Nuuskommentaar: Is ons slagoffers of gewaande slagoffers?

Argieffoto

Argieffoto

“Die kultus van slagoffer wees” noem John Stossel dit. Stossel is ’n bekende Amerikaanse TV-aanbieder en rubriekskrywer. Hy wonder of hy nie al self die slagoffer hiervan was nie. By geleentheid het hy as joernalis gesê Amerikaanse rofstoei is ’n klug waarna ’n stoeier hom op albei ore gemoker het. Hy het hierna vreeslike oorpyn gehad. Toe verneem hy die stoeier is deur die promotor, Vince McMahon, aangesê om Stossel reg te sien. Stossel het McMahon vervolgens gedagvaar. As deel van die regsverloop moes hy ook ’n dokter wat deur MacMahon se regspan aangewys is, gaan spreek wat verklaar het Stossel se pyne is juridisomaties van aard. Dié uitdrukking, wat hy nie geken het nie, beteken voortdurende pyn waaraan die lyer “vasklou” omdat hy in ’n hofsaak gewikkel is.

Dit is verwant aan psigosomatiese pyne. Kort nadat die stoeiliggaam ’n skikkingsbedrag aan Stossel betaal het, het die pyne begin verdwyn.

In die artikel het Stossel dit egter hoofsaaklik oor diegene wat as iets met hulle verkeerd gaan, altyd sê hulle is die slagoffer van hierdie of daardie rede, selfs ’n eie geestesafwyking. Dis mense wat nie bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die gevolge van hul brouwerk nie.

En hiervan sien ons in Suid-Afrika heelwat. Tot Jan van Riebeeck is al deur pres. Jacob Zuma geblameer vir alles wat in die land verkeerd is. Hy beleef heel opsigtelik jansomatiese pyne. Ander sal seker apartosomatiese pyne beleef, en nog ander seker affirmatosomatiese pyne.

Solidariteit se toekomsberaad op 10 Oktober wil breek met hierdie simptoom en aanbeweeg na wat ons self kan doen. Net jammer ’n sekere politieke dampkring meen “self” is ’n vloekwoord.

Natuurlik is daar werklike slagoffers. Om die waarheid te sê, daar is mense, soos oorlewendes van plaasaanvalle, wat aan viktimologie ly. Dit is ’n diep trauma wat nie wil weggaan nie, aangewakker deur die gevoel van geïsoleerdheid en volgehoue blootstelling. Hierdie mense moet op allerlei maniere ondersteun word.

Dit is een ding vir ’n persoon met kanker om te sê hy gaan nie ’n kankerlyer wees nie maar ’n kankervegter, maar ’n ander ding as die persoon wat gediagnoseer word, meegedeel word hy is te laat gediagnoseer en het net ’n kort rukkie om te leef.

En ja, daar vind wonderwerke plaas.

Maar in die breë gemeenskap beleef rubriekskrywers dat diegene wat verkies om slagoffers te wees, veel meer is as diegene wat iets sinvols omtrent presies dieselfde stel feite wil doen. Rubriekskrywers, al raak hulle hoe sat vir die negatiewe, moet egter ook die oog op die lesersgetalle en -terugvoer hou. Geen media wil immers ’n rubriekskrywer, hoe knap ook al, hê wat nie lesers trek nie. (In alle billikheid, Maroela Media het nog nooit druk van hierdie aard op hierdie rubriekskrywer uitgeoefen nie.)

Maar onbewustelik neem die rubriekskrywer waar hoeveel reaksie hy kry. Sommige rubriekskrywers leef eenvoudig vir die reaksie en sal ook die grootste klomp prul opdis omdat hy weet dit roer die lesers. En as dit werk daarmee volhou tot dit nie meer kan nie. Hy is immers nie opgelei en toegerus om enkeldimensioneel met elke rubriek die getalle te trek deur in Zuma-bashing te verval nie.

Ander probeer weer werklik informatief-toeligtend met nugter beskouings wees al lewer dit dikwels min Facebook-“shares” van die hoofblad af op.

