Nuuskommentaar: Is saad van selfvernietiging reeds in begroting geplant?

Foto: Pixabay

’n Goeie begroting behoort die land se ekonomie te stimuleer, maar daardie ideaal in Suid-Afrika het lank reeds die kamer blywend verlaat. Maar die regering se volharding om op “de breede weg” van sosialistiese denke te volhard lei onverbiddelik na die plek waar daar ’n gekners van tande sal wees. En soos die predikant wat vir ’n gemeente met vele haasbekke gepreek het: “En vir julle wat nie tande het nie, moenie so smaail nie, tande sal gesupply word.”

Tande kners gaan ons tande kners. Vanoggend is berig dat verskeie ekonome meen dat Suid-Afrika binnekort rommelstatus gaan verwerf, ongeag wat in môre se begrotingsrede staan. Die TLU SA sluit hierby aan, en meen die begrotingsrede sal waarskynlik mooi woorde bevat, maar hoop dat die begrotingsrede deur ekonomiese beginsels gerig sal word.

Die TLU SA se mediaverklaring oor die begroting is in wese ’n skitterende opsomming van die aan mekaar timmer van lande se begrotingsredes en die vereistes daarvan. Dit is ook baie tydig, want soos sake nou staan, en waarskynlik in die laat stadium onomkeerbaar staan, het die begrotingsrede ’n kwalik versteekte bom aan boord en jaag daarmee soos kamikaze-vlieëniers op die hartland van die land se ekonomie af.

Wysgere argumenteer al lank dat die stand van die ekonomie grootliks deur persepsies bepaal word. Hoe sterker die persepsie van ’n gesonde ekonomie, hoe meer sal die ekonomie geneig wees om te blom. Maar daar is ook ekonomiese wette, en wie dié ekonomiese wette met onwerkbare idees uitdaag, het ’n vrypas gekry na ’n ekonomiese inploffing.

Die regering se planne van grondgryp sonder vergoeding is nie net ’n vergryp teen die internasionale reg nie, maar ook teen ekonomiese wette. Dit gáán die ekonomie in duie laat stort, en is trouens reeds besig om onkeerbaar dempers op die ekonomie te plaas. Die pikantheid is dat die regering, by monde van pres. Cyril Ramaphosa, dit as meganisme van ekonomiese groei beskryf, en die proses misleidend “grondhervorming” noem. Volgens regsmenings wat AfriForum ingewin het, is aspekte van die voorgenome planne ook ongrondwetlik en gaan dit, indien nodig, voor die hof beland.

Ook ander planne wat die stempel van versmorende sosialisme dra, kom nou onder skoot, soos die voorgenome nasionale gesondheidsversekering. Vanoggend is berig dat al meer mense ’n belastingboikot beplan.

Die regering se wegdwaal van die werklikheid, soos nog geen aanduiding wat van boere wat geld skuld op die grond wat sonder vergoeding gegryp word nie. Die regering is gewaarborg van moeilikheid kry hieroor. Maar faktore soos korrupsie wat die staatskas parasities leeg suig, wanaanwending van fondse en onbevoegdheid laat belastingweerstandigheid broei.

Maar wat is ’n begroting? Die TLU SA beskryf dit onder andere soos volg: “Enige besigheid se begroting het ’n inkomste- en uitgawekolom,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “In teorie behoort die uitgawes en staatskuld onderhewig te wees aan die staat se inkomste.

“Die belangrikste komponent van die begrotingsrede is om verslag te doen oor die vorige jaar se spandering van die staatsinkomste,” sê hy. “Dit moet gemeet word aan uitkomste en nie aan die blote spandering van fondse nie. Daaruit moet beplanning gedoen word oor hoe fondse in die nuwe boekjaar in die beste belang van die land in inwoners spandeer moet word.”

Maar dit is lank nie hoe dit in die praktyk werk nie: “Die proses rondom die staatsbegroting het ontaard in ’n politiekery terwyl dit eintlik oor finansies, die fiskus, spandering van staatsdepartemente en hoe dit die inwoners van die land tot voordeel moet strek behoort te handel.”

Daar is ander beginsels ook, soos dat belastings so laag as moontlik moet wees om te keer dat so min as moontlik landsburgers onder die broodlyn leef. Ekonome pleit vir ander opsies wat die ekonomieë van lande, maar ook van individue se inkomstes, onder minder druk plaas, met beginsels soos dit is beter om belas te word op wat jy bestee eerder as wat jy verdien. Hoe hoër die belastingkoers op inkomste, hoe meer demp dit werksywer, ook in die produktiewe sektor. ’n Breër belastingbasis is gewild onder mense met ’n hoë inkomste, maar hou skrikwekkende kommer in vir diegene wat te min verdien om bo die broodlyn te leef.

