Nuuskommentaar: Is SA nou erger as IS-terroriste?

'n Lid van ISIS saam met die Amerikaanse verslaggewer, Steven Sotloff Foto: heavy.com

‘n Lid van ISIS saam met die Amerikaanse verslaggewer, Steven Sotloff Foto: heavy.com

Suid-Afrika is nou erger as die IS-terroriste self. Dít is die implikasie van die woorde van monseigneur Shlemon Wardoeni, hulpbiskop van Bagdad.

Wardoeni het nie spesifiek na Suid-Afrika verwys toe hy ʼn striemende aanval op ander lande gedoen het oor hul laks houding, en blote lippediens aan die stryd teen die IS nie.

Die IS het homself pas weer hard en duidelik onder die aandag van die wêreld gebring, deur nog ʼn Amerikaanse joernalis te onthoof en ʼn video daarvan die wêreld in te stuur. Steven Sotloff is wreed onthoof kort na Suid-Afrika geweier het om ʼn resolusie van die VN se Menseregteraad te steun waarin die IS se skending van menseregte veroordeel word. Suid-Afrika het gemeen die bewoording is ongebalanseerd – ʼn aspek wat Suid-Afrika nog nie gepla het om Israel in sy stryd teen Hamas by te dam nie.

Suid-Afrika het sedert 1994 verskeie kere die internasionale gemeenskap regop laat sit met hoe hy sy stem in die VN en die VN Veiligheidsraad uitbring, soos die versuim om Mianmar se destydse diktatoriale regering in die bek te ruk. Selfs die mees ANC-simpatieke Suid-Afrikaanse analiste moes geweldige logika-akrobasie inspan om die sinvolheid daarvan te probeer verduidelik.

Hoe die IS, wat onder meer honderde krygsgevangenes teregstel, jong Christenmeisies ontvoer en dwing om die Islam aan te neem en met hul ontvoerders te trou, wat joernaliste gyselaar hou en enorme lospryse eis – en hulle onthoof en die onthoofdings op YouTube plaas, wat minderhede soos die Jazidi’s en Turkmene bykans voor die voet afmaai, Christene wreed vervolg en ander onnoembare wrede dade pleeg, enigsins iets anders as veroordeel moet word, laat die verstand duisel.

Wat moet die IS nóg doen dat die veroordelingsresolusie nié ongebalanseerd sal wees nie? En kon Suid-Afrika nie maar ʼn gewysigde “gebalanseerde” resolusie daargestel het nie?

Monseigneur Wardoeni waarsku dat as die wêreld nie behoorlik kennis neem van die gevaar nie, staan die jihadiste kort voor lank voor hul eie deur.

Net om bietjie perspektief te gee. Die IS is gebore uit dieselfde vertakking van die Soeni-Islam, die neo-Salafiste, as waaruit Al Kaïda gebore is. Die IS was aanvanklik ʼn filiaal van Al Kaïda, maar is uitgeskop omdat dit “te erg was.” Uit dieselfde dampkring kom onder meer Al Shabaab en Boko Haram. Die Salafisme is ten nouste verwant aan die Wahabisme van Saoedi-Arabië, wat beteken dat daar ʼn ruim stroom van befondsing van olieryke sjeiks en ander rykes na die IS stroom.

Monseigneur Wardoeni is reg, maar ook nie in alle opsigte nie. Die VSA, reeds baie oorlogsvoos en sat oor die Midde-Ooste, loods nou lugaanvalle op die IS om hul uitwissingstogte te stuit. Westerse lande laat noodvoorrade vir vlugtendes neer. Duitsland, in die konteks van sy na-oorlogse beperkings, laat die oë rek deur die Koerde van wapens te voorsien om die IS-aanslag die hoof te bied.

Dit is min of meer dieselfde lande wat nou ʼn senuagtige oog op die gebeure in die Oekraïne werp, waar die situasie nie alleen weer koue lug in die Koue Oorlog geblaas het nie, maar die gevaar inhou om in ʼn volgende wêreldoorlog te ontaard.

Rusland, wat die argitekmeester agter die situasie in die Oekraïne is, en sy bondgenoot China, het met hul verbete steun aan die despoot Bashar al Assad, die ruimte geskep vir die opkoms van die IS. Kenner op kenner het gemaan dat ʼn uitgerekte Siriese stryd die radikale Islam die kans sou gee om nes te skop, presies wat gebeur het. Boonop het die verklaarde terreurbeweging van Libanon, Hizbollah, aan die kant van Assad tot die gevegte toegetree en die skaal sterk in Assad se guns begin swaai. Talle bloedige gevegte tussen Hizbollah en die IS het al plaasgevind.

Intussen moet die weste nog kopkrap hoe duisende van hul eie jongmense as “jihadgangers” van Sirië en Irak reis om aan die kant van die IS te gaan veg. Met die moord op die joernalis James Folley het die laksman se sterk Britse aksent opgeval, sodat met redelike sekerheid vasgestel kon word die man was ʼn bekende Britse kletsrymer wat sy peperduur Londense huis verkoop het, om aan die kant van die IS te gaan veg.

Bykans geen Westerse land spring hierdie uittog vry nie, al word hoe hard probeer om hulle te keer. Uit die VSA, Brittanje, Nederland, België, Frankryk en ander ruk hulle by die honderde per land op. Heelwat het al gesneuwel.

Toegegee, hulle is meestal van Arabiese herkoms, en hulle maak net ʼn klein persentasie van die buitelanders uit wat die ruggraat van die IS se magte vorm. Die meeste kom uit Moslemstate. Na berig word is Arabies ook nie die omgangstaal van die IS nie, maar ʼn geradbraakte mengsel met baie Engelse woorde tussenin.

Hoe meer oor die IS geskryf word, hoe moeiliker word dit om te verstaan hoekom Suid-Afrika sy stem weer eens op ʼn bedenklike wyse uitgebring het.

Dit stuur die verkeerde boodskap aan radikale Moslems, of Moslems wat in die toekoms gaan radikaliseer, in Suid-Afrika uit.

Gister se grondwetlikehof-uitspraak in die Renate Barnardsaak het getoon hoe ʼn verdeelde samelewing Suid-Afrika is. Die land het werklik nie nog owerheidsoptredes nodig wat nog meer mense soos vreemdelinge in hul geboorteland laat voel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michil ·

Ons land bestaan net uit self verrykking met die domste van die dom in posiessies wat geintemedeur word deur hul raadgewers.
Meeste van Suid Afrikaanse besighede behoort aan die Jode (Israel) en met die trant waar mee hul aan gaan word al hoe minder werkskepping geskep en al hoe minder beleggings gedoen. Zuma gaan vir die 3de keer staan vir die verkiessing.
vrot land die van ons

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.