Nuuskommentaar: Is Trump of twiet, of enigeen die probleem?

‘n Skermskoot van ‘n twiet deur pres. Donald Trump.

Pres. Donald Trump is nie juis bekend daarvoor dat hy ’n wag voor sy mond hou as hy mense, die media en ander instellings dwarsoor die wêreld met twiets deur die baard vryf nie. En hy span Twitter mildelik in – volgens die Los Angeles Times het hy onlangs op een dag 16 twiets uitgestuur waarin hy die media wat hom vyandig gesind is, politieke opponente en verskeie ander oor die kole gehaal het.

Terwyl sommige in hul kritiek fokus op die inhoud van Trump se twiets, is ander meer onthuts daaroor dat hy diplomatieke protokol so met sy twiets deurmekaar krap.

Die meeste Amerikaners reageer uiteenlopend op Trump as president. ’n Nuwe peiling toon aan dat ongeveer die helfte van die Demokrate voorsien dat Trump se eerste termyn voortydig in ’n staat van beskuldiging gaan sneuwel. Die meeste Republikeine meen Trump kan hom maar vir nog ’n termyn regmaak.

’n Twiet wat oorsee opslae gemaak het, was dat Trump die Palestyne verwyt het dat hulle jaarliks honderde miljoene dollar Amerikaanse hulp kry, maar nou dreig om aan alle vredesgesprekke te onttrek – wat weer ’n uitvloeisel is van Trump se besluit om Jerusalem as hoofstad van Israel te erken en die Amerikaanse ambassade daarheen te verskuif. Hy meen dis ondankbaarheid, terwyl die Palestyne in reaksie vir Trump met ’n kluitjie in die wind afgemaak het. (In 2015 het die VSA sy hulp aan die Palestyne van $370 miljoen per jaar tot $290 miljoen verminder weens Palestynse aanhitsing van terreur.)

Die kritiek op Trump was weer eens tweërlei. Eerstens dat hy ondiplomaties opgetree het deur oor so ’n kwessie emosioneel te raak, en tweedens dat die twiet onvanpas is in moderne demokrasie.

Oor beide kan lank gedebatteer word. Diplomasie is wel vol historiese protokol, tradisies en die diplomatieke sak, maar veel ouer as telefone en elektroniese pos, en daar sal altyd druk wees dat nuwe tegnologie ook deel van moderne diplomasie word.

Maar is Twitter ’n gepaste toevoeging, veral as sigbaarste element van die magtigste man ter wêreld se mondering (nie net diplomatieke mondering nie).

‘n Skermskoot van ‘n twiet deur pres. Donald Trump.

Daar is bepaalde gevalle waar twiets beslis die beste opsie is, maar moet dit nie liefs spaarsamig gebruik word as om die wêreld in beroering te hou nie?

Trump het min of meer terselfdertyd ’n verwyt aan Pakistan gerig oor dié land baie Amerikaanse hulp kry, maar dat Pakistan elemente van die Taliban sou beskerm. Pakistan het dadelik teruggekap en gesê Trump is gefrustreerd omdat hy nie hond haaraf maak met die Taliban in Afganistan nie. Juis hierdie geval toon hoe ontoereikend twiets is om komplekse sake aan te spreek. Pakistan is ’n baie heterogene land, met verskeie volke of stamme wat weerskante van die Pakistanse en Afgaanse grens woon. Lojaliteite word nie noodwendig deur landsgrense beperk nie.

Net so beskuldig die Christian Coalition of America die Palestyne daarvan dat hulle in hul reaksie op die Amerikaanse ambassade-besluit, die Oslo-ooreenkoms, waarvolgens die Palestyne Jerusalem se verdeelde status erken het, lustig verbreek. Hierdeur word geïmpliseer dat die VSA se besluit slegs op Wes-Jerusalem betrekking het – wat nie strook met algemene nuusdekking nie. Weer eens ’n kwessie wat te ingewikkeld is om per twiet te hanteer.

