Nuuskommentaar: Is SA nou slegter af as voor 1994?

President Jacob Zuma tydens die WEF in Davos, Switzerland. (21 Januarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

President Jacob Zuma tydens die WEF in Davos, Switzerland. (21 Januarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Ten spyte van pres. Jacob Zuma se Vryheidsdagtoespraak waarin hy groot gewag probeer maak het van hoeveel beter die land nou daaraan toe is as onder die vorige regering, toon ’n peiling meer Suid-Afrikaners glo dinge is nou slegter of dieselfde as diegene wat glo dinge het verbeter.

Die vraag of SA nou beter of slegter daaraan toe is as voor 1994 sal in vele kringe as gelykstaande aan hoogverraad beskou word. Simplisties beskou was die rassebeleid van die vorige regering immers as misdaad teen die mensdom verklaar.

Maar toe gebeur dit nou – ’n Afrobarometerpeiling het getoon meer Suid-Afrikaners het gedink dinge was voor 1994 beter as nou. Die peiling is verlede jaar deur die Instituut vir Geregtigheid en Rekonsiliasie en Plus 94 Research gedoen. Minder as vier uit tien Suid-Afrikaners glo dinge is nou beter as voor 1994, terwyl 62% van die kiesers sê dinge het dieselfde gebly of verswak.

Dit staan in skrille kontras met pres. Jacob Zuma wat dié week in sy Vryheidsdagtoespraak sy bes gedoen het om kiesers te oortuig dat dinge nou soveel beter is, en waar dinge haper, dit wyle apartheid se skuld is.

Ook dié week het die FW de Klerkstigting ’n artikel deur sy uitvoerende direkteur, Dave Steward, uitgestuur met die opskrif: South Africa returns to officially imposed racialism in sport. Steward skryf dit beteken die land het terugwaarts getree na waar sport onderhewig gestel word aan die rasse-ideologie van die ANC.

Is die land nou beter af waar die regering self die groot sportsoorte ’n tipe internasionale boikot oplê en die grondwette van internasionale liggame oor regeringsinmenging en rassisme uitdaag, as toe boikotte gevolg het op die vorige regering se pogings tot volwaardige internasionale deelname vir almal deur rasgebaseerde spanne soos die Springbokke, die Proteas en die Luiperds?

Kom ons laat die Seunse Weenkoor se kabaal oor “daar is groot verskille” onbeantwoord. Die feit is dat daardie dae vir goed verby is, behalwe soms soos die Nieu-Seelandse Maori-span wat die geleentheid tot internasionale deelname kry.

Die verlede se voetspoor trap steeds so stewig dat Krieket Suid-Afrika die stuipe wil kry as daar selfs net sprake is van nierassige Afrikaanse en Engelse spanne wat mekaar in ’n nie-amptelike wedstryd die stryd wil aansê.

Maar selfs in Suid-Afrika wentel alles nie om sport om lewensgehalte te probeer bepaal nie.

Terwyl Zuma die land probeer oortuig het dat dinge nou soveel beter is, het daar oral in die land diensleweringsbetogings en ander proteste plaasgevind. Zuma was bewus hiervan, want hy het die ontevredenes aangespreek om in hul protes nie geweld te gebruik en skade aan te rig nie. Daar was terselfdertyd saamtrekke waarin die bedanking van Zuma geëis is.

So ’n paar koerantopskrifte verklap ook dat dinge dalk nie nou so rooskleurig is nie:  Duisende betoog vir #ZumaMustFall, In Depth: The South African conundrum – and why glass is still half full, Why Malema wants war, DA member allegedly stabbed by ANC supporters, Jobs future is bleak, Almost 60,000 workers could lose jobs by year end, ‘Ons vir jou, Suid-Afrika’ (’n kind se verhaal oor plaasmoorde), ’n Doodsklok-plan, Hermann Giliomee, Christo Viljoen kritiseer US se voorgestelde taalbeleid, Diskriminasie kos hom ʼn ‘dekade van sy lewe’, Tough year for high equity balanced funds … wie wil graag nog sulke depressiewe voorbeelde sien?

Natuurlik is daar voorbeelde van waar dinge nou beter is as voor 1994, en Zuma het heelwat empiriese voorbeelde genoem. Maar dis ewe maklik om te toon dat daar net soveel dinge, of meer, sedertdien skeefgeloop het.

Die land (lees die ANC) het die harde les geleer dat daar ’n enorme prys te betaal is vir die “luukse” om iemand soos pres. Jacob Zuma as president te hê. In plaas van formele sanksies knyp afname in beleggersvertroue terwyl die land oor tyd heen sleg op bykans alle indekse teruggesak het, waaronder die persvryheidsindeks en die korrupsie-persepsie-indeks.

