Nuuskommentaar: Is selfbeskikking en volkome onafhanklikheid dieselfde?

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Met die naderende verkiesing word daar so tussenin na beleidsaspekte gekyk. Uit leserskommentare blyk dit dat daar by sommige lesers ’n misverstand is. ’n Opvallende voorbeeld is dat sommige lesers die VF Plus daarvan beskuldig dat die party sedert sy stigting sy beleid van ’n onafhanklike volkstaat versaak het.

Dit is egter uit die staanspoor duidelik gemaak dat die beleid uit twee elemente bestaan, naamlik geografiese selfbeskikking en tweedens ’n selfbeskikking wat in die staatkunde as korporatiewe selfbeskikking of korporatiewe federasie bekend staan.

Artikel 235 van die Grondwet maak voorsiening vir selfbeskikking, maar nié vir onafhanklikheid nie. Pertinent word by geografiese en korporatiewe selfbeskikking stilgestaan.

Die voormalige presidentsraad se komitee vir staatkundige aangeleenthede het in 1990 ’n verslag gepubliseer met die titel: Besluitnemings- en konflikbeslegtingsmeganismes en -tegnieke in staatkundige stelsels.

Die doel was opsigtelik om regeringslui toe te rus met kennis van geskikte staatkundige modelle wat die heterogene aard van die Suid-Afrikaanse samelewing die beste kon dien, en sodoende konflik ten beste kon ondervang.

Later, tydens Kodesa, was regerings- en NNP-onderhandelaars se riglyne oor wat onderhandel kon word, feitlik woordeliks uit hierdie dokument geneem. Die uwe was die navorser wat die administrateur van die Vrystaat se insette vir Kodesa moes voorberei. Die indruk wat verkry was, was egter dat die onderhandelaars nie die navorsingstukke gelees het nie, en ’n unitêre stelsel in die oog gehad het.

Volgens die dokument self is die presidentsraad se dokument verkrygbaar by die staatsdrukker te Pleinstraat in Kaapstad. Die konsep van korporatiewe federalisme word op bladsy 12 behandel en veel minder regstreekse aandag is daaraan geskenk as aan byvoorbeeld konsosiatiewe demokrasie. Ander subhofies het terloopse aandag aan aspekte van korporatiewe selfbeskikking geskenk, gewoonlik waar daardie konsepte met ander modelle gedeel word.

Tydens die bestaan van die Volkstaatraad het korporatiewe selfbeskikking egter breedvoerig onder die loep gekom. Die Burger het selfs in ’n baie positiewe hoofartikel ’n beroep op mense gedoen om getuienis hieroor voor die Volkstaatraad te gaan aflê.  Die bekende prof. Willie Breytenbach van die US was een van die kundiges wat getuienis daaroor gaan aflê het.

In die Grondwet word korporatiewe selfbeskikking soos volg gedefinieer: “… recognition of the notion of the right to selfdetermination of any community sharing a common cultural or language heritage within a territorial entity in the Republic or any other way determined by national legislation.”

Soos in die internasionale reg, word hier ook nie voorsiening gemaak vir selfbeskikking op rassegrondslag nie.

Korporatiewe selfbeskikking kan beskryf word as ’n regering oor mense eerder as oor ’n grondgebied. Dit was oorspronklik redelik algemeen onder sekere Noord-Amerikaanse Indiaanse stamme wat byvoorbeeld jagvelde gedeel het, maar elke persoon het deeglik onder die gesag van sy eie stamhoof gestaan. ’n Meer moderne verskynsel is die Maori-kongres of -parlement. Boonop het die Maori’s ook stemreg in die nasionale parlement, en ook ’n aantal gereserveerde setels wat geleidelik meer word.

Ook in Indië het die oorspronklike inwoners, volkeregtelik bekend as “first nation”, gereserveerde setels in die nasionale parlement. Hulle het ook reservate met duidelik verskanste regte.

