Nuuskommentaar: Is Poetin ’n held of skurk?

Wladimir-Poetin-president-van-Rusland-Foto-Rusland-regeringskantoor-

Pres. Wladimir Poetin van Rusland.

As daar een saak is waaroor die wêreld nooit konsensus sal bereik nie, is dit of pres. Wladimir Poetin eintlik ’n held of ’n skurk is. Menings is baie selde op feite gebaseer, en is eintlik opvattings wat sterk deur propaganda en fopnuus beïnvloed is. Dit hang ook saam met die feit dat die gees van die Koue Oorlog nog baie mense se denke oorheers.

Die vraag het weer aktueel geword ná presidente Poetin en Donald Trump skynbaar heel vriendelike gesprekke gevoer het, en nadat die Nederlandse politikus, Geert Wilders, teen Russefobia en ’n afkeer aan Poetin gemaan het.

Ná die ontmoeting tussen Trump en Poetin het ’n Rasmussenpeiling getoon dat 52% van die Amerikaanse kiesers aangedui het dat hulle met Trump saamstem dat dit beter is om vriendskaplike verhoudinge met die Russe te hê as om altyd met hulle haaks te wees. Altesaam 27% het nie saamgestem nie en 21% kon nie ’n mening uitspreek nie. Die steun vir Rusland was baie sterker onder Republikeine (75%) as onder Demokrate (29%).

Onlangs nog het die meeste Amerikaners aangedui dat hulle Rusland as ’n groter bedreiging as China beskou.

Die volgende aanhaling uit die Nederlandse WNL beskryf die agtergrond goed waarteen Rusland en Poetin so wyd in die Weste gewantrou word:

“Er gaat bijna geen dag voorbij of het gaat wel weer over het grote gevaar Rusland. Het land zou verkiezingen hier beïnvloeden met nepnieuws [fopnuus] en hacks, de NAVO stuurt bataljons richting de grens met het immense land en Poetin wordt afgeschilderd als een dictator.”

Dié paragraaf dien as inleiding tot ’n splinternuwe artikel oor die jongste, positiewe uitlatings van Wilders oor Rusland en Poetin.

Wilders se standpunt en planne word soos volg opgesom: “PVV-leider Geert Wilders vindt het genoeg geweest en wil een ander geluid laten horen. Dat wil hij volgend jaar hoogstpersoonlijk overbrengen in het parlement van Rusland, de Doema. ‘Rusland is geen vijand en dat moeten we er ook niet van maken,’ zegt hij in een interview met Elsevier Weekblad.”

Donald Trump

Donald Trump. Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais

Wilders se sienings soos hy dit nou uitgespreek het, is nie heeltemal nuut nie. Reeds sedert 2014 is gereeld oor sy sienings oor Rusland en Poetin gerapporteer. Daar is gereeld bespiegel oor wat die aantrekkingskrag (al is dit eensydig) tussen Wilders en Poetin is. Onder meer is geskryf dat nie een gestop kan word nie (wat as ’n baie slegte ding beskryf is). Tydens verkiesings het opponerende politici selfs so ver gegaan om kiesers ’n afkeer in Wilders te probeer gee deur te sê ’n stem vir Wilders is ’n stem vir Poetin.

In Januarie vanjaar is berig dat Wilders ’n bloutjie by Poetin geloop het toe Wilders hulp gevra het om die establishment in die komende verkiesing te vernietig. Die gesprek sou gesneuwel het omdat Poetin se tolke nie die woord “gedoog” geken het nie, en dit dus gelyk het of Wilders met sy eertydse gedoogde steun aan die regering, sélf deel van die establishment was.

(Gedoogde steun is min of meer wat die EFF nou aan koalisies op munisipale vlak gee om die ANC uit die kussings te lig, maar nie self aan die regering deelneem nie.)

Daar is nog geen duidelike aanduiding dat Poetin enige erg aan Wilders het nie.

In Suid-Afrika is dit duidelik dat gevestigde rubriekskrywers wat in die verlede bloot ongemotiveerd na Rusland en Poetin verwys het, dit nie meer kan doen sonder om hulle ’n stroom kritiek (dikwels georkestreerd en onder meer deur individue wat vanaf dieselfde IP-adres, verskillende briewe met verskillende e-posadresse instuur) op die hals te haal nie. Soms lyk dit of die Kremlin se propagandadiens in St Petersburg ten diepste betrokke is.

Aan die ander kant, om tyd te bestee aan die motivering van kritiek op Poetin en Rusland, het dieselfde reaksie tot gevolg.

Vir baie Poetin-ondersteuners is die jongste skynbare toenadering tussen Poetin en Trump baie goeie nuus, aangesien daar baie mense is wat tegelyk ondersteuners van die twee presidente is.

Feit bly, vir baie mense bly Rusland die nuwe Sowjet-Unie en instinktief die vyand. Die Russe se beweerde inmenging in Westerse verkiesings bly dus ’n teer punt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

CG ·

Fredrik. Jy is reg. Die USSR en later Rusland, was en is egter wel die ANC se beste pel. Onthou jy nog die ANC (MK) se AK-47’s , landmyne, kleefmyne en vuurpyle? Waar dink jy het dit vandaan gekom?

