Nuuskommentaar: Is vandalisme en geweld tekenend van die nuwe Suid-Afrika?

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig. Foto: Verskaf

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig. Foto: Verskaf

Die eiegeregtigheid van sommige opstandige studente kan die land blywend verander. Opvoedkundige inrigtings kan nie die bastions van vandalisme en wetteloosheid word nie en waar ander se regte, soos om in Afrikaanse te kan studeer, vertrap word nie.

Studente-onrus wat met vandalisme gepaardgaan is nie nuut in Suid-Afrika nie. Ook nie bondeldapperheid wanneer opstandige idees ʼn kritiese massa bereik nie. Voorheen is die oproerigheid gewoonlik gerig teen die beleid van afsonderlike ontwikkeling en nou teen wavragte gebreekte en vergete beloftes van die “nuwe” regering. Dit word gekompliseer deurdat ander aksies, soos die stryd teen Afrikaans, hierby aanhaak.

Daar is voortdurend oproepe dat na die studente en hul griewe geluister moet word. Hoe erger die vandalisme en geweld en hoe onredeliker die eise, hoe meer word daar egter rug styfgemaak. Soms, soos in die pers-gesigvoorval by Maties, word die rug misplaas styfgemaak.

Aanvanklik, ook met die #FeesMaustFall-veldtog, was daar leiers wat werklik verantwoordelik en redelik opgetree het. Namate die onredelikheid en vernielsug groter momentum gekry het en hofbevele geïgnoreer is, het hierdie stemme van redelikheid stiller geword, of heeltemal skei gebreek, soos in Open Stellenbosch en die US se studenteraad.

Die leiersgesig wat nou vertoon word, is onheilspellend en selfs weersinwekkend. Ewe  breed op TV verkondig ʼn leier van die #RhodesMustFall-veldtog daar is nie sekerheid of die verbranding van voertuie en skilderye na dié organisasie herlei kan word nie, maar weier nietemin om die voorvalle te veroordeel. Opgehoopte frustrasies “regverdig” dit.

By die US weier die meerderheid lede van die studenteraad om die twee Maties, teen wie onregmatig weens beweerde blackfacing opgetree is, om verskoning te vra.

Nie dat studente altyd die beste leiding van die opvoedkundige instellings kry waar hulle studeer nie. By die US het twee fakulteite in wese die universiteitsraad se taalbeleid, kort na die aanvaarding daarvan, openlik in die tande gaan skop. ʼn Hoogleraar het AfriForum selfs verkwalik omdat die howe hieroor genader is – asof die howe nie deel van die grondwetlike bedeling is wat die bepalings van die grondwet onderskryf nie. Voorts het hy ʼn wanvoorstelling gemaak oor wat AfriForum met die interdik wou bereik het en na ʼn skikking buite die hof wel bereik het.

By Tuks dreig die EFF om die universiteit onregeerbaar te maak as daar nie vandag aangekondig word dat Afrikaans as onderrigmedium afgeskaf word nie. Ook hier word met minstens wanordelike optrede en die vertrapping van individuele regte gedreig as die universiteitsowerhede nie die grondwet in die tande skop nie.

Alles in die land wentel nie net om die universiteitswese nie, so belangrik as wat dit mag wees. Dat iets hieruit kan voortspruit wat die land as iets aaklig uitbeeld, is skrikwekkend.

Die selfgemaakte swart Amerikaner, Thomas Sowel, skryf onlangs oor sy eie land: “Already many people are complaining that the America they grew up in, and loved, is being changed into something they can barely recognize. Record numbers are renouncing their American citizenship… Against this background, the frivolous rhetoric and childish antics in the televised political ‘debates’ are painful to watch. If ever there was a time to choose a president with depth, rather than glitter or glibness, this is it.”

Dit kan byna net so op Suid-Afrika toegepas word.

