Nuuskommentaar: Is SAKP nou aan bewind?

Pres. Jacob Zuma tydens 'n presidensiële komiteevergadering op 8 Oktober 2014 by die Uniegebou in Pretoria Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma tydens ‘n presidensiële komiteevergadering op 8 Oktober 2014 by die Uniegebou in Pretoria Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Maroela Media se nuuskommentare trag na die onmoontlike – om te alle tye objektief en vakkundig suiwer na die feite te kyk en verantwoordbare ontledings te doen. Selfs al beteken dit dat die gevolgtrekkings nie oral ewe gewild of politiek-korrek is nie. Weens die menslikheidsfaktor en die nie-beskikbaarheid van alle relevante inligting, is so iets onmoontlik, en waar ’n sekurakrasie, soos die presiese handelinge om die kernooreenkoms met Rosatom in die duister handel, is dit baie moeilik om akkuraat vas te stel wat aangaan.

Nie dat nie probeer word nie.

Gerugte lei tot vermoedens, wat dan op ander maniere getoets moet word. Dit handel nie net oor wat werklik aangaan nie, maar beïnvloed die publiek se persepsie van die werklikheid.

So is daar nou ’n weergawe in omloop dat OFM en Jakaranda FM minstens nie Steve Hofmeyr se jongste CD uitsaai nie, onder andere glo omdat Steve nie meer “hoofstroom” verteenwoordig nie. Volgens wie se definisie van hoofstroom?

’n Interessante weergawe in die gerug-stadium is dat pres. Jacob Zuma ’n ruk voor die laaste algemene verkiesing besef het dat hy in die moeilikheid is, en veral sal wees as die ANC beduidende steun in daardie verkiesing gaan verloor. Nie net oor wat die opposisie kan doen soos met die sogenaamde spioenasiebande nie, maar meer in die besonder wat sy eie party met hom sal maak.

Luidens dié gerugte het die SAKP toe ’n strategiese besluit geneem – om Zuma ‘n veilige hawe te bied – in ruil vir sekere konsessies. Die vernaamste was dat Zuma nog meer van die reeds ver oorverteenwoordigde SAKP-lede “ongemerk” in sleutelposte sal akkommodeer, en dan self meer op die agtergrond sal wees. Hy sal minder TV-blootstelling kry, hom minder met binnelandse beleid bemoei, hy sal hom hoofsaaklik beperk tot die funksies van ’n seremoniële staatshoof soos waar hy nuwe projekte sal open, of kongresse open, en nougeset die toesprake aflees wat vir hom voorberei is. Hy sal ook as ’n soort super-diplomaat optree met ander wat eintlik die toue trek.

Wanneer die “ooreenkoms” te sigbaar word, sal Zuma se leiband net genoeg skiet gegee word om die werklikheid te verdoesel.

Om die vergrote invloei van SAKP-lede te verdoesel is die reeds hopeloos te groot kabinet nog verder vergroot. SAKP-pionne wat in hul ou portefeuljes te erg droog gemaak het is na nuwe portefeuljes geskuif waar hulle beter as marionette benut kan word, soos Tina Joemat-Pettersson.

Die SAKP het sigbaar die geledere om Zuma gesluit, en hom byna onaantasbaar gemaak. Selfs Gwede Mantshe, sekretaris-generaal van die ANC en prominente SAKP-lid, neem nou hartlik deel aan hierdie verskansing van Zuma, na daar in ’n stadium ’n kloof was tussen die twee.

Die engste plek waar die SAKP op die oog af agteruit geboer het is rondom die sleutelwoord, finansies. Minister Pravin Gordan is weggeskuif van finansies en by die spartelende munisipaliteite geplaas. Volgens sommiges het hy ’n spreekwoordelike hospitaal-aangee raakgevat, volgens ander is hy die enigste persoon wat lewensvatbaarheid na hierdie regeringsvlak kan bring voor die komende landswye munisipale verkiesings. Gill Marcus tree af by die Reserwebank. Maar ook dit is ingevolge hierdie gerugte “maklik” te “verklaar”. Weens verskeie faktore, waaronder die wêreldekonomie, is die mense aan die hoof van finansies in ’n geen-wen-situasie, en daarom is dit beter dat dit deur nie-kommuniste beheer word (uitgelewer word), of mense wie se SAKP-profiel minder bekend is, en dat die SAKP steeds stewige beheer uitoefen oor ander ekonomiese portefeuljes.