Korporatiewe selfbeskikking in Suid-Afrika word as opsie oopgehou omdat die Afrikaners so wydverspreid oor die land woon, en baie nie bereid is om hul plase en ander gevestigde belange te verlaat om na ’n volkstaat te verhuis nie. Met korporatiewe selfbeskikking kry die Afrikaner of ander groep meer regte as bloot internasionaal-erkende minderheidsregte, naamlik ’n eie regering met gesag om daardie minderheidsregte self te beheer en oor sake soos onderwys te regeer.

’n Ander begrip wat meerdere politieke partye in Suid-Afrika al gebruik het, is konfederasie, maar dan is Switserland as voorbeeld gebruik. Switserland se amptelike naam is inderdaad die Switserse konfederasie, maar dié land is lank nie meer ’n konfederasie nie. Trouens dit het reeds in 1848 ’n federasie geword.

Switserland kan voorts ’n etniese federasie genoem word soos ook België, Ethiopië (in teorie) en Indië. Dit beteken dat die deelstate taamlik outonoom is, en taamlik etnies eenvormig is, soos die Vlaamse en Waalse deelstate in België.

Nog ’n variasie is variërende selfbeskikking soos Brittanje en Spanje. Die Skotte het byvoorbeeld ’n eie parlement, terwyl die Walliesers ’n eie selfregeringsliggaam het, en die Noord-Ierse parlement nou reeds ’n paar jaar nie byeenkom nie. Ook die inwoners van Cornwallis het ’n vorm van selfbeskikking. Engeland het egter nie ’n eie parlement nie, en word regstreeks deur die Britse parlement regeer. Dit beteken dat die Skotte en ander minderhede die Engelse teoreties mederegeer.

Om lid van die Europese Unie te kon word moes Spanje selfregering aan minderhede soos die Katalane en die Baske toestaan. In die geval van die Baske het dit ’n einde aan die uitgerekte terreurstryd gebring. Die Spaanse grondwetlike hof het egter die selfbeskikkingsreg grootliks ongedaan gemaak, en die gepoogde vreedsame onafhanklikheidspoging deur Katalonië is betreklik gewelddadig onderdruk.

Of die Afrikaner (en ander minderhede) ooit ingevolge die Grondwet selfregering sal kan kry, hang in die eerste plek daarvan af of dié minderhede dit verlang, en dit doeltreffend uitdruk, en tweedens of die nasionale regering gaan instem.

Terwyl Jacob Zuma aan die begin van sy bewindstyd gesê het die Afrikaner moet sy “eie Nkandla” kry, het Gwede Mantashe, toe nog die ANC se sekretaris-generaal, selfbeskikking egter uitgesluit weens die “onbehoorlike bevoordeling van die blanke” in die verlede.

Let wel, Beeld het Mantashe na die moontlikheid van selfbeskikking “vir die Afrikaner” gevra. Mantashe het egter uit die staanspoor “Afrikaner” met “blanke” vervang – ’n ou ANC-taktiek om die debat oor minderheidsregte in effek buite spel te plaas.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Du Toit Maritz ·

Dit lyk my mense in SA (wit en swart) stel in hierdie stadium nie regtig belang in selfbeskikking nie. Meeste mense weet meer van losskrums en van “penalty shootouts” af as van federale of konfederale regering.
Miskien het ons nog te veel om te verloor.
Die strewe na selfbeskikking kom ongelukkig meestal na geweld en onderdrukking. Ons is nog nie daar nie.

Deon ·

Die meerderheid van die bevolking se lae geskooldheid gaan ook nie help om ‘n volwasse debat te voer nie. Hulle sluip maar rond soos in ‘n zombie fliek.

Johannes ·

Stem nogal baie saam met jou opmerking. Dit gaan eers weer ‘n oorlog vat om ons Boere wakker te maak… hopelik oorleef ons hierdie 3rde Vryheidsoorlog om ‘n eie republiek op die been te kry.