Nie dat alles rondom die universiteitswese so wonderlik en voorbeeldig was nie. ʼn Bekende hoogleraar van die US, wyle prof. Christoff Hanekom, het by geleentheid vertel van ʼn insident toe hy nog student op Kovsies was. Die klas is aangebied deur ʼn professor wat legendaries vir sy hoflikheid was, maar toe Tertius Myburgh, latere befaamde joernalis en redakteur vra of die prof, seker is van ʼn sekere feit, is Myburgh histeries uit die klas gejaag.

Talle studente uit daardie en selfs veel later eras kan vertel van optrede waar hul regte en menswaardigheid bitter min getel het.

Nou het die pendulum, behalwe in uitsonderlike gevalle soos die Maties se pers-insident en die twee Kovsies wat van rassisme beskuldig en onskuldig bevind is, woes na die ander kant geswaai. Die kersie op die koek is dat Ikey-studente na die voorvalle waarin twee busse en skilderye verbrand is en die rektor se kantoor met petrolbomme bestook is, jou warempel klagtes van onder meer aanranding met die opset om ernstig te beseer teen die rektor aanhangig gaan maak het. Gekker kan dinge beswaarlik word.

By Tuks kom die EFF se eise daarop neer dat die kreet, ‘ons wil nie in Afrikaans leer nie’, verander is na julle mag nie in Afrikaans leer nie. Dit gaan nie meer om die opeis van regte nie, maar oor die vertrapping van ander se regte.

Aanvanklike aansprake dat die onvredenheid gebore is “uit die stadige pas van transformasie”, raak nou al stiller namate dit duidelik word dat dit nou verder teruggevoer word en die afloop van die land se skikking en gevolglike grondwet, nou die sondebok gemaak word. Die wind is uit die seile geneem van heelwat van die links-liberale ontleders wat tot onlangs nog so sedig gepreek het oor hoe om die situasie te hanteer.

Te midde van die ou onluste van Sasco en Nusas, het talle swart mense kwalifikasies aan die betrokke inrigtings behaal, onder meer Robert Mugabe en Mangosuthu Buthelezi. Die bekende kanselier van die UV, dr Khotso Mokhele, is selfs in ʼn stadium by die Universiteit van Fort Hare geskors weens sy oproerigheid.

Ook uit die geledere van die huidige heethoofde sal daar diegene wees wat grootword en verantwoordelikheid leer. Maar intussen kan darem nie toegelaat word dat hulle ongestraf vandalisme, rassisme en ander onregmatige optredes inspan om hul protes, misplaas of nie, op ander af te dwing nie.

En dan het ʼn mens nog nie eens die rol en styl van radikale vakbonde onder die loep geneem nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
m

natuurlik het dit en gaan net erger word want daar is geen beheer meer oor hierdie mense nie.

Sarie

Hoe meer die regering toegee, hoe erger gaan dit word. “They are testing the boundaries!!!”

Nic

Nie net die vakbonde moet onder die loep geneem word nie, anargistiese politici ook. Die studente sal nie so rof te kere gaan as die anargisme nie vanuit EFF geledere begin en aangeblaas word nie. Kan daar nie ‘n voorbeeld van een vam hierdie aanblasers gemaak word nie?

Loeis

Ja, vandalisme en geweld is tekenend van die nuwe Suid-Afrika, nes dit in die oue was want dis dieselfde denkwyse wat dit dryf. Mense was maar bitter naief om te gedink het dat oorgee dit sou verander.

Kabous

Dit het tyd geword dat jongmense moet besef dat alles nie uit die hemel val nie maar deur harde werk verdien word. ‘n Universiteit is daar om te leer en nie om as politieke speelveld te dien nie. Die optrede van studente getuig van selfsug, ‘n gebrek aan insig, onvolwassenheid en swak opvoeding. Wat weet ‘n klomp 20-jariges in elk geval van die lewe af. Daar is nog ‘n lang pad om te stap. Waar kom die oordrewe eis van regte in elk geval vanaand. Wees eerder dankbaar jy het die geleentheid om te studeer en bepaal jou by jou… Lees meer »