ruk in konflik in die land dood. (Foto: Eduardo Soteras/AFP)

Een van pres. Cyril Ramaphosa se taaiste take as voorsitter van die Afrika-unie (AU) die komende jaar is die twis in Ethiopië wat dreig om weer in ’n volwaardige etniese konflik te ontaard. Daar word sowat 80 tale in dié land gepraat, hoewel daar amptelik minder as tien is, waarvan sommiges soos Afar net in streke amptelike status geniet. Ethiopië het meer as 110 miljoen inwoners.

Ethiopië en Armenië stamp koppe oor watter van die twee lande formeel die eerste Christenstaat geword het. Vandag is die Christendom steeds die grootste godsdiens in Ethiopië, met Islam die naasgrootste. Van besondere waarde is antieke klipkerke wat volledig uit reuserotsblokke uitgebeitel is, asook die aanspraak van die Ethiopiese Kerk dat die oorspronklike ark van die tien gebooie hom nou in Ethiopië bevind.

Die Ahmara is tradisioneel die heersende volk wat ook die keisers opgelewer het, maar is minder as die Oromo. Die Oromo-stam praat ’n Hamitiese taal, terwyl die Ahmara- en Tigray-stamme Semitiese tale gebruik.

Teen die sewentigerjare was daar in ’n stadium agt burgeroorloë in Ethiopië, met die Eritrese oorlog die bekendste. Terwyl Ethiopië nog ’n bykans verlore stryd gevoer het om die opstandige streke bymekaar te hou, het Somalië onder die leiding van sy kommunistiese diktator, Siad Barre, Ethiopië binnegeval om die Ogaden in Ethiopië, maar met grootliks ’n Somaliese bevolking, te annekseer. Die Somaliese magte is destyds hoofsaaklik deur Rusland opgelei en veel beter vir ’n konvensionele oorlog toegerus as die lendelam Ethiopiese troepe. Met die staatsgreep van die kommunistiese Haile Mengistu in Ethiopië en die afsetting van keiser Haile Selassie, het Rusland en Kuba hul jasse na die wind gedraai en Ethiopië te hulp gesnel en die Somaliërs veral danksy ’n groot pantser-oormag verdryf.

Kinders speel in ‘n straat in Gondar, Ethiopië. (Foto: Eduardo Soteras/AFP)

Mengistu, as diktator, het hierna grondwetlike veranderinge aangebring met die vernaamste kenmerk dat die etniese deelstate meer selfregeringsmagte gekry het en selfs ingevolge die grondwet in teorie onafhanklik kon word. Eritrea het intussen deur grootliks onverwante verwikkelinge wel onafhanklik geword. Hoewel Ethiopië ná die afsetting van Mengistu teoreties ’n demokrasie was, was daar ’n verloop wat die Tigray, wat as derde grootste bevolkingsgroep (32% van die bevolking) die regering effektief oorgeneem het.

Die Tigray en die Ahmara is verwant. Die Oromo-leier, dr. Abiy Ahmed, het premier geword en was die eerste persoon wat nie Ahmara of Tigray is nie wat regeringshoof kon word. Nog grondwetlike veranderinge het gevolg, maar sommige ontleders beskou dit as ’n oëverblindery vir die opneem van diktatorseienskappe. Die Tigray-oorlog was klaarblyklik die gevolg van die Tigray wat sy gedesentraliseerde grondwetlike regte wou opneem en die Oromo-magte wat in stryd daarmee die beheer wou oorneem.

Hoe klink dit of Ethiopië nie juis dít wat die vorige Suid-Afrikaanse regering probeer doen het om konflik te voorkom, maar deur die wêreld verwerp is, nou op die proef probeer stel nie?

  • Terwyl die AU die ou koloniale grense as onskendbaar beskou en daarom ook die onafhanklikheidspogings van die ou tuislande bitterlik teengestaan het, het die etniese streke in Ethiopië juis onafhanklikheidsregte verkry. Trouens, Max du Preez en Antjie Krog, wat Ethiopië as gaste van die Ethiopiese regering besoek het, was vol lof vir die plaaslike regering en het onder meer die reg op onafhanklikheid verdedig. Intussen het Eritrea sy onafhanklikheid verkry en Ethiopië het ’n landingeslote land geword.
  • Terwyl daar ’n storm om die kop van Helen Zille, destydse DA-leier, losgebars het oor ’n twiet dat kolonialisme nie net sleg was nie, het die Ethiopiese afgevaardigde by die Afrika-parlement in Midrand dit eintlik betreur dat haar land nooit gekoloniseer is nie, want die lande wat wel gekoloniseer is, het sodoende ’n groot infrastruktuur-voorsprong bo Ethiopië gekry.
  • In Suid-Afrika beskou onder andere die ANC dit as ’n groot sonde as iemand “tribalism” voorstaan. In geval van ’n politieke onenigheid word hierdie beskuldiging gereeld as wapen teen die ander gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Rentia ·