Maar selfs lande met sterk ekonomieë bevind hulle dikwels in buitelandse skuld met ’n versmorende jaarlikse rente-rekening. In die VSA, waar werkloosheid afneem en verskeie ekonomiese sektore op groter groei en minder werkloosheid dui, het die nasionale skuld tot $23 Amerikaanse triljoen gestyg. (Een Amerikaanse triljoen dollar is gelyk aan een biljoen internasionale en SA biljoen dollar.) ’n Jaar tevore was dit nog $21,97 Amerikaanse triljoen.

Maar daar is wel lande wat hard daaraan werk om veral inkomstebelasting te verlaag. So ’n land is België, waar die Hoge Raad van Financiën ondersoek instel na maniere om mense wat onder die broodlyn leef, van persoonlike inkomstebelasting vry te stel. Dit sou die federale regering 3,9 miljard euro’s minder uit die sak jaag.

As in gedagte gehou word Suid-Afrika se bruto skuld beloop in die orde van R3 biljoen, kom dit neer dat elke Suid-Afrikaner ’n aandeel van meer as R40 000 hiervan hou. Dit is bereken voor die semi-staatsondernemings ’n paar miljard hier en daar by die Tesourie kom aas het, voor staatskaping se omvang ’n duideliker prentjie begin vorm het, en korrupsie sy huidige omvang aangeneem het… en werkloosheid en armoede so hoog geword het.

Sommige lande se pensioenfondse moet pa staan vir hierdie soort skuld, en in Suid-Afrika word ook nou al meer met geslepe oë na dié fondse gekyk. Trouens, geld uit die staatsdiensfonds is al in Suid-Afrika gebruik om ’n Engelstalige koerantgroep te koop en miljarde rande moes al hieroor afgeskryf word. As Suid-Afrika, soos wyd verwag word, rommelstatus gaan bereik, gaan buitelandse lenings peperduur word – indien dit ooit bekom kan word – om die beoogde uitgawes te dek wat uit die staatsrede blyk enorm duur gaan wees al word nie vir plase betaal wat die regering “wettig” by die eienaars steel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Alles soos dit is in berig gese, korrupsie wat staatskas parasities leeg suig, wanaanwending van fondse en onbevoegdheid. Raai wat, dit sal nie stop nie. Hulle glo mos dis binne hulle reg om dit te doen, natuurlik sonder om aan ekonomiese nagevolge te dink.

Vrystater

Waar woorde, Herman. Grondgryp? Grondvergrype? En wat gaan daarna op of met die grond gebeur? Watse produktiwiteit gaan daaruit voortspruit? Kom daar nuwe fabrieke en nuwe kommersiële boerdery? Hoeveel buitelandse valuta gaan daarvandaan verdien word met die uitvoer van nuwe produkte? Waar is die infrastruktuurbeplanning, navorsing en kundigheid om nuwe beleggers soheentoe te lok? Juis nou is daar ‘n gulde geleentheid om China se produksie mark-vakuum te vul. Maar, soos jy sê, dis politiekery. En lyk my “politiekery” beteken maar slegs Ace sorg dat die ou gekonkel vervang word met nuwe gekonkel om steeds die ANC topbesture en hulle families… Lees meer »

Werner

Die saad van selfvernietiging is gesaai die dag toe die ja stem gewen het

Wielspore

Jammer, die berig is nie konstruktief en bestaan uit spekulasie en veralgemening. Sal eerder wil lees van wat feitlik is deur midde van voorbeelde en wat is die opsteller se voorstelle vir die oplossings. Dit laat my dink aan ‘n gesin wat vanaf Gauteng tot in Kaapstad reis, van die passasiers sal heelpad kla oor die verkeer, brandstof pryse, duur motors en die verkeersbeamptes op die pad. Ander passasiers sal die natuurskoon geniet, die uitstappie as ‘n avontuur sien, bly wees om uit die huis en roetine te kom. Persoonlik, lewer ek eerder my bydrae daar waar die verantwoordelike persoon… Lees meer »

Johan Venter

En openbare gesondheidsorg laat val nóg oogklappe af: https://en.wikipedia.org/wiki/Healthcare_in_South_Africa Swart verpleegsters is die eerste keer in 1902 opgelei, Dan is daar heelparty plekke wat mens op die internet kan gaan naslaan oor die geskiedenis van Private gesondheidsorg. Dit blyk egter dat mediese skemas, soos ons dit vandag ken, eers in die 1950’s in die VSA ontstaan het en in die 1980’s in Suid-Afrika posgevat het. http://medical-aid.co.za/medical-aid/the-history-of-medical-aid-in-south-africa/ Ek het dus ‘n idee Cyril Ramaphosa moet eers sy feite agtermekaar kry voor hy wilde stellings maak, die geskiedenis regskuif en dit op die mense loslaat. ‘n Mens moet goed luister as Cyril… Lees meer »