Wim Kotze ·

Ek kan uit persoonlike ondervinding getuig dat die sogenaamde “Solidariteit Beweging” van die Sowjet Unie wat steun aan die ANC bevorder het, met die vestiging van die Russiese Federasie soos melaatses behandel is. Skobbejakke soos Vladimir Shubin wat hier verwelkom is, was uitgeworpenes in regerings kringe in Moskou.

Eish ·

Ek het groot bewondering vir Vladimir Putin ontwikkel deur nie my aan fopnuus te steur nie, deur sy onderhoude op You tube na te luister en seker te maak wie skryf die artikels oor die man.
Hy kwyt hom goed van sy taak en vat nie nonsens van liberale twak nie. Pluspunt in my boek.

Moet asseblieftog my nie kom vertel van Stalin en sy vergrype en dit probeer afdruk op die man nie. Dit is dieselfde gedrag wat ons nou ervaar aangesien ons voorouers die helhool geannekseer het.

Voorwaar n uitekende politikus myns insiens. Indien hy my vlugtelingstatus verleen, pak ek nou my tassie.

Cobus ·

Putin is verseker ‘n verantwoordelike leier met baie goeie insig. Ek dink dit is juis die insig wat die oorsaak is van die negatiewe propaganda teen hom. Met sy intelligensie en vermoë om vinnig ‘n situasie op te som, gee hy op die oomblik die toon aan in wêreld politiek. Trump is op die regte pad deurdat hy volwasse gesprekke voer met Putin om vrede te bewerkstellig. Trump en Putin het ondersteuning nodig en nie die fop nuus van die WO liberale media nie. Die gesprekke is nie in lyn met die doelwitte van die WO nie

Wim Kotze ·

Cobus, skryf aan Vladimir Zhirinovsky. Hy het destyds plase in Siberie aan die Boere belowe. Hy het toe al die tekens van die tye gelees.

Houverby ·

Die Amerikaanse publiek is on-ingelig (ignorant) oor alles en kan net hulself blameer indien hulle beinvloed sou wees deur die sg sosiale media fopnuus kampanje tydens die 2016 VSA verkiesing.

Denise ·

Ek dink nie daar is nog n leier soos Poetin nie wat n groot jammerte!!!!!

HV ·

Amerika moet n vyand hê om oorlog teen te voer want hoe anders gaan hul die wapen industrië aan die gang hou. Nou span hul die magtige media in om vals inligting en propogande die wêreld in te stuur om die ander lande bang te maak en die koop dan hul wapens. Nou word Puten en Rusland en Noord Korea as vyande uitgewys. Ding is Noord Korea gaan niemand aanval nie maar wys net vir Amerika hul het ook n groot knopkierie en Amerika hou nie daar van nie want hul wil alleen n groot knopkierie hê sodat hulle almal kan boelie. (ha ha lyk dan daai oros mannetjie hou daarvan om hulle te koggel). Feit is Puten is die een enkele rede hoekom die wêreld nog nie in vlamme is nie. Lees maar bietjie wyer as die Amerikaanse propoganda masjien om n beter geheel beeld te kry.

CJ ·

Herman. Ek dog ons is al uitgekuier oor Poetin en die Russe? Indien mens wil weet watter tipe person iemand is, vra mens mos mense wat naby hierdie persoon is, hom goed ken en al beleef het. Soos referentskakeling by ‘n werksaansoek. Geen nie-Rus ken vir Poeten beter as die mense in lande wat baie naby aan Rusland is nie – wat eers deel van die USSR was, of deel van die Warskouverdraglande was nie. Putin was of Eerste Minister of President van Rusland sedert 1999. Sedert 1999 het, tot groot onsteltenis van Poetin en Rusland, die volgende voormalige USSR republieke, of Waarskouverdraglande of dele van die voormalige Joegoe-slawie wat ook kommunisties was, by NAVO aangesluit: Pole, Hongarye, Tjeggiese Republiek (1999); Bulgarye, Estland, Letland, Letaue, Romenië, Slowakye, Slovenië (2004); Albanië, Croasië (2009) en Montegnegro (2017). Hoekom? Omdat hulle vir Poetin en Rusland beter ken as ons, Wilders of Trump! Sal al hierdie Sentraal-en Oos-Europese state, waar daar ‘n sterk opbloei van nasionalisme is, hulle misgis? Terloops, daar is ‘n alternatiewe organisaie “Collective Security Treaty Organisation”, met Rusland, Armenië, Belarus en Kazaksthan as lede.