Piet ·

En so probeer Herman walgooi vir die VF+. Hulle het beloftes gemaak wat nou nognie nagekom is nie. Beloftes maak skuld soos die spreekwoord sê.

Koos1 ·

Piet, en watter politieke party doen dit nie?
Die kwessie is nie oor beloftes nie maar met wie jy jouself kan vereenselwig.

Loeis ·

Piet, Herman wys daarop dat een vereiste vir selfbeskikking is dat mense dit wil hê. Dalk is dit tyd dat mense daardie mandaat aan VF+ gee.

Die verkiesing kom binnekort.

Piet ·

Koos1

Dit gaan oor altwee. Trump probeer tenminste sy beloftes nakom.

Jerry ·

Nou wonder ek waar laat die feite van hierdie skrywe die Afrikaner asook vir witmense wie strewe na selfbeskikking en n eie volkstaat. Die feite dat selfbeskikking vir witmense van die ANC afhang, dui dan tog daarop dat daar Afrikanerleiers is wat besig is om witmense en die Afrikaner te mislei met n strewe na n onrealistiese uitkoms. Die ANC regering het mos nou gese hulle sal nie selfbeskikking vir “blankes” toelaat nie. Dit is geen wonder dat die VF en sy frontorganisasies nog absoluut niks daadwerkliks in diervoege vir die Afrikaner of “blankes” kon laat realiseer nie. Ek wou se die slimjanne se stories klink net te goed om waar te wees. Eiebelang word dus gedien onder dekmantel van, Afrikanerbelang! Dankie Herman, jy het nou maar net my vermoedens bevestig. Eintlik is die enigste eerlike opsie toe nou maar om te emigreer en nie weer terug te kyk nie!

marco polo ·

Heeltemaal korrek, Jerry. Ek sal nou maar nog n jaar in ballingskap bly en droom van n volkstaat eendag.

Cornelia ·

As u nie hierdie inligting opdiep en so kundig aan die lesers voorlê nie, sal ons daar geen sout of water van weet nie. Baie leersaam. So verbreed u ook ons kennis en insig rondom politiek se soeke na oplossings binne volke se groepsdifferensiasie strewes. Dankie daarvoor.

Rasper ·

Dankie hiervoor. Stap 1; lig mense in oor wat selfbeskikking is. Wat is die opsies? Wat is moontlik, en wat nie? Stap 2; begin as Afrikaners daaroor debateer. Ek noem debateer, want dit beteken jy moet ten minste vir die ander persoon luister, en daaroor dink. Ons moet nie klaar besluit het, EK is REG, en basta. Al is ek alleen, sal ek maar alleen vrek nie. Hier is Maroela Media die perfekte platvorm. Stap 3; Leiers moet begin luister na wat gesê word. Die meeste organisasies is op die internet, en kan maklik skakels oopmaak waar voorstelle gestuur kan word. Stap 4; Indien dit voel dat organisasies nie wil luister nie. Hou op om hulle te ondersteun en beweeg aan na die wat wil. As Afriforum nie wil nie, weerhou ledegeld. As die VF+ nie aandag gee nie. Stem vir iemand anders, of glad nie. Weerhou advertensies as die mediaplatvorms nie die saak bevorder nie. Stap 5; hierdie is die moeilikste, en niemand het dit nog reg gekry nie. Kry ‘n volk bymekaar. Die meerderheid Afrikaners is net op soek na ‘n werkbare plan. Iets anders as emmigreer of krepeer. Jy sal nooit almal gelukkig maak nie, maar wel die meerderheid. Stap 6; implementeer die plan. Die begin is egter om mense te “educate”.

Charles ·

Baie, baie dankie Rasper, jou insette word opreg waardeer!

