Nuuskommentaar: Is ons verkiesing gesteel? Of is die vraag alarmisties?

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria op stemdag. (Foto: Tania Heyns)

Met die konstitusionele hof wat reeds die konsep van “genoegsaam” vry en regverdig as aanvaarbaar by die deur uitgevee het, stroom die klagtes oor die verkiesing in, en is dit ’n ope vraag of die standaard van “genoegsaam” behaal is, en selfs of die Suid-Afrikaanse eiesoortige konsep van wat middelmatigheid is, gehaal is?

Trouens, die DA se regspan is op gereedheidsgrondslag gebring, terwyl die Vryheidsfront Plus ook nog nie die regstryd oor die BLF se onwettige deelname aan die verkiesing laat vaar het nie. Is dit wat krom en skeef was, genoegsaam om die vraag te kan vra of die verkiesing minstens ten dele gesteel is?

Vreugde onder ondersteuners van die Vryheidsfront Plus oor vroeë aanduidings dat dié party in minstens sekere dele sterk gegroei het, kan effe gedemp word deur talle aanduidings dat die kiesproses die mees onbeholpe sedert 1994 deur die OVK bestuur is.

Jan-Jan Joubert skryf op Maroela onder meer dat dié swak vertoning van die OVK die demokratiese proses duur te staan kan kom. Bewerings oor korrupsie met die verkiesing het ook al meer in omloop gekom.

Presies wat is “genoegsaam” vry en regverdig? Op die oog af is daar ’n enorme verskil tussen wat internasionaal onder die begrip verstaan word, en wat in Suid-Afrika, en ander SAOG-lande in sy sleurstroom, daaronder verstaan word. Die Suid-Afrikaanse konsep is blykbaar sterk gevorm deur die gewoonte om die erg gekookte Zimbabwiese uitslae wat ge-Mugabe was, as “genoegsaam” vry en regverdig te verklaar. Dit, na Verslaggewers sonder Grense daarop gewys het dat een so ’n verkiesing nie vry en regverdig kon wees nie, onder meer omdat daar geen persvryheid was wat kiesers objektief kon inlig nie. Ander spesifieke gevalle van onderdrukking is ook met bewyse gepubliseer.

Trouens, die kwessie van genoegsaam vry en regverdig is reeds in die Suid-Afrikaanse howe getoets en van die tafel gevee. Op 1 Desember 2015 het Maroela reeds ’n uitspraak van die konstitusionele hof bespreek waarin die hof gelas het dat ’n herverkiesing in nege Potchefstroomse wyke moet plaasvind. Die hof het die konsep van “genoegsaam” vry en regverdig vir ’n ses uit die veld gemoker. Maroela het toe die vraag gevra of die OVK sal kan aanpas by ’n juridiese raamwerk waar daar nie ruimte vir middelmatigheid is nie. (Baie Suid-Afrikaners sal dit wat “middelmatigheid” genoem word eerder as uiters swak beskryf.)

Al die berigte oor ongerymdhede, onbeholpenheid, kiesbedrog, praktykprobleme en, oplaas, die weer wat in ’n groot deel van die land nie saamgespeel het nie, laat inderdaad die kop duisel, en laat ernstige vrae ontstaan oor ’n verklaring van die OVK waarin aangedui word hulle is in hul noppies met hoe sake verloop het. In die verklaring word egter geen melding gemaak oor verskeie sake wat verskeie partye die horries gegee het nie.

Verskeie gevalle van kiesers wat twee keer gaan stem het nadat die ink waarmee hulle gemerk is, afgewas is. Ultra-violet skandeerders wat selfs die afgewaste ink kan waarneem was glo in baie gevalle buite werking. Die eerste groot storm was dat baie stembriewe wat deur kiesers wat spesiale stemme uitgebring het, nie agterop die amptelike stempel van die OVK op gehad het nie, en daardie stemme dus nie getel gaan word nie. In hierdie stadium het die OVK aangedui dat dié stemme wel getel sal word, maar soos adv. Anton Alberts van die VF Plus aangedui het, was baie van hierdie spesiale stemme reeds met die gewone stemme gemeng, en gaan dus in elk geval as bedorwe getel word.

In die Bloemfontein-omgewing het die eendeweer sestien tente wat as stemburo’s gebruik is, laat ineenstort. Nog tente was onder water en kon kwalik gebruik word.

By verskeie stempunte het die ink boonop opgeraak, terwyl stembriewe opgeraak het, en altesaam vyf stempunte glad nie geopen het nie. Onrus het ook veroorsaak dat ’n aantal stempunte baie laat geopen het.

Die vraag is of die baie ongerymdhede die gevolg van onbeholpenheid of ’n bedrogkultuur is? Beide moontlikhede vereis dat die skalpel diep ingelê moet word.

Boonop is daar nog ’n spook in die kamer wat nou nie eens genoem word nie, en dit is die ooglopende onwettige deelname van die BLF aan die verkiesing. Die BLF het enduit aan die verkiesing deelgeneem deur vol te hou lidmaatskap sluit blankes uit terwyl rasuitsluiting partye volgens wet van verkiesingsdeelname uitsluit.

