Nuuskommentaar: Is Ramaphosa Nonkwasi die tweede?

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: @SA Gov News/Twitter)

Dit sou verregaande en alarmisties wees om pres. Cyril Ramaphosa se hardkoppige grondgrypplanne sonder vergoeding met die gevolge van Nonkwasi se visioen te vergelyk, maar die rol wat planne vir grondgryp sonder vergoeding op Moody’s se toekenning van rommelstatus aan die Landbank het, word pertinent as een van die redes genoem. Die bank se rommelstatus gaan beslis ’n negatiewe invloed op die ekonomie en komende begroting hê – ’n siening wat verskeie ekonome en landbou-organisasies deel – en Nonkwasi se verhaal begin al meer ooreenkomste toon.

Die gevolge van die kredietgraderingsagentskap Moody’s se besluit om rommelstatus aan die Landbank toe te ken, raak die hele land. Dit raak ook pres. Ramaphosa omdat dit sy protégé, Pravin Gordhan, knyp, dit raak elke boer en volgens ’n hele rits van die land se beste ekonome en ekonomiese kommentators gaan die land as geheel reeds in Maart tot rommelstatus afgradeer word. Boonop het Moody’s die vooruitsigte na negatief aangepas.

Maar dit wys ook ’n beskuldigende vinger na die regering se hardnekkige volharding om met sy grondgryp-sonder-vergoeding-planne voort te foeter en in die sloot van ekonomiese rampspoed in te tuimel. Agri SA wys onder andere daarop dat dit een van die drie faktore is wat Moody’s tot sy besluit laat kom het.

“Dit raak voortdurend moeiliker om ’n positiewe gesindheid oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika te hê,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Nie net moet ons boere daagliks sukkel om kop bo water te hou met uitdagings soos plaasveiligheid, onredelike arbeidswette, veesiektes, droogte en beperkte uitvoergeleenthede as gevolg van swak ekonomiese toestande nie, maar nou word hulle nog verder in skuld gedompel deur ’n afgradering van die Landbank wat vir die meerderheid boere krediet verskaf.” Lees volledige verklaring hier.

Agri SA skryf onder meer soos volg in sy reaksie: “Tesame met die afgradering het Moody’s ook die bank se vooruitskouing van ‘onder hersiening’ na ‘negatief’ verander. Die Landbank is in November 2019 onder hersiening vir afgradering geplaas terwyl Moody’s drie risiko’s wat aanleiding gegee het tot die hersiening uitgelig het:

  • ’n Toename in nie-presterende lenings (landbou onder druk / moeilike bedryfstoestande);
  • Omgewingsrisiko’s; en
  • Onteiening sonder vergoeding (beleidsonsekerheid).

Hierdie breë faktore beklemtoon die bank se aansienlike blootstelling aan omgewingsrisiko’s soos klimaatsverandering, droogte, veranderende en ongewone voorkoms van hael en groter biosekuriteits-/siekterisiko’s.

Moody’s se verslag ontbloot [sic] verder die regering se voortdurende fiskale uitdagings en sy onvermoë om staatsbeheerde ondernemings te ondersteun, veral in tye van nood. Dit word verder bevestig deur die negatiewe vooruitskouing vir Suid-Afrika se soewereine gradering.” Lees volledige verklaring hier.

Die politieke angel steek ook seerder. Die ekonoom Dawie Roodt blameer vir Gordhan vir die Landbank se geploeter, terwyl die storm om Gordhan se kop regstreeks na Ramaphosa se vyande teruggevoer kan word.

Die opskrif van die Landbouweekblad se berig hieroor is: “Staat finansieel in sy kanon in”. Beeld en Volksblad het vroeër die week in hul gedeelde hoofartikel geskryf dat droogtehulp ontoereikend is, en die land verder laat gly.

Kortom, die moeilikheid waarin die Landbank hom bevind, is nie net ’n enkele rede nie en baie daarvan was onvoorkombaar, soos die droogte en ander omgewingsfaktore. In baie gevalle, waaronder die grondgrypverwikkelinge, was as gevolg van regeringsoptrede … kaderontplooiings, ideologieë wat nooit eens die monteerbaan moes haal nie, laat staan nog om met verwoestende gevolge geïmplementeer moes word en vele meer.

Wat meer is, is dat die regering lank reeds oor die implikasies van grondgryp, en veral grondgryp sonder vergoeding, gewaarsku is. Dié waarskuwings is egter geïgnoreer en beplanning is van stapel gestuur deur ’n skyn-werklikheid te gebruik gebaseer op ’n enkele narratief wat by herhaling uitgewys is dat dit vals is.