Vandag lewer die hooggeregshof uitspraak oor of die bykans 800 aanklagte van onder meer bedrog teen Zuma heringestel moet word. Ongeag die uitspraak sit die land al lank met hierdie eier in die gesig.

Nou ja, nou is die politiek verkeerde klippie ook uit die skoen …

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Rynhardt ·

SA kon in 22jaar nie eens 6% of meer ekonomiese groei handhaaf met Anc aanbewind nie! Die ergste van alles is dat ekonome weier im Anc aan te tree oor die implementering van Vryheidamanifes! Kundigheid is weg uit SA en aan die massas word mooi beloftes gemaak wat nie gaan materialiseer nie.Wereldwyd versleg dinge en dit gaan n helse impak op SA he wat minder as 1% groei toon.Gistraand was op tv nuus berig dat rooivleis voortaan met tot 50-60% kan styg-net die begin van stygende voedselpryse! Waar die Anc se ondersteuners nie politiek verstaan nie, gaan hul dit mwt mening voel in stygende lewenskoste en brandstof. Om aan mag vas te klou gaan jou en jou ondetsteuners nie laat uitstyg nie, maar vinnig na die afgrond neem!!

Rob ·

DIT IS ONS PROBLEEM!!!! ONS RUS TE VEEL!!! AANVAAR NET!!! WAT HET DIE ANC, SAKP GEDOEN VOOR 1994 TOE HULLE NIE KON KRY WAT HULLE WOU HE NIE?

HEVW ·

z se toespraak op vryheidsdag bevestig duidelik die waarheid van die gesegde:” Vir n dwaas is dit net so moeilik om sy eie dwaasheid in te sien as wat dit is as om sy eie ore raak te sien.” Maar ek wil se dit is vir z nog baie moeiliker om sy dwaasheid in te sien, want daar agter sit nog n klomp moedswilligheid, die aanstokery van sy kaders , n klomp rassisme en n tipiese Afrika- drang na mag in die vorm van rykdom.

Kosie ·

As mens meer analities daarna kyk vergelyk vandag met die pre-94 regering soos volg. Misdaad=slegter, Korrupsie=Slegter, Paaie=slegter ( die paaie wat wel werk word tolpaaie (dubbelbelasting), munisipale dienste=slegter, elektrisiteitsvoorsiening=slegter, werkloosheid=slegter, inkomstegelykheid=slegter, aantal plakkerskampe=slegter ( het tienvoudig toegeneem), Standaard van swart onderwys=slegter, koste van goeie onderwys=slegter, aantal opstande/betogings=slegter , beskerming van Afrikaans =slegter, respek vir kultuurerfenis=slegter. So wat het verbeter? Daar is nou ‘n groot swart middelklas danksy rassewette grootendeels en tweedens omdat swartmense nou ook in wit skole geplaas kan word. Maar die rassewette fokus op indiensname, eienaarskap en aankope. Onder apartheid was daar nie sulke wette nie, behalwe om sekere ambagte in myne te reserveer vir witmense vir ‘n beperkte tyd. Dis een ding wat mense heeltemal miskyk. Die sogenaamde regstellende wette is heeltemal onvanpas.

Rynhardt ·

Navorsing het getoon dat 500000-600000 duisend van die massas der massas die skool verlaat en hul kry nerens werk nie!! SA sit op n helse tydbom terwyl die prez sy danspassies op verhoe uitvoer!

KLEIN ·

Wat in meer as 300 jaar opgebou is, is binne 20 jaar vernietig (ZUMATYD die nuwe naam vir omgekeerde apartheid)

Loeis ·

‘n Klomp goed is sekerlik beter as voor 1994, waaronder die JSE ens.

MAAR, is dit agv die ANC se ‘goeie’ regering, of is dit omdat die sanksies wat bedoel was om Suid-Afrika te smoor, afgeskaf is?

‘n Sekere groot Afrikaanse koerant het meer as een keer my kommentaar verwyder wanneer ek bg gese het. Daardie koerant skep maar ‘n drogbeeld van die realiteit.

Tammy ·

Loeis ek weet nie waarvan jy praat nie. Weet jy hoeveel maatskappye (goeie) was voorheen gelys op die JSE. Ek is baie aktief vir baie baie jare en kan jou se ek doen die laaste paar jaar selfs navorsing oor die direkteure en hulle persoonlike lewe voordat ek op n maatskappy bele. Ek dank my Skepper elke dag vir sy genade en hulp, want hierdie veld is nie n speelplek vir kinders nie. Dis n veld vol leeus!!! Dit gaan sleg in SA danksy ons ongeletterde Prez…….

