Nuuskommentaar: Is studente-onluste gekaap, met Afrikaans wat in die stof byt?

tuks-afrikaans-geweld

Graffiti op ‘n muur by die Universiteit van Pretoria. Foto: Twitter via @_Dakie

Daar is soveel verstommende ooreenkomste tussen die beginsels van die aanvanklike studente-onrus hier en dié in die VSA, dat dit byna onmoontlik lyk dat dit toeval kan wees. Sedertdien het die element van fatsoenlikheid egter duidelik in die stof gebyt en het dit ’n rassistiese, anargistiese karakter in die beste tradisie van Fanon aangeneem. Die anti-Afrikaanse veldtog, wat op die oorspronklike optogte probeer ry het, het eenvoudig voortgegaan om ook die nuwe wilde perde te probeer ry.

Dit lyk of die studente-onrus in Suid-Afrika aanvanklik ’n sterk element van fatsoenlikheid gehad het, en ook so gereeld openlik deur dosente en selfs rektore geloof en gesteun is, maar dit was gou duidelik dat die beweging gekaap is en dat die EFF daarin geen geringe rol speel nie.
Ook word die indruk gewek dat die teenstanders in die akademie van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal die verwikkelinge probeer “benut” het om hul sin te kry, al moes ’n wilde perd naderhand bloots gery word.

Die gevolg is dat die Universiteit van Stellenbosch (US) twee keer in die hof die knie moes buig dat die universiteit in wese sy eie raadsbesluite minag, en Kovsies (volgens vanoggend se hoofartikel in Volksblad, nou die University of the Free State [UFS]) ook regsaksie in die gesig staar. By Tuks woel dit nadat die afdwaalspoor na verengelsing in die moeras beland het, en die proses nou oorgedoen moet word.

Maar hoe gematig was die aanvanklike protes? Spreker ná spreker van die #FeesMustFall-veldtog het tydens betogings steun aan onder meer Open Stellenbosch uitgebasuin. Dit het ’n mate van skisofrenie openbaar waar die fatsoenlike element steeds beskaaf geredeneer het, en byvoorbeeld self na betogings opgeruim het. Die persgesig-voorval het onder meer op die verdeeldheid gedui met tweespalt in Open Stellenbosch en die studenteraad. Maar is daar nog veel van hierdie fatsoenlikheid oor?

As ’n mens ’n artikel oor die studente-onrus in die VSA in die Christian Science Monitor lees, is die bykans volmaakte ooreenkomste met die aanvanklike kenmerke van die Suid-Afrikaanse betogings byna verbluffend. Veral die fatsoenlike beeld wat simpatiseerders in die akademie van die betogings hier geskets het, en wat dit onderlê, is byna identies.

Wat natuurlik die vraag laat ontstaan of daar nie inderdaad ’n tipe “intellektuele uitruil” was om die Suid-Afrikaanse onrus van stapel te stuur nie.

In breë trekke het die Amerikaanse weergawe wat oor talle state en universiteite strek, ’n probleem met die “establishment”. Aangevuur deur veldtogte in die VSA se groeiende minderheidsgemeenskappe soos #BlackLivesMatter, is daar ’n aandrang daarop dat die karakter van die universiteite nie die standaard-Amerikaanse lewenswyse weerspieël nie, maar eerder sterk ruimte laat vir die neerslag vind van ander kulture.

“Kulturele artefakte”, ongeag die historiese belang daarvan, moet waai veral as dit op die een of ander band met slawerny dui. Historiese heldefigure, selfs oudpresidente, wat deur die Amerikaanse geskiedenis as verlig voorgehou word, se geraamtes word uit die kas gepluk en getoon hoe ook hulle eens slawerny goedgepraat het.

Ook negatiewe stellings oor die inheemse bevolking uit die jare toet is nou aan die groot klok gehang om eertydse helde voete van klei te gee.
Stem dit nie baie ooreen met die sentimente van die #RhodesMustFall-veldtog wat ook elders onder meer beeldebestorming tot gevolg gehad het, en onder meer daartoe gelei het dat oudpres. CR Swart se beeld in ’n visdam beland het nie? En dat ’n simpatiseerder baie gou breedvoerig geskryf het oor hoe Afrikaners eintlik ’n vals beeld van Oom Blackie nastreef?

Die opstandige studente in die VSA erken ook dat hulle in hul metodiek die grense van fatsoenlikheid in hul optrede toets.

Die studente daag ook, soos hier, die grondwetlike regte van ander uit. In die VSA moet die bepalings van die “First Amendment” eenvoudig in die slag bly ten koste van eie “reg op spraakvryheid”. Ook dit weergalm hard in Suid-Afrika waar die wetsgehoorsames onder ’n sterk vergrootglas is vir die geringste teken van rassisme, maar die opstandige studente T-hemde met die vieslikste rassistiese haatspraak, soos “F*&k all Whites”, mag dra omdat dit vryheid van uitdrukking verteenwoordig.

Dit is natuurlik nie moontlik om ’n presiese lyn te trek oor wanneer die “fatsoenlike” optrede met legitieme eise so gekaap is dat dit die anargistiese kenmerke van ’n Fanon-gedrewe (dus ook rassistiese) opstand gekry het nie. Van die goedbedoeldes het hulle immers nie skielik onttrek nie, en baie het aangebly in die geloof dat hulle die beweging op ’n fatsoenlike trajek kan hou. Maar as ampsdraers, gemagtig of nie, openlik aan die media vertel dit is Fanon-gedrewe, moet die gevaarligte rooi slaan.