Rasper ·

Hierdie onderwerp lê my baie na aan die hart, so ek wil nog skryf. Kan Afriforum, Boere-Afrikaner Volksraad, Orania, United Liberty Alliance, Cape Independent Party, Kleinfontein, VF+, Front Nasionaal… (my vingers raak lekker moeg om al die partye/organisasies in te tik), ‘n beraad hou oor dit nie? Van die kleinste tot die grootste. Want as dit nie kan gebeur nie, sal selfbeskikking in watter vorm ookal nooit plaasvind nie. Want al staan almal saam, is ons nogsteeds die minderheid. So as daardie minderheid uit 100 monde praat, is hulle nog minder, en nog minder relevant. Ek moet sê, die persone wat nog die naaste kon kom om ons te verening was Steve Hofmeyer en Angus Buchan. Lag maar, julle almal weet dit is so.

Chris ·

Daar word reeds genoeg gepraat en genoeg berade gehou. Probleem is byvoorbeeld dat as dit gaan oor geografiese selfbeskikking, wáár dit moet wees. Probleem is dat die mense van Pta nie sommer kan oppak en Orania toe kan verhuis nie. Omgekeerd dieselfde. As daar ‘n werkbare plan was wat almal kan ondersteun, was die plan lankal daar gewees. Daardie plan bestaan nie. Kies daarom vir die tweede beste moontlikheid, die mees gevorderde plan met die meeste selfbeskikking.

Boerseun ·

Is daar regtig iets soos ‘n Afrikaner? Ek behoort aan die Boerevolk, en ons is na 1902 uit ons republieke verneuk; wag nou nog vir die herinstel van die Boererepublieke. Ons het ‘n geskiedkundige eis om grond. Maar agtereenvolgende NP-regerings het probeer om ons te verAfrikaniseer en op te klits. Manie Maritz het al in die middel 1960’s by dr. Verwoerd gaan pleit vir ‘n Boerestan, maar die NP het vaderlande aan al die swart volke gegee – net nie vir die Boerevolk nie!

Frik Lotz ·

Territoriale en kulturele selfbeskikking is die enigste uitweg vir die Afrikaner en ander minderhede in hierdie land. Dis tyd dat daar met nuwe oë na selfbeskikking gekyk word en ook vir VF Plus gestem word sodat die party n krag kan word om selfbeskikking te kan deurvoer met die wete dat die mense agter hul staan en ondersteun.

B ·

So van ’95 se ‘Nuwe SA’ tot planne oor selfbeskikking amper 25j later. Insiggewend.

Net jammer dat die wie se visie toe ver vooruit gestrek het destyds verguis en as verkramp ens uitgemaak is, maar vandag erken en ondersteun word.

Jerry ·

Rasper niemand sal vir jou lag nie, want die situasie is om van te huil. Die feit dat daar so baie Afrikanerorganisasies is, is tekenend van slimjan opportuniste wat n reeds verdeelde volk nog erger gaan staan en verdeel het. Elkeen van die organisasies koester hulle eie ou groepie of lede se belange onder die dekmantel van Afrikanerbelange. Dit is presies net daar waar die probleme begin en ook presies net daar waar dit so tragies gaan eindig. Indien Angus of Steve of enige persoon dit kan regkry om hierdie organisasies te verenig om eie belang opsy te skuif vir die groter belang van die Afrikanervolk en selfbeskikking en n eie volkstaat tot stand te bring, hetsy deur vredesonderhandelde of oorlogsonderhandelde skikking, dan is dit die leier wat die Afrikaner so broodnodig, benodig!

Jacques ·

Ja die dinge moet nou na ‘n kant toe. Ek stel slégs belang in ‘n totaal onafhanklike Boere Volkstaat. Niks minder nie. Dan verlaat ek eerder dan nou maar die land en vergeet dat ek ooit ‘n Boer was.
As jy nié total onafhanklik is nie, sal die probleme oneindig bly. Hoe gaan mens vorentoe as jy net aldag moet vure doodslaan?