Analiste meen die VSA marginaliseer hom hierdeur, asook met ander optredes, of dat hy waar optredes wel nodig is niks doen nie, en dat Rusland, China en ’n groepering van lande wat Frankryk en Duitsland insluit, sy rol as vernaamste internasionale dirigent oorneem.

Dat die VSA stellig plek-plek gekneus daarvan afgekom het, kan nie betwyfel word nie. In die realpolitiek van die wêreld, wat nog sterk elemente van magspolitiek bevat, is die VSA net te magtig om te ignoreer. Soos Trump vir Noord-Korea oor die vingers getik het oor die Noord-Koreaanse leier se gespog oor sy kernknoppie op sy lessenaar: “Ek het ook so ’n knoppie, en hy is baie groter as joune – en hy werk.”

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, tydens ʼn militêre optog in Pyongyang, Noord-Korea (15 April 2017). Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File

Maar Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, het nie net die VSA gedreig nie, hy het die olyftak na Suid-Korea uitgehou, en bitter vinnig daarvan werk gemaak. Die sogenaamde rooi lyn tussen dié twee state waarmee wedersydse krisisse en misverstande uit die weg geruim kan word, is herstel, en afvaardigings van die twee lande vergader reeds in die komende week. Noord-Korea se deelname aan die Olimpiese Winterspele wat volgende maand in Suid-Korea gehou word, is onder meer op die agenda.

Daar word veelbetekenend daarop gewys dat die VSA van die onderhandelinge uitgesluit is (en die VSA wys self op spanning wat op die oomblik tussen die VSA en Suid-Korea heers), maar wat ook in ag geneem moet word is dat ander moondhede soos China en Japan ook van die gesprekke uitgesluit is.

Van die kantlyn af twitter Trump dat Kim nie vertrou kan word nie – iets wat niemand die Suid-Koreane hoef te vertel nie.

Intussen bly dit ’n feit dat Twitter (of nuwer generasie tegnologie wat nog ontwikkel moet word) deel van die diplomatieke arsenaal geword het. Dit het bepaald die spoed van diplomatieke verkeer versnel, en vereis van lande om vinniger as ooit te reageer (waar reaksie nodig is). Dit is egter ook duidelik dat ’n protokol vir die gebruik van dié tegnologie vir diplomatieke aanwending bitterlik nodig is, want Twitter met ’n onstabiele gebruiker is net so gevaarlik soos ’n diktator wat van sy trollie af is, en met ’n kernknoppie op sy lessenaar sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

LouE ·

Kan mens Trump kwalik neem as die media hom so sleg behandel? Hy het geen ander uitweg as om Twitter te gebruik nie. Skakel maar enige tyd in op CNN as jy die smeer veldtog wil aanskou. Dis ‘n skande dat ‘n land se media sy demokraties verkose staatspresident so afkraak. Miskien reken die media dat hulle die president kan kies of van hom ontslae kan raak. Moenie ‘n fout maak nie, ek dink nie Trump is ‘n engeltjie nie.

Sies! ·

Mees kinderagtige twiets van beide hom en Noord Koreaanse leiers. “Kinders” wat toegang het tot magtige wapens wat alle wêreldvrede bedreig. Hoe enigeen kan dink hy is kapabel om VSA te lei is verstommend. As mens in hul leiersposisies is moet mens weet wanneer om jouself in te hou en behoort geensins eers sosiale media te ge(mis)bruik nie.

Lena Jonk ·

PeetK ek stem saam wereld leier is hy beslis. So bly mense sien raak wat se snert CNN oor die wereld versprei. Mense gaan nog hul hande saamslaan oor wat daar gaan uitkom, gee net genoeg tyd, groot skokke. Dis n man met Christelike beginsels, hy wil Amerika weer sterk maak en veilig, as daar meer leiers soos hy is sal die regerings nie geld so laat verdwyn nie. Hou maar Fox nuus dop, die ander gaan nog almal op hul neuse kyk.