Dis so maklik soos van die bed afval om ’n rubriek te skryf wat die metertjies laat bont hardloop, en groot hoeveelhede leserskommentaar trek. Maar dit dra niks tot die lesers se verstaan van wat in die wêreld aangaan by nie. Dit ruim geen waninligting op nie, soos gereelde bewerings dat aardbewings toeneem en aanduidend is van die einde van die wêreld wat op hande is.

Die aktualiteitsrubriek spreek immers tot die leser se intellek, en is veronderstel om dit op ’n beredeneerde wyse te doen.

“Bôrieng” is die reaksie dikwels, soos wanneer die druk waaronder Afrikaans ter sprake kom aan die bod geplaas word. Maar laat Steve oor dieselfde gevolgtrekking Die Stem sing, dan weergalm die vlaktes.

Miskien onderstreep die jongste klompie Maroela-nuuskommentare se Facebook-“shares” van die hoofblad af die punt die duidelikste, met die jongste eerste genoem:

  • Moenie oor misdaad “komkommer” – misdaad is onder beheer, sê minister. 164 en sal waarskynlik nog vanoggend styg, met 12 lesersdeelnames
  • G*tvol vir korrupsie. 55 en geen leserskommentare
  • Katalane stem wéér vir onafhanklikheid. 94 en 13 leserskommentare
  • Kremlin-Afrikaners. 149 en 30 leserskommentare
  • Erfenis word weggetransformeer. 257 en 15 leserskommentare
  • Friese lesse vir Afrikaanssprekende voor Erfenisdag. 55 en 15 leserskommentare. (Die skrywer het per e-pos ’n hele paar gelukwensings gekry.)

Daar was voorbeelde soos “Waar kom die nag van die lang messe vandaan?”, oor Steve Hofmeyr en ander wat meer of baie na-aan ’n duisend “shares” van die hoofblad af gekry het. Net ’n blinde rubriekskrywer sal nie gou kan uitpluis op watter soort onderwerpe en aanslag (selfs al spreek die inhoudelike van lesersreaksies die teenoorgestelde sentimente as die “shares” uit) hy kan bly vuurslaan om die getalle te trek nie. En ironies, dit is maar te dikwels ook dit wat die minste navorsing verg (in min nuuskommentare gaan daar nie minstens anderhalf uur se navorsing in nie, al word alles nie gebruik nie en meestal van parate kennis gebruik gemaak om die gemoedere lekker op te sweep).

Maar Maroela Media is nie ’n kômmin nuuswebwerf wat sy meer intellektuele lesers op die ashoop gooi nie. Om baie meningsvormers as lesers te hê mag moontlik as prys nie teen algemene getalle opweeg nie, maar bly ’n belangrike prys.

Die rubriekskrywer weet hy kan nie elke dag as potroerder vir die aktuele debat almal tevrede stel nie. Hy kan probeer, maar durf ook nie primêre take afskaal nie. Hy moet terselfdertyd fyn van draad wees om die sentimente van die lesers te “lees” om te kan ontgin, maar terselfdertyd ’n vel soos ’n renoster om die tipe leserskommentaar wat soms geslinger word (hoe minder oor die aard en vermeende karakter van die “outeurs” gesê word, hoe beter), die hoof te kan bied.

Feite, feite en nogmaals feite moet die grondslag vorm, en dit help as die rubriekskrywer gevorderde opleiding het om propaganda maklik en betyds te kan eien en buite rekening te laat. Omdat die internet so ’n potente middel vir propaganda en samesweringsteorieë, asook ontkennings geword het, moet dit egter soms aangeraak word, wetende dis ’n kop in die byenes steek met min, indien enige sukses.

En dan is daar nog sommer ghwarre ook. En knap rubriekskrywers met ’n beperkte rakleeftyd, omdat hulle by feite probeer hou en verguis word.

Ja, hulle is soms ook slagoffers, en die “wát” wat van hulle slagoffers maak, is legio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Strussbob ·

Soo waar is hierdie vars nugter koue beker water. As diegene aan die hoof van Media net hulle eie “onderskrywers” wil leer om met die volle waarheid verantwoordelik weer te gee en so neer te pen sal daar minder wederstrewigheid en verwardheid heers op die hoek pale en opskrifte nie ons moedeloos laat gryp na ons voorgeslagte se Britse paspoorte nie!!