Maar sou so ’n “ooreenkoms” die SAKP in effek in beheer van die land plaas?

Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, het nou skynbaar ’n vry sê oor enigiets, en veral oor die vertolking van die grondwet. Sekere duidelike bepalings in die grondwet bestaan nou in effek nie, want dit pas nie die SAKP se ideologie nie. Hierteenoor funksioneer die adjunk-president, Cyril Ramaphosa, soos iemand wat regop onderdeur ’n mat kan hardloop sonder dat sy hare gesteur word. In baie kringe word hy nie as ’n ernstige aanspraakmaker beskou om Zuma op te volg nie.

So ’n “ontleding” herinner egter sterk aan die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om Zuma nie te vervolg nie. Die onhoudbaarheid van politieke druk as voortgegaan sou word met die vervolging is voorsien, en daarom is besluit om dit te staak en dan eers redes vir die staking te vind.

Dit herinner ook aan ’n “gebeurtenis” wat aanhangers van samesweringsteorieë nou op hol het – die beweerde koms van die planeet Nibiru, oftewel Planeet X. Daar is by wyse van spreke meer weergawes oor Nibiru as die sterre aan die hemeltrans, maar oor een ding stem die aanhangers saam – die wetenskaplikes (lees Nasa) steek die “ware” inligting van die wêreld weg.

Byna alle werklike of gewaande situasies word aan die naderende planeet toegeskryf. So word dit as feit gestel dat die “toename” in aardbewings hieraan te wyte is – terwyl daar sedert April eintlik ‘n groot afname in baie sterk aardbewings was (wat noodwendig weens die opbou in die spanningsvlakke die een of ander tyd groot aardbewings tot gevolg gaan hê). Daar is glo ’n toename in vulkaniese uitbarstings, maar ’n ontleding van die data dui nie so iets aan nie. Selfs klimaatsveranderings word hieraan toegeskryf, terwyl ’n ontleding van die VOC se dokumente toon dat die skrywers onbewustelik al honderde jare die kom en gaan van die El Nino-verskynsel opgeteken het.

Elke weergawe van Nibiru word “bewys” deur ‘n versameling van “wetenskaplike” feite, sonder om te besef dat daar in die proses sekere wetenskaplike onmoontlikhede geskep word.

Word die SAKP-hipotese met Zuma as feit aanvaar, sal daar in die deurmekaarspul van die Suid-Afrikaanse politiek wel oorgenoeg “bewyse” gevind word om dit as “waar” te bevind.

Beteken dit dat die moontlikheid dat dit wel gebeur, of gebeur het, verwerp moet word?

Verskeie lande benut selfs hierdie samesweringsverskynsel. Pres. Wladimir Poetin van Rusland word byvoorbeeld sterk beïnvloed deur ’n formele dinkskrum, Izborsk, wat floreer op anti-Amerikaanse samesweringsteorieë, en so ’n volkome alternatiewe “werklikheid” van die situasie in Oekraïne skep waar Rusland heldhaftig toetree om Oekraïne en selfs Rusland teen die Amerikaanse imperialisme te verskans. In die proses word natuurlik baie selektief van feite gebruik gemaak. Oud-Pres. Janoekovitsj word byvoorbeeld as die slagoffer voorgehou van ’n demokraties-verkose president wat deur die invloed van die geldmagte omvergewerp is. Daar word versuim om te sê hy is ook deur sy eie party uitgeskop omdat hy deur korrupsie homself waarskynlik die rykste man in die land gemaak het.

Dit is juis die aard van wetenskap om ’n hipotese te neem, dit wetenskaplik objektief te ondersoek en genoegsame bewyse te vind om dit ’n teorie te maak. Dit kan selfs met genoegsame bewyse as model voorgehou word, en uiteindelik ’n wetmatigheid word.