Rasper ·

Jacques, jy is ten minste eerlik. Jy het besluit wat jy wil hê, en wat jy bereid is om daarvoor te betaal. Ek neem aan jy is bereid om te trek na ‘n volkstaat, as jy nie tans daarin bly nie?

Rick ·

Die huidige regering sal ons geen vorm van selfbeskikking toestaan nie, hulle hou nie van ons nie en wil ons nie rerig hier he nie, maar besef ook dat hulle ons geld nodig het vir die land om te oorleef. Die belangrikste vir meeste Boere/Afrikaners is dat ons families veilig is, vir dit sal ons ons eie polisie mag en weermag moet he, so basies ‘n onafhanklike staat. Die enigste manier wat ons dit gaan kry is om te baklei daarvoor, maar ek dink tans is meeste mense nog nie reg vir ‘n oorlog nie, so waarskynlik gaan ons nog ‘n geruime tyd met die huidige situasie voort leef.

Hendrik ·

Jerry, om te emigreer trek jy ‘n streep deur jou volks geskiedenis. Dis ons beurt om “die bullet te bite”. Ons MOET ‘n oplossing vind. Die tyd sal ryp word. Dis nog nie nou nie. As ons om ons kyk, lyk dit verlore, maar bly glo. Gaan stem vir die party wat jou volk se belange die meeste dra. Jy gaan dalk nie met alles saamstem wat die party se en doen nie, maar dis belangrik om getalle agter so ‘n party te kry. Nie om ‘n oorwinning by die stembus te behaal nie, maar om in elke opsig Afrikaners te verenig. Moenie my verkeerd verstaan nie, dis nie die DA nie. Elkeen moet rondom homself begin en doen wat sy hand vind om te doen, in elke faset van die samelewing. As die kerke weer elke Sondag vol is, sal dit dalk beter gaan.

Veritas ·

Selfbeskking óf onafhanklikheid sal beter wees as wat dit tans gaan en waarop dit afstuur. Ons moet net in gedagte hou dat die Afrikaner ( Boer ), ook onder sommige ander blankes, nie gewild is nie. Ons gaan alleen veg.

chris ·

Ons moet besef dat slegs territorial selfbeskikking n verskil kan maak aan ons eie toekoms. Selfbeskikking wat nie op teritorium gebaseer is nie is sinneloos want ons sal geen beheer he oor ons onstandigehed nie. Die RSA grondwet stipuleer spesefiek ‘territorial selfbeskikking vir Taal en kultuur groepe”.
Internasionale reg spesifiseer ook selfbeskikking as n reg vir ‘Peoples” – in Afrikaans is dit etniese groepe – en RSA het in 1994 die Internasiobale Verdrag vir politieke en Burger Regte onderteken . Afrikaner en ander etniese miinderhede kan dus met reg aandring op selfbeskikking en die internasionale gemeenskap daarby betrek. Internasionale druk is die eengiste ding wat die ANC regering kan beinvloed. Daar bebewens sal elke etniese groep ook self die meerderheid wil moet toon vir selfbeskikking.
Die interesante feit wat nooit genoem word nie is dat as alle interne remedies vir selfbeskikking uitgepus is sonder sukses, kan n volk aanspraak maak op die reg op remedieerende sessesie, en eensydige onafhanklikheid afkondig and n referendum. Dit is egter deurslagewend om die nodige steun van ander state te kry om dit suksesvol te doen.
Afrikaners en Afrikaner organisasies behoort hierdie geleentheid maksimaal te gebruik om hul eie toekoms te verseker – deur die proses van selfbeskikking te steun en aan die gang te sit. Dit kan dalk selfs lei tot onafhankliheid in n soewereine Afrikaner staat. Selfbeskikking hang nie van die RSA regering of die ANC af nie, maar van Afrikaners self.

Out of Africa ·

Vergeet maar van ‘n volkstaat of self beskikking want blankes is te lui om hulle eie tuin en huis werk te doen. Die Aussies se mos: South Africans would rather die in their beds than make them!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.