Nuuskommentaar: Is ’n beweerde Zuptakrasie afgeweer?

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

Verskeie mediaberigte en aansprake deur sekere politieke partye impliseer dat daar ’n gesamentlike poging van pres. Jacob Zuma en die Guptas is om ’n beergreep op die regering te verkry, en so die grondwetlike demokrasie nek om te draai. Dit is te vroeg om besliste oordele te fel, maar ’n kykie na van die waagmoedige mediaberigte is tog ontstellend.

Die afgelope aantal jare is in die strome “Zuma-bashing”-nuusberigte vele woorde, soms vindingryke “nuutskeppings”, gebruik om die Zuma-bewind te beskryf. Kleptokrasie is maar een van die erkende woorde. Grondwetlike demokrasie, daarenteen, is nie sommer buite die ANC met die Zuma-styl geassosieer nie.

Uit ’n deel van die politieke spektrum, veral die EFF en nou die SAKP asook die media is daar ’n opvatting dat pres. Jacob Zuma en die Gupta-familie met ’n strategie besig is of was om effektief beheer oor die land en die hulpbronne oor te neem, en die land dan netjies uit sy grondwetlike demokrasie (of wat daarvan oor is sou sommiges sê) te verneuk.

Die aanstelling van David van Rooyen as minister van finansies, gerugsteun deur karperde wat na bewering stewig uit die Gupta-stal kom, het die berigte en gerugte stukrag gegee. En met die een meevaller na die ander wat Zuma se seun, Duduzane, na berig word by die Guptas kry, kry die beeld wat geskep word vlerke. BizNews.com se opskrif spreek duisend woorde: “Busted: Guptas gifted Zuma son his stake 3 weeks before stinky Optimum deal.”

En laat ’n mens dadelik sê: Die Guptas ontken dit en sê hulle verwelkom ’n ondersoek wat deur ’n SAKP-leier voorgestel is.

Die Guptas se probleem is dat daar al net te veel voorvalle was, soos Waterkloofgate. Zuma se probleem is dat sy, en van sy kinders, al te veel in berigte geïmpliseer is soos om effektief, en in ruil vir mynbouregte, pres. Joseph Kabila en ander Sentraal-Afrika-leiers te help om hul lande se minerale rykdomme te plunder. Hoewel die instuur van Suid-Afrikaanse soldate soms mooi strook met VN-missies, is daar ook te veel gevalle waar dit lyk of hulle gestuur is om kleptokrasieë te ondersteun waarvoor iemand plaaslik buite-om die staatskas beloon word.

Maar dit waarvan Zuma en die Guptas nou beskuldig word, kan as niks anders as Zuptakrasie beskryf word nie. Afgesien van BizNews.com se berig hierbo vermeld, het die volgende ook verskyn wat ’n donker wolk oor Zuma se bande met die Guptas werp: Daily Maverick met ’n artikel “Alliance? SACP vs Guptas is SACP vs Zuma,” Rand Daily Mail met ’n artikel “REVEALED: How Zuma planned to capture the country” en Eye Witness News met ’n artikelGupta family welcomes SACP’s call for judicial inquiry.”

Hoewel die media uiteraard versigtig aan hul woorde kou is daar ook waagmoedige stellings.

Of daar werklike wedersydse bevoordeling is of nie, of bewys kan word of nie, is dit geen gesonde grondwetlik-demokratiese beginsel dat ’n uitvoerende regeringshoof openlik vriendskapsbande handhaaf wat op die oog af minstens bedenklike elemente het nie. En voorheen het Zuma pens en pootjies op talle aanklagte van onder meer bedrog in die hof beland in ’n saak wat met Shabir Shaik verband hou. Die aanklagte teen Zuma is op omstrede wyse teruggetrek en word nou ná harde werk en deursettingsvermoë van die DA in die grondwethof getoets.

En dis nie al nie. Daar was ook berigte oor hoe Zuma by ander meevallers sou gekry het om sy Nkandla-woning te finansier totdat die staat ruim kom “uithelp” het.

Voorts gebruik min politieke ontleders nie die woord “patronaatskap” om die karakter van Zuma se bewind en sy greep op die ANC te beskryf nie.

Zuma se probleme met die Guptas is nie net tot die SAKP en die EFF beperk nie. Binne die ANC is daar ook duidelik ongemak. Trouens, dit lyk of die bo-struktuur van die ANC met Nene-gate die streep in die sand getrek het, en gesorg het dat Pravin Gordhan as minister van finansies aangestel word. Hieroor is Zuma opsigtelik nukkerig, en dis duidelik dat daar nou ’n magstryd tussen Zuma (en die Guptas?) en die ANC-leierskorps is, en dat Gordhan onder enorme druk geplaas word. Gordhan het onder meer te kampe met ’n openlik rebelse hoof van die Inkomstediens, Tom Monyane. Gordhan mag hom nie afdank nie, omdat die grondwet bepaal dat slegs die president die kommissaris van die Inkomstediens mag aanstel.

Gordhan het weer ’n stewige hefboom in die hand. Hy weet dat as Zuma hom sou afdank, of as Gordhan self besluit om te loop, die ekonomie ’n knou gaan kry wat die Nene-gate-voorval na kinderspeletjies sal laat lyk. Min mense meen Zuma is uitsonderlik begaan oor wat die ekonomie gaan maak, maar hy weet ná Nene-gate dat sy eie party hom dan waarskynlik in die pad gaan steek. Die gevolg is ’n skaakspel tussen twee magsblokke. Ander meen dis eerder poker, of sommer doodgewoon bingo wat oor die land se toekoms gespeel word.

Intussen kan daar min twyfel wees dat die media sy waghondfunksie na behore speel om die waarskynlikheid van ’n Zuptakrasie-bedreiging vir die land te ondersoek.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann Marx ·

Die volgende stap is om die Media te muilband, want hulle is die doring in Zums se vlees….Hulle hou net nooit op om met die een “onthulling” na die ander vorendag te kom nie. Voor internet en sosiale media kon leiers…..eksuus “rulers” maak net soos hulle wou, en niemand sou woord daaroor rep nie. Vandag se dae lyk dit heel anders, en mense begin dink. Die ander “rumour” wat rondvlieg is dat die gupta vliegtuig wat op Waterkloof lugmagbasis geland het, nie daar geland het om bruilofs-gaste af te laai nie…..maar om ‘n hele paar ton goud en banknote op te laai….want daar’s nie “doeane” nie??

Boervrou ·

Siener van Rensburg praat in sy boek oor die geel nasie wat gaan regeer. Die Guptas. Die Indiers gaan regeer

Gatvol ·

Maak nie saak wie regeer nie, kan ons ophou om die land deer die “modder” te trek en uit te verkoop wat het geword van ons sal opoffer wat jy vra?
En asb die rassisme wa is lam gery, dit werk twee kante toe….

Henk ·

N baie goeie vriend van my ,wat onderandere in die steenkool bedryf is,het verledejaar,na hy by n geselligheid van die guptas was gesê,dat die land word nie meer deur zuma regeer word nie,maar wel deur die guptas,alles wat hy vertel het is besig om uit te speel.

johannes Meintjes ·

… en 55 plus miljoen landsburgers en hulle politieke partye of kerke is blote magetelose kantlyntoeskouers?

johannes Meintjes ·

… en 55 plus miljoen landsburgers en hulle politieke partye of kerke en instansies is blote magtelose kantlyntoeskouers?

Tom ·

Bingo… Skaak… En Poker…. Klink soos ‘n drog fantasie gesien in die agtergrond van die land se toekoms. Waar bevind ons onsself? Waarheen sê die slimmes moet ons nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.