Nuuskommentaar: Is ras onderliggend aan bedanking van DA se Gwen Ngwenya?

Gwen Ngwenya het as beleidshoof van die DA bedank. Foto: Twitter (ANA)

Haar van, Ngwenya, beteken in Zoeloe krokodil. En wat nou gaan gebeur nadat Gwen Ngwenya, 28-jarige beleidshoof van die DA, uit hierdie amp bedank het, is ’n ope vraag. Ngwenya het volgens haar self sterk menings oor sake, en is nie geïnhibeer om dit te lug nie.

Ná haar bedanking, en soms bitsige uitsprake hieroor, het ontleders ingespring om dié optrede te probeer verklaar, asook die implikasies wat dit vir die DA inhou.

Ngwenya was sommer dadelik in die nuus toe sy ’n skrale 11 maande gelede DA-parlementslid en hoof van beleid geword het. Reeds op 10 Augustus verlede jaar het Adriaan Basson van News24 haar naam prominent gebruik in ’n artikel wat handel oor die “oorlog” tussen die DA se “laptop boys” en die party se “Bruma boys”. Die stryd het die potensiaal ingehou om die DA te verlam. Profetiese woorde?

Volgens Basson het die stryd in die DA ’n week tevore na die oppervlak geborrel toe die party se federale uitvoerende bestuur die “B” in BEE as beleid van die party verwerp het. Daar is toe probeer om die saak te besleg deur Ngwenya en James Selfe te dwing om saam ’n verklaring uit te reik om vrese oor twis te besweer.

Dit is daarom interessant dat Ngwenya geweier het om haar handtekening te plaas onderaan die dokument wat die DA se verkiesingsmanifes rugsteun. Sy het die DA daarvan beskuldig dat die party nie beleidsake ernstig opneem nie.

Ngwenya het, toe sy destyds as eerstejaar universiteit toe is, op Ikeys besluit omdat daar reeds ’n Daso-tak (die DA se studenteliggaam) was. Sy het egter ook vriendskapsverhoudings met onder andere ANC-lede gehad.

Sy is nou met haar tweede meestersgraad besig.

Is dit toevallig dat die DA op dieselfde dag dat Ngwenya se bedanking rugbaar geword het ’n mediaverklaring nie net in Engels uitgereik het nie, maar ook in Afrikaans? Dié verklaring handel oor die Schweizer-Reneke-geval. In die verklaring word die uitspraak van die hof verwelkom, maar nie na die jeugleier se woorde verwys nie.

As ’n mens die Sunday Tribune van 4 Maart verlede jaar se artikel oor Ngwenya lees, was dit reeds duidelik dat sy sterk standpunte het en sterk daarvoor sal opkom. Haar standpunt oor die Penny Sparrow-reaksie kan hier gelees word.

’n Senior professionele vrou wat Ngwenya ken vandat sy nog ’n bestuurspos by die Instituut vir Rasseverhoudinge beklee het en groot bewondering vir haar het, wys daarop dat die DA skynbaar ’n toksiese beeld teenoor vroue begin uitstraal. Onder die vorige gevalle van omstredenheid tel die twiet-voorval van Helen Zille, asook die uitval met Patricia de Lille wat tot die stigting van die Good-party gelei het. Ook Lindiwe Mazibuku het oornag van skynbare kroonprinses tot niet verwelk, skynbaar om meer lig op Mmusi Maimane te laat skyn as deel van die proses om hom as leier voor te berei.

In die geheel beskou, is dit nog te vroeg om sinvolle gevolgtrekkings te vorm oor die oorsake en veral die gevolge van Ngwenya se bedanking te besin.

Feit bly egter dat rasseverhoudinge in die land tot groot mate omgekrap is, sodat oudpres. FW de Klerk hom ook onlangs hieroor uitgespreek en die ANC erg daarvoor verkwalik het. Daar is reeds verskeie kere in nuuskommentare op Maroela Media gemeld hoe moeilik dit is om ’n werklike nierassige party byeen te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gert ·

Sy kom baie voortreflik voor. Uit die artikel wil di voorkom dat sy BEE ondersteun, wat eintlik nie ooreenstem met haar kommentaar oor Sparrow nie. In elk geval versterk hierdie storie my siening dat mens eerder nie uiteenlopende kulture in een party moet probeer inforseer nie, eerder verskeie partye wat dan koalisies vorm gebaseer op gedeelde beginsels.

Cherokee ·

Gert, ek lees hoe lank gelede jy hierdie kommentaar geplaas het en omtrent dieselfde tyd vandag het ek haar ook gelees en tot dieselfde gevolgtrekking as jy gekom (kliek op die skakel wat Herman voorsien het).. wat ‘n verassing! Ons nodig ruimte in die VF+ en miskien kan ons haar oorreed.

Chris ·

Cherokee, op daardie skakel wat Herman voorsien het, is op daardie artikel nog ‘n skakel waarop mens moet klik om wérklik agter haar kap van die byl te kom.

Karel ·

Nile Crocodile
Swahili – Mamba
Tsonga / Sjangaan – Ngwenya
Tswana – Kwena
Zoeloe – Ingwenya
Afrikaans – Nyl Krokodil

Dis nou as ek dit reg het.

Cherokee ·

Dankie Chris. Ek het net gelees wat haar opinie is oor die Penny Sparrow debakel.

Chris ·

Klik op die woord ‘artikel’ in Herman se skrywe hier bo in blou uitgelig, dan kom jy op A Basson te skrywe uit waarna hy verwys, in daardie skrywe van Adriaan klik jy op ‘rejected race as a determinant for economic redress’ dan kom jy by die artikel uit waarvan ek praat. Die artikel is deur Tshidi Madia geskryf.

Gert ·

Dankie Chris het gelees. So inderdaad is dit sy wat teen BEE is! Ek is baie beïndruk!

Chris ·

As ek reg het sy ook met Frans Cronje gewerk, dis daar waar sy aan die statistiek en navorsing blootgestel is. ‘n Jong briljante mens wat nie ideologie in die kop laat klim nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.