Maar… ander vertolkings moet terselfdertyd regverdig kan “meeding” om die werklike antwoord te vind. Onder hulle is ook genoeg samesweringshipoteses, soos dat die voete van klei van die huidige administrasie eintlik ideaal is om deur ’n buitelandse moondheid “gekoop” te word en dat die land so die slagoffer word van byvoorbeeld Russiese of Chinese imperialisme. Of natuurlik, die gewilde een by samesweringsaanhangers, van die VSA.

Die vreemde Tina-Rosatom-ooreenkoms met die skaduagtige rol van Zuma, skep ’n ryke teelaarde vir allerlei afleidings en “gevolgtrekkings.”

Daar is ruimte vir die losmaak van gedagtes om onwaarskynlike hipoteses te ondersoek en vir geldigheid te toets, maar dit mag nooit vanuit die staanspoor so ’n fiksasie wees dat alle ander moontlikhede uitgesluit is nie.

Dit sal Suid-Afrikaners loon om met aandag te let op die mutualisme tussen Zuma en die SAKP, sodat die land nie met die broek af gevang sou word as dit blyk die waarheid te wees nie. Dit beklemtoon ook die uiters belangrike rol van ‘n vrye pers, burgerlike instellings en hoofstuk 9-instellings om te verhinder dat die staat volle beheer oor die ganse samelewing en sy strukture neem (en dit dan nog boonop demokrasie noem).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sjert ·

“…Dit sal Suid-Afrikaners loon om met aandag te let op die mutualisme tussen Zuma en die SAKP, sodat die land nie met die broek af gevang sou word as dit blyk die waarheid te wees nie…”
Inderdaad!!!

Die mag en invloed van swart vakbonde, nasionalisering, herverdeling van grond en besittings asook talle soortgelyke voorbeelde, dien as bewyse van die enorme invloed wat die Marxistiese ideologie op die beleid en werkswyse van die huidige regime uitoefen. Aansluitend hierby is dit so dat die dinkskrums van die SAKP steeds die ‘Strategy and Tactics” van die ANC voorskryf en tot uitvoering bring. Soos dit al vir dekades lank gebeur.

En moenounie met die storie kom dat hierdie feite asook soos dit in die artikel hierbo beskryf word, bloot uit ‘n maniese soeke na ‘n kommunis onder elke bed is nie.

Kyk bloot na die daaglikse gebeure, uitsprake en beleid van die ou spulletjie wat steeds dans op die maat van die kitaar wat oorle’ Karl Marx vir hoevele jare reeds via die SAKP tokkel. Danspassies wat veral sedert die “Congress” beweging in die vroeë vyftiger jare, daarvoor sorg dat die rigting en die pas van die “Struggle” konsert uitgevoer word volgens SAKP voorskrifte.

Is slegs die narre wat verander. Die sirkus bly dieselfde een my tjaaina.

Sug.

Herman Toerien ·

Ek het eers heelwat na ek hierdie ingestuur het vandag se Radio Pretoria-nuuskommentaar gesien. Hoewel ek en die Radio Pta-skrywer onafhanklik van mekaar geskryf het, het die twee stukke baie raakvlakke. Hy bring Blade se afkeer aan die PUK duidelik in verband het die SAKP se Leninistiese wortels.

Sjert ·

Het nie die Radio Pta skryfsel gesien nie.

Afgesien van die beherende posisie wat Mantashe binne die huidige regime vervul, het die SAKP nog ‘n stuk of 4 ministers en 4 adjunk ministers in die kabinet, nogal in sleutel poste soos Onderwys, Landbou, Handel…

Om nie eers te praat van die Reserwebank se baas – antie Marcus wat nou gaan uittree nie. Sy is ‘n lewenslange lid van die SAKP en dogter van ouers wat altwee prominente lede van die SAKP was. Seker die eerste keer in die geskiedenis van ons planeet dat ‘n lid van ‘n kommunistiese party as die Goewerneur van ‘n kapitalistiese instelling aangestel word.

hehehe

Deon ·

Julle verstaan dit nog steeds nie – die SAKP is al aan bewind en in beheer van 1992 af. Hulle het Codesa beheer, hulle is die intelligensie agter die anc en hulle is eintlik so wit as wat kan kom Nieteenstaande Blade se protestasies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.