Nuuskommentaar: Is my stem nutteloos?

Só gaan die nasionale stembrief op 7 Mei 2014 lyk Grafika: OVK (elections.org.za)

Só gaan die nasionale stembrief op 7 Mei 2014 lyk Grafika: OVK (elections.org.za)

‘n Opname  deur die RGN dui daarop dat 43% van die volwasse bevolking in Suid-Afrika meen die verkiesing is betekenisloos. Die basiese rede is dat politici nie vertrou kan word nie.

Gelukkig is ongeveer 79% ook van mening dat dit die burger se plig is om te stem.

In die Politieke Wetenskap is daar ‘n “gesegde”: “Die demokrasie is ‘n euwel, maar dis die beste euwel wat ons het.”

Voeg hierby nog ‘n gesegde: “In die demokrasie kry die burgers die regering wat hulle verdien.”

En dit, so getuig die geskiedenis, kan ‘n hele paar euwels oplewer. Daar is gevalle van die diktatuur van die meerderheid, daar is gevalle van minderheidsonderdrukking en selfs volksmoord, daar is gevalle waar die demokrasie self ingespan is om die demokrasie nek om te draai, soos toe Hitler na ‘n referendum diktator van Duitsland geword het.

‘n Grondwetlike demokrasie bied ‘n paar teenwigte wat temperend op die misbruik van meerderheidsoorheersing kan inwerk. Rede vir oorgerustheid is daar egter nie – Hitler het diktator geword ongeag die Weimar-grondwet, wat in baie kringe as die beste grondwet beskou word wat die wêreld nog gesien het. Formeel het die grondwet bly staan dwarsdeur Hitler se bewind…

Twee aspekte spruit voort uit die RGN se opname. Die eerste is die stelling dat politici nie vertrou kan word nie, en die tweede is die persepsie dat iemand se stem dus nutteloos sou wees.

Die idee dat politici nie vertrou kan word nie, kom wydverspreid oor die wêreld voor. Voor die aanvang van die wêreld ekonomiese krisis het ‘n moraliteitsbeweging in Wes-Europa ontstaan met veral twee teikengroepe in die oog – die politici en die media. Ná die krisis ingeskop het, het die media se aansien van skurk tot held verander soos die media gehelp het byvoorbeeld bankbase se inhalige rol te ontmasker vir hul aandeel in die krisis. Die politici het egter steeds onder verdenking gestaan; en ook soms goed gemotiveer deur verslae van Transparency International wat dui op korrupte politici – ook in Wes-Europa, wat breedweg van noord na suid vererger.

Die peilingsagentskap, Rasmussen, plaas gereeld uitslae oor hoe Amerikaanse kiesers oor hul verkose politici vel, en die uitslae is meestal skokkend. Volgens ‘n baie onlangse Rasmussen-peiling in die VSA meen net 19% van die respondente die federale regering hou hulle by die mandaat van die kiesers. In nog ‘n peiling meen 72% van die respondente dit sal beter wees as die bestaande verteenwoordigers nie weer verkies word nie, terwyl nog ‘n peiling toon dat 78% van die kiesers meen politici is minder eties as mense in ander beroepe. Voorts meen 63% dat kongreslede te veel betaal word. Net 27% meen dat die VSA is in die regte koers op pad.

Geen wonder nie ‘n vroeë peiling het getoon die meeste kiesers meen kongreslede wie se name lukraak uit die telefoongids geneem word sal beter as die verkose verteenwoordigers vaar. In Nederland het ‘n politieke krisis daartoe gelei dat die meeste kiesers in ‘n stadium gevoel het die “posman op die naaste hoek” sal beter vaar.

Die tweede vraag is of iemand se stem nutteloos is?

Die kort antwoord is dat dit van die kieser self afhang, en die sleutelwoorde hier is “volwasse kieser.” Hiermee word nie na die feit verwys dat iemand agtien of ouer moet wees nie – selfs ‘n senior burger kan hom of haar laat mislei en vir presies die teenoorgestelde stem as wat die persoon self in glo.