Nou wat van SA? Is ons nie lankal al in volskaalse oorlog nie? Almal wat op die wreedste moontlile manier vermoor word, wette wat net vir sekeres tel. Onlangs weer is HEELWAT voorbeelde.
Sorteer jou eie land uit voor jy ander probeer help CR! Man up!

Sarel ·

Hierdie mense leef niu al hoeveel jare in oorlog onstandighede en weet wat swaarkry is anders as due ander wat ek van weet.

JohanR ·

Altyd wonderlik in Afrika hoe daar nie geld is vir kos nie, maar altyd geld vir wapens! Die mense vrek van die honger terwyl twee lande oor en weer na makaar skiet!

Werner ·

Ons land is in sy peetjie maar ou Cyril gaan om n ander land te help.Ek voel jammer vir hulle want na ou Cyril daar was is dit klaarpraat met hulle

piet-van-die-namib ·

Rome brand af terwyl die keiser rondrits………………..

Nie Verbaas ·

Ramaphosa het tot nou toe geen sukses om probleme in Suid Afrika op te los nie. Hoe gaan hy dit in Ethiopie regkry. EFF se, doen en dreig wie hulle wil. Wat het CR tot dusver daaraan gedoen? Absoluut niks.

Vrystater ·

Dankie vir die goeie insigte, Herman.

Dit is so dat duisende jare vC, die tegnologie en konstruksie vermoë al bestaan het om reuse konstruksies te doen, soos die piramides en die klipwerk waarna jy verwys. En kundigheid is versamel, soos in die Biblioteek van Alexandrië.

Ongelukkig is dit nie in die aard van baie heersers en baie politici om die noodsaak en waarde van die langtermyn voortbestaan van die wetenskappe en tegnologie te verstaan, te bewaar, te ondersteun en verder te laat ontwikkel nie.

Afrika is tradisioneel onder die wanbegrip gebring deur sy heersers dat almal dieselfde intelligensie ontvang het. Unieke innovasie en prestasie is as toordery afgemaak, sodat daar nie meer, of dieselfde, bewondering vir die innoveerder as vir die maghebber sal wees nie.

Dit is een van die primêre redes waarom ook die prestasies van kolonialisme nie verkondig of erken mag word nie – dit ontbloot die onderprestasie, en tas die status van die tradisionele leierskap aan.

Vrijburger ·

Mmmm baie interessante artikel.

Jammer ek moet nou moedswillig wees – Gegewe Max and Antjie se goedkeuring en lof vir “etniese streke” in Ethiopie neem ek aan hulle is groot voorstaanders van Orania in Suid-Afrika?

Hoekom ·

As dit kom by afrika is daar nie nasies en lande nie, selfs die term “african” is nie eers van toepassing nie. Dit gaan alles oor stamme. Selfs in Suid Afrika met sy ANC en EFF stamme…

Anel ·

Ou CR kan nie eers ‘n land met 11 tale beheer nie, hoe wil hy dit doen in’ ‘n land waar daar 80 tale is? Hy kan nie eens die probleme van 60 milj mense uit sorteer nie, hoe wil hy 110milj mense uit sorteer? Kry eers jou eie huis in orde voor jy na ander kyk.

Rose ·

Baie dankie, sal verder gaan oplees hieroor. Kan sien Rusland het daar ook gaan inmeng om hulle kommunisme te verdedig. Ja, wat is die kanse dat ons as minderhede ook ons eie etniese ‘staat’ kan kry en bedryf.

John ·

Dié land se premier ontvang die Nobelprys vir vrede, maar hy weier buitelandse bemiddeling en onderdruk sy mense? Hóé bring jy die kloutjie by die oor? Die Nobel-mense moet hul huiswerk behoorlik doen!!

Genis ·

Kyk wat het Cyril aan n funktioneerde land soos SA gedoen… Ek hulle baie jammer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.