Bruno Stef ·

Herman is dit nie maar n moontlikheid dat die publiek al jare lank geen platvorm gehad het om hulle werklike teenkanting teen die eensydigheid van n klein groepie meningvormers te moes lees en aanhoor nie.Jare terug was “selfbeskikking/selfwerksaamheid soos vandag n vloekwoord en uitgemaak as dat die ver-regse Afrikaner dan kwansuis laer trek of volstruis politiek be-oefen maar al die verwysings na behoudende mense was net om hulle belaglik te maak en te verkleineer.Dit is die eerste keer dat die algemene publiek ook die geleentheid gegun word om hulle menings te lug en om n saak aangaande ons eie welstand te debateer maar soos dit maar is sal almal nie dieselfde standpunte he nie ek aanvaar dit so.

PIET DU PLESSIS ·

Spyker op sy kop. Moenie jou integriteit ooit opoffer vir populariteit nie, Herman.

Grassie ·

Herman – daar is genoeg ander webwerwe waar mense sensasie en snert kan gaan lees as hulle wil. Ek hoop nie Maroela verander ooit hul standaarde nie want dan sal geloofwaardigheid ook in die slag bly. Ek sien altyd uit na jou rubrieke. Hulle haal net soms ‘n mens se kommentaar te maklik af.

Winston ·

Stem maar net saam met jou Grassie. Herman is n realistiese denker in ons tye.

Zach Coetzee ·

Dan is daar ook die feit dat soveel voel hulle menings word nie in die algemene media – Maroela uitgesluit- gehoor nie wat hulle geneig maak om al hoe harder te praat totdat hulle naderhand figuurlikerwys skree – of te wel ekstreem raak. Dit is dalk ‘n verklaring vir ‘haatspraak’ in die sosiale media. Dit maak ook sinvolle beredeneerde kommentare meer uitdagend – verlal in die lig van die beperkte tyd waarin ‘n kommentaar sinvol voel nadat ‘n berig geplaas is.

Zach Coetzee ·

Dan is daar ook die feit dat soveel voel hulle menings word nie in die algemene media – Maroela uitgesluit- gehoor nie wat hulle geneig maak om al hoe harder te praat totdat hulle naderhand figuurlikerwys skree – of te wel ekstreem raak. Dit is dalk ‘n verklaring vir ‘haatspraak’ in die sosiale media. Dit maak ook sinvolle beredeneerde kommentare meer uitdagend – veral in die lig van die beperkte tyd waarin ‘n kommentaar sinvol voel nadat ‘n berig geplaas is.

Adoons ·

Herman, ek is nou nie juis iemand wat gereeld kommentaar lewer op artikels en berigte nie – wie stel nou in elk geval belang in my opinie! Ek wil jou egter verseker dat ek elke iedere kommentaar uit jou pen met sorgvuldigheid en groot waardering lees. Die aantal leserskommentare wat ‘n artikel ontlok is nie ‘n aanduiding van die kwaliteit van die artikel nie, en ook nie van wie dit gelees het nie. Trouens, ek wil my verstout (en dalk my mede-lesers se gramskap op die hals haal) om te sê dat die leser wat soos ‘n foksterriërtjie vir elke klip blaf, dalk juis die een is wat nie altyd moeite doen om by die lees van jou kommentaar uit te kom nie. Baie dankie vir jou dinkwerk en doen so voort!

Pieter Engelbrecht ·

Baie dankie vir jou insig en analise. U beklemtoon die belangrikheid van feite en ek wil graag saamstem. My probleem is egter dat die “feite” in meeste gevalle in elk geval ook net bespiegelinge is of doelbewustelike misleiding. Neem byvoorbeeld die polisie statistiek. Kyk ‘n bietjie of u die nuutste stats met verlede jaar se statistiek kan korreleer en neem dan verder in ag dat hierdie statsitieke in elk geval tot 36 maande oud is dws die integriteit daarvan is onder verdenking en so kan ‘n mens omtrent elke bron begin betwyfel ( onthou nog hoe verkeerd die inflasie/VPI ens, ens bereken is)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.