Nuuskommentaar: Is politieke inkorrektheid nou ’n misdaad of net ’n sonde?

Dit is al lank reeds een verkeerde ding om politieke inkorrektheid as ongewens te beskou, en diskriminasie deur die afwys van bevorderings is lank reeds algemeen, maar die “Centurion-juffrou” word nou behandel asof sy ’n misdaad sou gepleeg het. Solidariteit gaan haar nou verteenwoordig.

Een van die lastighede van politieke korrektheid is dat opvattings, dikwels eie aan ’n spesifieke gemeenskap, vir daardie gemeenskap feite word. Seker die beste voorbeeld van die huidige era is die gereelde stelling dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Hierdie stelling is selfs deur oudpresident Jacob Zuma, toe nog in die amp, in minstens een toespraak gemaak en het hom ’n duisternis klagtes by die Menseregtekommissie op die hals gehaal. Vir die kommissie was die stelling egter waarskynlik ’n feit en daar het uiteindelik dadels van gekom. Die ad hoc-komitee oor eiendomsreg het dit as “die groot leuen” gedoop, en TLU SA het ’n groot bedrag uitgeloof aan die eerste persoon wat kan bewys hy was van sy grond beroof.

Maar Zuma was ’n bekende kluitjiebakker – uit onkunde of aspris. So, volgens hom, was Afrika groter as al die ander kontinente saam, en het swart mense die droogste en onvrugbaarste grond in die land gekry. ’n Liederlike debat het losgebars na mev. Helen Zille se kolonialisme-twiets, en haar partyleier se vloermoer daaroor. En dan was daar onder andere die blackfacing-gevalle waarby studentemeisies wat, soos waarskynlik byna alle blankes in die land, uit onkunde betrokke geraak het. In die een geval het dit geblyk nie eens blackfacing te wees nie, maar die uitbeelding van die ruimte, maar selfs na hierdie verduideliking het radikales nog koppe geëis.

Dan was daar die Schweizer Reneke-geval, waarskynlik een van die hoofredes waarom die DA so baie wit, en spesifiek Afrikanerstemme, verloor het. Nou raak Solidariteit betrokke by die verdediging van ’n onderwyseres wat ’n inskrywing op ’n leerling se vraestel gemaak het – iets wat terloops deel van die skool se beleid is.

Maar van wanneer af is politieke inkorrektheid ’n misdaad waarvoor jy byvoorbeeld geskors kan word, in afwagting van ’n verhoor of dissiplinêre proses wat die potensiaal vir nog groter moeilikheid inhou? Dink maar aan die SAUK 8, wie se “oortreding” in wese was om nie onwettige opdragte uit te voer nie.

Omdat hierdie saak sub judice is, word nie verder daarna verwys nie, maar eerder na analoë gekyk. Die probleem lê immers elders – op ’n hoër vlak.

’n Jongeling het onlangs in ’n bydrae op Maroela Media se Nou Pra Jy geskryf dat identiteitspolitiek die demokrasie bedreig. Mense met veel meer ervaring en kwalifikasies, soos Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, meen weer ’n politieke bestel wat nie vir identiteitspolitiek voorsiening maak nie, is gebrekkig. Dit word dikwels voorgehou as ’n stelsel verwant aan die diktatuur/tirannie van die meerderheid, iets waaraan Zuma hom dikwels blatant skuldig gemaak het.

Rassisme is ook minstens ten dele onderliggend aan die bedanking van Johannesburg se burgemeester, Herman Mashaba. Dit maak egter deel uit van ’n wydlopende benadering wat in sekere kringe tot fatsoenlik verklaar is, naamlik dat swart mense eens benadeel is (byvoorbeeld slawerny in die VSA en deur apartheid hier) en omdat daar daarna ’n sleureffek is, regverdig dit ’n tipe restitusieperiode en ‑proses, maar ten koste van hulle wat voorheen bevoordeel is se kinders. Die sleureffek “regverdig” dan wat die nuwe slagoffers as rassediskriminasie beskou, want die kinders van boere wat weens droogtes of veediefstal onderdeur is, het immers geen sleureffek-voordeel nie, om maar een faktor te noem.

Watter voordeel het ’n wit kinderhuiskind bo ’n swart kind van dieselfde kinderhuis? Of hoekom is dit nie naakte rassisme as ’n swart leerling aan ’n peperduur private skool vir medies gekeur word ten koste van sy wit vriend wat baie beter as hy akademies vaar nie? Hoeveel keer moet regstelling gebeur voor iemand reggestel is? En wat van gevalle waar die werklike probleem by gesinsgroottes lê – of enkelouergesinne, of selfs geen ouers nie, tienerswangerskappe, en natuurlik die stand van die land se ekonomie.

Tydens Zuma se presidentskap het ’n minister die agterstand aan behuising toegeskryf aan te vinnige aanwas. Dit was sy swanesang as minister. Die verwensingslys kan bitter lank wees.

Sake in SA word bemoeilik omdat identiteitspolitiek in die land te dikwels deur die ANC, EFF en ander tot ras gereduseer word, terwyl ras weens sy juridiese kwesbaarheid in onder andere die internasionale politiek NIE die hoofnorm is nie, maar faktore soos taal, kultuur en godsdiens. Die heroute teen rassisme is te dikwels juis die drywers van rassisme.