Paul ·

Dis ‘n verkeerde karakterisering van die Afrobarometer-peiling se resultate. Jy kan nie sê dat “[‘n] meer[derheid] Suid-Afrikaners [dink] dinge was voor 1994 beter as nou” indien die 62% gesamentlik gesê het dinge is nou “dieselfde OF slegter” nie.

As jy na die oorspronlike bron gaan kyk, kan jy sien wat dit definsie is van die “dinge” wat beter of slegter is. Daar kan jy ook sien dat 37% gesê het dis beter of baie beter, 24% het gesê dis dieselfde, 38% het gesê dis slegter of baie slegter en 1% het geen antwoord gehad nie.

As jy na die onderafdelings gaan kyk, het 52% gesê rasseverhoudinge is beter en 26% gesê dis dieselfde. Vir veiligheid het 42% gesê dis beter en 23% dieselfde. Vir ekonomiese omstandighede 41% beter en 23% dieselfde. Vir indiensneming slegs 30% beter en 19% dieselfde en dan vir die een wat in werklikheid die minste saakmaak, vir ongelykheid het slegs 17% gesê dis nou beter en 28% gesê dis dieselfde.

Dit maak nogal baie saak wat die “dinge” is waarvan gepraat word…

Johann Marx ·

In 2000 het my buurman en sy gesin hulle huis verkoop, al hulle besittings verkoop, ‘n paar persoonlike items saamgevat en Australië verhuis. My buurman het werk gekry en hulle het ‘n huis gekoop wat min of meer vergelyk met die middelkas huis waar in hulle hier gewoon het. Ek het besluit om hulle NIE te volg nie. Vir my om NOU dieselfde te doen….moet ek SEWE huise soos myne hê en teen top prys verkoop…om EEN huis in Aus te kan bekostig. Is SA nou beter as voor 1994? Besluit maar self….

Theuns ·

Johan,
Die rede vir die hoe huispryse in Australia is die swak Rand! Wie se skuld is dit? Go figure!

/

Theuns ·

Herman dankie dat jy ons woede so mooi verwoord dat jou artikel darem geplaas word. Wat jy se is een 100% korrek. Daar is honderde voorbeelde hoekom Suid Afrika slegter daaran toe is as voor 1994? Hier is ‘n paar voorbeelde. 50 Moorde per dag. 50 motor sterftes per dag. Erge water probleme. Erge Elektrisiteit probleme. Korrupsie. Swak diens in hospitale. Disfunksionele munisipaliteite. Dien Rand wat in sy ……is. Gupta Staat “Capture” SEB’S – DISKRIMINASIE. Ens. Ons moes nie so maklik vrede gemaak het nie? Ons moet na die hele Prentjie kyk en dan die situasie vergelyk. Que Vadis Suid Afrika!

Otter ·

Que vadis? Die regering dien God nie. Daarom is hulle op die verkeerde pad. Hy verhard hulle harte omdat hulle nie wil bekeer nie. Laat ons aanhou om Hom te dien want Hy is in beheer.

Otter ·

Que vadis? Die regering dien God nie. Daarom is hulle op die verkeerde pad. Hy verhard hulle harte omdat hulle nie wil bekeer nie. Laat ons aanhou om Hom te dien want Hy is in beheer.

RK ·

Herman, ek weet nou nie so mooi wat jy sien wat 99% van ons Boere volk nie sien nie – dat jy kan sê “natuulik is daar voorbeelde van waar dinge nou beter is as voor 1994”. Want in alle eerlikheid, meeste van ons kan nie eers EEN noem nie al probeer ons…(en glo my ek probeer hard want ek probeer positief bly in hierdie nagmerrie waarin ons vasgevang is om sodoende lewendig anderkant uit te kom)

Otter ·

Seker net nog Croucamp wat blindelings glo in Mandelatopia. Net jammer hy glo nie in God nie. Seker nie moontlik om beide in God én in ANC te glo nie.

Louis C. Prinsloo ·

Ek wil nie juis die term van “slegter” gebruik nie. Maar daar is beter en slegter dele van alle lande, al is lande hoe oorvloedig ryk of arm. In my opsomming het mense verhoudings drasties verswak, respek uitermatig afgeneem en soms selfs disipline geheel weg geval.
Ek haal geen volk of kerk genootskap aan nie, ek noem net wat verbeter/herstel kan word tot bou van beter land. Mense verhoudings+Respek+Disipline=Liefde vir mede mens, gehoorsaam aan die wet van God; ingestel deur Jesus Christus. Vir elkeen en ook binne elkeen wat Sy Woord gehoorsaam “mekaar in liefde verdra”

Marous ·

Drie faktore wat bepaal of ‘n land kern gesond is ? 1. KWALITEIT VAN WATER. 2. TOESTAND VAN PAAIE. 3 PRIVAAT SEKTOR. As die antwoord op ENIGE van die negatief is , Dan beteken dit NEE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.