Hierdie koppigheid van die OVK om nié met die wet in pas te kom nie, bring nie net ’n slegte smaak in die mond nie, maar bring die geldigheid van die verkiesing in die gedrang.

Waarnemers soos Roland Henwood van die Universiteit van Pretoria se verweer dat die OVK se “goeie reputasie” die huidige verkiesing geloofwaardig maak, word nie deur almal gedeel nie. Veral partye wat volhou dat die OVK in vorige verkiesings baie van hul klagtes geïgnoreer het, is volop. Die uwe, wat self tydens ’n verkiesing ’n waarnemer was, het self ervaar hoe ’n OVK-beampte ná die stembusse gesluit het, ’n pak stembriewe in die stembus ingegooi het wat met ’n harde plofslag onderin die stembus geland het. Haar verweer was dat sy ook mag stem. Dit is saam met ’n groot aantal ander ongerymdhede gerapporteer maar volgens die OVK was daar geen klagtes van daardie stempunt nie.

In Suid-Afrika word ’n foutfaktor van sowat 16% met sensusopnames as aanvaarbaar beskou. Die regstellings vir akkuraatheid word deur steekproewe en ander logaritmiese en algoritmiese modelle akkuraat geskaaf. Hierteenoor beskou die VSA ’n foutfaktor van twee tot drie persent as problematies.

Met verkiesings, waar selfs net een stem ’n enorme verskil kan maak, geld die beginsel dat elke stem tel. “Regstellings” behoort nie aan logaritmes vir die verfyning van akkuraatheid oorgelaat te word nie.

Die vraag is nie of die foutiewe plasing van elke stem “genoegsame” korrektheid bepaal nie, maar hoe ’n groot persentasie van die verkiesing gesteel is. Hoewel net een van die faktore, kan daar ook ’n verband getrek word tussen die afname in stempersentasies en vertroue in die stemproses. Dit is ’n onderwerp op sy eie en sal môre aan die bod kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Andreas ·

Kan die OVK dan nou so ‘n verkiesing wat vol soveel gate is “vry en regverdig” verklaar? Sal baie nader aan korrek nie wees, na die dwarslat nóg laer laat sak is, om te sê dit was tot ‘n mate vry en regverdig, nou nie 100% nie, maar dat die OVK tevrede is om die verkiesing in hierdie lig gesien vry en regverdig te verklaar?

En waar is die dwarslat dan met die volgende verkiesing?

Jacoba ·

Ek volg nie nuus oor julle verkiesing, wat van die stemme oorsee uitgebring. Waneer word dit getel?

Gielie Hill ·

Ek is bly die VF+ het gegroei. Die DA het Weskaap gehou. Die ANC het steun verloor. Die EFF het min gegroei ten spyte van die persbevoordeling. Bly dis verby. Moeg vir Malema se gesig. Moeg vir die gebellery. Laat ons bly wees die EFF is nêrens in koalisie nie. Dinge kon slegter gegaan het.

Anna ·

Jaaaa…net jammer VF+ koni 3 opgeëindig het,in EFF se plek!

Ella ·

Die OVK is die ANC en die ANC is die OVK.
Nie een kan vertrou word nie. Ons weet dit mos al.
Wat gebeur as die verkiesing ongeldig verklaar word?

Amelia ·

My vraag en opmerking. Hoe moet die stemhokkies staan. Nol al die jarre het die stemhokkie se toekant na die personeel en ander mense gestaan. Maw niemand kan sien wat jy daarbinne doen nie.
Gister het die opening na die mense gestaan, maw jy het nie volle privaatheid gehad terwyl jy stem nie? Blykbaar was dit in ons buurdorp dieselfde. IS DIT NOU HOE DIT GEDOEN MOET WORD DEESDAE?

Andrea van Vuren ·

Amelia jy’s reg. Het ook daaroor gewonder. Dieselfde by ons in Kameeldrit-Wes.

Mollie Strydom ·

Ek glo nie vir een oomblik hierdie verkiesing is geldig nie, veral nie as ‘n mens so na almal se klagtes en kommentare luister nie. Laat ‘n mens nogals wonder…. My siening: Net belasting betalers moet toegelaat word om te kan stem op ‘n elektroniese wyse byvoorbeeld d.m.v vingerafdrukke. Seer sekerlik kan die IEC beter doen as om ‘n mens ‘n stukkie papier te gee waarop ‘n mens se kruisies getrek word ??