Terwyl daar wel wit en bruin mense is wat “val” vir die narratief wat die regering inspan, is dit volgens die statistiek wat die Matie Charl Swart in sy meestersverhandeling gebruik het (hy het intussen reeds sy doktorsgraad behaal) nog grootliks op rassegrondslag teen mekaar se narratiewe opgestel, maar is daar ’n geleidelike toename in wit en bruin mense wat die oorweldigende swart persepsie deel dat wit mense hul grond bekom het deur swart mense se grond te gesteel het. Lees hier.

Uit onderhoude met die “afvallige” wit mense blyk dit uit antwoorde dat hulle onbekend is met die land se geskiedenis soos blyk uit hul teenvrae soos hoe anders het wit mense dan hul grond bekom. Dit dui weer op ’n enorme probleem met die gehalte van onderwys.

In ’n onlangse rubriek werp dr. Leopold Scholtz in die konteks van grondgryp sonder vergoeding meer lig op die twee groepe binne die ANC met onderskeidelik ideologiese en pragmatiese verdelingslyne. Met die grondgrypkwessie wat aan die een kant die ANC se beleid op veel vlakke rig (en in die praktyk sake vir die land oneindig bemoeilik) en aan die ander kant talle organisasies met ondersteuning en hulpbronne wat die grondgrypplanne op verskillende fronte gaan beveg, soos die howe en internasionale forums, kan die impak op die ekonomie net nog groter word.

In 2011 is in ’n brief in Landbouweekblad gevra of Malema nie ’n eietydse Nonkwasi is nie. (Meer oor Nonkwasi kan hier gelees word.)  Met die grondgrypplanne word ’n rits vals narratiewe ingespan om die grondgrypplanne te “regverdig”, waaronder om in verslag na verslag een van die hoofoorsake vir die tot dusver mislukte grondhervorming te ignoreer, naamlik die rol van korrupte amptenare. Deur dit hardkoppig te ignoreer word niks gevorder nie.

Dit is stellig erg oordrewe om Ramaphosa en sy mededrywers vir grondgryp met Nonkwasi te vergelyk, maar te midde van ’n oorvloed feite en narratief-versteurde feite kan ter wille van om oor selfs die onwaarskynlikste afloop te besin, ook besin word oor wat die afloop gaan wees as Ramaphosa se planne langs Nonkwasi se visioen geplaas en ontleed word.

Die grondgrypplanne verskil min van Nonkwasi se visioen wat die “oplossing” sou bied. Dit het met afgryslike gevolge vir die volgelinge geboemerang en herinner aan Haman wat in die Bybelboek Ester self aan die galg gehang is wat hy vir Mordegai laat bou het. Deur die landbou onafwendbaar grootliks te verwoes, en die ekonomie daarmee saam tot ’n laagtepunt te dryf, hou geen positiewe gevolge vir die land in nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Herman, rubriekskrywers en ander het Ramaphosa al soveel name gegee, of met raakvat verbuigings van sy van vorendag gekom, en nog is het einde niet, so kan jy nou vader staan vir nog so ‘n naam wat by die lys gevoeg kan word, naamlik Ramakwasi …..

PJ

En so stoom die ANC grap voort!

gatgogga

Ramaphosa se nalatingsskap sal die volgende wees:
1 Die ekonomie het op sy wag ineengestort
2 Konfiskering van ander se eiendom en besittings
3 Gesondheidsorg verwoes
4 Rassisme aangehits

Griet

Dit raak al hoe moeiliker vir ons gewone mense om moed te hou, want trek kan ons nie. Ons sit soos ‘n muis wat deur ‘n slang gehipnotiseer word….en wag.

Stefan

Om tans ‘n positiewe uitkyk vir Suid-Afrika te, is volgens my oortuiging onmoontlik. Die grondgryp planne van Ramaphosa en die walglike ANC, laat enige redelike mens, met rillings teen sy ruggraat. Tog moet eerlik wees met mekaar, dat daar geen ander uitweg vir Ramaphosa en die ANC is as die onteiening van grond sonder vergoeding. Dit is van die laaste stuiptrekkings van ‘n verskeurde, onbeholpte en korrupte ANC. Daar is geen ander troefkaart wat die ANC kan gebruik, in sy poging om stemme werf vir die verkiesing nie. Grondgrype is ook ‘n poging om eenheid, tussen die Kommuniste, bedrieërs en… Lees meer »