Eish ·

Steeds n man vir wie ek sal stem. Diplomasie het maar n geneigdheid om die waarheid so te kleur dat die werklike bedoelings jou totaal te laat tref en is n taal wat slegs die ingeligtes verstaan. Dis soos die Latynse fynskrif op n kontrak. Kyk net hoe het ons Flat Wheel de Klerk misverstaan met sy wigte, teenwigte en uiteindelike ontwigting. Met Trump weet jy presies waar jy staan. Tereg kan hy die reuse buitelandse hulppakette bevraagteken. Kyk n bietjie hoe Vladimir Putin sy ministers se stertvere pluk tydens werksessies wat lyk my, gereeld verfilm word. Amerika se aansien as onderhandelaar sal deurgaans taan onder n republikeinse president wat sy sout werd is. Die liberale wat ja en amen vir alles skeef en stomp, sal uiteraard meer die vehoog betree juis oor hul ruggraatloosheid.
Née wat, hy is goed oppad met sy verkiesingsbeloftes, knop op die lessenaar of te not.

Empee ·

“Diplomasie” het sinoniem geword met leuns, bedrog, omkopery, lamsakkigheid, en politieke korrektheid. Dit is tyd vir ‘n nuwe benadering in die politiek, en Donald Trump gee dalk net die pas aan. Tyd om eerlik en reguit jou sê te sê, en nie bang te wees om op jou opponente se tone te trap nie. Ek dink Trump lag in sy mou oor almal wat so op hol gaan oor sy twiets.

PJC ·

Miskien moet Donald Trump ń slag vir JZ ook in die bek ruk op twitter.

willie ·

Go Trump Go! Hierdie man het meer ruggraad in sy pinkie as wat die meerderheid ander sogenaamde wêreld leiers het! Van plaaslik wil ek my nie eers uitlaat nie!

Cornelia ·

Pres. Donald Trump is vir hierdie uur bestem. Hy verstaan deeglik dat die politieke verhoog nie net uit edelmoediges saamgestel is nie. Die Reeds ontstuimige wêreldorde sal in momentum toeneem ongeag sy Twitter uitklop-houe al dan nie. Hy immers glo aan ‘n politieke gewete. Dat alles nie as vanself sprekend tussen lande en ooreenkomste beskou moet word nie. Sy positiewe en inspirerende doelwitte weerspieël ‘n skaarswordende oproep tot geloof en integriteit. Hy het ‘n gevatte sin vir humor wat elke skurk in asemnood dompel. (Volmaak is hy nie. Wie kan daarop roem?)

Denise ·

Trump praar reguit en meeste mense hou nie van die waarheid nie die hele wereld gaan gebuk onder leuns wat vir soetkoek opgevreet word dit is hoekom daar so baie PROBLEME is !!!!!

Nico K ·

Ek kan nie glo dat wêreldleiers so ondeurdagte dinge op twitter sê nie. ‘n Amptelike uitspraak deur ‘n president word immers deur ‘n paneel bespreek en dan deur ‘n media vrystelling uitgereik. Vir so ‘n persoon om deur twitter te kommunikeer is baie onproffesioneel. Ek voorspel dat Trump nie ‘n 2de termyn sal oorleef nie en soos ‘n Jimmy Carter as een van die swakste Amerikaanse presidente onthou sal word.

Johannes Meintjes ·

Effektiewe kommunikasie, relevant afgewentel van bo na onder en informasie van onder na bo is histories deel van die kommunikasie en kontrole probleem wat soveel dinge ongedaan laat. As Twitter tot beter regering en selfbestuur kan aanleiding gee, – bravo! Daar is egter ‘n groot en blywende probleem – ‘n gebrek aan verantwoordelike rentmeesters op alle terreine, wie die korrekte, etiese en geregtigheids optrede (moet) neem, of dit nou in die kerk, politiek, regering, gemeenskap of nywerheid en handel is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.