JG ·

Onthou…hierdie is AFRIKA en hier word dit gedoen soos dit die Afrikaan behaag…

John ·

… en die buitelandse toesieners was… van die AU… lande waar dit nog slegter gaan as hier, so ons stemmery moet dan redelik paradysagtig voorkom. Maar die woorde wat moontlik ‘n antwoord kan verskaf is… vryheidsvegters, terrorisme, radikaal, regstellende aksie, rewolusie… En dit is die mense wat die woorde gebruik wat nou in beheer is. Die rand het ook nie juis teen die ringmuur uitgeklouter van blydskap nie… oor dieselfde ou wow-storie weereens… We are de darlings of de world…

Anoniem ·

Dis wel ‘n vry verkiesing, maar ek betwyfel of dit regverdig was, aangesien daar hopeloos te veel insidente plaasgevind het wat daarop dui dat die stelsel nie “fool proof” is nie. Dit sal interessant wees om te kon weet tot wie se voordeel die dubbel of meer stemmery was. Volgens ‘n vriend van my wat in Philadelphia in die Wes-Kaap gestem het, was die stelsel totaal en al ‘n gemors en toe ‘n persoon dit aan die OVK beamptes uitwys, is die persoon dadelik stilgemaak. Die polisie is selfs ontbied om haar te verhoed om dit openbaar te maak. Dieselfde chaos het ook volgens hom in Dunoon, ‘n informele nedersetting gebeur. Dit laat ‘n mens wonder hoe regverdig verkiesings in Afrika ooit sal verloop en hoeveel geknoeiery onder die tafel ingevee word, maar Sondag oggend sal ons mos weer hoor: “The nation has spoken”.

Henry ·

Die IEC is beslis nie onafhanklik nie en is beslis gecapture. Het julle gedink die ANC sou so geleentheid verby laat gaan het. Nog voor die eerste kruisie getrek was op die 8 ste Mei was die ANC se stemme al voltallig gewees. Jy kan net mooi niks vertrou meer nie. Sterkte aan al die ander politieke partye met die korrup spul.

Amanda ·

Hierdie was seker DIE mees onbevoegste, deurmekaarste Verkiesing ooit. Hoe is dit dat:1. Nie almal wat ID boekies het, s’n gestempel is nie. 2. Hoe is dit dat die ink van ou vinger af gevryf kon word voordat jy die stem lokaal verlaat?3. Hoe gebeur dit dat daar al meer as 20 mense in hegtenis geneem is omdat hulle meer as een stem uit gebring het?.4. Nie een van die skandeerders in Krugersdorp het gewerk nie en was aan ons vertel dat hulle net die mense wat die stemlokale besoek, getel word daarmee? 5. Hoekom word al hierdie goed nie eers getoets voordat dit in gebruik geneem word, nie? 6. Hoe verklaar die OVK die tonne stembriewe en bokse wat die wereld vol gestrooi is? 7. Hoekom was daar nie 2 bokse , soos voorheen, in die lokale waar die Provinsiale stemme en die Nationale stem briewe apart in gegooi was nie? Om geld te spaar?????? Ek dink alle belasting betalende Suid Afrikaners moet AANDRING op ‘n her verkiesing met die buitelandse Verkiesings kommissies wat dit moet behartig want ons is NIE tevrede met hierdie bedrog spul nie.

Gooi Mielies ·

Die OVK se salarisse word betaal deur die ANC regering so daar kan met reg gese word die instansie behoort aan die ANC en hy SAL dans na die ANC se pype……dws as hy einde van die maand sy ou tjekkie in sy rekening wil he natuurlik. Daar is absoluut niks “onafhanklik” aan hierdie ou patetiese spulletjie nie. Enige ou wat anders dink moet regtig sy kop laat lees.

Attie. ·

Daar sal altyd klagtes wees, so is ons volkie aanmekaargesit. Ek het eenkeer tydens ‘n verkiesing diens gedoen namens die VF+ en dit was in oorwegend swart deel. Ek is na middernag daar weg toe die laaste stem getel was en daar was nie sprake van foute nie. Elke party moet net sorg dat hy ‘n persoon het by elke stembus om namens se party toesig te hou. Ek het net een klagte en dit is dat mense by die huise sit terwyl ander gaan stem. Kom ons stel dit reg met die musipale verkiesing ot 18 maande.

Pieter ·

Dit gaan basies oor ‘n standaard – Hierdie twak van “genoegsaam ” ens ens kan tog nie aanvaar word nie. As jy nie kan kwantifiseer nie hoe kan jy weet wat regtig aangegaan het?

Voter ·

Waar kan ons petisie teken om die verkiesing onregverdig te verklaar of herstem? Waar ek vandaan kom is daar uit hulle eie vir my gesê dat die mense nie ANC of EFF gaan stem nie, nou is hulle die partye wat die “region” die verste voorloop. Ek kan verseker nie glo dat die inligting waar is nie. Hulle kan regtig eerder ‘n elektroniese stelsel in plek sit by pos kantore of iets, dit kan beinvloed word, maar dit is moeiliker as die papiere en vals stembriewe in bokse en dubbel stemme en jy moet slim wees om ‘n rekenaar te manipuleer. Wat doen ons nou? Dié wat voel dit was nie regverdig nie? Wat moeite gedoen het om te gaan stem net sodat ander kan verneek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.