Nuuskommentaar: Is minderheidsregte regs?

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

In Suid-Afrika manifesteer die opneem van minderheidsregte gewoonlik as ’n “regse verskynsel” en ongewens. Maar word die wêreld in geheel beskou, is minderheidsregte dikwels juis ’n manifestasie van ’n liberale ideologie, en heel fatsoenlik.

“Solidariteit en AfriForum verwerp die polities gemotiveerde beskuldiging dat die benutting van grondwetlike regte ‘regs’ is of dat die uitoefening van regte ’n poging is om bevoorregting te verskans.” So skryf Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, onlangs in ’n artikel op Netwerk 24.

Drie lede van die Seunse Weenkoor was onlangs baie vinnig uit die blokke om adv. Gerrie Nel se besluit om by AfriForum aan die hoof van ’n private vervolgingseenheid te staan, te kritiseer. Die vierde lid het later soos ’n derde gelui ook ingeval.

Gerrie Nel verdien nie die onwaardigheid waarmee die Seunse Weenkoor oor sy kop losgetrek het nie. In die kriminele leeuwêreld daarbuite is die beoogde vervolgingseenheid ook geen luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid.

Trouens, die werklikheid is ligjare verwyder van die glans, magsvertoon en triomf wat vir vanaand beplan word om die parlementsopening en staatsrede te probeer inspan om pres. Jacob Zuma se beeld behoorlik afgestof te kry.

Dis ’n gedugte taak wat die ANC het om Zuma statuur te probeer gee. Volgens ’n gewildheidspeiling wat pas bekend gemaak is, Approval Ratings-meningspeiling van Ipsos en eNCA, behaal Zuma nou vier uit tien, met Julius Malema die enigste politikus wat getoets is, wat swakker as hy gevaar het.

’n Beduidende bevinding is dat Zuma se eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die gewildste onder die geselekteerdes was, selfs gewilder as adjunkpresident Cyril Ramaphosa en die DA-leier, Mmusi Maimane, asook minister Pravin Gordhan.

Tensy sy intussen tot ander insigte gekom het danksy haar flouerige ekskursie by die Afrika-unie, is die nuus oor Dlamini-Zuma se gewildheid vir diegene wat minderheidsregte ’n plek wil gun, baie slegte nuus. Tydens die Kliptown-beraad in 2012, en wat versoening in die oog gehad het, het Dlamini-Zuma ’n skerp aanval van stapel gestuur op diegene wat minderheidsregte nastreef. Maroela Media het destyds in ’n nuuskommentaar geskryf dat Dlamini-Zuma, toe minister van buitelandse sake, minderheidsgroepe verwyt omdat hulle nie bloot by die meerderheid integreer nie.

Die betrokke nuuskommentaar behandel vervolgens die kwessie of minderheidsregte ’n “regse” of “linkse” konsep is. Die bekende eertydse Nederlandse premier, Joop den Uyl, se regterhand in sy fel stryd teen apartheid, Max van der Stoel, is destyds pas oorlede. Daar kan geen twyfel wees nie dat hierdie twee here so links op die politieke bankie gesit het dat hulle gevaarlik na aan aftuimel was.

Maar ná sy dood is Van der Stoel nie vir sy stryd teen apartheid onthou nie, maar sy veldtogte en aksies ter bevordering van minderheidsregte. Hy het onder meer sweet van sy arbeid en finansies vir die stryd bygedra.

En in die Europese konteks is dit nie vreemd nie. Om ’n lidland van die Europese Unie te word, moet lande behoorlik aan minderheidsregte beslag gee. In Spanje het Katalonië en Biskaje ’n groot mate van selfregering gekry. België het soos Indië ’n etniese federasie geword, Skotland het weer sy eie parlement gekry, Wallis ’n verteenwoordigende liggaam, en selfs Cornwallis het ’n vorm van selfbestuur gekry.

En heel ironies het die Skotse parlement pas simbolies téén Brexit gestem, wat nog ’n vooropgesette idee ’n duik op die kop gegee, naamlik dat sosialiste nie ook nasionaliste kan wees nie. Die regerende Skotse Nasionale Party lê ideologies baie na aan die Britse Arbeidersparty.

In Frankryk is die mosie om die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke ná byna ’n eeu erken te kry, deur linkse partye gedryf, en verbete deur regse partye teengestaan.

In Suid-Afrika is die konsep van minderheidsregte egter duidelik “regs”. Dis nie konsekwent nie. Dlamini-Zuma se party is byvoorbeeld sterk ten gunste van ’n onafhanklike Wes-Sahara en ’n Palestynse staat.

