Nuuskommentaar: Is vandag se staking eintlik anti-Zuma-protes?

jacob-zuma-uniegebou

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Dit is duidelik dat vandag se Cosatu-staking, gerugsteun deur die SAKP, ook pres. Jacob Zuma in die oog het. Daar moet gehoop word dat vandalisme nie by die verrigtinge gaan aanhaak, en wanorde oor die land voortstu nie.

Die vernaamste rolspelers in vandag se landswye staking teen korrupsie en staatskaping bevind hulle opmerklik binne die anti-Zuma-kamp. Cosatu en die SAKP staan immers pal by hul oproepe op Zuma om te bedank, en die vonke het al male sonder tal gespat.

In nuusberigte vooraf het sommige media dit konsekwent nodig geag om daarop te wys dat Cosatu nie meer ’n skadu is van wat dit eens was nie, en die skorsing van Numsa word gereeld as rede voorgehou. Dié halwe voorstelling maak nogal saak.

Die NUM, wat steeds ’n lid van Cosatu is, was voorheen die grootste vakbond binne Cosatu, en eintlik die ruggraat daarvan. Amcu, wat nie lid van Cosatu is nie, het egter so lede onder die NUM gewerf dat die NUM erg gekwyn het, en Numsa as grootste en sterkste gelaat het. Voorts het die Zuma-kamp vir S’dumo Dlamini, ’n Zuma-man, as president van Cosatu bewimpel as teenvoeter vir Zwelinzima Vavi, die sekretaris-generaal se anti-Zuma-standpunte. Daar is ook van Vavi ontslae geraak. Dlamini kon egter nooit Cosatu in ’n pro-Zuma-rigting swaai nie, en wanneer hy pro-Zuma-dinge kwytgeraak het, is hy gou gerepudieer.

Met die organisering van vandag se verrigtinge was Dlamini opvallend afwesig, en gerugte was volop. Hy het op die nippertjie sy opwagting gemaak en verduidelik dat hy oorsee was.

As verder in gedagte gehou word dat Zuma (en sy Gupta-vriende) as sinoniem met staatskaping beskou word, en Zuma ook sterk met korrupsie verbind word, is dit duidelik dat Cosatu en die SAKP eintlik maar vir Zuma in die visier het met vandag se verrigtinge.

Cosatu moet immers herbou, en wat is nou vandag ’n beter teiken as Zuma?

Selfs die klem wat Cosatu daarop lê dat hul veldtog teen korrupsie nie net op die staatsektor gemik is nie, maar ook die private sektor, kan daarop dui dat nie van die Guptas vergeet is nie.

Of ’n staking en optogte die regte manier is om die probleme aan te raak is ’n heel ander kwessie. Dat daar handjies gevou daaroor gesit kan word, is egter ook nie moontlik nie. Volgens min. Ebrahim Patel kos korrupsie die land jaarliks minstens R27 miljard. Daarmee kan ongeveer 76 000 werksgeleenthede jaarliks geskep word.

Syfers oor wat staatskaping die land kos, is nie so geredelik beskikbaar nie. Wat wel duidelik is, is dat elke landsburger help betaal aan die koste daarvan, terwyl ’n kleinerige elite die voordele daarvan pluk.

Die geloofwaardigheid van die regering het ’n liederlike knou weg. Terwyl derduisende pensioentrekkers en steeds werkende lede van die GEPF verseker word hul geld is veilig, bly die onsekerheid egter voortduur omdat ervaring op ervaring al geleer het dat politiek en die waarheid nie goeie bedmaats is nie.

Mag vandag se staking en optogte die gewenste uitwerking hê, en nie ’n domino-effek wat met wanorde en vandalisme gepaardgaan nie, want die land kan nie die ontwrigting van sy ekonomie, waarvan die hartklop skaars waarneembaar is, bekostig nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ander Annie ·

Dit is baie mooi gestel. Politiek en die waarheid is nie goeie bedmaats nie. MAAR………Hoekom sal die grootste aantal Kabinetslede in die ANC van hulle nommer 1 leier ontslae wil raak as dit ‘n reis op die sous trein beteken. Korrupsie, wanbesteding, nepotisme, lieg en bedrieg. As jy dan ‘n ANC lid is en teen hierdie wandade begin draai, word jy of dissiplinêr aangekla of ………. dood gemaak. Ons lees elke dag van dit in die media. Sterkte COSATU en julle alliansies.

Veritas ·

Dagsê Herman. Ek wil myself nie uitgee as ‘n taalkenner nie maar die woord “staking” is myn insiens nie die korrekte term nie. Volgens my twyfelagtige kennis van Afrikaans sou die woord “staking” gebruik word indien daar ongelukkigheid onder die stakendes was oor werksaangeleenthede. Sou “protes” of “protesgangers” nie, in hierdie geval, meer korrek wees nie ? Ek vra maar net.

Francie ·

Wat wil die organiseerders van die optog bereik? Wat gaan hulle uiteindelik bereik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.