Nuuskommentaar: Is humor en dronkbestuur pasmaats?

Argieffoto

Dronkies besorg ander mense dikwels heelwat pret. Dit blyk ook nie anders te wees met verkeersveiligheid nie, maar terselfdertyd ontvou ’n sosio-maatskaplike ramp hom voor ons oë.

Met die aanbreek van die huidige skoolvakansie, wat met ’n langnaweek gepaardgegaan het, is die land (al weer) geskok oor die geweldige aantal verkeersterftes. Slegte paaie, spoed, onpadwaardige voertuie, oorlaaide voertuie en dronkbestuur is alles as faktore uitgewys.

Tussenin is daar berigte wat die lagspiere prikkel. ’n Paar berigte tref die oog. In Kaapstad het ’n 27-jarige man probeer weghardloop nadat die metropolisie hom vir vermeende dronkbestuur voorgekeer het. Eers is hy sleg beseer toe hy oor ’n huis se ringmuur probeer spring het, maar die penne bo-op die muur besorg hom toe uiteindelik sewe steke. Sy ellendes het egter skaars begin, want die huiseienaar het hom vir ’n inbreker aangesien en met ’n sambok bygedam. Die metropolisie het hom van die woedende huiseienaar bevry en hospitaal toe geneem.

Die leser gaan hom nou werklik nie moeg maak oor of dit ’n humoristiese of komiese storie is nie, of dalk doodgewoon ’n tragedie.

In dieselfde berig word vermeld dat 53 mense in Kaapstad vir dronkbestuur aangekeer is. Is daar nie ’n tikkie humor daarin te lese dat 35 van hulle juis in die voorstad Wynberg aangekeer moes word nie … goed, goed, Claremont het tot dié syfer bygedra.

Aan die ander kant van die land, by die Krugerwildtuin, is ’n bestuurder se bloed getrek nadat hy teen ’n waghuis by die Paul Kruger-hek vasgery het. Dit was skaars twee uur nadat ’n ander motoris teen ’n toegesluite hek van die wildtuin vasgejaag en toe weggejaag het. In Centurion het ’n motoris wye draaie gejaag, en toe met sy voertuig teen ’n gebou gaan vasry – die polisiekantoor. Dis nie aldag dat ’n dronkbestuurder homself by die polisiekantoor gaan aanmeld nie. Die gesoen van die tannie met die lang nek het hom skynbaar vroegtydig droomland toe gestuur en hom so in die ongeluk laat beland.

Twee jong paartjies besluit om saam aan die KZN-kus te gaan vakansie hou.

Die twee manne sit agter mekaar in die kar, en so ook die twee vroue. Agter, tussen haar ouers, sit die een paartjie se tweejarige dogtertjie. Die twee manne deel ’n watersak wat by die venster uithang om koel te bly, en so ook die twee vroue. Met die bestemming nie meer te ver weg nie, word die kar afgetrek en die bestuurder moet in ’n ballon blaas. Die ballon verkleur dadelik.

Die dogtertjie het die petalje aanskou en begin huil. Sy wil ook in ’n ballon blaas. Die verkeersman gee vir haar ook een en sy blaas. Die ballon verkleur ook. Die verkeersman vra verskoning vir die ongerief, en meen die ballonne is seker oud. Die kar kan sy reis voortsit, maar kort voor lank kla die kleintjie sy is dors, maar sy wil nie van haar ma-hulle se water hê nie. Pa-hulle se water is baie lekkerder.

As ’n mens twyfel of jy met dronkbestuur met humor, komedie of tragedie te make het, gaan tik net die woord “dronkbestuur” in Netwerk 24 se soekargief in. Opskrifte soos: “8 sterf op Wes-Kaapse paaie”, “Talle aangekeer vir dronkbestuur”, “Vermeende dronk tref-en-trapper in PE aangekeer”, “Twee sterf ná dronkbestuurder beheer verloor”, “Man vas wat sê hy sal dronkbestuur as hy wil” en “65 000 boetes op SA paaie, 549 toegesluit”.

Ook Maroela Media se argief dui op ’n mengsel van hoofsaaklik tragedie, maar ook humor hier en daar, soos die dronkbestuurder wat die polisie vra om sy voertuig weer aan die loop te kry, ’n ‘dronkbestuurder’ wat meen hy is ‘allergies’ vir die hof, en die opskrif, “Slim vang sy baas vir dié ‘dronkbestuurder’”.

Volgens die webwerf van die Callagen-beweging is die vernaamste van vyf redes vir die land se hoë padsterftesyfer die gebruik van selfone (oorsaak van tot ’n kwart van alle ongelukke) terwyl bestuur word. Drank word tweede geplaas.

In 2017 berig News24 dat die Wêreldgesondheidsorganisasie die vorige jaar bevind het dat Suid-Afrika die hoogste aantal padsterftes het wat deur alkohol veroorsaak word.

Nog ’n tragiese afleiding is dat dit wat in mense se voertuie gebeur dalk net ’n spieëlbeeld is van hoe dit in Suid-Afrikaanse huishoudings gaan. Byvoorbeeld fetale alkoholsindroom (waar die kind voor geboorte reeds tot ’n lewe van agterstande gevonnis word), geldelike druk, werksverliese, ’n lewe in ’n rolstoel, kinders sonder ouers oor ’n ander drink en probeer bestuur het en vele meer. Dan is dit glad niks meer snaaks nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sieg ·

Ja totdat die dronkies iemand onskuldige pad gebruiker dood maak, is dit dan nog n grap of vermaak? Volgens wet behoort dronkies nie op die pad nie maar alles is mos nou reg selfs dit wat verkeerd is.

Oop oge ·

Dronkbestuur – net soos spoed (te stadig of te vinnig) – is potensieele moord en moet as sulks gehanteer word.
Daar is n plek en tyd vir alles…

Sonja ·

Jip, maar ‘n fyn balans tusen humor en tragedie. Dronk bestuurder het my Pa se lewe geneem, so dis nie vir my besonder snaaks nie. Wonder baie hoe anders my lewe so uitgedraai het as dit NIE gebeur het nie….

emily ·

Ek persoonlik dink nie hier is iets snaaks aan die storie nie. Hoeveel onskuldige mense boet met hulle lewens, want die selfsugtige alkolis agter die stuur dink net aan hom/haarself. Mense se lewens en eiendom bly in die slag. En ouers wat so gesuip met kinders in n kar ry, hoort nie kinders te he nie. Watse voorbeeld is julle.
Alle dronkies op die paaie moet toegesluit word vor poging tot moord. As jy wil suip, Bly dan tuis.

Johan ·

Die spoed op ons paaie is te stadig. Die regering verstreer ons mense met die belaglike lae spoed wat ons gedwing word om te ry. Dit gaan oor geldmaak vir hulle.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.