Daar is baie redes waarom iemand kan besluit om nie vir ‘n party te stem wie se beleid die naaste met sy eie ooreenstem te stem nie. Die persoon wat met party X se beleid en beginsels saamstem, maar die party word deur diktatoriale leierskap, nepotisme en korrupsie oorheers, sal goed doen om sy stem uit te bring by die party wie se beleid en beginsels die naaste ooreenstem maar wie se rekord beter is. Selfs al is dit ‘n klein party, want dit is en bly ‘n infame leuen dat stemme vermors word deur vir klein partye te stem. Geen volwasse kieser behoort vir daai bog te val nie, soos destyds getoon is toe Tony Leon woedend op Marthinus van Schalkwyk se stellings in dié verband gereageer het. Vandag is daar van Van Schalkwyk se NNP wat die groter party was niks oor nie, en die DP, toe ‘n klein partytjie, is nou as die DA die amptelike opposisie – danksy kiesers wat hulle nie laat mislei het nie.

Met aanduidings dat die ANC moontlik nie die 50% stemme in Gauteng en die Noord-Kaap kan haal nie, raak die moontlikheid van ‘n koalisieregering in dié provinsies groter, en die volwasse kiesers wat na beter omstandighede streef sal nié wegbly nie, want elke stem tel.

Waarna behoort die volwasse kieser te kyk wanneer hy sy kruisie gaan trek?

–       Stem ek met die party vir wie ek stem se beleid en beginsels saam? Dis immers waaroor die demokrasie handel, en die staatkunde is geen “Survivor” TV-reeks waar vreemde rasionale gebruik word om iemand uit te stem nie.

–       Veg die party bo sy gewigsklas? Met ander woorde, gebruik dit die hulpbronne wat tot partye se beskikking is behoorlik om ‘n verskil te maak? Hoeveel sake word voor die howe gebring, en hoeveel klagtes soos haatspraakklagtes word voor die Menseregtekommissie gebring, en hoeveel sake van vermeende korrupsie word by die Openbare Beskermer aanhangig gemaak? En as jy sterk oor Afrikaans voel, hoe seker maak jy dat jou party Afrikaans se belange bevorder, deur onder meer ook gereeld Afrikaanse tekste in sy nasionale mediaverklarings te voorsien?

–       Hoe lyk die kwaliteit van die party se leierskap? Is daar deelnemende bestuur, of ‘n diktatoriale leierskap waar net die grootste gunstelinge as sekondêre leiers aan die party “opgedwing” word?

–       Die kieser bly in sy hoedanigheid as kieser dieselfde mens as die persoon in sy hoedanigheid as eggenoot, gesinsman, klublid en lidmaat staan. Net so min as wat dit gepas is dat iemand in die kerkraad met sy aangeplakte stem waardige woorde bid, en dan vloekend op sy vrou en kinders wat in die motor op hom gewag het lostrek, so min is dit gepas dat iemand se politieke oortuigings verskil van dit wat hy in ander sfere van sy lewe predik. Iemand kan tog nie in een hoedanigheid teen dobbel, en ‘n ander vir dobbel wees nie.

Dan is dit ‘n volwasse kieser. Maar dit alles word geneutraliseer wanneer hy versuim om sy kruisie tydens ‘n verkiesing te trek.

En net so is dit nie juis ‘n teken van volwassenheid as hy wegbly en dan sy mond gaan uitspoel oor alles wat die regering doen, wat hy in werklikheid met sy wegblystem aan bewind gehelp het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik Lotz ·

Gaan stem,want elke stem tel en kan n verskil maak. As jy sterk voel oor Christelike beginsels en minderheidsregte en is gekant teen regstellende aksie,swart ekonomiese bemagtiging en heropening van grondeise,stem dan VF Plus. Belangrikste ding is om wel te gaan stem!

Frans dav ·

As jy sterk voel oor Christelike beginsels, moet dan NIE gaan stem nie. As jy stem dan aanvaar en neem jy deel aan ‘n goddelose bestel wat onwettig onstaan het in 1994. As jy vir die VF plus stem sal jy net die beheer daarvan van ‘n salaris voorsien vir ‘n tydjie. Daar sal geen verandering in regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, heropening van grondeise, ens, ens kom nie. Ek is nie ‘n profeet nie, eenvoudige graad 0 logika wys dit vir my. Jou NIE-stem sal baie meer beteken vir jouself en vir die land.

Frik Lotz ·

As jy nie gaan stem nie,bevoordeel jy net die ANC. Moet dus nie na die tyd kla oor die ANC en DA nie. Daar is nou n kans om iets te doen. Gaan stem en stem vir n party wat standvastig en konsekwent is. Stem VF Plus!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.