Grassie ·

As ‘n mens in die profesieë van die Bybel glo moet jy Esegiël 38 en 39 lees. Daar staan dat in die eindtyd Iran (Persië) saam met al die ander Moslemlande teen Israel sal optrek. Rusland sal teen sy sin aan die stryd teen Israel meedoen (“Ek sal hake in jou kakebene sit.” Hierdie hake verwys na ‘n sort toom wat gebruik is om ‘n onwillige perd te laat loop.) Dit sal die begin van die laaste beslissende oorlog in die wêreld wees.
Hieruit blyk dit dat Rusland se toenadering tot die Weste verwerp gaan word en hy forseer gaan word om teen die Weste oorlog te maak. Dit laat my dink dat Trump en Poetin se vriendskap net tydelik gaan wees en dat die goeie verhouding vorentoe ernstig gaan versuur. En die skuld daarvoor gaan nie by Rusland lê nie.
Daardie twee hoofstukke is geskiedenis wat vooruit geskryf is maar min mense verstaan dit.

Juan Olivier ·

Russefobie is ongelukkig volop. Baie mense in die weste hou ook nie van Rusland nie omdat Rusland weg beweeg van ver-linkse anti-wit politiek en regte Westerse kultuur en tradisie weer begin aanhang. Dis snaaks hoe Rusland altyd ver-links was met hulle kommunisme maar nou is die weste lande deurtrek met ver-linkse ideologie kanker en Rusland raak ontslae van dit. Rusland was sleg maar hulle is op pad om ‘n groot lig in die donker wêreld te word.

CJ ·

Herman. Ek dink nie jy interpreter die rasmussenpeiling reg nie. ‘n Positiewe antwoord beteken nie mense toon “steun vir Rusland” soos jy in jou skrywe aandui nie. Dit toon’n steun vir goeie verhoudinge met Rusland. Daar is ‘n baie groot verskil. Hoe enige iemand teen goeie internasionale verhoudinge kan wees, weet ek regtig nie. Natuurlik is dit beter om met enige iemand / state goeie verhoudinge te hê as om heeltyd in stryd te wees (veral as die ander ou / land groot en sterk is!) Dit beteken nie noodwendig dat jy die ander land vertrou, of hou van en defenitief nie dat jy die ander land “steun” nie. Die huidige fiksasie met Poetin en die Russe is vir my moeilik om te verstaan. Klink my ons moet nou vir Pres. Zuma steun om dadelik die klom kernreaktors by die Russe te koop. Wat mis ek?

Eish ·

Help nie ons is kwaad vir Putin omdat Zuma kernaanlegte wil opsit nie. Rusland kwoteer en n paar ander lande.
Kan nie aan n enkele geval dink sedert hy aan bewind is dat hy met ons interne politiek ingemeng het nie.

CG ·

Eish. So ten spyte van staatskaping glo jy n kontrak tussen Zuma en Putin vir kernaanlegte sal mooi skoon wees? Sjoe, dan moet ons sommer al ons besigheid met hom doen! Poetin is vanaf 1999 aan bewind. (afwisselend ad Eerste Minister en President) Indien hy nog nooit hier ingemeng het nie,, is dit ondat hy goedkeur wat sedert 1994 hier aangaan? Tog is daar mense wat blykbaar glo hy gaan ons en die wereld se redder wees.

JacoL ·

Kan daar asseblief in die toekoms die Nederlandse gedeeltes vertaal word. Nie almal van ons is taalkundiges nie.

Marthinus Willemse ·

CJ, die voormalige Oosbloklande het nie by Navo aangesluit omdat hulle vir Poetin bang was nie; dit was om ekonomiese redes. Om lid van die Europese Unie te word, moet `n land eers by Navo aansluit. (Feit is vreemder as fiksie.) Dit is waarom die Oekraïne so naarstiglik na Navo vry.
In 1990 het James Baker van Amerika toestemming by Michail Gorbatjof gekry om die twee Duitslande te herenig, en vir die herenigde Duitsland om lid van Navo te wees. Gorbatjof het ja gesê, op voorwaarde dat Navo nie ooswaarts uitbrei nie. `n Mondelinge belofte is aan Rusland gemaak. Na die hereniging, het pres Bill Clinton aggressief begin om Navo ooswaarts uit te brei. Die belofte aan Rusland is verbreek. Tans is Navo, wat grootliks deur Amerika gefinansier word, ontplooi tot op Rusland se grense. As jy Poetin was, sou jy nie ook ongelukkig, en `n bietjie senuagtig, daaroor wees nie?
Herman, verstaan ek jou reg as jy Suid-Afrikaners beskuldig dat hulle saam met “die Kremlin se propagandadiens” saamwerk. Wat presies bedoel jy hiermee? Dis Internet 101 dat jou IP-adres `n digitale spoor en merker is. Die Russe is heelwaarskynlik steeds die beste rekenaarprogrammeerders; hulle sal nie sulke dom foute maak nie.

John ·

Ons land is in flarde, ons putte droog, die staatskas staan leeg op die rommelhoop, kos kos, werkloses sit die randstene vol, studente toi en gooi hul speelgoed uit die pram, medisyne raak op, Boereplase beleef nagmerries… en… en… Regtig? Is Putin ‘n skurk of nie? … wat kan nog oor Trump gese word om hom na nog ‘n groter krater te laat lyk? En… en… Aai tog!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.