In ’n onlangse uitgawe van The Conversation is ’n interessante artikel oor Amerikaanse stede se inkomstebronne, en dat stede met groter swart bevolkings neig om ’n groter persentasie van hul inkomste uit verkeersboetes te verkry. Die navorser, ’n swart nagraadse student, noem verskeie moontlike redes hiervoor. Sommiges kom met van die redes in Suid-Afrika ooreen, soos munisipaliteite wat deurrytoeriste “melk”.

Maar spruit minstens ’n deel van die “boetebehoefte” in Suid-Afrika nie uit ’n tradisie van wanbetaling (dikwels weens finansiële onvermoë weens onder andere werkloosheid) nie? Dit manifesteer uiteindelik in byvoorbeeld skuld aan Eskom en waterrade, soos wat Soweto en Qwaqwa miljarde rande skuld. Dis sinneloos om agterstallige rekenings van mense te verhaal wat niks het nie, en is boonop ook dikwels lewensgevaarlik. Die meerderheidsuitspraak in die vroeë konstitusionele hofsaak van Walker en andere versus die City Council of Pretoria, het boonop ’n stokkie gesteek voor die “oplossing” om swart mense vaste tariewe, en wit mense gemeterde tariewe te laat betaal.

Medemenslikheid wat die werklikheid verreken, moenie met ’n blatante rassevoortrekkery verwar word nie.

Wanbetaling is egter nie net as gevolg van onbekostigbaarheid nie. Pas het pres. Cyril Ramaphosa gesê nie-betaling tydens apartheid was goed, maar nie nou nie. Heel duidelik betaal die regering nou die prys van die skep van ’n kultuur van wanbetaling.

En daar word op gevaarlike dun ys beweeg as politieke korrektheid as die aanvaarde norm geld, en politieke inkorrektheid as ’n misdaad hanteer word. Want probleme word nie deur fiksie opgelos nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Suid Afrikaner ·

Kan die regering nie maar ‘n lys van kwetsende woorde opstel en amptelik publiseer nie. Ek sal graag en kosteloos help.

Feite ·

Strawwe vir politieke inkorrektheid wat rasgebaseerd is, is niks anders as rasdiskriminasie en denke polisiering om denke te intimideer en te rig volgens n bepaalde en veranderde gemeenskapsnorm. Dit is maar n kwessie van “adapt or die”. Indien jy niks goeds te se het oor ander rasse nie, bly dan maar eerder stil of sluit aan by #ImStaying wat jou net toelaat om goeie dinge oor ander kwyt te raak. Ons het almal keuses, so maak die regte keuse en plaas eerder n wag voor jou mond!

J ·

Politieke korrektheid is ‘n politieke verskynsel waar liberale die waarheid omseil om te verhoed dat hulle rassisties, seksisties of andersins algemeen oplettend voorkom. Of soos George Carlin gesê het, politieke korrektheid is fascisme wat voorgee dat dit maniere is.

Peet ·

Herman, “virtue signaling” het byna al ‘n geloofsuiting geword.
Dit lyk my ook daar is geld daarin.

schaun ·

Politieke korrektheid/onkorrektheid,is die gevolg van mense wat geen ruggraat het nie as die plaasaanvallers swart is noem dit so as daar n bende blou of oranje verdagtes is wat n buurt terroriseer sê dit soos dit is solank dit die volle waarheid gebaseer op feite voel ek moet dit weergegee word soos dit is en weg met politieke korrektheid nonsens.

Adam ·

Baie goeie rubriek. Wat die vraag oor hoe lank regstelling gaan duur net ‘n enkele opmerking. Talle Afrikaners haal vandag na meer as ‘n eeu die Anglo- Boereoorlog op en is die Britte negatief gesind en my eie gevolgtrekking is dat die sg apartheidslagoffers daardie trom sal aanhou slaan tot in lengte van dae.

Gert van Wierdapark ·

Die meeste van die stemvee van die a en see word beslis deur die politici in beheer as politiek korrek beskou – ongelukkig weet hul nie van beter nie!

aj ·

Soos Mugabe gemaak het in Zimbabwe gaan Wittes in SA toenemend ‘gedemoniseer’ word in die media.

Vals nuus gaan “geskep” word waarmee die proganda veldtog verder gedryf word.

Daarna gaan ANC regters al hoe meer politieke uitsprake lewer en swaar vonnisse oplê aan Wittes.

Die ANC polisie en sg veterane gaan dan begin om die “SELFSUGTIGE” Witmense se eiendom te stroop!

Hou dop!

Peet ·

Herman, moes jy nou weer die blikkie wurms oop gemaak het. Daar is myns insiens ‘n baie fyn lyn tussen PK en gewone goeie maniere.
Probleem is dat ond universieite krioel van politieke wetenskaplikkes, gender studies ens wat niks anders te doen het as om geaffronteerd of geskok voor te kom. Die verdere probleem is universiteits lektore wat niks anders te doen het om onmin te saai. ‘Voer die krokodil beginsel’.
Herman weereens dankie vir ‘n weldeurdagte meningstuk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.