Nuuskommentaar: Is goeie nuus ’n ingesteldheid?

boekevat-blydskap-spring-van-vreugde

Foto: blisshabits.com

Die jong man is diep in sy gedagtes versonke. Hy het ʼn goeie vrou, goeie werk, ’n ryding, ’n huis… maar hy loop en verknies hom só oor iets dat hy kwalik die twee boemelaars van die kant sien kom. Miskien wou hy hulle nie raaksien nie – sy wêreld het nie nog ruimte vir die swaarkry van ander ook nie.

Maar dan hoor hy die een boemelaar bly uitroep toe hy by die vullisdrom kom: “Loof die Here – ʼn nuwe sak – en nog so dienlik ook!” Die jong man kry skaam.

Google se soekenjin het heelwat trefslae vir die uitdrukking: “Vooruitgang is ’n ingesteldheid.” Daar is ook trefslae vir “Bewustheid is ’n ingesteldheid” en “Jeug is ’n ingesteldheid.” In Nederlands kry ons “Geluk is een ingesteldheid.”

In Engels is daar ’n halfmiljoen trefslae vir die uitdrukking “Progress is a mindset.”

Maar word na “goeie nuus is ’n ingesteldheid” gesoek, is die oes bar – heeltemal niks. Miskien is dit omdat die uitdrukking, elke donker wolk het ’n silwer randjie, daardie ruimte opneem. Die afgelope Sondag was internasionale dag vir verdraagsaamheid, maar daar is ook geen trefslae vir “verdraagsaamheid is ’n ingesteldheid” nie.

Tog, in hierdie week waar probeer word om die goeie nuus raak te sien en uit te lig, kan tog vir ’n oomblik gedink word of goeie nuus nie dikwels ’n ingesteldheid is nie. Al word dit nie altyd gesê nie, is slegte nuus immers dikwels ’n ingesteldheid. Dit het goed gereën en die mielies groei dat ’n mens hulle amper kan hoor groei. “Ja, maar dink net hoe put hulle nou die grond uit.”

Of die Springbokke wen. “Ja, maar as hulle nie daai gelukkige onderskepping teen die verloop van die spel in gekry het nie, het die Bokke slae gekry.”

Soos oom Boy gesê het: “Jês, bat loeks at de skôrbord.” Punt.

Moet ’n persoon dan nie ʼn ingesteldheid hê om die goeie nuus raak te sien nie? Dikwels te midde van vragte slegte nuus?

Die uitbreek van ebola en die duisende sterftes is slegte nuus. Maar navorsers wat hard werk aan teenmiddels, vrywilligers wat hul eie lewens op die spel plaas, mense wat gesond word en die talle wat nooit die siekte opdoen nie – dit is immers goeie nuus. Wat sien ons raak?

En nee, dit sou nie goeie nuus wees as ons harte van klip sou hê en heeltemal gevoelloos staan teenoor diegene wat werklik deur slegte nuus verswelg word nie.

Sonskyn-rubriekskrywers het dit nie aldag maklik nie. Die bekende Ilse Bigalke kry gereeld ’n verwyt of twee teen die kop dat sy naïef is, maar kyk dan mis dat die mensdom regtig nodig het dat iemand die wolke se silwer randjie blink poets om te keer dat groot dele van gemeenskappe die gevoel kry van ’n donker put wat hulle gaan verswelg. Vir enkelinge wat ’n brose gemoed het, is dit dikwels net een te veel en hulle pleeg selfmoord.

Nie dat sonskynskrywers nie ook die sosiale druk van die donkerput-sindroom beleef nie. Bigalke begin haar mees onlangse rubriek soos volg: “Weens al die slegte nuus wat ons oordonder, gaan dit soms broekskeur om positief te bly. Die oorheersende sentiment is dat Suid-Afrika in die doldrums is en dat die rigtinggewende Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) met pres. Jacob Zuma as die keiser sonder klere bloot ’n papiertier sal bly… Gelukkig word ’n mens ook gereeld verras en omgeboul deur inspirerende inisiatiewe wat lig in die tonnel bring.” Die dankbare, positiewe kommentaar het dan ook nie uitgebly nie. Daar is ’n behoefte aan die positiewe nuus.

Miskien is dit hoekom satiriese skrywers wat die draak steek met die erns, en die ligte kant raaksien, so gewild is. Blouwillem Theron se bydraes bring dikwels perspektief met ’n glimlag.

Maar hoe hou die joernalis dit? Veral daardie joernalis wat dag vir dag slegte nuus en hartseer oopkloof of oopgekloof om hom beleef? Of dit nou die politiek is, of ongeluksverslae, of misdaad. Elke dag beleef die skrywer rou hartseer oopgespalk voor en om hom. Om afgestomp te raak is om ontmens te word. Om na die bottel te gryp, vererger net die probleem.

Elkeen verwerk dit op sy eie manier. Die een sal “hard” kuier om te ontvlug. Die ander neem aan sport deel. Ander lees ontspanningslektuur – of skryf dit selfs met al hoe meer joernaliste wat ook hul merk met ’n boek of twee, of selfs ’n hele paar maak.

Hierdie kommentaarskrywer kan bloot uit eie ervaring praat. Van 2011, Maandae tot Vrydae, soms twee, en selfs drie per dag, word nuuskommentare aan Maroela gelewer. Dit het al telkemale oor die verskynsel van massamoorde, padslagtings, plaasmoorde, gewelddadige stakings en harde, lelike politiek gehandel. Die skrywer is ook nie gevrywaar van siekte, sterfgevalle in die familie en ander persoonlike sake wat krap nie. Elke kompliment wat ’n leser gee is soos ʼn motiveringsinspuiting. ’n Belangrike motiveerder is die weeklikse rubriek, oom Herrie se kerrie, waar die skrywer “gedwing” word om minstens een keer per week met ander oë na die lewe om ons te kyk – om die humor raak te sien.

So is dieselfde parlementêre manewales in ’n nuuskommentaar en ’n rubriek van Oom Herrie se kerrie aangespreek, maar met heeltemal verskillende aanslae.

Dit sal seker feitelik verkeerd wees om te sê goeie nuus is altyd ’n ingesteldheid. Maar dat ’n positiewe ingesteldheid ook meer geleenthede bring om goeie nuus raak te sien en te waardeer, is ongetwyfeld ook so.

Die geheim is om ’n gesonde balans te handhaaf van kennis te neem van die harde werklikheid om ons, maar nie neuroties daaroor te raak nie, en goeie nuus raak te sien en te waardeer, sonder om voeling met die werklikheid te verloor.

Want vir so verre ons deur ons ingesteldheid iets daaraan kan doen, skuld ons goeie nuus aan onsself, en diegene vir wie ons omgee.

 

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Pieter ·

Herman Toerien…n klomp verhale in een goeie storie! Ek was ingesteld om hierdie goeie een van begin tot einde te lees. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.