Hier staan die Suid-Afrikaanse weergawe nou baie ver van hoe die huidige Amerikaanse onvrede opsommend beskryf word: “Student protesters are demanding a sense of belonging that goes further than the antiracism movements of the past, experts say.”

’n Mens moet werklik by alle perke van naïwiteit verby wees om nie te merk dat die oproer hier nou oorhoofs erg rassisties gedrewe is nie. Selfs die Seunse Weenkoor het met die uitsondering van ’n stuiptrekking hier en daar besef dat die perd te wild geword het. Die stryd teen Afrikaans het sy eie hart en siel (met verskeie nuanses) en gebruik gewoonlik bloot die beskikbare bene om te kom waar dit wil wees.

Vandag, op Netwerk 24, skryf die Stellenbosse filosoof, prof. Anton van Niekerk, opnuut oor sy wrewel dat AfriForum hofinterdikte teen die US oor sy taalbeleid kry. Hy wek die indruk dat AfriForum sy eie wil van buite op ’n onwillige universiteit probeer afdwing. Hy meld nie dat die universiteit in albei interdikte kop gegee het dat hy eintlik sy eie taalbeleid in die tande skop nie. Voorts wek Van Niekerk opnuut die indruk dat AfriForum Afrikaans aan iemand wil opdwing (wat eintlik in Engels wil studeer). So iets sou egter nie strook met die US-raad se besluit dat die taalbeleid gelyke regte aan tale bied, en dat dit nie uitsluitend mag wees nie. Dis moeilik om in te sien dat dit iets anders as parallelle taalonderrig beteken, soos wat Kovsies nou nek omdraai.

In wese bepleit Van Niekerk ’n tipe burgerlike ongehoorsaamheid as hy vra wie gaan toesien dat die bepalings van die interdik (en dus by implikasie die universiteit se amptelike, goedgekeurde taalbeleid) toegepas word. Dit, terwyl hy as senior hoogleraar, ’n gedeelde verantwoordelikheid het dat die universiteit by sy eie reëls hou.

Sy argumente oor dat dit nie noodwendig goed is om sekere grondwetlike regte uit te oefen bloot omdat die Grondwet die regte gee nie, verdien teen die agtergrond van die absurde voorbeelde wat hy verskaf nie argumente nie. Voldoende om te sê dat as elkeen kan besluit watter grondwetlike regte opeisbaar behoort te wees en watter nie, dit ’n staat van anargie skep.

En van anargie het ons nou ’n oordosis gehad. Slegs die EFF baat daarby.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Sarie ·

Ek het ook Anton se betoog gelees en niks konstruktiefs gevind oor kwaliteit onderrig by die universiteit nie. Dit het tyd geword dat daar ernstig navorsing oor moedertaalonderrig by skole en universiteite gedoen word. Die maklikste uitweg is nie altyd die beste uitweg nie al lyk dit vir Anton, Jansen en studente voor die hand liggend. Die feit dat baie studente uitsak op universiteit het ook hiermee te doen. Hulle voel minderwaardig omdat hulle taal en kultuur nie bevorder word nie en dit word dan op Afrikaans geprojekteer. Gelukkig is daar mense soos die Zoeloedame wat vanoggend sterk standpunt teen verengelsing op News24 innneem. Dis met hierdie tipe mens wat hande gevat moet word om meertaligheid in ons land uit te bou. As daar met vier Afrikatale ernstig begin kan word kan die ander later volg. Daar is al doktor ale tesisse in Afrikatale geskryf so dis nie on moontlik nie.

JC ·

Regsaksie kom inderdaad vir “UFS”. Grondwetlike regte (die afdwing daarvan) is ononderhandelbaar. Dit is ‘n slim argument om te se omdat die grondwet regte gee beteken dit nie dat dit juis uitgeoefen moet word nie, maar dit gaan nie op nie. Is die man ‘n hoogleraar? Wat van die vermoede teen nuttelose wetsbepalings m.a.w dat die wetgewer nie bepalings sommet net vir die lekkerte sal promulgeer nie en dat daar dus uitdrukking gegee moet word daaraan. Wat van die geykte spreek dat daar juis uitdrukking gegee moet word aan ons grondwetlike regte anders is dit nutteloos en net papierregte? ONS IS destyds GELOOF VIR ONS GRONDWET OOR DIE wereld heen juis omdat dit so ‘n omvattende dokument is wat almal op ‘n gelyke speelveld plaas. Afrikaans word aan NIEMAND opgedwing nie! Afrikaanses vra bloot dat hul grondwetlike regte en “moedertaalonderrig reg” gerespekteer word en aan uitvoering gegee word. Sonder die afdwing van fundamentele (taal) regte sal SA vinning agteruitgaan en daar nie gehoor gegee word aan ander fundamentele regte nie! Ek het nou reeds verskeie van hierdie “hooggeleerdes” se “opinies” nagegaan en wonder waar hul, hul grade gekry het? My liewe hemel!Is hul nie dalk “spoke” nie, en in watter Suid-Afrika lewe hulle? Andre P Brink sal in sy bleddie graf omdraai!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.