Die vertolking van die Suid-Afrikaanse Grondwet geskied ook dikwels deur ’n ideologiese bril. By geleentheid, op RSG se program Kommentaar, het Max du Preez en Jan-Jan Joubert, albei openlik liberaal, die Grondwet as ’n unitêre grondwet beskryf. Nog ’n deelnemer, ook liberaal, prof. Christi van der Westhuizen, stuit hulle toe in hul spore deur na artikel 235 te verwys wat vir selfbeskikking, sowel geografies as korporatief, voorsiening maak.

Dit is egter so dat minderheidsregte nie so sterk soos individuele regte in die Grondwet geaksentueer word nie, en dikwels deur ander artikels wat die Grondwet aan die internasionale reg verbind, “ingetrek” moet word.

Nog verspreide bepalings in die Grondwet wat skynbaar aan minderheidsregte beslag gee, word nou onder meer in die hofsake oor die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigmedium by ’n paar universiteite getoets.

’n Bekende liberale voormalige akademikus en ontleder het by geleentheid die regses verwyt dat hulle die Grondwet benut om die liberale pilare daarvan om te trek. ’n Sinnelose opmerking soos dit mag wees, demonstreer dit tot die “skisofrenie” dat ’n duidelik liberale grondwet tog ook ankertoue na minderheidsregte kan hê.

In dié stadium lyk dit taamlik duidelik dat die Zuma-bewind baie Afrikaners, links of regs, tot die besef bring dat iets gedoen moet word om te keer dat almal saam met die res van die land die kreeftegang gaan. Met die mediadekking wat geweldsmisdaad en vergrype kry, help dit nie om die publiek te oortuig om die land meer oorhoofs en kontekstueel te beoordeel nie – daar lyk dit mediagewys ook soos ’n oorlogsone.

Ander beplan om die land te verlaat of maak hul kinders groot met die konsep dat hulle die land sal verlaat.

Om minderheidsregte as “regs” of outyds of ongewens af te maak, is nie “links” of liberaal nie, dis gewoon ’n miskenning van die internasionale reg.

In die ruïnes van ’n Maja-stad is ’n soort platform ontdek, wat deur navorsing geblyk het die plek te wees waarheen lede van minderheidsgroepe in die stad van tyd tot tyd geneem is om deur die egte Majas gespot te word en selfs met voorwerpe bestook te word. Dit herinner aan die Seunse Weenkoor wat woorde en beledigings na die Solidariteit Beweging en sy filiale slinger. En ja, dit dra daartoe by dat die hunkering na minderheidsregte as ’n manifestasie van regs voorgestel word, al is dit ook hóé vals.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
skorra

Weereens – soos die een van gister – ‘n weldeurdagte en insiggewende artikel dankie Herman! Boonop het jy dit reggekry om my gemoed met die “Seunse Weenkoor” sommer so paar grade te lig!

tamboti

100% Herman, geluister na vanoggend se gesprek tussen 8 en 9 op radio sonder Afrikaners – linkses glo om links te wees is reg, en alles wat regs is is verkeerd! Dit is soos om te argumenteer dat net blankes rassiste is. Linkses vind dit ook baie regverdig om dubbele standaarde te handhaaf soos: jy mag assosieer met wie jy wil maar nie dissosieer soos jy wil nie. Jy mag enige amptelike taal in die hof gebruik maar op universiteit slegs Engels of jy is verkramp. Jy mag teen niemand diskrimineer behalwe teen regse Afrikaners, dis inteeldeel jou plig om… Lees meer »

Job Schoeman

Bravo Herman!
Ongelukkig is diegene wat kennis moet neem (die ANC, Max du Preez en soortgelykes) horende doof en siende blind omdat die waarheid tog net nie moet inmeng met hul eie ideologiese vooroordele nie.

AL

Kritiek sal daar altyd wees, wie is in elk geval gepla oor die weense seunskoor se opinie? Ek steur my nie aan mense wat Solidariteit en Afriforum wil etiketteer nie. Indien jul nie vir ons regte opstaan nie, sou ons al lankal diep vertrap gewees het in die stof.

Nico K

Daar is groot verwarring wat is konserwatief (regs) en wat is libraal (links). Mev Merkel kry baie kritiek van regses oor haar beleid ten gunste van die Moslem asielsoekers. Maar in die Duitse politiek is sy aan die konserwatiewe kant (Christen demokraat). Regs is bloot mense wat nie graag verander en links is mense wat graag verander. En in daardie sin kan wat in een land as konserwatief gesien word wel in ‘n ander land liberaal wees.